ENGELE IS WERKLIK (5)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

Die indeling van Engele

Ek het 'n engel in liggaamlike vorm naby my aan my linkerkant gesien. Alhoewel ek dikwels visioene van engele sien, is dit slegs intellektuele visioene. Dit was ons Heer se wil dat ek die engel in hierdie visioen op hierdie manier moes sien. Hy was nie groot nie, maar klein van postuur, en absoluut pragtig. Sy gesig het gebrand asof hy een van die hoogste engele was, wat almal lyk of hulle van vuur gemaak is. Dit moet wees wat ons gerubs noem. Ek is daarvan bewus dat daar in die hemel so 'n groot verskil tussen engele is dat ek dit nie kan verduidelik nie.

Teresa van Avila

Noudat ek vir jare met my bediening besig is en die engeleryk bestudeer, het ek tot die slotsom gekom dat die hemelse skare bestaan uit tallose engele wat aan verskillende rangordes behoort. Hulle verskil ook in terme van krag, glorie, gesag en doel.

Vroeë Christenskrywers het verwys na "nege kore van engele", 'n idee wat 'n komplekse sisteem van engele voorstel. Hulle is deur God geskape en georganiseer. Sover ek verstaan, verteenwoordig elke amp binne die nege ordes 'n an­der vlak van mag, 'n ander vlak van wysheid, 'n ander rang en 'n ander vlak van toegang tot God. Ons kan hierdie range en ordes vergelyk met 'n regeringstelsel. Die apostel Paulus het geskryf dat die sigbare en onsigbare dinge in hemel en op aarde deur en vir God geskape is, of dit nou konings, heersers, maghebbers of gesagvoerders is (Kol. 1:16). Petrus vertel ons dat Jesus Christus nou in die hemel aan die regterhand van God is nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het (1 Pet. 3:22). Dit lyk asof beide Petrus en Paulus aandui dat daar ordes van engelagtige wesens is met verskillende range van mag en posisie, almal aan Jesus Christus onderdanig.

Nege ordes van engele

In 500 n.C. het die Christelike teoloog en filosoof pseudo-Dionisius die Areopagiet oor die nege ordes van engele geskryf.

Volgens hom is hulle in drie onderskeibare range verdeel. Binne hierdie range word mag uitgedeel in afnemende mate. Engele met 'n hoër rang het meer mag, wysheid en toegang tot God.

Die eerste orde bestaan uit serafs, gerubs en konings. Die tweede orde bevat heersers, gesagvoerders en outoriteite of deugde. Die derde bestaan uit maghebbers/prinsdomme, aartsengele en engele. Aan elke orde word 'n unieke diens aan God aangewys; daarom het elke orde ander verantwoordelikhede.

In sy Summa Teologica skryf Thomas van Aquinas 'n hele afdeling oor engele. Hy rangskik hulle volgens die Dionesiese rangorde. Hy skryf aan elke rang 'n bepaalde verhouding tot God, tot die heelal en tot mense toe. Hy beweer dat die eerste rang, die serafs, gerubs en konings, almal direkte toegang tot God het en sy troon omring. Die engele in hierdie eerste rang bly in sy Teenwoordigheid, terwyl hulle ophoudelik loof en aanbid. Die tweede rang of vlak, die heersers, gesagvoerders en outoriteite, is saamgestel uit engele met die taak om vir die fisiese heelal of kosmos te sorg. Die derde orde, die maghebbers, aartsengele en engele, is direk by mense betrokke. Aartsengele se taak is om toesig te hou oor engele en mense. Engele het die opdrag om individue en kerke onder hul beskerming en voogdyskap te neem.

Serafs

Die Hebreeuse naam seraf beteken 'n brandende wese. Hulle brand van liefde vir God; daarom word hulle so genoem. In die Hooglied van Salomo word van liefde gesê dat dit brand en vlam soos vuur (Hoogl. 8:6). Weens die lig wat van hulle weerkaats, verwys baie skrywers na serafs as "stralende wesens". Hierdie lig weerkaats God se lig en teenwoordigheid. Hulle word gekenmerk deur hul verering van God. Dit word gesê dat hulle edel voorkom en mooier is as wat 'n mens jou kan voorstel.

Die serafs manifesteer die glorie van God deur vir ewig in sy stralende teenwoordigheid te wees. Hul posisie as hoogste orde in die engeleryk laat hulle toe om volkome toegang tot die dieptes van God se liefde te hê, in die kern van sy hart, wat uit pure liefde bestaan. Probeer jou voorstel om in die diepste hart van pure liefde te wees. Watter verandering sou jy ondergaan as jy in die diepste hart van pure liefde kon wees? Die meeste van ons probeer ons lewe lank om God se liefde te ontdek.

Jesaja het 'n dramatiese visioen gesien toe God hom as profeet geroep het. In die visioen is hy toegelaat om 'n blik te kry op die troonkamer van God, waar die serafs Hom bedien. Hulle aanbid Hom gedurig van bokant sy troon, en lei die hemelse skare in aanbidding:

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is VOL van sy magtige teenwoordigheid." Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. Toe het ek uitgeroep: "Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.

Een van die serafs het toe 'n gloeiende kool met 'n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: "Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen."

-Jesaja 6:1-7

Hierdie beurtsang van die engele is 'n ongelooflike voorbeeld van die volkome liefde wat die serafs vir God en sy kinders het. Dalk het Jesaja nie gevoel hy is waardig of heilig genoeg om op God se roeping te antwoord nie. Wanneer God ons roep om Hom te dien in 'n spesiale roeping of manier moet ons onthou dat Jesus altyd 'n weg of manier van reiniging verskaf. Die engel het Jesaja gereinig, aangemoedig en versterk. Na die aanraking van die engel het Jesaja dadelik op God se oproep geantwoord deur te sê: "Hier is ek! Stuur my!" (Jes. 6:8).

0ns bestudeer die Skrif en lees Christelike boeke. Ons bid, gaan kerktoe, woon konferensies by en voel geseën as ons in ons leeftyd 'n paar intieme oomblikke saam met God beleef . Nogtans het baie mense wat al vir jare gelowiges is my meegedeel dat hulle nog nooit God se liefdevolle teenwoordigheid ervaar het nie. As ons sy "hart van liefde" wil binnegaan, het ons hemelse hulp nodig. Engele verskaf daardie hulp deur ons harte en gebede na God op te lig.

Gerubs

Gerubs beslaan die tweede rang van engele in die engele se orde. Hierdie magtige engele is wagte vir die troonkamer van God. Soos die serafs bly hulle in die hemelse troonkamer waar hulle God aanbid. Volgens een Christelike tradisie is hulle onbeskryflik mooi. Esegiël beskryf hulle in fyn besonderhede as majestueuse wesens met groot skoonheid, krag en mag:

Ek het 'n gesig gesien. Daar het 'n storm uit die noorde gekom, 'n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was 'n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal. Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het 'n mensvormige voorkoms gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.

Esegiël 1:4-6

Esegiël identifiseer hierdie wesens as gerubs

(Eseg. 10:15,17).

Gerubs verskyn die eerste keer in die verhaal van die Tuin van Eden. Die Here het Adam en Eva uit die tuin verban, "en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg" (Gen. 3:24).

Die etimologie van die woord "gerub" is nie maklik om vas te stel nie. Iemand het voorgestel dat dit "bedek" of "beskerm" beteken. In die Skrif dui God aan hoe die verbondsark gebou moet word (Eks. 25:18-22; 37:6-9). Dis gemaak van hout en be­dek met goue beelde van gerubs wat die genadetroon of deksel bewaak. Gerubs word ook genoem wanneer God vaardige ambagsmanne wys hoe om beelde van gerubs op die binneste gordyne en voorhangsel van die tabernakel te borduur (Eks. 26:1,31). God het ook aangedui dat afbeeldings van gerubs op die deure van die tempel uitgekerf moet word (1 Kon. 6:32-35).

Die Psalms sê dat God tussen gerubs bly (Ps. 80:2; 99:1). Dis uit hierdie bevoorregte posisie dat die gerubs hom aanbid en sy glorie bedek. 'n Paar antieke tekste vertel dat hulle brand van liefde vir God, nes die serafs. Koning Dawid het gesing: "Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy verskyn"

(2 Sam. 22:10-11).

Konings kom derde in die eerste rang. Daar word •dikwels na hulle verwys as suiwer geeste van intellek en medeleie. Volgens Thomas van Aquinas is hul natuur meer perfek, hul intelligensie skerper en hul genade en regverdigheid meer as die van mindere engele.

Die hoogste rang van engele (serafs, gerubs en konings) tel in die hemelse raad saam waaroor God regeer (waar God voorsit). "In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens, staan God op om uitspraak te lewer" (Ps. 82:1). Aangesien alle wysheid uit God voortvloei, verstaan hierdie engele God se wil en bestuur die mindere engele daarvolgens. Koning Dawid verwys na hierdie vergadering of raad van heilige wesens.

Die hemel loof u wondermag, Here, die hemelinge loof u trou. Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens is soos die Here? Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering 'n heilige ontsag. Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom.

Psalm 89:6-8

Dawid se visioen is van 'n groot byeenkoms van engele in die hemel wat God dien deur byderhand te wees.

Daniël het 'n soortgelyke visioen gehad van 'n hemelse toneel. Ons lees:

Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan.

Daniel 7:9-10

Hierdie visioene gaan ons vermoë te bowe om die grootsheid van God se ontsagwekkende teenwoordigheid in die hemel vir ons voor te stel. Soos Daniël en Dawid probeer ons die oë van ons hart oopmaak om die dieptes van sy heftige liefde vir ons te ondersoek (Ef. 1:18). Ons erken dat ons nie hierdie ryk kan bereik tot ons in God se volle teenwoordigheid lewe nie, en daarom maak ons op engele staat om God se liefde aan ons oor te dra.

Terwyl Johannes op die eiland Patmos 'n banneling was, het hy 'n visioen van die hemelse troonkamer gehad:

Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. Sy voorkoms was soos opaal en kameool. Om die troon was daar 'n reënboog met die glans van smarag. Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God.

Openbaring

Paulus se beskrywing van God op sy troon beeld die "ontoeganklike lig" uit waarin God woon. "Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie" (1 Tim. 6:16). God is die bron van alle lig. Verskeie Bybelse visioene van die hemel gebruik die beeld van skitterende juwele of kosbare metale soos goud. God word vergelyk met die weerkaatste helder lig wat uit die juwele skyn en die stralende lig bo sy kop. Matteus se Evangelie berig oor die verheerliking op Taborberg. Toe Jesus verheerlik is, "het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig" (Matt. 17:2). Ons begin verstaan waarom die serafs, gerubs en konings vol vuur en briljante lig is. Soos die juwele weerkaats hulle God se skynende gesig.

Vervolg...