DIE HEMEL IS WERKLIK (23)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

ALI SE OOMBLIK

Na Colby se geboorte het ek en Sonja uitgevind die dinamika van kinders oral met ons saamneem, het verander. Dit was drie teen twee en ons was in die minderheid. Ons het besluit dit was tyd vir 'n gereelde babawagter en het 'n baie verantwoordelike, volwasse graadagt genaamd Ali Titus aangestel om na die kinders te kyk. Op Maandagaande het ek en Sonja steeds sagtebal gespeel vir die "oumens-span", al was my glydae verby.

Een Maandagaand in 2005 het Ali vir Cassie, Colton en Colby kom oppas sodat ons kon gaan sagtebal speel. Ons het teen omtrent 22:00 weer voor die huis stilgehou. Sonja het solank ingegaan om te kyk hoe dit met Ali en die kinders gaan terwyl ek die garage toegesluit het vir die nag. Ek het dus eers 'n paar minute na die tyd uitgevind wat in die huis gebeur het.

 

Die deur van die garage na die huis het uitgeloop in die kombuis en toe Sonja by die deur inloop, het sy Ali by die wasbak aangetref. Sy was besig om skottelgoed te was ... en het gehuil.

"Ali, wat is fout?" het Sonja gevra. Het iets Ali gepla of het daar iets met die kinders gebeur?

Ali het haar hande afgedroog. "Um, ek weet nie hoe om dit te sê nie, mevrou Burpo," het sy begin. Sy het na die vloer gekyk en geweifel.

"Toemaar, Ali," het Sonja gesê. "Wat is dit?"

Ali het met oe vol trane opgekyk. "Ek is baie jammer om dit te vra, maar ... het Mevrou 'n miskraam gehad?"

"Ja, ek het” het Sonja verras geantwoord. "Hoe weet jy daarvan?"

"Um ... ek en Colton het 'n bietjie gepraat."

Sonja het Ali genooi om by haar op die bank te gaan sit en haar te vertel wat gebeur het.

"Dit het alles begin toe ek Colby en Colton in die bed gesit het," het Ali vertel. Cassie het ondertoe gegaan na haar kamer toe en Ali het Colby sy bottel gegee en hom in sy bababed gesit op die boonste verdieping. Toe het sy met die gang af gestap om Colton te gaan nag sê voor sy na die kombuis gekom het om te kom opruim. "Ek het net die wasbakkraan toegedraai, toe ek Colton hoor huil het."

Ali het Sonja vertel dat sy na Colton se kamer toe ge­gaan het en hom aangetref het waar hy regop op sy bed sit, met trane wat oor sy wange loop.

"Wat's fout, Colton?" het sy gevra.

Colton het gesnuif en sy oë afgevee. "Ek verlang na my sussie," het hy gesê.

Ali se sy was verlig dat daar 'n oënskynlik maklike oplossing vir die probleem was. "Oukei, moet ek haar gaan haal vir jou?"

Colton het sy kop geskud. "Nee, ek verlang na my ander sussie."

Nou was Ali deurmekaar. "Jou ander sussie? Jy het net een sussie en een boetie, Colton. Cassie en Colby, onthou jy?"

"Nee, ek het nog 'n sussie," het Colton verduidelik.

"Ek het haar gesien. In die hemel." Toe begin hy weer huil. "Ek verlang vreeslik na haar."

Terwyl Ali die deel van haar storie aan Sonja vertel het, het haar oë weer vol trane geskiet. "Ek het nie geweet wat om te sê nie, mevrou Burpo. Hy was so hartseer. Toe vra ek hom wanneer hy hierdie ander sussie gesien het."

Colton het aan Ali vertel: "Toe ek klein was, is ek geopereer en ek het hemel toe gegaan en my sussie ge­sien."

Toe het Colton weer begin huil, die keer harder. "Ek weet nie hoekom my sussie dood is nie. Ek weet nie hoekom sy in die hemel is en nie hier nie."

Ali het langs Colton op die bed gesit, in haar eie woorde "geskok". Dit was definitief nie een van die normale "in geval van nood"-situasies op 'n babawagter se lys nie. Normale situasies was: (1) wie om te bel as daar 'n brand ontstaan; (2) wie om te bel as 'n kind siek word. En nie: (3) wie om te bel as 'n kind 'n bonatuurlike ervaring rapporteer nie.

Ali het geweet Colton was 'n paar jaar vantevore baie siek en dat hy in die hospitaal was. Maar sy het nie geweet wat in teater gebeur het nie. Sy het dus geen idee gehad wat om te sê toe Colton onder sy kombers uitgekruip en op haar skoot gaan sit het nie. Toe het sy maar net saam met hom gehuil.

"Ek verlang na my sussie," het hy weer gesê en met sy kop teen Ali se skouer gelê.

"Toemaar, Colton," het Ali getroos. "Alles gebeur vir 'n rede." En so het hulle bly sit. Ali het Colton gewieg tot hy homself in haar arms aan die slaap gehuil het.

Toe Ali haar storie klaar vertel het, het Sonja haar 'n drukkie gegee. Ali het ons later vertel dat sy vir die volgende twee weke nie kon ophou dink aan wat Colton haar vertel het, en aan hoe Sonja bevestig het dat Colton voor sy operasie niks van die miskraam geweet het nie.

Ali het in 'n Christenhuis grootgeword, maar ook soos so baie van ons getwyfel oor sekere dinge. Byvoorbeeld: Hoe weet ons dat enige geloof regtig verskil van al die ander? Maar Colton se storie oor sy sussie het haar geloof in Christus versterk, het Ali gesê. "Toe hy die dogtertjie se gesig beskryf ... dit was nie iets wat 'n sesjarige seuntjie kon uitdink nie” het sy aan ons gesê. "Wanneer ek nou twyfel, onthou ek net Colton se gesig en die trane oor sy wange terwyl hy my vertel het hoe hy na sy sussie verlang."

Vervolg...