ENGELE IS WERKLIK (1)

Judith Macnutt

Lees reeks by Engele is werklik

Voorwoord

Dis vir my 'n geweldige voorreg om met Judith getroud te wees, en ons het al dikwels oor ontmoetings met engele gesels. Die onderwerp is so interessant dat ek Judith aangemoedig het om hieroor te skryf. Dit kombineer 'n skriftuurlike studie van engele met ervarings wat bevestig waarom engele belangrik is in ons verlossingsreis. Hulle is nie net simbolies nie; hulle is werklik en raak ons lewens aan. Lering oor engele dateer sover terug as Genesis en is so nuut soos vandeesweek se TV-programme. Boonop is ek en Judith geseënd om deur Christene omring te word wat hulle eie ongelooflike stories het van ontmoetings met engele. Net gister het een van ons personeellede by Christian Healing Ministries ons van 'n ontmoeting met 'n engel vertel.

Oor die jare het ek al dikwels groepe mense gevra: "Hoeveel van julle glo dat julle al persoonlik 'n engel ontmoet het?" Dit het my beïndruk dat omtrent die helfte van die groep gewoonlik hul hande sal opsteek. Ek dink dis 'n merkwaardige statistiek, om nie te praat van merkwaardige realiteit nie. Jy kan dalk dieselfde vraag vra by jou gebedsgroep of vir jou vriende. Dink net, in 'n tipiese groep wat stil in die kerk sit, sal jy waarskynlik vind dat omtrent die helfte van die mense jou van 'n persoonlike ontmoeting met engele sal kan vertel.

Ek hoop jy sal in die bladsye wat volg, leer hoekom engelebediening so 'n ongelooflike gawe aan ons is. Onder andere beskerm, waarsku en lei hulle ons. Ek is diep geïnspireer deur hoe God ons oor die jare gehelp het deur sy engele te stuur. Toe ek Judith se stories van haar vroeë lewe en die stories van vriende gelees het, is ek aangenaam verras. Ek huil nie maklik, maar toe ek Judith se storie gelees het van hoe sy haar pa se ring gevind het, is ek diep geroer.

Dit is so bemoedigend om te glo dat God engele aangestel het om ons te beskerm - beskermengele wat ons van gevaar en elke soort boosheid bewaar. Christene glo dit al geslagte lank, maar vir die meeste van ons is dit bloot 'n geloofsaak, omdat engele gewoonlik nie gesien word nie. Of hulle gesien word of nie, hulle beïnvloed ons lewens op baie daadwerklike maniere. Meningsopnames toon dat die helfte van die teoloë glo hulle bestaan regtig, terwyl die ander helfte glo dat hulle bloot 'n simboliese verwysing na God se aktiwiteite is.

Judith het hierdie boek geskryf omdat jy nie net in engele kan glo nie, maar ook hul dade kan ervaar namate hulle jou lewe beïnvloed. Ek wil jou ook aanspoor om op so 'n wyse te bid dat jy hul teenwoordigheid in jou lewe sal begin herken soos hulle jou liefderyk beskerm (beskermengele) of jou lei (boodskapper-engele). Selfs al sien jy nie hoe engele jou seën en help nie, staan hulle jou werklik op ongelooflike maniere by. As jy waarlik glo dat God engele aangestel het om jou te leer, beskerm en lei, kan dit 'n ontsaglike aansporing in jou geesteslewe wees.

Die talle getuienisse in hierdie boek wys hoe lief God ons het, en hoe Hy by tye selfs ons lewens red deur die kragtige ingryping van sy engele. Wanneer jy meer van engele leer, sal dit jou natuurlik lei om God met dankbaarheid te prys. Engele is werklik!

~ Francis MacNutt