ENGELE IS WERKLIK (2)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

'n Geskenk van my Pa

Baie jare gelede, voor ek en Francis getroud is, het ek 'n ontmoeting met 'n engel gehad wat my persepsie van die onsigbare geesteryk radikaal verander het. Laat my toe om jou die geheimsinnige storie te vertel wat my bekendgestel het aan die wêreld van engele en demone, en my uiteindelik 'n beter begrip van God self laat vorm het.

Ek het pas by die huis gekom na 'n heerlike aand saam met goeie vriende en het gereedgemaak om te gaan slaap. Dit was later as my gewone slaaptyd, en 'n volle dag se werk het op my gewag by my beradingspraktyk in Clearwater, Florida. Destyds het my werksdag vroegoggend begin met gebed by my kerk, gevolg deur 'n vinnige ontbyt en agt tot tien ure se berading met my kliënte. Ek was lief vir die stil tye van innerlike genesing vir die gebroke, depressiewe en lydende mense wat na my toe gekom het. Dit was vir my 'n groot vreugde om 'n klein deeltjie van die transformasieproses van hul lewens te wees. In die proses het God se ontsaglike liefde vir elk van hulle vir my duidelik geword en bowenal vir hulle.

Ek was moeg en lus vir 'n goeie nag se slaap toe ek met my slaap- tydritueel begin – het eers iets snoesigs aantrek, tande borsel, deure gesluit, my kruishangertjie afhaal, oorbelle, horlosie en ... my ring! Geskok het ek na my kaal ringvinger gestaar. My pragtige diamant-en-saffier-ring was skoonveld. My hart het in my skoene gesak. Dit het eenvoudig verdwyn. Ek het dit nie van my vinger voel afgly nie. Hoe kon ek dit verloor het? Waar kon dit wees?

Ek het 'n flitslig gegryp en naarstig begin soek terwyl ek bid: "Vader, help my asseblief om my ring te kry." Ek het my slaapkamer deursoek, elke sentimeter van my meenthuis, die sypaadjie, die motorhuis en my sportmotortjie. Na ek drie keer die paadjie van my kar na my kamer deursoek het, het ek besef die ring het nie in my kar of huis geval nie. Koorsagtig het ek die restaurant waar ek geëet het, gebel en gevra dat die personeel soek naby die tafel waar ons gesit het. Toe bel ek die vriende by wie se huis ons nagereg geëet het om te vra dat hulle ook soek. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het die gawe restaurantbestuurder en my vriende teruggebel om te sê dat hulle nie my ring kon kry nie.

Die verlies van daardie kosbare ring het my met hartseer oorweldig. Onwillig om die verlies te aanvaar, het ek in die huis rondgeloop en ondanks alles bly hoop dat ek dit sou vind. Omstreeks middernag het ek ophou soek. Ek het in die wiegstoel in my kamer neergesak en begin huil. Hoe kon ek dit verloor? Dit was maklik om myself te blameer. Soveel vrae het deur my kop gemaal. Die gevoel van verlies het my oorweldig. Ek was so verknog aan daardie ring, en met goeie rede. Ek het teruggedink aan daardie sonnige middag in Nassau toe my pa onverwags die ring vir my gegee het.

Ek en my pa het na die Bahamas gevlieg om my 30ste verjaarsdag te vier. My ouer broer, J.C., wat 'n jaar lank die eilande in sy seiljag deurseil het, het ook Nassau toe gekom. My pa het sedert my ma se skielike dood sewe jaar vantevore nooit sy huis in Kentucky verlaat nie, en ek het na hierdie reis uitgesien as 'n broodnodige tyd van herstel tussen ons. My ma was die gom wat ons gesin bymekaargehou het. Ná haar dood het ons uitmekaar gedryf. Ons het mekaar selde gesien, en wanneer ons vir vakansies bymekaargekom het, was die atmosfeer gespanne en ongemaklik. Nou was ons van plan om 'n hele week op 'n 17 meter-seiljag saam deur te bring.

In voorbereiding op die eng kwartiere (fisies en emosioneel) wat ons vir die volgende paar dae sou deel, het ek die middag voor ons vertrek my pa na die loopplank getrek en gesê: "Kom ons gaan doen inkopies. Dis my 30ste verjaarsdag en ek het besluit om 'n ring te koop."

Omdat hy eintlik iemand was wat baie liewer was vir droë grond, was hierdie 'n aanloklike vooruitsig, al het hy inko­pies verafsku. Ons het deur verskeie juwelierswinkels in die hoofstraat gestap voor ons 'n lieflike winkeltjie in 'n systraatjie ontdek het wat aan 'n plaaslike ontwerper behoort het. Die ringe is pragtig uitgestal in 'n paar goedbeligte kaste en volgens prys gesorteer. Terwyl ek ringe aangepas het wat in my begroting val, het ek gesien dat my pa na die duurder ringe begin kyk het.

Ek het 'n klein goue ringetjie met 'n eenvoudige blompatroon uitgekies, niks deftigs nie, maar uniek en pragtig. Toe roep ek my pa om sy opinie te vra. Na hy vinnig daarna gekyk het, het hy my verras deur te sê: "Ek hou nie daarvan nie. Daar is een in hierdie ander kas waarna jy moet kyk." Hy het my aan die arm geneem en na die mees elegante ringafdeling in die winkel gelei. Ek het vinnig na daardie ringe gekyk, maar gou besef hulle is te duur.

Pa het na 'n spesifieke ring gewys en gesê: "Ek glo hierdie ring is net vir jou gemaak." Terwyl ek begin protesteer, het die klerk vinnig die ring uit die kas gehaal en aan my gegee. Pa het my aangemoedig: "Pas dit aan."

Ek het dit aan my vinger gesit en dit het perfek gepas. Nooit vantevore het ek 'n ring gesien wat so in die lig gedans het nie. Die ring was werklik 'n kunswerk met 'n wye goue band met 'n klein diamantjie in die middel en helderblou saffiere rondom. Hoewel ek onmiddellik daarop versot was, het ek dit van my vinger afgehaal, gemompel dat dit te duur was en dit teruggegee aan die teleurgestelde klerk.

Toe het ek opgekyk in my pa se pragtige groen oë vol trane en die suiwer liefde in sy gesig gesien. Hy het sagkens geglimlag, my hand geneem en gesê: "Die ring is my geskenk aan jou. Wanneer jy dit ook al dra, en waar jy ook al in die lewe is, onthou altyd dat jou pa jou liefhet."

Toe ek hierdie "liefdesgeskenk" aanvaar, het my hart begin versag. Op daardie oomblik is herinneringe aan my stormagtige tienerargumente met Pa en ander pynlike herinneringe vergewe. Die dogtertjie binne-in my, die een wat gesmag het om deur haar pappa aanvaar en liefgehê te word, het op daar­die oomblik na haar pa gekyk met onbeskryflike blydskap in haar hart. Die ring het vir my die simbool geword van Pa se liefde en van ons gesin se genesing. Die versekering van sy liefde, vir ewig in my hart verseël, het diep wonde bedek wat ek sedert my tienerjare saamgedra het. Ons was op die drumpel van 'n nuwe begin vir ons en ons gesin. Terwyl ek teruggedink het aan die storie, is ek weer na die hede geruk en het ek besef dat die kosbare ring nou verlore was.

Namate die herinneringe vervaag het, het die gevoel van verlies teruggekeer. Daar in die donker het ek besef dat ek die moed bymekaar moes skraap om my pynlike verlies aan God oor te gee en Hom toe te laat om my te help om verby die hartseer te beweeg. Ek het tussen oorgawe en verdriet geweifel. Dis wat verlies aan ons doen. My kliniese opleiding het my op daardie oomblik maar te duidelik aan die treurproses herinner. Soms verkies ons om aan ons hartseer vas te hou; daardeur stel ons aanvaarding, vryspraak en ge­nesing uit. Ek was so bang dat ek my pa se liefde sou prysgee as ek die ring laat vaar. Nou besef ek dat my gedagles nie logies of waar was nie, maar tydens hierdie krisis het ek nie logies gedink nie. Ek het desperaat vasgehou aan dit wat die ring simboliseer het-nie net aan die ring nie.

Op daardie tydstip het ek my Byhel opgetel My ma het altyd gesê: "As jy moedeloos is, lees jou Bybel Ek het die Skrifgedeelte gekry met Jesus se storie van die liefdevolle pa wat met verlange gewag het op sy verlore, verkwistende seun. Stadigaan het dit tot my deurgedring dat niks wat "eg" is, soos liefde, ooit kan wegraak nie. Die verlore seun het al sy besittings verloor, maar nie die pragtige liefde tussen hom en sy pa nie. Was dit moontlik om op te hou klou aan die simbool van my pa se liefde, die ring, maar om steeds vir ewig styf vas te hou aan die liefde in my hart?

Terwyl ek in gebed my dilemma aan God oorgegee het, het ek uiteindelik aanvaar dat ek die ring moes laat gaan, maar nie die liefde waarvan dit 'n simbool was nie. Tydens my gebed het die pyn in my hart stadig verminder en plek gemaak vir die vertroostende teenwoordigheid van God. Ek het gebid: "Dankie, Vader, vir die liefdevolle verhouding waarmee ek en Pa geseën is - vir die genesing wat U laat plaasvind het om ons te herstel. Dankie ook vir die vreugde wat ek ervaar het toe ek die pragtige ring gedra het, wat 'n simbool van Pappa se liefde was. Ek gee nou aan U die kosbare ring en ek bid dat wie dit ook al vind dieselfde groot vreugde en liefde sal ervaar wat ek geken het."

Toe los ek my Bybel op die rottangwiegstoel, waar ek amper aan die slaap geraak het, en klim in die bed. Ek het lekker onder my ma se warm, handgemaakte donskombers gelê. Terwyl ek die stil lomerigheid wat slaap voorafgaan ingaan, het ek 'n laaste gebed gebid: "Here, U weet ek het die ring laat gaan. As dit nie te veel moeite is nie, sal U 'n engel stuur om dit vir my terug te bring?" Ek het nog nooit gebid dat God engele moet stuur om enigiets te doen nie - wat nog te sê 'n verlore ring terug te bring. Effens verbouereerd oor my ligsinnige versoek het ek ingesluimer.

Die volgende oggend het my wekker my na net drie kos­bare ure se slaap wakker gelui. Deur die slaap het ek vinnig aangetrek sodat ek nie laat sou wees vir die oggendbiduur nie. Ek kon nog betyds wees as ek vinnig gemaak het. Terwyl ek uit die motorhuis agteruitry, het ek gedink ek hoor iemand sê: "Gaan in; jou ring is daar."

Ek het egter geweet die ring is nie daar nie en het dus aangery. 'n Kilometer of twee van die huis af het ek weer die stem gehoor, die keer harder en beslis meer dwingend: "Draai om en gaan huis toe."

'n Bietjie verward het ek 'n plek gekry om om te draai en teruggery huis toe. Die stem het my ontstig, veral die gebiedende toon. Waarom moet ek by die huis na my ring soek, het ek gedink. Ek het gisteraand oral gesoek, dus mors ek tyd, nou gaan ek laat wees vir kerk.

Toe ek by die huis kom, het ek die deur oopgesluit en my stil huis binne gegaan. Ek het rondgekyk terwyl ek deur die vertrekke loop. Toe ek by my slaapkamer kom, het ek 'n hartseer flits ervaar toe ek my verlies en die vorige aand se drama herroep. Skud dit af, het ek vir myself gesê, en gaan aan met jou dag, dit was ‘n fout om huistoe te kom, gaan kerktoe. Skielik het 'n vreemde sensasie my verlam. lets het drasties verander in die atmosfeer om my. Ek het nie die lig aangeskakel nie en die donker blindings het steeds die vroeë oggendson uitgehou. Ek was nog nooit 'n oggendmens nie en het moeite gedoen om 'n donker slaapomgewing te handhaaf. Stadig, soos die son wat opkom, het 'n lig oor die slaapkamervloer aangekruip. Dit het elke sekonde helderder geword. Iemand wat ek nie kon sien nie, het die heerlikheid van God weerkaats - 'n heilige teenwoordigheid wie se helderheid elke hoekie van die vertrek gevul het. Dit het my aan sonlig herinner wat in oggenddou weerkaats - soos duisende diamantjies wat die lig breek en die doudeurdrenkte aarde bedek.

Die "teenwoordigheid" het my effens ongemaklik laat voel en ek het stadig uit die kamer begin loop. Terwyl ek agteruit loop, het 'n glinstering van dansende lig my oog gevang. Ek wou die bron van die glinstering sien en het na die wiegstoel gestap waar ek die vorige aand gesit het. Daar, op die geblomde stoelkussing, het my Bybel steeds gelê waar ek dit gelos het. Ek het oorgeleun om beter te sien, en daar bo-op my Bybel was my geliefde ring - daar geplaas deur onsigbare hande. Verstom het ek gedink: Dit is onmoontlik.

Skielik het ek swak gevoel. Trane het my oë gevul en my visie verdof. As 'n psigoterapeut was my volgende gedagte: Ek hallusineer seker – sien dinge en hoor vreemde stemme. Ek was regtig te bang om die ring op te tel. Dit het gevoel of ek droom. In plaas daarvan om dit op te tel, het ek net liggies daaraan geraak. Dit was eg. Ek was verstom. Dit was nie 'n droom of 'n visioen nie.

Ek het die ring aan my vinger gesit en terselfdertyd gehuil en gelag. Onbeskryflike gevoelens van verwondering, ontsag en vreugde het my menswees gevul. Strome van lofprysing en danksegging tot God het uit my dankbare hart gevloei. Nooit tevore het ek so totaal lewendig en verward gevoel nie. Toe be­gin die stortvloed van onbeantwoorde vrae. Hoe het die ring hier beland? Ek het net 'n paar uur vantevore Bybel gelees; die ring kon nie daar gewees het nie. Toe onthou ek my laaste versoek aan God voor ek aan die slaap geraak het: "Sal U 'n engel stuur om die ring vir my terug te bring?" Was dit moontlik dat God 'n engel opdrag gegee het om dit te vind? Het die engel dit bo-op my Bybel gesit sodat ek sou weet dat ek dit nie misgekyk het tydens my soektog nie? Was die dwingende stem wat ek in die kar gehoor het 'n engel s'n? Alles vrae sonder antwoorde.

Hierdie ongewone gebeure het my totaal verbyster gelaat en ek het inderhaas kerk toe gery. Die diens was al aan die gang en ek het in een van die agterste kerkbanke ingesluip. Met die keuse om ontbyt te mis en tyd in gebed deur te bring, het ek op my knieë gebly en God gedank. Ek het ook antwoorde gesoek.

Terwyl ek God gedank het vir alles wat Hy gedoen het om hierdie wonderwerk te laat plaasvind, het 'n oorweldigende gevoel van sy teenwoordigheid my toegevou. My vrae het opgehou terwyl ek in daardie heilige oomblik op Hom gewag het. Toe praat Hy. Sy liefdevolle, tere stem het diep in my binneste weerklink: Jy weet jou aardse vader het jou lief. Ek het my engel opdrag gegee om vir jou die ring te bring omdat Ek wil hê jy moet weet jou hemelse Vader het jou ook lief. Hierdie ring is ook my liefdesgeskenk aan jou – nou is dit ‘n tweede keer gegee, en is jy dubbel geseënd.

Uit daardie wonderbare, lewensveranderende ervaring is die grootste verlange van my hart vervul - om intiem my Abba, my Pappa, te ken en deur Hom geken te word.

Abba is die Hebreeuse woord wat Jesus gebruik het wanneer Hy na God verwys het. Dis 'n intieme, informele term wat dui op die nabyheid van hul verhouding.

Hierdie goddelike ontmoeting het my begrip van die onsigbare geesteryk waarin engele bestaan, verbeter en verder gevorm. Wanneer ons die bediening van die engele begin aanvaar, begin ons om die liefdevolle sorg van ons hemelse Vader te verstaan. Hy het hierdie majestueuse, kragtige wesens geskep om tydens ons aardse reis ons metgeselle te wees. In die volgende hoofstuk sal ons saam ontdek wat 'n engel is deur die Skrif te bestudeer. Ek sal ook inspirerende ware verhale vertel van mense nes jy wat engele ontmoet het.

Vervolg...