Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Charles Dickens het gesê: “Geluk is goeie vriende, en ook goeie boeke en die vermoë om die lelike dinge van die verlede te begrawe en te vergeet”.
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 1:9-27
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Die brief van Jakobus
Jakobus 1:19-27 Hoor en doen
In die Joodse kultuur was daar baie gesegdes wat by hierdie raad van Jakobus aansluit. In Spreuke kry ons ook heelwat soortgelyke raad. “Meer woorde bring nie minder sonde nie. Hy wat sy woorde tel, is verstandig” (Spr. 10:19) “Iemand wat op sy woorde let, bewaar sy lewe.’n Eindelose gepratery kan alles ruïneer” (Spr. 13:3) “Jy sien self daar is meer hoop vir ʼn dwaas as vir iemand wat praat sonder om eers te dink” (Spr. 29:20) Die Griekse filosoof Zeno, (490 v.C.) het gesê dat ’n mens twee ore en een mond het, sodat ’n mens meer kan luister en minder kan praat.
Jakobus se raad is ook dat ʼn mens nie so vinnig moet kwaad word nie. ’n Onderwyser bereik baie meer met aanmoediging, as wanneer hy ’n leerling met die tong bykom. ’n Prediker wat raas en baklei, gaan nie veel met mense se siele uitrig nie. ’n Ouer moet onthou, dat wanneer die klem van sy opvoeding op liefde val, dit baie meer krag het as wanneer hy woede openbaar.
’n Goeie lewensuitkyk is om stadig te wees om te praat, stadig om kwaad te word, en vinnig om te luister.
Jakobus gebruik in vers 21 ’n hele aantal verbeeldingryke woorde. Die woord wat hy gebruik wanneer hy sê dat ons van al ons onsedelikheid en ongeregtigheid moet ontslaeraak, het dieselfde betekenis as wanneer ons vir iemand sou sê dat hy sy vuil klere moet uittrek. Die woord het ook ’n baie interessante verbintenis met die mediese term, rupos, wat beteken “was in ’n mens se oor”. Dit is dus baie moontlik dat Jakobus hier vir sy toehoorders gesê het dat hulle ontslae moet raak van die was in hulle ore, sodat hulle die ware woord van God kan hoor. Net soos wat was in ons ore ons doof maak, net so maak sonde ons ook doof vir die woord van God.
Die “ingeplante” woord is vir alle praktiese doeleindes dieselfde as ons gewete. Jakobus sê eintlik daarmee dat daar in elkeen van ons ’n instinktiewe kennis is van wat goed en wat kwaad is, en dat ons die leiding daarvan te alle tye moet gehoorsaam.
Jakobus kon ook daarmee bedoel het dat God sy woord in ons gesaai het. Ons kan hier terug verwys na die gelykenis van die saaier in Matteus 13:1-8, waar Jesus vertel van die saad wat in mense se harte gesaai word deur profete, predikers en ook deur Jesus self. Die saad wat op goeie grond val, is die wyses wat dit aanneem en verwelkom en dit lewer ’n groot oes op.
Barclay sê dat die Griekse woord, prautĕs, wat vertaal is met “ootmoedig” of “nederig”, nie regtig in Engels, en dan natuurlik ook nie in Afrikaans nie, met een woord vertaal kan word nie. Dit beteken dat ’n persoon ’n leerbare gees tot so ’n mate het, dat hy sy emosies en gevoelens onder perfekte beheer het. Hy moet nederig genoeg wees om te wil leer, sonder teensinnigheid, woede en vooroordeel. So ’n persoon is nie lui nie, en kan die waarheid in die gesig staar.
In verse 22 tot 24 gee Jakobus weereens die sigbare beelde wat hy so meesterlik kan doen. Iemand wat so baie prediking hoor en nie toelaat dat dit hom of haar verander nie, is net soos ’n persoon wat in ’n spieël kyk, sien hoe onversorg sy gesig of sy hare is, en niks daaraan doen nie en gerieflikheidshalwe net daarvan vergeet. As ons nie die woord van die Here in ons elke dag se lewe uitleef nie, dan hoef ons dit nooit eers te hoor nie. Dan is alles verniet.
In vers 25 noemJakobus hierdie wet volmaak, en dit maak mens vry. Daar is drie redes waarom die wet volmaak is:
- Dit is God se wet; deur Hom gegee en geopenbaar.
- Dit is volmaak omdat dit nie kan verbeter word nie. God se wet is die wet van liefde, en sy liefde is volmaak.
- Wanneer ’n persoon die wet van Christus gehoorsaam, dan vervul hy sy skeppingsdoel en maak die bydrae in die wêreld wat God wil hê dat hy moet maak.
Dit is net deur die wet van vryheid dat ’n mens waarlik vrykom. Solank as wat ’n mens sy eie passies, emosies en begeertes gehoorsaam, is hy niks anders as ’n slaaf nie. Wanneer ons die wil van God aanvaar, dan word ons waarlik vry om te wees wat ons behoort te wees, want in sy wil, is daar vrede.
Barclay sê dat ons hier baie versigtig moet wees om goed te verstaan wat Jakobus in verse 26 tot 27 sê. Die Griekse woord wat vertaal is met godsdienstig, thrĕskeia, beteken in werklikheid “aanbidding”. Wat Jakobus eintlik bedoel is dat die suiwerste en mees opregte aanbidding wat ons aan God kan bring, is om die armes en diegene wat swaar kry, te help en onsself rein te hou van die besmetting van hierdie wêreld.
Volgens Barclay, het mense deur al die eeue heen probeer om van rituele en liturgie, plaasvervangers vir ware offers en diens aan mense te maak. Binne in die kerk was soveel prag en praal, maar dit was ten koste van diegene buite die kerk. Jakobus sê eintlik al hierdie soort aanbidding is waardeloos en leeg wanneer dit nie die boodskap van God se liefde aan ’n verloregaande wêreld stuur nie.