Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus sê dat 'n mens nie 'n maaltyd vir vriende moet aanbied net sodat jy weer genooi kan word nie. Dít, sê Hy, is 'n ruiltransaksie. Maar om mense wat niks kan teruggee nie, te nooi, is egte nederigheid, liefde en diens, en het ewige waarde. God sal omsien na iemand met so 'n gesindheid – Luk 14
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (14)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
2. Slag van Laiingsnek
28 Januarie 1881
Op die heuwelrug van Laiingsnek, Oos van Majuba, het sowat 1500 Boere hulle deeglik ingegrawe onder bevel van kommandant-generaal Piet Joubert. Op 28 Januarie 1881 het generaal Colley met meer as 1000 man en 6 veldkanonne hulle aangeval maar is verpletterend verslaan. 83 Britte en 14 Boere het gesneuwel en 111 Britte en 27 Boere is gewond.
*
Dis nie baie ver na Laingsnek nie, sowat een honderd en negentig myl en dit neem die burgers vyf dae om daarheen te ry. Naby die pas kom Boetie aangery.
“Het ek nie gesê jy moet by die waens bly nie!?”
“Ja, Oom, maar ek het gedink julle het my dalk net nodig.”
“Nou ja, snuiter, gaan praat met veldkornet Verwey. En as hy besluit om jou af te ransel, het hy my volle permissie daarvoor, verstaan jy?”
“Ja, Oom, jammer Oom!”
“Jy is g’n jammer nie, mannetjie. Maak dat jy wegkom!”
Wanneer Boetie homself haastig uit die voete maak, draai Piet Joubert om. Hy glimlag breed, maar probeer dit vir die ander wegsteek.
“Waarvoor lag Generaal?”
“Nee, jong. Ek dink net as alle seuns so angstig is om te veg soos Boetie Behrens, gaan hierdie klomp Rooibaadjies op hulle herrie kry.”
“Oom Piet, jy moenie jou verbaas as die ou omies by die waens nog vanaand hier opdaag nie. Hulle is net so dikbek vir die spul Engelse as ons en Boetie Behrens.”
*
Alhoewel Francesca na Jan verlang met ‘n angstigtheid wat sy nog nooit vantevore ervaar het nie, is Emma daar om haar gedagtes gevange te hou. So min as wat sy gedink het dat sy so erg lief kon raak vir ‘n man, so neem die klein babadogtertjie haar hele wese oor. Sy voel selfs skuldig as sy nie die hele tyd aan Jan dink nie, maar al haar tyd en energie spandeer om die klein mensie gelukkig en tevrede te hou.
Aanvanklik het Franci vir Oubaas van Emma af weggehou, met die gedagte dat dit nie gesond is vir die kleinding om so naby die groot hond te wees nie. Nadat Jan weg is, het Oubaas ook vir ‘n paar dae verdwyn en as dit nie vir Emma was nie, sou sy rasend van bekommernis wees. Hy het egter self na ‘n ruk teruggekom en Franci kan maar net dink dat hy op Jan en die ander burgers se spoor geloop het, maar om die een of ander rede teruggedraai het.
Hy het bloot maar een oggend op die deurdrumpel gelê, vermaer en baie honger, maar nie met ooglopende skade nie.
Emma het, as sy vir Oubaas sien, borrelgeluidjies begin maak en haar armpies geswaai uit vreugde, na hom gekruip, maar Oubaas het elke keer effens weggesluip, meer uit instinktiewe vrees vir die baba as vir Franci.
Op ‘n onbewaakte oomblik het Franci haar rug gedraai en Oubaas, wat op die trappie gelê het, het bly lê toe die baba nader kruip. Hy gee ‘n effense benoude tjankie as Emma hard aan een van sy slap ore trek, maar gee geen aanduiding dat hy aggressief raak nie.
Mettertyd het Franci hom weer en weer toegelaat om naby Emma te kom en uit die kleintjie se opgewonde reaksie het sy hom later toegelaat om naby haar te bly. Natuurlik onder die wakende oog van die ma. Wanneer Tant Ralie kom kuier het – al gas wat toegelaat is binnenshuis – het Oubaas baie naby Emma se stoel of kombers kom lê, met ‘n ewe wakende oog oor haar.
*
Hans Koster en Allen Mc Murtoch het as’t ware Pretoria binnegesluip, maar as hulle hoor Jan en die ander burgers is uit op kommando, is hulle nie meer bang vir konfrontasie nie. Hans het ‘n diepgaande haat vir Jan ontwikkel, wat nie vreemd is nie, siende dat hy wat Jan Verwey is, vir hom, Hans Koster, ‘n drag slae gegee het, wat steeds, al is die letsels nie meer uiterlik sigbaar nie, ‘n diepgaande knou aan sy psige gegee het. Nie net was die vernedering daarvan erg om te verdra nie, maar het Hans vir Jan ‘n onverwerkbare vrees ontwikkel. Hy sou dit nooit aan enigiemand erken nie, maar die blote noem van die kleiner man se naam, het hom ‘n hol kol op die maag gegee. En haat is die boetie van vrees.
Natuurlik, soos dit die geval in ‘n kleiner dorp is, het Hans gou uitgevind dat sy aartsnemesis getroud is met Francesca. Hy onthou daardie aand goed toe hy, net nadat hy vir Francesca die blou rok gekoop het en haar by die restourant laat eet het, in sy binneste gebruis het van belusting vir die mooi vrou. Ja, hy is wetlik nog met Jan se suster getroud, maar na sy loesing het hy nooit gewaag om na haar terug te keer nie.
Francesca du Bois was alles wat hy begeer het. Sy was beeldskoon in sy oë, met die groot, groen oë, donker hare en vroulike figuur. Sy was ook alles wat Jan se suster nie was nie – vurig en vroulik, met ‘n sagte, maar maklike lag, en ‘n lewensblyheid wat nie tipies was van iemand wat pas alles verloor het nie.
En juis dìt het Hans moed gegee. Hy weet dat hy bo-gemiddeld lank is, sterk gebou en aantreklik genoeg, met ‘n mooi neus, ‘n sterk ken en wit, reguit tande. Daarby het hy altyd geld in sy sak, al het hy nie ‘n duidelike en vaste werk nie. Hy is sjarmant en het reeds ‘n hele aantal vroue met sy maklike glimlag en maklike vleiery, oorgehaal na sy bed toe. Hans was doodseker dat hy vir eers hierdie aanvallige jong dingetjie se bereidwilligheid om in sy sjarme te deel, daartoe oorgehaal het. Wie is sy immers om nee te sê?
Francesca is skraal en fyn gebou, maar sy het soos ‘n rooikatwyfie in ‘n hoenderhok tekere gegaan toe Hans haar teen die muur vasdruk, soen en terselfdertyd onbehoorlik aan haar begin vat. Sy het losgeruk en was geskok, maar toe hy haar nog ‘n oophandklap gee, het sy beserker geraak, sy gesig gekrap, sy hand gegegryp en gebyt, en met haar knie geskop waar geen man dit wil hê nie.
Hans het dubbeld gevou, neergesyg op sy een knie en Franci het buitentoe gehardloop, sy reeds-opgesaalde perd gevat en by die dorp uitgejaag. Daar was geen tyd om enigiets saam te vat nie, nie ‘n baadjie, tjalie of iets anders om haar teen die koue te beskerm nie. Met trane wat uit skok en vernedering uit haar oë stroom, het sy die pad gevat. Waarheen, het nie saak gemaak nie, net weg! Weg van Hans en alle ander soos hy.
Tot laatnag het sy in die saal gebly en die volgende oggend, koud en verward, weer begin ry. Dis eers teen laat-oggend dat sy besef het sy het geen idee waar sy haarself bevind nie en was oorstelp van blydskap toe sy die varserige spore van ‘n ossewa bemerk. Sy het dit gevolg, tot dit weereens donker word.
In haar haas om by die waens uit te kom, het sy nie die erdvarkgat gesien nie en die perd ook nie, maar die onmiddellike struikel van die perd, die mank gang daarna, het skielik haar laat besef dat die merrie ‘n voorbeen gebreek het. In die saalsak was Hans se enkelloop voorlaaier-pistool, wat sy gebruik het om die merrie uit haar lyding te verlos. Geskok en gewalg het sy die leë wapen laat val en verder op die spoor geloop.
Teen vroegnag het ‘n storm opgesteek en sy het natgereën, koud, honger, dors en naby doodverkluim vir ‘n oomblik gaan lê op die nat gras.
Sy onthou vaagweg dat sy ‘n lantern gesien het wat nader aan haar beweeg. Siende dat daar geen mens in die nabye omgewing sou wees nie, het sy gelate aanvaar dat dit dalkies net die doodsengel mag wees wat haar kom soek het. Sy het selfs haar hand opgesteek, dat hy presies kan weet waar sy is en nie teëgesit toe hy haar wegdra nie.
Vroegoggend het sy warm en knus gevoel, soos dit in die hemel behoort te wees as ‘n mens van koue gesterf het. Na ‘n paar sekondes van berusting, het sy besef dat sy agter ‘n man se rug lê en het vir ‘n paar oomblikke gedink dat dit dalk Hans Koster is wat haar ingehaal het. Maar dan besef sy dat hierdie man beter ruik, dat hy rustig is en, alhoewel sy geen idee het wie dit kan wees nie, het sy veilig gevoel.
*
‘n Soldaat sal later in sy lewe, as hy terugkyk na ‘n oorlog of ‘n spesifieke slag, nie alles stap vir stap onthou nie. Hy sal weet dat om oorlog te bedryf nie maklik is nie en dat die gewag voordat die skote klap, baie erger is as die geskietery self. Iemand sou kon opmerk dat oorlog 99% van die tyd ‘n ongeduldige, maar ook vreesbevange wagtyd is en dat die slag self 1% uitmaak, ‘n onafgewaterde kombinasie van gruwel, afsku en onuitspreekbare angs. Jy wens die hele tyd dit moet ophou voordat die dood jou net vat.
Jan het wel die twee kere saam met die Engelse teen die inboorlinge geveg, maar dit was anders. Hy het te midde van die eerste geveg daar ingejaag, het die dood ontwyk en ook die tweede maal, maar dis asof dit hierdie keer anders is. Die gevegstegnieke van die Zulus’s is vreesaanjaend, met die gejil, voetestamp, dromme, slaan op die skilde, die malende, duisende swart lywe, die monde oop in krygskreeu, spiese, assegaaie wat in die son blink…
Maar daar is iets baie erger in die Engelse se afgemete kilheid waarmee hulle wag, onverstoord, linie op linie wat aankom, verbete, koud, gewere in gereedheid, bajonette gevel.
En hierdie keer is Jan en sy mense teen die Engelse. Dit laat hom met ‘n diepe, koue vrees in sy binneste, soos ‘n stuk ys wat in sy maag lê.