Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is reeds in daardie tyd waarteen Paulus vir Timótheüs waarsku dat daar 'n tyd sal aanbreed dat die volk hul oor sal afkeer van die waarheid en hul sal wens tot fabels. En dit geld nie net vir ons Godsdiens nie; ook het die volk hulle ore vir politieke misleiers uitgeleen en al die fabels vir 'n 'wonderlike Nuwe Suid-Afrika' geglo. Hiervoor sal dieselfde verantwoording gedoen moet word.
DIE UURGLAS LOOP UIT (1)
Ds A.E. van den Berg
Die laaste uittog
“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! (Openb.15:3).
Meer as 2000 jaar gelede het God in Jesus mens geword en vir 33 jaar op die aarde gewoon waarna Hy na ʼn kruisiging en opstanding uit die dood, ten hemel gevaar het. By daardie geleentheid ontvang die dissipels en alle gelowiges deur die eeue ʼn wonderlike belofte:
“En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle wat sê: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand.1:9-11).
Gelowiges hou al eeue lank aan hierdie belofte vas dat Jesus weer kom. Die Bybel gee besonderhede van hierdie dag nl. dat dit onverwags sal wees en die wêreld onvoorbereid daarop sal wees. Net voordat dit gebeur, gaan God die gelowiges as die bruid van Christus vir sy koms gereed kry. Alhoewel die wêreld nie gereed sal wees nie, maar hulle sal wel. Openbaring vertel wat gebeur.
Openb.15 verplaas die leser na daardie tyd en begin met die teken van die sewe engele met die sewe laaste plae waarmee God die mensdom straf. Dit vertel van ʼn laaste era waar baie kerke weggesterf en ander kunsmatig aan die gang gehou word. Hulle het slegs die skyn van godsdiens, maar is sonder krag. Jesus noem hierdie era as die tyd waarin ongeregtigheid vermeerder en liefde verkoel (Mt.24:12). Hy praat van skokkende dinge wat gaan gebeur. Almal sal weet dat God onreg en boosheid nie verdra nie en dit straf.
Die Bybel het talle voorbeelde van God se straf soos bv. die sondvloed en die verwoesting van Sodom en Gomorra. Hy het mense egter altyd vooraf gewaarsku dat Hy gaan optree. Toe Israel afvallig geword het, is profete met waarskuwings na hulle gestuur. Mense het die profete gehaat omdat die mensdom van nature allergies vir doemprofete is. Jeremia moes herhaaldelik stryd teen die valse profete voer; kerklui wat die onregsbedeling van sy tyd na die mond gepraat en die volk met soetsappige boodskappe van vrede gesus het.
Habakuk en Jeremia moes in die Naam van die HERE skrikwekkende oordele aankondig. Jeremia en Esegiël moes selfs vir hul volk sê dat hulle tevergeefs bid. God gaan nie van sy voorneme afsien om sy volk te straf nie. Hy het genoeg van hul sonde gehad waarna twee ballingskappe gevolg het – na Assirië en Babel.
Die gebeure van Openb.15 sinspeel op die selfde ding nl. God se straf. Toe Johannes die boek Openbaring geskryf het, was die verwoesting van Jerusalem en die tempel vars in mense se geheue. Jesus het die Dinsdag voor sy kruisiging die verwoesting van die tempel aangekondig waarna Hy sy Profetiese Rede oor die wederkoms en die voleinding gelewer het (Mt. 24-25). Dit sou nie gou wees nie. Jesus het gesê dat die evangelie eers in die hele wêreld verkondig moet word voordat die einde kom.
Die voorspellings oor die wederkoms word vandag al hoe duideliker soos wat skrikwekkende dinge gebeur en God se raad ontvou. Gelowiges moenie vrees nie. God is volledig in beheer en sal die laaste gelowiges nie aan duistere magte uitlewer nie. Hou die Openbaringboek oop:
“Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word, en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word (Openb. 22:10).
In Openb.15 hoor ons van die sewe engele wat die sewe laaste plae gaan uitgiet en dit gaan erger wees as wat ons onsself kan voorstel. Johannes sien iets soos ʼn see van glas wat met vuur gemeng is en mense wat ʼn lied sing: die lied van Moses en van die Lam.
Toe Moses met Israel deur die see getrek en Farao en sy manne omgekom het, het die volk daarna van blydskap gesing. Net so gaan die verlostes aan die einde van die tyd van dankbaarheid sing as God se oordeel eens en vir altyd oor die goddelose wêreld voltrek is. Dis die laaste uittog!
Die see wat Johannes sien, is die simboliese afsnypunt en laat ons aan die deurtog deur die Skelfsee dink. Na hierdie deurtog kon Farao en sy leërs die Israeliete nie verder bedreig nie. Soveel te meer sal diegene wat deur die bloed van die Lam gered is, aan die einde sing. Niks kan ons van sy liefde skei nie; selfs nie eens die laaste sewe plae nie.
Wat staan ons wat op hierdie laaste plae wag, te doen? Om doodseker te maak dat jy afgesonder, gereinig en met die bloed van die Lam beseël is. Want sodra die laaste plae kom, is genadetyd verby en noodbekerings onmoontlik.
Dit sal wees soos die mense wat destyds graag by Noag op die ark sou wou klim of die vyf dwase maagde wat aan die toe deur kom hamer het. God is absoluut regverdig. Niemand kan Hom verwyt nie. Hy oorreed eerder as om te oorrompel!
Die aarde gaan nie vir altyd bestaan nie. Daar kom ʼn afsnypunt. God het al telkens in die geskiedenis ingegryp as dinge te ver heen beweeg. Dinge kom altyd iewers tot ʼn punt. Gelowiges voel die naderende wederkoms duidelik aan. Jesus het gesê dat ons sy wederkoms aan die tekens van die tyd sal herken en nie soos die vyf dwase maagde aan die slaap gevang moet word nie. Geen mens kan dink dat die boosheid van vandag maar net kan aangaan en God ʼn blinde oog draai nie. Hy het dit nooit in die verlede toegelaat nie en sal beslis ook nie nou nie!
Terwyl ons hierdie dinge sien gebeur, durf ons nie met die hande gevou agteroor sit nie, maar moue oprol en sorg dat ons op ons pos is. Laat ons met hart en siel op daardie dankdiens wag waar die lied van Moses en van die Lam gesing word.
Ons gaan ʼn bitter moeilike eindtyd tegemoet waar gelowiges nie eers meer kan koop of verkoop as hulle nie die merk van die dier op die voorkop en hand het nie. Hulle sal in versoeking wees om in te gee en saam met die goddeloses te knoei en te konkel ter wille van oorlewing. God gaan ons soos Israel kragtig verlos. Farao en sy manne het in die see omgekom, so ook die trop varke by Gadara. As God die handrem losmaak, is daar geen keer meer nie. Dit wat die goddeloses onder aanhitsing van Satan en sy trawante gesaai het, gaan hulle ook maai.
Hierdie wêreld gaan soos deur ʼn smeltkroes na ʼn afsnypunt wat God vasgestel het. Sy Woord lig die mensdom al eeue lank daaroor in. Ons is dus nie in die duister wat hierdie dinge betref nie. Ons het die oop Openbaringboek.
Hierdie laaste tyd gaan bitterlik swaar maar egter van korte duur wees anders sou geen mens gered kon word nie. Jesus sê in Mt.24:22 dat Hy ter wille van die uitverkorenes hierdie dae sal verkort. Net so verskriklik as wat Hy optree, net so genadig is Hy oor sy kinders.
In dié tyd sal mense van vrees omkom en wens om dood te gaan, maar nie kan nie. Niemand sal die oordele van God ontvlug nie. Die vuur wat die goddeloses gaan verteer, is klaar aangesteek en niemand sal daaraan ontkom nie!
Vir gelowiges is dit genadig baie anders. God bewaar hulle in hierdie tyd:
“Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien” (Ps.91:7,8).
Laat ons dus met verlange na die laaste uittog uitsien en gereed maak om die danklied van Openb.15 saam met ons geloofsgenote te sing. Hou aan die geloof en Jesus se laaste belofte vas:
“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).