STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 2:14-26

’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament

Anita Joubert

        Die brief van Jakobus             

Jakobus 2:14-26 Glo en doen

Wanneer ons hierdie gedeelte lees kan dit maklik gebeur dat ons dink Jakobus en Paulus mekaar weerspreek. Paulus sê telkemale baie duidelik dat ons uit genade gered is (Efes. 2:8). Ons moet egter raaksien dat Jakobus se klem dieselfde is as wat ons dwarsdeur die hele Nuwe Testament kry. Johannes die Doper het geleer dat mense die egtheid van hulle bekering moet wys deur hulle dade (Matt. 3:8; Luk. 3:8). Jesus het self gepreek dat mense se lewens só die lig moet laat skyn deur hulle dade, dat ander wat dit sien, aan God al die eer sal gee (Matt. 5:16). Hierdie klem ontbreek geensins by Paulus self nie. Daar was min van die Bybelskrywers wat soveel klem geplaas het op die etiese aspek van ons Christenskap. Hy het altyd die belangrikheid van ons Christendade as deel van ons Christelike lewe beklemtoon. “Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade” (Rom. 2:6). “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee” (Rom. 14:12). “God sal elkeen beloon volgens sy werk” (1 Kor. 3:8). “…sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10).

Waarteen Jakobus waarsku, is ’n soort intellektuele geloof waar ons die feite van die evangelie glo en aanvaar, maar dit nie toelaat om enige verskil in ons lewens te maak nie. Daarom sê hy dat die duiwels ook aan die bestaan van God glo, maar dat hulle sidder van angs. Dit is maklik om Paulus se lering te verwring en alle krag en sterkte en lewe uit die woord “geloof” te haal. Paulus sou self nooit daarmee saamgestem het nie.

Volgens Barclay, moet ons ook daarop let dat Jakobus en Paulus hulle lering in twee verskillende stadiums van die Christenlewe begin het. Paulus begin by die absolute begin en daarom volstaan hy daarmee dat niemand ooit die vergifnis van God kan verdien nie. Ons kan net God se vergifnis aanvaar wat aan ons, in Jesus Christus, gebied word. Jakobus, daarenteen, praat met belydende Christene wat reeds op vergifnis staatmaak en in ’n nuwe verhouding met God staan. Hulle is reeds geregverdig, en moet nou geheilig word. Die beste analogie wat ons daarvoor kan gee, is die volgende: Wanneer iemand ons baie lief het, dan weet ons verseker dat ons dit nie verdien om liefgehê te word nie. Tog weet ons ook ook dat ons ons lewens daaraan moet wy om die liefde wat so ’n persoon vir ons het, waardig te wees.  

   Ons word nie gered deur dade nie, maar ons is gered vír dade. Paulus se klem is op die eerste en Jakobus se klem, is op die tweede. Hulle weerspreek nie mekaar nie, maar hulle vul mekaar aan.

Een ding wat vir Jakobus baie onaanvaar is, is om daarop aanspraak te maak dat ’n mens gelowig is, maar jou geloof is nie in die praktyk sigbaar nie. Hy gebruik in verse 15 tot17 weer ’n beeldryke illustrasie om sy punt te verduidelik. Vir die Jode was liefdadigheid van baie groot belang. Toe die leiers van die gemeente in Jerusalem ingestem het dat Paulus na die heidene kon gaan, was die één spesifieke opdrag wat hy ontvang het, om nie die armes te verwaarloos nie (Gal. 2:10).

In die Griekse samelewing was daar die Stoïsyne; hulle was ’n groep filosowe wat probeer het om geen gevoel of emosie te ervaar nie, want hulle geglo dat hulle dan volkome vrede kon hê. Hulle het gesê dat emosie hulle vrede versteur. Hulle het geglo dat as hulle vrede het, dan ontvang hulle seën. Hierdie siening het die Joodse gelowiges beïnvloed, en Jakobus waarsku ernstig daarteen. Dit is gevaarlik om ons emosies te onderdruk, want dit gaan later dood. Om emosies in dade om te sit, verg moeite, dissipline, opoffering en soms selfs ’n gesukkel, en mense is dikwels nie baie lus daarvoor nie. Dit is makliker om jou emosies te onderdruk.

In ’n goed gebalanseerde Christenlewe, loop geloof en dade hand aan hand. Barclay vertel ’n ware gebeurtenis van Martin Luther wat goed bevriend was met ’n ander monnik, wat net so oortuig was dat die Hervorming noodsaaklik was, soos wat Luther was. Hulle het egter ooreen gekom dat die vriend sou bid en Luther die werk buite sou gaan doen. Die vriend het een nag gedroom dat hy ’n man sien wat stoksielalleen besig is om te oes. Toe die man sy kop draai, was dit Martin Luther se gesig. Hy het geweet dat die Here met hom praat en dat hy sy gemaklike kamer moet verlaat en vir Luther gaan help. Daar is natuurlik mense wat om grondige redes nie meer ander dinge kan doen as om te bid nie, maar gebed moet nooit ’n verskoning wees vir moeite nie. Gebed en moeite loop hand aan hand. Net so loop geloof en dade ook hand aan hand.