ENGELE IS WERKLIK (10)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

Engel in blou

'n Vyfjarige seun was een aand op pad om in die bed te klim. Sy ma het aangebied om saam met hom boontoe te gaan en hom in die bed te sit. "Nee dankie, Ma " sê hy toe. "Ek is nie bang nie. Die vrou met die blou klere aan is daar vir my."

Ons Here is lief daarvoor om ons te bemoedig en beskerm. Sedert daardie dag toe Linda die engele sien wagstaan het, het sy nog nooit weer getwyfel aan hulle teenwoordigheid of hulle mag om ons teen die bose te beskerm nie. Ons weet dat ons hemelse bewakers by ons is. Gelukkig word hierdie hemelse vriende aan ons gegee om tydens ons hele lewensreis by ons te bly. Hier volg een van my persoonlike verhale.

Timmy en sy ma

Ek en my man, Francis, het 'n hele paar jaar gelede 'n genesingskonferensie in 'n groot kerk gelei. Die lang dag was gevul met onderrig en lewendige besprekings. Ons het geweet almal sien met verwagting uit na die aand se genesingsdiens, want baie het ons reeds vertel van hulle behoefte om God se genesende aanraking te ontvang.

Tydens die diens het 'n jong ma vorentoe gekom vir gebed en haar sesjarige seun het kort op haar hakke gevolg terwyl hy aan haar rok vasgehou het. Sy het gehuil en ons van haar diep hartseer vertel. Sy het onlangs van haar man geskei met wie sy tien jaar getroud was. Ek kon duidelik aan haar liggaamshouding haar wanhoop en eensaamheid sien. Haar diepste kommer was egter oor haar jong seun, Timmy.

Sedert die egskeiding het Timmy hom al meer aan die lewe onttrek en tekens van depressie begin toon. Hy het sy pa verskriklik gemis en het gevoel dit is sy skuld dat hulle gesin verbrokkel het. 'n Ma met 'n hart vol vrees het haar gebroke seun na die Here gebring vir genesing.

Anders as die meeste sesjarige seuns was die hartseer duidelik op Timmy se gesig te sien. Sy oë was vol smart. Toe ons ons hande op Timmy lê en vir hom bid, het hy sag begin huil. lets het skielik my aandag getrek en my boontoe laat kyk. 'n Engel het bokant die kruis op 'n houtbalk gesit. 'n Helder lig het hom omring en sy klere het geskitter - ek het nog nooit voorheen so iets gesien nie. Sy gesig was vol vreugde, maar ook bekommerd terwyl hy gekyk het hoe ons vir Timmy bid. Ek het duidelik aangevoel dat hy ook vir Timmy bid.

Nadat ons gebid het, het Timmy ons deur sy trane bedank en toe weer saam met sy ma gaan sit. Ek het kort-kort na Timmy gekyk en gesien hy kyk na die plek waar ek die engel sien sit het. Ek het myself verskoon en langs Timmy gaan sit. Ek het hom gevra of hy sal omgee om my te vertel waarna hy so aandagtig kyk. Teen hierdie tyd het hy na die engel gestaar, sy ogies vol verwondering.

Hy het 'n oomblik geaarsel en toe stadig gesê hy sien ‘n groot man wat op 'n balk sit.

Hy het vraend na my gekyk, asof om te vra: "Glo jy my?” Ek het geglimlag en hom verseker dat hy 'n engel van die Here sien.

Ek het Timmy gevra om die engel te beskryf en hy het 'n presiese beskrywing gegee van sy hare, klere, glimlag en grootte. Ek het hom gevra of hy groter is as my man (wat byna twee meter lank is) en hy het gesê: "Baie groter." Ek het vir Timmy vertel dat hy baie geseënd is om die engel te kan sien. Hy het breed geglim­lag. Ek kon die opwinding in sy stem hoor toe hy vir my sê: "Ek glo God wil hê ek moet weet Hy het sy engel gestuur om altyd na my te kyk, veral noudat my pa nie meer hier is nie."

Twee goeie vriende wat geordende leraars is en oor die hele wêreld by genesingsbedienings betrokke is, het die volgende twee verhale vir my vertel.

Engele beskerm 'n leraar in die Filippyne

In die 1980's het ek elke jaar na die Filippyne gereis om 'n reeks genesingsdienste te hou, gewoonlik in Anglikaanse kerke. By een geleentheid is ek gevra om 'n diens op die eiland Basilan te hou. Jy herken dalk die naam as gevolg van die Moslem-opstande wat daar plaasvind, asook die berigte van gedwonge bekerings, leraars wat ontvoer word en Christene wat vermoor word. Alhoewel hier­die tipe gebeurtenisse die afgelope ruk geweldig toegeneem het, het dit pas begin terwyl ek in 1986 daar was.

Ek bid altyd vir God se beskerming en salwing voordat ek dienste lei, maar ek bid nie gewoonlik vir engele se beskerming nie. Op een spesifieke dag het ek God egter gevra om "die perimeter met engelekrygers te omring". Die erediens is buite op die klein kerkie se groot grasperk gehou. Mense is op dramatiese wyse genees en in hulle dankbaarheid teenoor God en hulle liefde vir ander, sou hulle dadelik terughardloop na hulle woonbuurte en ander bring sodat ek ook vir hulle kon bid. Dit het 'n paar keer tydens die diens gebeur dat die priester in wie se gemeente ek gepreek het, my gestop en vir my gesê het dat 'n sekere persoon wat pas genees is 'n Moslem is en nou vra om Jesus as Here en Verlosser aan te neem.

Ongeveer twee ure nadat die diens begin het, het ek 'n groot vragmotor aangery sien kom. 'n Paar swaar gewapende soldate het uitgespring, die area vinnig deursoek en toe stip na my gekyk. Aangesien ek 'n Amerikaner van 1,8 meter lank met ligte hare en 'n ligte vel is, het ek uitgestaan tussen die korter Filippyne met hulle donker velle. Met my priesterklere aan is ek herken as die leier op 'n plek waar Filippynse Moslems deur Jesus Christus genees en na die Christendom bekeer is.

Die soldate het na my toe begin aanstap toe iets hulle skie­lik laat skrik. Hulle het na die buiterand van die grasperk gewys waar die diens gehou is. Hulle het angsbevange gelyk en toe vin­nig teruggehardloop na hulle vragmotor toe.

Ek het 'n paar dae later uitgevind wat gebeur het. Dit was Moslem-soldate wat gekom het om die persoon dood te maak wat sommige Moslems na Christus gelei het - met ander woorde vir my. Hulle het nadergekom en was op die punt om ons te skiet toe hulle skielik al om die rand van die grasperk 'n groot afdeling soldate sien wat hulle wapens op hulle rig. Toe hulle besef dat hulle ver in die minderheid is, het die Moslem-soldate haastig teruggetrek.

Dankie, Jesus, dat u engelekrygers ons daardie dag beskerm het en dankie, Jesus, dat baie mense in u Naam genees en gered is.

Eerwaarde Dr. Mark A. Pearson

Die aartsengel Migael se beskerming en feesviering

Tydens my tweede sendingreis na Belfast in Noord-Ierland het ek een aand by St. Anne's-kerk as spreker opgetree. Die vorige Saterdag het die IRL se Shankill-bom tien mense se dood veroorsaak en 57 is beseer. Ons was nie seker of enigiemand die Maandagaand se diens sou bywoon nie, maar ten spyte van die bomaanval het 'n groot klomp mense opgedaag.

Terwyl die mense gesing het, het ek gevoel die Here sê vir my ek moet boontoe kyk. Daar was 'n reuse glansryke figuur wat met 'n swaard in sy hand links voor in die kerk gestaan het. Ek het God gevra wie dit is en Hy het geantwoord: "Migael," wat my verbaas het. Toe ek God vra hoekom Migael daar is, het Hy gesê: "Om te beskerm en fees te vier."

Joseph Sampson het langs my gestaan. Ek het aan hom gestamp en gesê: "Kyk."

Hy het opgekyk en gesê: "Wow!" Joseph se reaksie het bevestig dat ek nie hallusineer nie. Ons was werklik in die teenwoordigheid van 'n heilige engel.

Ek het later tydens my toespraak die verhaal vertel van my woedende, onvergewensgesinde reaksie op my pa se dood en hoe dit my vir die grootste deel van my lewe benadeel het. Toe die gebedstyd aanbreek, het 'n groot hoeveelheid mense vorentoe gekom om die onvergewensgesindheid in hulle eie verhoudings te bely. Baie ander het vir gebed gevra en wou hulle hart en lewe vir Je­sus gee. Ek het op 'n stadium tydens die vreugdevolle aanbidding teruggekyk na waar Migael was en ek was verheug om hom te sien dans.

Eerwaarde Mike Evans

'n Jare lange vriend van my het die volgende verhaal geskryf. Dit is nog 'n voorbeeld van engele wat ongesiens ingegryp het om 'n motorongeluk te voorkom.

Engele voorkom 'n motorongeluk

Ek was nuut tot die kerkraad van ons kerk in Virginië verkies. Ek het nog nooit voorheen op 'n kerkraad gedien nie en was dus dankbaar vir die kans om 'n konferensie oor gemeentelewe by te woon wat in Connecticut aangebied is. Ek het saam met ons dinamiese leraar, John, en twee ander wonderlike kerkraadslede, Sharon en Larry, gegaan.

Op pad daarheen het ons beurte gemaak om Sharon se groot kar te bestuur. Toe ons uit New Jersey wegry, was dit my beurt. Die verkeer het glad gevloei; dus het ek die kar se spoedreëlaar gebruik. Ons het skielik in 'n ongewoon harde reenbui ingery. Die pad was binne oomblikke vol water. Ek het net ’n paar dae tevore oor die radio na 'n gesprek geluister oor hoe om in nat omstandighede te bestuur. Die raad wat gegee is, is om nie jou remme te gebruik nie aangesien dit kan veroorsaak dat jou kar tol. Die enigste manier waarop ek egter die kar se spoedreëlaar kon afsit, was om die rem te trap. Ek het dit so lig moontlik getrap, en die kar het skielik in die rondte begin tol.

Ek het geweet daar is karre in die ander drie bane; dus was ek doodbang dat ons tollende kar hulle sou tref. Ons voertuig het al hoe nader aan die snelweg se betonversperring beweeg. Ek was heeltemal hulpeloos en het uitgeroep: "Jesus!"

Ons het gebid en onsself vir die onvermydelike botsing gestaal. Die kar se voorste buffer het skielik teen die betonversperring gebots en toe het ons sagkens tot stilstand gekom. Die kar het voren­toe gekyk en al die ander karre was weg. Hoe het dit gebeur? Ons het die skade gaan bekyk en gesien dat slegs 'n klein stukkie rubber van die voorste buffer los was. Dit was al. Die kar het niks makeer nie, en ons het niks makeer nie. Ons het mekaar vol verwondering vasgehou en God gedank omdat Hy ons gebede verhoor het.

Hoe is ons gered van wat verseker 'n emstige ongeluk moes gewees het? Ons klein groepie het geen engele gesien nie, maar daar moes 'n hele paar gewees het wat ons beskerm het, die ander karre laat verdwyn het en ons tollende kar sagkens tot stilstand gebring het. Ons het die konferensie baie geniet en is veilig terug na ons eie kerk toe, versterk deur ons belewenis van radikale beskerming.

Pat Fitzgibbons

Ons sien in die volgende verhaal hoe 'n jong sendeling Jesus se Naam aanroep wanneer gevaar haar in die vorm van ‘n dreigende vreemdeling nader, en dat sy dadelik gered word.

'n Engel beskerm ‘n sendeling

Ek het in 1999 'n jaar by die werk afgevat sodat ek vir vyf maande op 'n sendingreis na die Oekraïne kon gaan. Ek het gou by Hospitaal #10 werk gekry in die afdeling vir pasgebore weeskinders. My tolk het my gehelp en ek het gou geleer hoe om self by die werk te kom; dit was eintlik heel eenvoudig, want die busstop was reg voor die hospitaal. Ek het egter op die meeste dae redelik lank gewag om terug te kom by die huis, want die busse was dikwels so vol dat daar eenvoudig nie plek was vir nog een mens nie.

Dit was somer; dus was dit dikwels sonnig en warm. Langs die hospitaal was 'n baie uitnodigende, geplaveide paadjie wat teen 'n helling af na ’n area met pragtige bome gelei het. Een pragtige middag nadat ek reeds moes sien hoe twee vol busse verbykom sonder om stil te hou, het ek na die lieflike paadjie gekyk wat na die park lei. Ek het geweet dit sou dwaas en waarskynlik gevaarlik wees om alleen daarheen te gaan, maar die volgende bus sou eers oor 20 minute kom. Ek het besefek kan vir 'n kort wandeling gaan en steeds die volgende bus huis toe haal.

Terwyl ek alleen in die heerlike koel skadu van die bome gestap en God se skepping geniet het, het ek twee mans na my toe sien aankom. Ek het aanhou stap en my nie juis aan hulle gesteur nie, totdat hulle naby genoeg aan my was sodat ek hulle gesigte kon sien. Veral die een man het dreigend na my gekyk en hulle begin toe skielik direk na my toe stap. Ek was alleen en angsbevange.

Daar was nie regtig tyd om te bid nie - die mans was slegs 'n paar meter van my afweg - daarom het ek net gesê: "Jesus!" Ek het dadelik openlike skok en selfs ongeloof op hulle albei se gesigte gesien en hulle het omgedraai en die hasepad gekies asof hulle vir iets weghardloop. Ek weet nie of hulle engele gesien het nie, maar ek sal die Here ewig dankbaar bly omdat Hy my dié dag beskerm het.

Immy Lamont

Inny kon nie haar beskermengele sien nie, maar die mans se geskokte uitdrukkings dui daarop dat die engele aan hulle verskyn het. Wat het hulle gesien wat hulle gedwing het om weg te hardloop en Inny uit te los? Magtige, skitterende engele.

'n Baie goeie vriendin van my het die volgende verhaal gestuur. Sy is ook teen gevaar beskerm en dit het haar bemoedig om te weet haar beskermengel waak oor en sorg vir haar.

'n Engel op 'n verlate bofbalveld

Dit was ’n doodgewone Dinsdagoggend by die huis. My dogter, Virginia, was op soek na haar biblioteekboek. Ek het haar gevra waar sy dit laaste gesit en lees het.

"Ag nee," het sy uitgeroep en in trane uitgebars. "Ek dink ek het dit by die bofbalveld gelos."

Ons het die vorige aand my seun se bofbalwedstryd gaan kyk. Dit was te koud om op die oop pawiljoen te sit; dus het ons styf teen mekaar by die telbord gesit. Party van ons het die wedstryd gekyk; Virginia het gelees.

Daar is min dinge in hierdie wêreld wat my so maklik oorreed soos my dogter se oë vol trane en ek was vasbeslote om haar beter te laat voel. "Ek sal jou skool toe vat en dan sal ek jou boek gaan haal," het ek haar verseker. Ek het later alleen na die bofbalveld toe gery. Ek het ongemaklik gevoel terwyl ek alleen na die telbord toe gestap het en het gebid: "Here, beskerm my en stuur u heilige engele om my te bewaak." Altyd wanneer ek vrees of enige vorm van huiwering ervaar, bid ek die gebed byna outomaties.

Die afstand van die parkeerterrein tot by die telbord is byna die lengte van twee voetbalvelde en dit is reg langs die spoorlyn. Toe ek om die hoek na die telbord ('n klein sinkstruktuur) se opening stap, het ek groot geskrik toe ek op 'n man afkom wat duidelik die vorige nag daar deurgebring het.

"O, hallo," het ek gesê en my bes gedoen om kalm te lyk. Na 'n baie kort gesprek en geen teken van 'n boek nie, is ek op 'n drafstap terug kar toe terwyl ek kort-kort oor my skouer kyk om seker te maak die man volg my nie.

Op daardie oomblik het die Heilige Gees ingegryp en my herinner aan hoe koud dit die vorige nag was, hoe dun die man se kombersie is en hoe honger hy waarskynlik moes wees. Ek het vir hom ontbyt gaan koop en is toe terug na die bofbalveld. Toe ek uit die kar klim, het ek geaarsel. Wat besiel my om terug te gaan na 'n potensiëel gevaarlike situasie? Ek het met nog 'n eenvoudige maar kragtige gebed teruggestap na die telbord toe: "Here, beskerm my en stuur u heilige engele - ek het hulle nou regtig nodig."

Toe ek so vyf meter daarvan af was, het ek uitgeroep: "Joehoe," en dit het die man laat wakker skrik. Hy het skynbaar na my besoek weer gaan lê en slaap. “Ek het vir jou ontbyt gebring," het ek vir hom gesê. Ek het die sak in sy hande gedruk en 'n paar tree agteruit gestaan.

“O, dankie," het hy gesê. "Het jou vriend weer saam met jou teruggekom?"

"My vriend?" Ek het oor my skouer gekyk, bang dat iemand anders my gevolg het.

"]a, die lang blonde ou wat die eerste keer saam met jou hier was," het hy geantwoord.

Toe tref dit my: Ek het gebid - ek is beskerm.

"Ja, hy is hier," het ek geantwoord.

"Baie dankie," het hy gesê. "En sê vir jou vriend ook dankie."

"Dis 'n plesier," het ek gesê en toe gemaak dat ek wegkom. Hierdie keer het ek nie teruggekyk nie. Ek het geweet my hemelse Vader beskerm my, en selfs al kon ek nie my beskermer sien nie, kon die eensame hawelose man hom wel sien.

Kathi Smith

God het Kathi beskerm en 'n hawelose man die geesteryk laat "sien". Die "lang blonde ou" was nie vir die hawelose man 'n bedreiging nie - die engel wou net die boodskap oordra dat Kathi nie alleen is nie. Hoeveel barmhartigheid het daardie arme eensame siel nie deur Kathi se beskermengel ontvang nie?

Ons dierbare vriend vader Richard Rohr het die volgende verhaal gedeel. Hy is 'n Franciskaanse priester, 'n intemasionale spreker, die outeur van baie wonderlike boeke oor die geestelike lewe en die stigter van die Center for Action and contemplation. Vader Richard se meelewende verhaal van sy geliefde ma se dood illustreer hoe "dun die gordyn" tydens daardie laaste dae is.

'n Ma sien haar seun se beskermengel

Voordat ek hierdie verhaal vertel, wil ek net sê dat my ma nie 'n toegewyde gelowige was nie. Tydens haar lewe op aarde het sy nooit gepraat soos sy in hierdie verhaal praat nie; daarom maak dit die spesifieke oomblik net soveel meer geloofbaar en wonderlik.

Dit het op die Donderdagmiddag van 30 Desember 1993 ge­beur. My ma was 79 en besig om aan kanker te sterf. Ek en my familie het geweet haar einde is naby. Om dit vir haar makliker te maak, het ons 'n wonderlike verpleegster gekry om haar by my broer se huis in Topeka, Kansas, te versorg. Ek het daarheen gegaan vir Kersfees en was die middag die enigste een in die huis. Die ander was by die werk of gou dorp toe.

My ma was byna nooit meer by haar volle bewussyn nie; dus het ek sag tot by die bed se voetenent geloop om te kyk ofsy wak­ker is. Sy het haar oë oopgemaak, maar nie op my gefokus nie; sy het stip na iets links van my gekyk. Ek kon duidelik sien hoe sy iemand op en af bekyk, asof die persoon langs my staan.

Ek het gevra: “Wat sien Ma?"

Sy het met kalm duidelikheid geantwoord: "O, dis jou beskerm­engel." Sy het steeds net links verby my gekyk.

Ek het gekyk, maar niks daar gesien nie en uiteindelik effens senuweeagtig gevra: "Hoe lyk hy? "

Sy het stip gekyk en toe geantwoord: "Wel, hy lyk net soos jy."

Ek was opreg teleurgesteld en het gesê: "O, ek het gedink hy sou mooier wees."

Sy het rustig haar oë toegemaak en ek het nooit weer met haar gepraat nie. Ek kon self geen teenwoordigheid aanvoel nie, maar ek twyfel glad nie dat sy die "wese" gesien het nie. Sy is die vol­gende Maandagoggend van 3 Januarie dood en ek kon haar begrafnisdiens op die dag van die Driekoningefees hou, wetend dat sy my met een laaste en wonderlike herinnering verlaat het. Al my teologiese opleiding en jare in die bediening het my nie toegelaat om te sien, ten volle te verstaan of selfs voorbereid te wees op wat my ma- en so baie ander - in daardie laaste dae en ure gesien het wanneer die "gordyn dun is" tussen hierdie wêreld en die volgende nie.

Vader Richard Rohr

Vir 'n pa of ma om die dood ten volle te verwelkom en hierdie lewe vredevol te "laat gaan", is dit nodig om te weet dat 'n kind - selfs 'n volwasse kind - goed versorg is. Terwyl Richard se ma haar dood genader het, is sy toegelaat om te "sien" hoe sy beskermengel langs hom staan en vir hom sorg. Met daar­die versekering kon sy "huistoe gaan".

'n Vriendelike, ouer Engelse man het hierdie laaste verhaal oor ons beskermengele se waaksame sorg vir my gefluister terwyl ons een sonnige middag die voëls in St. James-park in Londen gevoer het. Dit was een van ons gesin se lekkerste uitstappies om ons jong kinders te vat en die eende en ander voëls te gaan voer wat hulle in die park tuisgemaak het. Eendag ter­wyl ons die voëls gevoer het, het hierdie vriendelike man daar opgedaag met sade vir die voëls wat hy vrygewig met ons gedeel het. Hy het sy verhaal vir my begin vertel. Dit was een van daardie ongelooflike oomblikke waar jy weet daar is iets wat God wil hê jy moet hoor.

Man van verdrinking gered

Die man het my vertel dat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in die weermag was en by die Middellandse See gestasioneer was.

Op een van die dae wat hy met verlof was, is hy saam met een van sy medesoldate strand toe. Hy was nie 'n sterk swemmer nie; dus het hy geweet hy moenie verder as die vlak water gaan nie. Hy het ingegaan tot waar die water by sy middel gekom het en omdat hy veilig gevoel het, het hy bietjie vir bietjie al hoe dieper gegaan. Hy het dit geniet.

Hy was 'n hele ent verder as waar hy normaalweg gemaklik gevoel het toe ’n skielike seestroom hom onder die water intrek. Die water was onstuimig en het hom al hoe verder die oop see in geneem. Die stroom het hom verder ook diep onder die water ingetrek en hy kon nie daaruit losbreek nie. Terwyl hy in die greep van die gevaarlike seestroom was, het hy onthou dat sy ouma vir hom gesê het: "As jy ooit enigiets nodig het, roep na Jesus." In daardie angsbevange oomblik het hy uitgeroep: “Here Jesus, help my!"

Die oomblik toe hy bid, het twee sterk arms hom beetgekry en stewig om hom gevou. Hy het vertel dat hy en sy onbekende red­der nie na die oppervlak geswem het nie; hulle het bo die water uitgeskiet. Sy kop was binne ’n breukdeel van ’n sekonde bo die water en hy het net so gou daarna op die strand gelê. Hy het regop gaan sit en in alle rigtings gekyk, maar daar was niemand in die omtrek nie.

Nadat hy hom onder die water sien verdwyn het, het sy vriend uitgeswem om hom te gaan soek. Die vriend het later vir hom ver­tel: “Ek het gesien jy is in die moeilikheid en probeer nader swem om jou te gaan help, maar die stroom was te sterk. Ek kon nie by jou uitkom nie. Hoe het jy teruggekom tot op die strand?"

Die man het hom geantwoord: “Ek is nie seker nie. Daar was iemand in die water wat my na die oppervlak toe gevat het." Hy en sy vriend het die strand platgeloop op soek na wie hom ook al gered het, maar daar was niemand in sig nie.

Nadat die vriendelike man in die park vir my sy verhaal vertel het terwyl hy die hele tyd die voëls gevoer het, het hy gesê: “Ek weet my redder was 'n engel."

Ek is uiters bevoorreg dat honderde mense, beide vriende en vreemdelinge, hulle merkwaardige verhale van ontmoetings met engele met my deel. Ek hoop dat namate jy meer bewus word van engele se liefdevolle teenwoordigheid, jy nie langer alleen sal voel op jou lewensreis nie. Engele het met beperkte liefde lief, want hulle is suiwer liefde - deur die God geskep wat die bron van alle liefde is.

Jy sal in die volgende aflewering van engele lees wat genees en ook 'n hele paar mense ontmoet wie se lewe vir ewig verander is deur wonderwerke van genesing waarin 'n engel 'n rol gespeel het.

Vervolg...