ENGELE IS WERKLIK (8)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

Die aartsengel Gabriël en Johannes die Doper

Ons kry nog 'n kragtige verhaal oor Gabriël in die Evangelie van Lukas waar hy 'n lewensveranderende boodskap aan 'n bejaarde egpaar bring. Sagaria was 'n priester en sy vrou, Elisabet, was familie van Maria, Jesus se ma. "Hulle was albei getrou aan die wet van God" (Luk. 1:6), maar Elisabet was onvrugbaar. Hulle kinderloosheid het vir hulle groot verleentheid in hulle kultuur veroorsaak. As gevolg van hulle ouderdom het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat hulle nooit kinders sou hê nie. Toe gryp God in hulle omstandighede in.

Sagaria was 'n priester uit die diensgroep van Abia wat uit 1 000 priesters bestaan het. Israel het altesaam 20 000 priesters gehad wat in 24 subgroepe verdeel is en almal het op 'n rotasie- basis in die tempel diens gedoen. Omdat daar so baie priesters was, is die loot getrek om te besluit watter priester deur God verkies is om by die Allerheiligste in te gaan en die wierook op die altaar te brand. Die gekose priester is elke oggend deur die lot aangewys en daardie spesifieke dag is Sagaria gekies. Hier­die verkiesing het slegs een keer in 'n priester se leeftyd plaasgevind; dus was dit 'n baie groot eer. Terwyl die wierookoffer gebring is, wat twee keer per dag gebeur het, het die volk buite die tempel gebid en geglo dat hulle gebede saam met die rook opstyg tot by God.

 

'n Rabbi het my eenkeer vertel dat hulle 'n tou om die pries­ter se enkel vasgemaak het wanneer hy by die Allerheiligste moes ingaan vir ingeval hy om die een of ander rede nie kon uitkom nie. As so iets sou gebeur, is niemand toegelaat om in te gaan en hom te help nie. Ek het al dikwels gewonder of ek bereid sou wees om by 'n heilige plek in te gaan waar God "woon" indien daar vereis is dat 'n tou om my vasgebind moes word.

Terwyl Sagaria die wierookoffer op die altaar gebrand het, het die mense buite die tempel gebid. Skielik het daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here ver­skyn.

Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel se vir hom: "Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Sterk drank sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia."

Lukas 1:12-17

Sagaria was so oorweldig deur hierdie skynbaar onmoontlike goeie nuus dat hy die engel bevraagteken het. Hy het gevra: "Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd".

Twyfel was klaarblyklik nie die reaksie wat Gabriël verwag het nie. Hy antwoord:

Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.

Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.

-Vers 19-20

Hierdie verhaal bring 'n paar gedagtes na vore:

  1. Wanneer 'n engel 'n boodskap van God af bring, word geloof verwag, nie twyfel nie.
  2. God beantwoord uiteindelik ons gebede. Sagaria en Elisa­bet het waarskynlik baie lank vir 'n seun, 'n erfgenaam, ge­bid om hulle skande as 'n kinderlose egpaar te verwyder. Gabriël het gesê: "Jou gebed is verhoor" (Luk. 1:13).
    1. God word nie deur ons menslike beperkings ingeperk nie - nie eers ons fisieke beperkings nie.
    2. Hierdie profetiese woorde van Gabriël het 'n werklikheid geword. Jesus het van Johannes die Doper gesê: "Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy" (Luk. 7:28).
    3. Engele worstel nie soos ons met hulle identiteit in God nie. Gabriël het op Sagaria se twyfel gereageer deur te sê: "Ek is Gabriël." Probeer die tipe reaksie die volgende keer wan­neer iemand jou plek in God se koninkryk bevraagteken. Hy het gesê: "Ek is Gabriël, wat in diens van God staan" (Luk. 1:19). Met ander woorde: "Ek weet wie ek is, hoekom ek geskep is en Wie my liefhet."
    4. Engele het die mag en gesag om besluite te neem en onmiddellik uitspraak te lewer. Sagaria het dadelik stom geword tot Johannes gebore en op die agtste dag besny is, net soos die engel gesê het.
  3. sy seun se geboorte kon Sagaria weer praat. Hy het God dadelik begin loof en prys en die diepgaande profesie van die Heilige Gees uitgespreek:

En jy, kindjie, 'n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die moreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.

Lukas 1:76-79

God het vir Gabriël gebruik om hierdie vreugdevolle nuus aan Sagaria en Elisabet oor te dra en sodoende hulle persoonlike lewe en die gang van die menslike geskiedenis radikaal te verander.

Die aartsengel Gabriël en die maagd Maria

Nadat hy vir Sagaria en Elisabet geseën het, het Gabriël 'n ander boodskap gehad wat hy moes gaan aflewer, hierdie keer aan 'n jong maagd wat in die klein dorpie Nasaret in Galilea gewoon het. Haar naam was Maria en sy sou die langverwagte Messias, Jesus Christus, in die wêreld bring. Weereens sien ons dat 'n engel se aankondiging die voorloper is van 'n gebeurtenis wat die mens se geskiedenis vir ewig kom verander het.

Die aartsengel Rafael - Engel van genesing

In die apokriewe boek Tobit (12:14-15) is Rafael die aartsengel vir wie God stuur om Tobit se familie in 'n tyd van groot nood te genees en lei: "Dit was ook vir my wat God gestuur het om vir jou en ook vir Tobias se bruid, Sara, gesond te maak. Ek is Rafael, een van die sewe heilige engele wat die gebede van God se mense na Hom toe neem en wat naby die wonderlike God mag kom."

Die naam Rafael beteken "God genees". Hy is die aartsengel wat in beheer is van genesing. Hierdie identifikasie van Rafael as 'n engel van genesing het ten minste twee ander bronne.

Een daarvan is die apokriewe boek Henog. Die ou Christenskrywers identifiseer Rafael as die magtige engel van God wat die aarde genees het toe dit ná die groot opstand in die hemel deur die gevalle engele besmet is. Die ander bron kom egter uit die Skrif. In die Evangelie van Johannes kom 'n engel van die Here en roer die water sodat dit genesingskrag kry. Baie aanvaar hierdie engel is Rafael:

Hierna was daar weer 'n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. By die Skaappoort in Je­rusalem was daar 'n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes.

Onder hulle was daar 'n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: "Wil jy gesond word?"

Die sieke het Hom geantwoord: "Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in."

Jesus sê toe vir hom: "Staan op, tel jou goed op en loop." Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop.

-Johannes 5:1-9

1983-vertaling wat hierbo aangehaal is, sê bloot die wa kom in "beweging" met geen verwysing na die engel nie. 1953-vertaling sê baie duidelik daar was 'n groot menigtes wat op die roering van die water gewag het. Dan lees ons: "Want 'n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal die water geroer. Die een wat dan eerste ingaan na die roer van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het" (Joh. 5:4). Die engel het genesingskrag van die Here ontvang en dit dan na die water oorgedra, maar dit blyk dit net genoeg was om een persoon te genees. Die eerste wat ná die roering in die water gekom het, is wonderbaarlik genees.

Beskermengele

Beskermengele is die laaste orde in die hiërargie van engele. Die Skrif bevestig ons geloof in die werk van hierdie hemelwesens wat aangewys is om individue en groepe te bewaak. Jesus verwys na hierdie algemene oortui- wanneer Hy sê: " Pas op dat julle nie een van *hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat *hulle engele in die hemele altyd die *aangesig sien van my Vader wat in die hemele is. (Matt. 18:10). '

Magtige beskermengele word klaarblyklik vir ons aangewys.

Engele by ‘n baba se geboorte

Baie engele was teenwoordig by die geboorte van my suster se baba. Hulle was so gelukkig en vol vreugde. Toe haar dokter haar die volgende dag kom besoek, het ek gesien hy het 'n engel van omtrent driekwart sy grootte wat hom oral heen volg.

Anoniem

Ons lees op talle plekke in die Skrif van engele wat in gewone mense se lewe ingryp. As kind was een van my geliefkoosde Bybelverhale die een van koning Nebukadnesar en die drie jong Joodse onderdane wat op sy bevel in die brandende oond gegooi moes word. Ek onthou steeds die liedjie wat ons in die Sondagskool gesing het oor hierdie getroue dienaars van God wat geweier het om die afgod te aanbid wat die koning laat oprig het.

Die plek was Babel en koning Nebukadnesar het godsdienstige aanbidding probeer verenig. Hy het 'n goue beeld gemaak en sy volk beveel om op hulle knieë neer te val en dit te aanbid, anders sou hulle in die brandende oond gegooi word. Die ko­ning was woedend toe hy hoor dat Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om dit te doen. Die drie se antwoord was:

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.

Daniel 3:17-18

Die koning was woedend en het sy sterkste soldate beveel om die jong mans vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. Die vlamme was so warm dat die koning se soldate wat die drie mans in die oond moes gooi, net daar doodgebrand het. Die koning het in die oond gekyk en gesê: "Kyk, ek sien Vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van 'n godeseun" (v. 25,1953-vertaling).

1 Die een wat die koning gesien het wat soos “'n godeseun" gelyk het, was waarskynlik 'n glansryke engel wat God ge­stuur het om sy kinders midde-in die vlamme te beskerm. Hierdie magtige engel in die vuuroond het die voorkoms gehad van 'n godeseun of iemand "bo-aards". Beskermengele gryp in ons daaglikse worsteling in ten einde ons teen gevaar te beskerm en om ons deur die lewe se moeilike tye by te staan. Toe Sadrag, Mesag en Abednego uit die brandende oond kom, "sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie" (v. 27). Slegs die toue waarmee hulle vasgebind was, het verbrand.

God maak vandag nog gevangenes vry. Het jy al ooit gebind en vasgevang gevoel? In 'n situasie in gedwing wat jy nie self gekies het nie? Onskuldig, maar skuldig bevind? Veroordeel sonder om gehoor te word? Dink jou in hoe daardie drie mans moes gevoel het. Lees weer hoe hulle reageer het toe die koning hulle gedreig het. Dit kan opgesom word as: God sal ons uit jou hande red, maar selfs al doen Hy dit nie, sal ons Hom nie verraai nie." In hierdie noodgedwonge situasie het hulle op God vertrou om hulle te red of by hulle in die vuur te wees. Hulle het eenvoudige geloof gehad in die Een op Wie hulle hul vertroue gestel het. God stuur toe 'n engel om nie net by hulle te wees nie, maar hulle te red. Hy kan dieselfde vir jou doen.

Daar is 'n soortgelyke verhaal oor die profeet Daniël wie se Persiese kollegas vir hom 'n strik gestel het, en toe weier hy om koning Darius se wet te gehoorsaam dat niemand anders as die koning vir 30 dae aanbid mag word nie. Toe Daniël aangehou het om elke dag tot God te bid, is hy in kuil vol honger leeus gegooi. (Die Perse het wilde leeus gevang en hulle in diep grotte aangehou om enigeen wat teen die koning saamsweer te martel en uiteindelik dood te maak.) Nadat hy die hele nag saam met die leeus deurgebring het, het Daniël die volgende oggend sonder enige wonde uit die leeukuil gekom. Toe die koning vir Daniël sien, was hy oorweldig van vreugde omdat hy groot agting vir Daniël gehad het. "My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie," het Daniël vir die koning gesê (Dan. 6:23).

Magtige engele verdedig God se onskuldige kinders. Het jy al ooit gewonder hoe hierdie magtige engel en Daniël hulle tyd saam deurgebring het? Hulle het God waarskynlik aanbid vir sy getrouheid.

'n Hele paar ander Bybelverhale vertel van engele wat mense in nood bewaak, red en versterk. Party maak selfs vir honger profete kos. Moses het sy oproep van God ontvang om die Hebreeuse volk uit Egipte te bevry toe 'n engel van die Here in 'n brandende bos aan hom verskyn het. Jakob het 'n hele nag lank met 'n man gestoei wat baie mense glo 'n engel was - of was dit God self? 'n Engel het vir Elia kos gebring en bemoedig toe hy van Isebel af weggevlug het. 'n Engel het vir Hagar gerusstelling en vertroosting gebring toe sy en haar seun, Ismael, van hulle gemeenskap af die woestyn in gevlug het. 'n Engel het Abraham gekeer toe hy op die punt was om sy geliefde seun Isak te offer. (Eks. 3:2; Gen. 32:24; 1 Kon. 19:5-7; Gen. 21:17;

22:11-18.)

Die profeet Elisa, wat 'n dubbele porsie van Elia se gees ont­vang het, het 'n merkwaardige gawe gehad om God se hart van barmhartigheid en medelye te openbaar. Toe koning Aram van Sirië perde, strydwaens en 'n sterk mag gestuur het om Dotan te omsingel waar Elisa was, was Elisa se slaaf doodbang. Wat was Elisa se reaksie? "Hy het geantwoord: 'Moenie bang wees nie, die wat by ons is, is meer as wat hulle is.' Elisa het gebid: 'Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.' Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur" (2 Kon. 6:16-17).

As gevolg van Elisa se gebed kon sy slaaf die magtige hemelse leërskare sien wat gereed was om vir God se profeet te baklei. Aan die begin kon net Elisa hulle sien totdat sy slaaf se oë deur gebed oopgemaak is. As ons oë maar net oop kon wees om God se voorsiening in tye van groot nood te kon sien.

Toe ek in 1974 na Jerusalem verhuis het, het die Jom Kippoer-oorlog pas tot 'n einde gekom. Israel het teen 'n koalisie bestaande uit Arabiese state oorlog gevoer wat deur Egipte en Sirië gelei is. Hierdie koalisie het sekere grondgebiede probeer terugkry wat vroeër aan Arabiese state behoort het, maar in die Sesdagoorlog van Junie 1967 deur Israel in besit geneem is. Die Jom Kippoer-oorlog het met verrassingsaanvalle op die Golanhoogland in die noorde van Israel en in die Sinai- woestyn teen die suidelike grens van Israel begin. Hierdie aanvalle is tydens die Fees van Jom Kippoer, oftewel die Groot Versoendag, geloods - een van die heiligste dae in die Joodse geloof. Baie Joodse leiers, soldate en burgerlikes was op daar­die stadium besig om in die sinagoges te aanbid. Terwyl slegs klein afdelings soldate hulle grense bewaak het, is vinnige en kragtige aanvalle met die verrassingselement teen Israel uitgevoer. Daar word verhale vertel van Israeliese soldate wat nog met hulle gebedsmantels aan na hulle poste gehaas is. Dit het na 'n hopelose situasie gelyk. Toe het God egter sy opdrag aan sy hemelse leërskare gegee.

Tydens my eerste paar dae in Israel het ek heelwat karre ge­sien met bufferplakkers wat sê: "God veg steeds namens Isra­el!" Ek het die bestuurders daaroor uitgevra en almal het min of meer dieselfde antwoord gegee. Toe die verrassingsaanvalle geloods is, kon die Joodse soldate met hulle wapens nie betyds by hulle poste kom nie, en tog het daar op beide die noordelike en suidelike grense van Israel duisende soldate opgedaag wat gereed was vir die stryd. Die "engelesoldate" het Israel daar verdedig totdat die "regte" Israeliese soldate opgedaag het, waarna die engele verdwyn het. Israel het die Arabiese magte binne 20 dae verslaan en daar het geen betekenisvolle gebiedsveranderinge plaasgevind nie.


"Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom die wat die Here dien, en red hulle" (Ps. 34:8).

Een van my jarelange vriende was 'n majoor in die Israeliese weermag. Hy en die soldate onder sy bevel het my tallose verhale vertel waar engele ingegryp het. Ons moet ook bid dat ons eie oë oopgemaak moet word sodat ons die duisende beskermengele en engelesoldate kan sien wat ons omring. God voer vandag nog namens ons die stryd.

In die boek Handelinge lees ons dat die Sadduseërs van die apostels in die tronk laat gooi het. "Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei" (Hand. 5:19). Herodes het reeds Johannes se broer, Jakobus, laat doodmaak. Gerugte het die rondte gedoen dat Herodes die vroeë kerk vervolg het omdat hy die Joodse leiers wou tevrede stel wat die Christendom teëgestaan het. Later, tydens die Fees van die Ongesuurde Brood, het Herodes vir Petrus laat arresteer en hom in die tronk gegooi waar hy deur 16 soldate bewaak is. Dit was Herodes se plan om Petrus ná die Paasfees voor die volk te bring vir 'n openbare verhoor. Intussen het die gemeente in Jerusalem vir Petrus se vrylating gebid (Hand. 12:1-5).

Die nag voor sy verhoor het Petrus vasgebind tussen twee soldate gesit en slaap. Skielik het 'n engel van die Here verskyn en daar het 'n helder lig in die sel geskyn. Die engel het aan Petrus gevat om hom wakker te maak en die boeie het dadelik van sy hande afgeval. Die engel het vir Petrus gesê hy moet aantrek en hom volg. Hulle het ongesiens verby die wagte geloop en by die ysterdeur gekom wat na die stad lei. Dit het voor hulle oopgegaan. Toe hulle 'n ent met die straat af gestap het, het die engel verdwyn. Petrus het by homself gedink: "Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het om my uit die hande van Herodes te red" (Hand. 12:11).

Ná sy ontsnapping is Petrus direk na die huis van Maria, die ma van Johannes, waar die gelowiges bymekaar was om vir sy vrylating te bid. Petrus het aan die voordeur geklop en 'n diensmeisie met die naam Rode het vir dié binne-in die huis gesê dat Petrus by die deur staan. Die gelowiges het haar nie geglo nie en hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat dit Petrus se engel was.

Die ironie in hierdie verhaal is dat die Christene vir Petrus se vrylating gebid het, maar toe hulle gebed verhoor is en Pe­trus voor die deur staan, kon hulle dit nie glo nie. Dink egter mooi na oor hulle reaksie. Engele was so betrokke in hierdie gelowiges se elkedagse lewe dat hulle 'n engel by die deur as 'n "normale" antwoord op hulle gebede beskou het.

Ongelukkig word hierdie aktiewe geloof in die bestaan van engele vandag in baie kerke misverstaan of verwerp. Deurdat die oortuiging verlore gegaan het, het ons ook baie van ons ryk erfenis verloor. Daar was 'n tyd toe gelowiges nie net die ingryping van engele aanvaar het nie, maar daarop staatgemaak het.

Vervolg...