ENGELE IS WERKLIK (9)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

Beskermengel

Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy rue jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

-Psalm 91:11-12

Beskermengele bewaak groepe mense, sowel as individue. Toe Moses die Hebreeuse kinders uit die slawemy van Egipte gelei het, het God 'n magtige engel gestuur om hulle na die Beloofde Land te lei. "Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie" (Eks. 23:20-21). Hierdie engel het in opdrag van God gekom om God se mense te lei na die plek wat Hy vir hulle voorberei het. Die engel het direk met Moses gekommunikeer.

Maak plek vir 'n engel

Ons kleinkinders hou partykeer daarvan dat ek langs hulle op die bed lê wanneer hulle aan die slaap raak. Een aand was my vierjarige kleinseun rusteloos en het hy vir my gesê: "Ek wil nie my oë toemaak nie, want ek is bang ek sien monsters."

Ek het verduidelik as hy Jesus in sy drome innooi, en Hom vra om ‘n beskermengel te bring, dan sou hulle die monsters uithou.

Toe het hy die gebed opgesê, sy oë toegemaak en gesê: "Ouma, kan jy asseblief bietjie opskuif? My engel het meer plek nodig!”

Anoniem

Hoe kan ons ook soos Moses en Jeanne d'Arc die stem van 'n engel herken? In sommige gevalle hoor ons duidelik die engel se stem. In ander gevalle sien ons inderwaarheid hoe die engel verskyn en God se wil aan ons vertel. Hierdie engele spoor ons aan om God se wil en doel vir ons lewens te soek. Engele kom- munikeer op verskillende maniere; dus kan dit moeilik wees om onderskeid te tref tussen jou gedagtes, 'n engel se bood- skap of die Heilige Gees. Daar is natuurlik nog 'n moontlike bron, die "engel van die lig" - Satan. Om boodskappe van God se engele te hoor, moet ons ons luistervaardighede opskerp.

Die volgende storie gaan oor twee van my gunsteling mense in Jacksonville, Florida, Thad McNulty en sy jonger sussie, Shannon. As negejarige seuntjie het Thad 'n gebiedende in­terne boodskap gekry wat hy as 'n dringende, ongewone behoefte om te gaan swem, ervaar het.

Thad se begeerte om te"gaan swem".

Ek was nege jaar oud toe ons as gesin by my grootouers gaan kuier het. Een oggend het ek skielik 'n oorweldigende begeerte gehad om in hul swembad te gaan swem. Ek het nie 'n stem gehoor nie; dit was asof iemand vir my gesê het ek moet gaan swem en ek moet dit "nou dadelik!” doen. Normaalweg sou ek nooit aan hier­die idee gedink het nie. Dit was 'n koel dag en ek was 'n tengerige kind wat niks van koue water gehou het nie. Ek en my broer en twee susters het ook gewoonlik saam gespeel; dus was dit vreemd dat ek alleen wou gaan swem.

Nogtans het ek gou my ma gesoek en toestemming gevra.

“Nee," was Ma se antwoord, "daar's geen rede waarom jy nou moet gaan swem nie."

Ek het volgehou dat ek regtig wou swem, wat weereens bietjie vreemd was, aangesien ek die oudste kind was en altyd my ouers wou behaag.

Ma het effens geïrriteerd ingestem. “Goed dan," het sy gese, “maar net vir 'n kort rukkie."

Ek onthou duidelik hoe dit vir my gevoel het of ek 'n taak het om af te handel. Ek moes net in daardie swembad kom. Ek het haastig my klere uitgetrek en my swembroek aangetrek. Toe hol ek swembad toe, duik in en swem onder water na die vlak kant, waar ek iets op die bodem regs van my opmerk. Dit was my driejarige sussie, Shannon! Ek het afgeduik, haar na die oppervlak getrek en onmiddellik so hard ek kon my ma geroep.

Almal het by die huis uitgestorm en gewonder wat aangaan. Toe my ma by ons kom, het sy dadelik oorgeneem. Sy het Shannon gegryp, gekyk dat haar keel nie geblokkeer is nie en mond-tot-mond-asemhaling toegepas. Teen dié tyd was my broer en suster en pa ook daar. Ma het koorsagtig gewerk om Shannon by te bring, en aanvanklik het my suster nie gereageer nie. My ma was onverbiddelik. Sy het aangehou met mond-tot-mond-asemhaling tot sy lewe in Shannon geblaas het.

'n Paar minute later het reddingspersoneel opgedaag. Aange­sien Shannon by haar bewussyn was, was daar nie eintlik iets wat hulle onmiddellik vir haar kon doen nie. Iemand het egter die buurvrou vertel wat gebeur het, en dié het flou geword. Dus het die mediese span haar gehelp en toe vir Shannon hospitaal toe geneem waar sy die nag deurgebring het vir observasie. Die dokters het geraai dat Shannon langer as 'n minuut - dalk twee - onder die water was en by die dood omgedraai het. Al waaraan ek kon dink, was hoe gou ek op die stem reageer het wat vir my gesê het om te gaan swem. Was dit die stem van die Heilige Gees of van ons beskermengele? Ek weet nie, maar ek weet dat ek nog nooit tevore iets so dringend ervaar het nie.

Thad McNulty

Ek wil jou aanspoor om daagliks die Vader te vra om sy magtige engele te stuur om jou te beskerm, te lei en jou denke te verlig.

'n Engel en 'n troeteldier

Ons hele uitgebreide familie gaan elke somer na 'n strand in die noorde. Daar is 'n gesin met 'n groot hond wat baie lief is vir kinders. My seun is egter nog altyd vreesagtig vir die hond. Tydens die spesifieke vakansie het ek saam met my seun gebid en God gevra om horn te beskerm wanneer hy en die hond op die strand was.

Kort daarna het my seun op die strand gesit terwyl die hond en sy eienaar op die strand gespeel het. Die hond het langs my seun gesit, dan in die water in gehardloop om 'n stok te vang, dan weer teruggekom en gesit, water toe gehardloop, en so aan. Dit het vir omtrent 'n uur so aangehou. My seun het in die huis ingegaan om water te drink, en ek het saam gegaan. Terwyl ons hand aan hand strandlangs gestap het, het ek opgemerk: "Ek is so trots op hoe dapper jy daarbuite was. Jy het die hond baie naby aan jou laat sit." My seun het geantwoord: "Die engel het tussen my en die hond gesit, so ek was nie bang nie."

Anoniem

Om in die teenwoordigheid van engele te wees, bring God se koninkryk nader aan ons. Wanneer jy in God bly, bring dit engele en die hemelryk nader aan jou. Engele wys ons na die Here heen deur ons aan te moedig om ons siele te verhef na die Een wat ons sterkte is. Hul heiligheid raak ons hele wese aan - ons verstand, liggaam en emosies. Hulle verlig ons gedagtes deur God se bemoedigende boodskappe oor te dra.

Om by 'n sterk gelowige te wees met 'n kragtige gebedslewe lei tot 'n soortgelyke ervaring. Deur my lewe was ek nog altyd geseën met verhoudings met mense wat ek as "geloofsreuse" beskou - metgeselle op my lewensreis wat my in liefde onderrig, bemoedig en reghelp. Net om in hul teenwoordigheid te wees, maak dat ek 'n beter persoon wil word. Hul gebede en liefde blaas goedheid, sterkte en liefde in my. Die besluit om 'n pelgrimstog na heilige plekke of heilige mense te ondemeem, word maklik verstaan in terme van die persoonlike voordele wat ons ontvang. Ons soek inderwaarheid na die teenwoor­digheid en liefde van God self.

Verskeie beskermengele word aangestel om mense wat in die bediening staan te vergesel, en om beskerming, leiding en sterkte vir hulle te verskaf. 'n Paar jaar gelede was ek betrokke by 'n vergadering met 'n leke-evangelis wat die gawe ontvang het om in die geesteryk te sien. Die evangelis het gereeld engele gesien wat hul opdragte uitgevoer het. Na die vergadering het ons na die hysbak gestap. Die evangelis het my kalm ingelig dat ek twee beskermengele gehad het wat aangestel is om my op te pas. Ek was oorstelp van dankbaarheid dat God toegelaat het dat twee engele oor my waghou, aangesien ek gereeld berading gedoen het met kliënte wat vrygelaat is uit die tronk of sielsieke-hospitaal.

Ek moet erken dat ek ook vlietend gedink het dat my werk belangriker moet wees as dié van die priester wat saam ons was. (Trots het die manier om ons op ons goue oomblikke te bekruip.)

Dit het gelyk of die evangelis my gedagtes kon lees. Hy het gesê: "Moenie te trots wees nie. Ander het drie engele om te verdedig."

Nederig het ek God om vergifnis gevra en Horn bedank vir

sy beskermende sorg vir ons almal.

Dr. Russ Parker, direkteur van Acorn Healing Trust in Engeland, is een van ons intieme vriende. Russ is 'n leraar en outeur en het eenkeer die volgende storie vertel van engele wat hom in 'n moeilike tyd in sy lewe beskerm het.

'n Engel bewaak 'n spreker

'n Paar dae na my ma oorlede is, het ek 'n afspraak gehad om by 'n konferensie in Londen te praat oor die onderwerp: “Om met mislukking saam te leef'. Ek was nie lus om te gaan nie, maar het geweet dat ek nie die mense wat geregistreer het, kon teleurstel nie. Nie net was ek hartseer nie, maar my gedagtes was ook by die begrafnisreëlings wat twee dae na die konferensie sou plaasvind.

Terwyl ek gepraat het, het ek 'n jong man opgemerk wat omgekrap was deur wat ek gesê het. Hy het tydens pouses in my rigting geloop, maar telkens van plan verander en vinnig weggeloop.

Teen die einde van die dag het dit gelyk of hy kalmeer het. Uiteindelik het hy met my gepraat: "Ek het nie gehou van wat jy oor mislukking gesê het nie," het hy gesê. "Ek wou hê jy moes se mis­lukking is 'n leerskool, maar jy het nie. Ek wou jou sê hoe ontsteld ek was, maar elke keer wat ek jou genader het, het die twee mans wat saam met jou gekom het, my gekeer."

Ek het vir hom gesê dat ek alleen gekom het.

"Jy moes saam met iemand gekom het," het hy gesê. "Elke keer wat ek jou genader het, het twee lang mans wat amper identies ge­lyk het, vorentoe getree en gesê: 'Los hom uit; ons beskerm hom.

Ek het self nie hierdie mans gesien nie, maar ek dink hy het my beskermengele gesien, wat geweet het dat ek swak en bedroef was.

Ek dank God dat Hy engele stuur om wag te hou oor my in moei­like tye en tye van nood.

Dr. Russ Parker

Ek wil ook dat my assistent by CHM, Linda, 'n roerende sto­rie met jou deel. Sy het die volgende wonderbaarlike ervaring gehad.

Engel by konferensie

Ek het nog maar net agt maande vir Christian Healing Ministries gewerk en ons was in die middel van 'n konferensie oor genesing by 'n hotel in Jacksonxville, Florida. Ek was nog besig om gewoond te raak daaraan om vir so 'n kragtige bediening te werk en aan te pas by alles wat my werk behels het. Alhoewel ek liggaamlik moeg was, het ek nogtans 'n geestelike hoogtepunt beleef as gevolg van die ongelooflike dinge wat ek op my reise saam met die MacNutts beleef het.

In my kort tydjie by CHM het ek gesien hoe katarakte van 'n vrou se oë af verdwyn, hoe 'n kreupel persoon uit 'n rolstoel opstaan en wegstap en hoe 'n man se verwronge arm volkome herstel is. Bykomend tot hierdie liggaamlike genesings het ek ook gesien hoe God mense se lewens verander deur innerlike genesing en bevrydende gebed.

In die weke voor hierdie konferensie het ek God gevra om "my oë oop te maak". Alhoewel ek ongelooflike wonderwerke aanskou het, het ek ’n vurige begeerte gehad na meer. Judith was die eerste spreker op die program. Toe sy begin praat, het ek gesien sy drink vinnig haar hele glas water. Sy het ook op haar lip gebyt en het onrustig en senuweeagtig voorgekom, iets wat glad nie eie is aan haar nie.

Terwyl ek aan 'n manier probeer dink om Judith te help, het iets agter haar my oog gevang. Dit was iets soos lig wat vir 'n ruk lank geflikker het. Ek het besluit my moegheid is uiteindelik besig om sy tol te eis, maar toe sien ek dit weer - hierdie keer was dit net groter en dit het beweeg.

Die enigste manier waarop ek kan verduidelik wat ek gesien het, is om te sê dat dit gelyk het of daar 'n onsigbare gordyn was en iets het agter dit uitgeloop. Skielik was daar drie van hulle - groot, helder en pragtig. Hulle was ten minste drie en 'n halwe meter lank. Twee van hulle het aan weerskante van Judith gaan staan terwyl die derde een direk agter haar gebly het. Hulle het nie vlerke, arms, bene of selfs gesigte gehad nie; tog het ek dadelik geweet dat dit engele was. Ek het verwonderd toegekyk hoe hulle om haar beweeg, asof hulle haar bedien. Alhoewel ek nie hulle

gesigte kon sien nie, het ek geweet een van hulle kyk direk na my. Ek het die engel baie duidelik in my gedagtes hoor se: "Moenie bekommerd wees nie. Ons sal mooi na haar kyk."

Die voorsitter van Christian Healing Ministries se direksie, Lee Ann, het langs my gesit. Sy het na my toe oorgeleun en gevra: "Wat sien jy?"

"Engele," het ek geantwoord.

"Wel, dit maak sin," het sy gesê.

Ek het na haar gekyk terwyl ek my emosies onder beheer probeer hou het. "Wat bedoel jy, dit maak sin? "

Asof dit iets alledaags is, het sy kalm gesê: "Ek kan aanvoel daar is iemand in die vertrek wat teen Judith bid. Dit maak dus heeltemal sin dat die Here engele sal stuur om haar te beskerm."

Sy was reg, dit het sin gemaak, maar die feit dat ek engele gesien het, het nie vir my sin gemaak nie. Ek was heeltemal oorweldig, maar ek het besef die Here antwoord my gebed. Ek het voorheen gedink dit was dalk 'n fout om vir 'n blik op die geesteryk te vra, maar op daardie oomblik het ek net vreugde ervaar. Die hele ondervinding het omtrent vyf minute lank geduur, maar dit was lewensveranderende minute.

Daar het reeds vier jaar verloop sedert daardie dag en ek het nog nooit meer as klein ligflikkerings gesien nie, maar ek voel dikwels die teenwoordigheid van daardie glansryke, heilige engele aan. Ek glo God het my toegelaat om die engele te sien as deel van my voorbereiding vir die werk wat ek by Christian Healing Ministries moes doen. Sedertdien was ek en Judith in tallose uitdagende situasies waar ek kon getwyfel het dat engele teenwoordig is. Aangesien ek hulle egter self gesien het, gee ek nie langer plek aan sulke twyfelgedagtes nie.

Ek glo verder ook die Here het vir my gewys dit is in orde om vir 'n groter bewussyn van die werklikheid van die geesteryk te vra. Ek het deur 'n tydperk van selftwyfel gegaan en Hy het my nie net gerusgestel nie, maar my beloon ook - presies wat jy van 'n liefdevolle Vader kan verwag.

Linda Strickland

Vervolg...