ENGELE IS WERKLIK (11)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

Hoe engele verskyn

Een aand toe ek tuiskom na kerk, het ek in my slaapkamer ingestap en gevoel of ek in iets vasloop. Ek kon niks sien nie, maar my man het 'n figuur naby die plafon sien sweef. Ek het my hande uitgesteek en 'n teenwoordigheid gevoel. Dit was 'n pragtige ervaring. Ek moes seker in 'n engel se voet vasgeloop het.

Ontmoetings met engele is 'n ervaring van die hart en selde iets wat deur die gewone sintuie waargeneem word. Helen Keller het op 19 maande doof en blind geword en het in 'n wêreld van stil donkerte geleef. Uit daardie eensame plek het sy 'n diep geestelike band met die onsienlike wêreld gesoek en gevind. Later in haar lewe het sy gesê dat die mooiste dinge in die lewe nie gesien of selfs gevoel kan word nie, maar met die hart gevoel moet word. Nadat ek baie stories van besoeke van engele gehoor het, het ek besef engele verskyn in baie verskillende vorme en kan nie altyd met die menslike oog gesien word nie.

 

Die skrywer van Hebreërs beskryf engele so: "Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme" (Heb. 1:7). Ook: "Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?" (v. 14). Die Griekse woord angelos beteken "een wat gestuur is, 'n boodskapper wat God se bevele uitvoer".

Onsigbare engele

Wanneer God engele stuur om iemand in nood te help, bly hulle dikwels onsigbaar; tog voel die persoon 'n onbeskryflike heilige teenwoordigheid aan. Billy Graham het gesê "engele is geskep as geestelike wesens wat sigbaar kan word indien nodig." 'n Paar jaar gelede, tydens een van ons kursusse vir genesende gebed, het 'n vreemde ding met Bill gebeur, een van ons studente wat 'n terapeut was. Bill het ons kursus bygewoon om sy kliënte te kon help. Omtrent die derde dag van die kursus het Bill besef hy het gebed nodig aangaande pynlike herinneringe uit sy kinderdae.

Verskeie gebedsbedienaars het vir meer as 'n uur saam met hom gebid. Die gevolg was dat hy diepe innerlike genesing ervaar het wat hom soos 'n nuwe mens laat voel het, maar hom ook fisies uitgeput gelaat het. Omdat ek nie daardie dag by Christian Healing Ministries was nie, het 'n personeellid aangebied dat hy op die groot bank in my kantoor rus. Nadat hy gerus het, het hy gereedgemaak om huis toe te gaan. Hy het egter 'n paar gesinsfoto's op my lessenaar opgemerk en uit nuuskierigheid besluit om daarna te kyk. Toe hy na my lessenaar stap, het hy direk in 'n onsigbare maar soliede muur vasgeloop. Hy het effens na regs verskuif, toe na links, maar die muur het bly staan. Hy het agtertoe getree om na te dink oor wat dit moontlik kon wees, toe verskeie groot engele wat skouer aan skouer staan, skielik verskyn. Hulle het 'n sirkel om my lessenaar gevorm. Hul arms was beskermend onverbiddelik gevou en hul gesigte nogal ernstig, asof hulle wou sê: "Jy kan nie naby hierdie lessenaar kom nie."

Bill het onmiddellik teruggetree en my kantoor verlaat. Toe ek 'n paar dae later terug was by die sentrum het hy bedees om verskoning kom vra dat hy inbreuk op my privaatheid gemaak het. Toe vertel hy my van die engele wat hy in my kantoor gesien het. Ek was oorstelp om te hoor dat engele my lessenaar oppas, en het Bill verseker dat dit nie nodig was om vergifnis te vra nie. Dit is 'n voorbeeld van hoe engele in 'n oogwenk van onsigbaar na sigbaar na 'n baie fisiese vorm kan verander. Bill het nog nooit 'n ontmoeting met engele voor hierdie een gehad nie, maar die ervaring het hom vir altyd ver­ander.

In hierdie merkwaardige ontmoeting kan ons sien dat en­gele die vermoë het om na willekeur van onsigbare wesens in sigbare wesens te verander. Die onsigbare, ondeurdringbare muur was genoeg om Bill te keer, maar vir die een of ander geheimsinnige rede het die engele besluit om Bill toe te laat om hulle te sien. Die engele het nie as mense verskyn nie, maar as magtige, glinsterende engelwesens wat hul opgelegde taak om my kantoor te beskerm, uitgevoer het. Elke keer wat ek nou by my lessenaar sit, vertrou ek my aan hul beskermende, liefdevolle sorg toe.

Ons sukkel om stories soos dié van Bill te verstaan, maar dit dwing ons om verby die fisiese, sigbare wêreld te kyk na die ongesiende, onsigbare teenwoordigheid van God se koninkryk wat ons omring. Ons gewaarwording word tot die ryk van die Gees verhef, waar die geveg tussen goed en sleg aanhoudend voortduur - veral deur die heilige engele. Paulus wys dat hy hierdie onsienlike oorlog verstaan en waarsku ons in Efesiërs:

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug - Efesiers 6:11-12

Hierdie "lug" waarna verwys word, is die onsigbare geestesryk. Ons kan toegang tot hierdie wêreld verkry deur 'n diep, oordenkende gebedsverhouding met God te kweek, of deur eenvoudig die gawe te ontvang van oë wat deur God geopen is.

Ons vierjarige kleindogter het een aand by ons huis geslaap en ons het versigtig vir ons 'n plekkie op die grond reggemaak om op te slaap. Sy slaap nie gereeld uit nie en was 'n bietjie angstig; dus het ons snoesig naby mekaar gelê. Ons gesigte was na mekaar gedraai, maar het nie aan mekaar geraak nie. Sy het haar oë toegemaak en na 'n rukkie begin ontspan. Toe sê sy: "Ek is nou oukei, Ouma. Ouma hoef nie meer my ruggie te vryf nie." Haar oë was toe, so sy het nie geweet dat ék nie haar rug gevryf het nie. Haar engele moes haar vrese uit die weg geruim het.

Anoniem

Oor die eeue heen het baie diep denkers wat in die verborge geheimenisse van geloof gedelf het, hul merkwaardige ontmoetings met engele en demone opgeteken. Hulle het wysheid bekom deur hul bonatuurlike ondervindings. Die blote feit dat baie in die kerk nie hierdie ryk erken nie, beteken nie dat dit nie bestaan nie. Nie net bestaan dit nie; dis ook 'n grondliggende waarheid van Clod se koninkryk.

Paulus skryf ook aan die kerk in Efese: "Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard" (Ef. 4:17-18).

Die verstand wat "verduister" is, verwys na die mensdom se natuurlike afhanklikheid van logiese, rasionele denke wat tot intellektuele hoogmoed kan lei. Dit neig ook om die bonatuurlike manifestasies van die Heilige Gees, soos genesings, bevrydings (van demone) en die verskyning van engele te ignoreer. Individue kan kennis van Christenskap hê, maar die bonatuurlike wêreld heeltemal verwerp; dus is hulle verstand verduister "en het hulle nie deel aan die lewe wat God skenk nie".

Let op dat Paulus nié gesê het "geen deel aan God" nie, maar "geen deel aan die lewe wat God skenk nie". Die "lewe wat God skenk" aanvaar die aksies van God wat mens geword het deur Jesus. Dink maar net vir 'n oomblik aan een dag in Jesus se lewe. Hoe het Hy sy tyd deurgebring? In die Evangelies gee verwysings na sy merkwaardige lewe ons 'n blik op sy barmhartige liefde in aksie. Jesus het elke dag mense onderrig oor God se koninkryk, maar Hy het ook die krag en outoriteit van daardie koninkryk gedemonstreer deur die siekes te genees, demone uit te dryf en dooies op te wek. Toe het Jesus sy volgelinge met dieselfde sterkte bekragtig, iets wat vir alle gelowiges beskore is - selfs vir jou.

Paulus se begrip van die onsigbare wêreld daag ons uit om ons oë oop te maak, die oë van ons hart (gees) wat dikwels troebel en dynserig is omdat ons afgesny is van die glorieryke werklikheid van engele - en uiteindelik van God self. Die volgende storie illustreer dat die onsigbare ryk dikwels tydens tye van intieme gemeenskap met God aangevoel kan word. Die storie wat ek daarna vertel, is my eie ervaring op 'n tydstip toe 'n engel ingegryp het om my lewe te red.

Besoek tydens Kersfees

Op Oukersaand was ek by die nagmaaltafel in die kerk, waar ek pas die brood en wyn ontvang het. My oë was toe in diepe gebed toe ek van iemand langs my bewus geword het. Eers het ek gedink dit was my ma, wat korter as ek is, maar dit het gevoel of die persoon baie lank, sterk en oor die algemeen kragtig was. Ek het aanhou om in die ry te staan met oë toe in gebed.

Al kon ek aanvoel dat die persoon langs my steeds daar was, was daar niemand toe ek my oë oopmaak nie. Almal het weer gaan sit en die gedagte wat deur my brein geflits het, was: My engel... my beskermengel ...hy het langs my gestaan tydens die nagmaal. Oorweldig deur emosie het ek trane van vreugde en dankbaarheid gehuil oor hierdie Kersgeskenk van die Here.

-                                                                                                                                                   Lorraine Greski

Gered in 'n Alfa Romeo

Tydens my terugkoms in die VSA na my tyd in Israel het ek by 'n dierbare gemeenskap in Clearwater, Florida, ingeskakel. Die Christenkerke daar was lewenskragtig en sterk; dus het ek gou liefdevolle verhoudings met verskeie jong volwassenes en wyse ouderlinge gebou wat vir my struktuur en fokus gegee het om verder geestelik te groei. My tuiste was 'n klein drieslaapkamer- woonstel in 'n skaduryke deel van Oakstraat, baie naby aan my nuwe vriende. Ek het gou 'n redelik informele kameraadskap met hulle gesmee wat tot diep en standhoudende vriendskappe ontwikkel het. Ons het saam in mekaar se huise geëet, saam gebid, saam gaan fliek, saam strand toe gegaan en die vreugde en smart van die lewe gedeel. Ons was 'n uitgebreide familie van vriende. Die lewe was goed.

Kort na ek daarheen getrek het, het ek 'n klein Alfa Romeo- sportmotor met 'n afslaankap gekoop. Wat anders sou jy wou ry as die son altyd skyn? Die afslaankap was omtrent nooit toe nie. Vir die een ofander rede het ek van al my bekommernisse vergeet wanneer ek in daardie motortjie gery het. Ek het vry gevoel met die warm son op my gesig en die wind wat deur my lang hare waai.


Een luilekker Saterdagmiddag het ek en ’n goeie vriendin deur Clearwater se middestad gery op pad strand toe. Na 'n lang werksweek by my beradingspraktyk was ek beslis gereed om te luister na die klanke van die branders, die laggende seemeeue en die kinders wat in die water baljaar.

Ek het 'n blinde vierrigting-kruising genader en kon sien dat die lig vir my groen was. Dit was glad nie nodig dat ek stadiger ry nie en ek was al amper by die kruising toe ek 'n streng manlike stem hoor sê het: "Stop."

Ek het na my vriendin gekyk en gevra: “Het jy gesê ek moet stop?"

Sy het uit die hoek van haar oog na my gekyk sonder om te antwoord, en weer het ek "Stop" gehoor. Ek kon egter geen rede sien waarom ek moes stilhou nie. Daar was niemand voor of agter my kar nie.

"Stop!" Ek het die stem met groot dringendheid hoor praat. Hoewel ek wetlik die reg gehad het om oor die kruising te gaan, het ek vinnig stilgehou net toe ek die kruising binnegaan. In die hoofstraat aan my linkerkant het ek 'n Cadillac gesien wat ongelooflik vinnig aangekom het. Dit het amper teen die voorste buffer van my karretjie vasgery toe dit oor die rooi lig gejaag het. As ek nie die opdrag om te stop gehoorsaam het nie, sou die Cadillac direk in my deur vasgejaag het en ek, my vriendin en die karretjie sou verpletter gewees het. Ek is seker ons al twee sou op slag dood gewees het.

My vriendin het in trane uitgebars so groot het sy geskrik. Vir 'n paar minute kon ek nie beweeg nie. Al waaraan ek kon dink, was dat ons gered is daarvan om soos 'n gogga in die straat verbrysel te word. Toe besef ek 'n engel het ons gered. Ek het vinnig my vriendin gevra of sy 'n manstem gehoor het wat vir my gesê het om te stop. Sy het nie die stem gehoor nie. Net ek het dit gehoor. Die res van die dag het ons op die strand deurgebring waar ons God gedank het vir die onsigbare beskermers wat ons omring.

Wat het ek uit hierdie ervaring geleer? Engele is manjifieke wesens wat wonderlik volhardend is. Ek het besluit om in die toekoms onmiddellik na hul waarskuwings te luister.

Sigbare engele - die tradisionele vorm

Sedert kindsbeen was Kersfees nog altyd my gunsteling vakansiedag. Ek is mal daaroor om die geboorte van Jesus op eenvoudige maniere te vier, en het al baie gedink aan hoe daar­die eerste Kersfees moes wees. Toe ek dus Jerusalem toe getrek het, kon ek nie wag vir die eerste Oukersaand nie. Ek wou Betlehem toe gaan en self die hedendaagse feesvierings daar aanskou.

Ek onthou nog hoe ek en my vriende in 'n lang tou gestaan het by 'n Arabiese busstasie in Jerusalem, terwyl ons op die bus na Betlehem gewag het. Nie eens die koue weer kon my entoesiasme demp nie. Uiteindelik was dit ons beurt en het ons in 'n antieke Mercedes-bus geklim wat hard gesteun het met die wegtrek na die snelweg op pad na Betlehem.

Hoewel ons bestemming net 'n paar kilometer verder was en ons vroeg genoeg vertrek het om lank voor sononder daar aan te kom, het die bus teen 'n slakkepas beweeg. Ek onthou dat ek gedink het dit sou vinniger wees om Betlehem toe te loop. Langs my het 'n ouer vrou gesit wat heeltemal bedek was in pragtig geborduurde kledingstukke. Sy het 'n baie onwelriekende bokkie op haar skoot vasgehou, net soos ek 'n skoothondjie sou vashou. Ek het nie besef dat bokke so sleg kon ruik nie. Vir die res van die reis het ek my kop by die gekraakte venster uitgesteek om die sterk reuk te vermy en vars lug in te asem.

Ons het eindelik by Manger Square aangekom, wat propvol mense, ligte en harde musiek was. Die atmosfeer was eerder soos dié van 'n karnaval as die viering van Jesus se geboorte. Ek het vir die een of ander rede kerse verwag, met sagte Kersliedere en mense wat biddend wag. Om te ontsnap van die kommersiële atmosfeer het ons die entjie na Shepherd's Field geloop, waar ons knielend op die nat, sagte gras gewag het. Ek het aanhoudend in die lug opgekyk en verwag dat die hemel enige oomblik sou oopgaan om 'n menigte engele te onthul wat vreugdevol die goeie nuus aankondig. Ek het rondom my na die donker heuwel gekyk en kon my indink hoe die herders lank gelede teen die koue rotse van ‘n grot, of om kampvure gesit het om warm te bly... skape wat gras vreet terwyl die klokkies om hul nekke saggies klingel... die herders wat hul kudde beskerm, party wat slaap terwyl ander waghou heeltemal donker, behalwe vir die knetterende vuur.


Dan, sonder waarskuwing, breek die hemele oop en word die herders omvou in verblindende lig. Vir 'n oomblik kan hulle niks sien nie, maar dan raak hul oë gewoond aan die briljante, intense lig. Die klank van hemelse musiek bereik hul ore, musiek wat geen mens al ooit gehoor het nie ... onbeskryflike harmonieë, stemme met ongelooflike omvang ... instrumente wat ons harpe en liere ver oorskry ... gesigte en klanke sonder enige aardse vergelyking.

Die herders besef dat die glorieryke lig inderwaarheid die glans van engele is wat bo die veld troon ... duisende der duisende engele wat uit een stem God vereer en loof ... die duisternis van die nag heeltemal belig met God se glorie ... serafs, gerubs, maghebbers, aartsengele met onbeheerste vreugde ... almal skyn met God se lig. 'n Glansende engel verklaar vreugdevol die volgende aan die herders:

Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê. Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!

-                                                                                                                                                               Lukas 2:10-14

Engele van die almagtige, ewige God se troonkamer het hierdie ongelooflike boodskap van die langverwagte Redder van die mensdom gebring. Die wonderbaarlike "persverklaring" is aan eenvoudige, ongeskoolde, arm herders gegee en ons menslike lot is daardie salige aand vir ewig verander.

Om skape op te pas, was in daardie dae een van die nederigste werke; tog het die engele die boodskap nie aan konings of regeringsamptenare gebring nie, maar aan eenvoudige mense om te wys hoeveel God vir elkeen van ons omgee. "Moenie bang wees nie!" het die engel vir hulle gesê. Sigbare engele sê dikwels vir ons om nie bang te wees nie. Hul verskyning ontstem gewoonlik dié aan wie hulle verskyn. Daniël se sterkte het hom in so 'n mate verlaat toe hy 'n engel gesien het, dat hy gebewe het en skaars kon asemhaal (Dan. 10). Wie se adrenalien sal nie pomp wanneer 'n onaardse, glansende wese ver­skyn nie? Engele sê: "Moenie bang wees nie!" met goeie rede.

Laat daardie Oukersaand het ek Shepherd's Field verlaat met hemude vasbeslotenheid om die goeie nuus van Jesus te versprei. Ek het teruggegaan na die plein toe, gereed om met God se groot liefde uit te reik na die siele wat op soek was na die baba wat in die krip gebore is - opsoek na die groot Messias, God wat mens geword het.

Vervolg...