DIE HEMEL IS WERKLIK (22)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

KRAG, VAN BO

Op 4 Oktober 2004 is Colby Lawrence Burpo gebore. Hy was van geboorte af Colton se ewebeeld. Maar soos met alle kinders, het God hom ook uniek gemaak. As Cassie ons sensitiewe kind was en Colton ons ernstige kind, was Colby die hanswors. Van 'n vroeë ouderdom af het Colby se lawwigheid ons almal baie laat lag.

Een aand in die laatherfs het Sonja gereedgemaak om vir Colton 'n Bybelstorie te lees.

Sy het op die kant van sy bed gesit en die storie gelees terwyl hy knus onder die kombers gelê het met sy kop op 'n kussing. Toe was dit tyd om te bid.

Een van die groot seëninge wat ons as ouers ervaar, is om ons kinders te hoor bid.

Wanneer hulle klein is, bid kinders sonder die pretensie wat soms in volwassenes se gebede inkruip, sonder daardie taal wat meer bedoel is om die ander toehoorders te beïndruk as om met God te kommunikeer. En wanneer Colton en Cassie op hulle eenvoudige, eerlike manier gebid het, het dit gelyk of God hul gebede beantwoord.

Ons het vroeg al die gewoonte by ons kinders gekweek om vir spesifieke dinge te bid, nie net om hul geloof te bou nie, maar ook omdat gebed vir ander 'n manier is om 'n hart te kweek wat sensitief is vir ander se behoeftes.

"Ek dink ons moet vir Pappa bid, Colton. Jy weet hy moet elke week preek. Kom ons bid dat hy genoeg studietyd hierdie week sal hê om Sondagoggend 'n goeie boodskap te kan gee”, het Sonja gesê terwyl sy langs hom gesit het.

Colton het na haar gekyk en die vreemdste ding gesê. "Ek het gesien hoe krag na Pappa geskiet is."

Sonja het my later vertel sy het eers 'n oomblik oor hierdie woorde nagedink. Krag na Pappa geskiet?

"Wat bedoel jy Colton?"

"Jesus skiet krag van Bo af na Pappa wanneer hy praat."

Sonja het so geskuif dat sy Colton in die oë kon kyk. "Oukei ... wanneer? Bedoel jy as Pappa by die kerk praat?"

Colton het geknik. "Ja, by die kerk. Wanneer hy vir die mense Bybelstories vertel."

Sonja het nie geweet hoe om daarop te reageer nie - 'n situasie waaraan ons al gewoond geraak oor die laaste jaar en 'n half. Dus het sy en Colton maar saam gebid en God gevra dat Pappa Sondag 'n goeie boodskap sou lewer.

Toe glip Sonja gangaf na die sitkamer om my van hul gesprek te vertel. "Maar waag dit net om hom wakker te maak en uit te vra daaroor!" het sy gesê.

Ek moes dus wag tot ontbyt die volgende oggend.

"Boetie," het ek gesê en melk oor Colton se ontbytgraan gegooi, "Mamma sê julle het gisteraand 'n bietjie gesels toe julle klaar die Bybelstorie gelees het. Kan jy my vertel wat jy vir Mamma gesê het oor ... oor Jesus wat krag afskiet? Vertel my van hierdie krag."

"Dis die Heilige Gees," het Colton eenvoudig geantwoord. "Ek het Hom dopgehou. Hy het my gewys."

"Die Heilige Gees?"

"Ja, Hy skiet vir Pappa krag af wanneer Pappa in die kerk praat."

As daar gedagteborrels bo mense se koppe was soos in strokiesprente, sou myne vol vraag- en uitroeptekens gewees het. Elke Sondag voor ek preek, bid ek dieselfde gebed: "God, as U nie vanoggend help nie, gaan hierdie boodskap 'n mislukking wees." In die lig van Colton se woorde het ek besef ek het gebid sonder om regtig te weet waarvoor ek vra. En om te dink God het my gebede beantwoord deur "krag af te skiet" ... wel, dit was ongelooflik.

Vervolg...