DIE HEMEL IS WERKLIK (16)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

TWEE SUSSIES

Soos die groen somersdae plek gemaak het vir 'n pragtige herfs, het ons af en toe met Colton oor die hemel gepraat. Maar een gesprek het deurlopend plaasgevind: Toe Colton Jesus in die hemel gesien het, hoe het Hy gelyk? Die rede waarom die onderwerp so dikwels ter sprake gekom het, is omdat ek as leraar baie tyd in hospitale, Christenboekwinkels en ander kerke deurgebring het - almal plekke waar daar baie tekeninge en skilderye van Jesus is. Sonja en die kinders was baie keer saam met my; dus het dit 'n tipe speletjie geword. Wanneer ons op 'n prent van Jesus afgekom het, sou ons Colton vra: "Wat van die een? Lyk Jesus so?"

Colton sou sonder uitsondering 'n oomblik na die prent kyk en dan sy koppie skud. "Nee, die hare lyk nie reg nie," of "Nee, sy klere is nie reg nie."

Dit sou dosyne male oor die volgende drie jaar gebeur. Of dit nou 'n plakkaat in 'n Sondagskoolklaskamer was, 'n uitbeelding van Christus op 'n boekomslag of 'n afdruk van 'n ou meester se skildery op 'n ouetehuis se muur, Colton se reaksie was altyd dieselfde. Hy was te klein om te verwoord wat presies fout was met elke prent; hy het net geweet dit was nie reg nie.

Een Oktoberaand het ek aan die kombuistafel 'n preek voorberei. Sonja was om die hoek in die sitkamer, besig om die besigheid se boeke na te gaan, bestellings na te gaan en rekeninge uit te sorteer. Cassie het by haar voete met Barbie-poppe gespeel. Ek het Colton se voetstappe in die gang gehoor en vlugtig gesien hoe hy om die bank loop en reg voor Sonja stelling inneem.

"Mamma, ek het twee sussies," het Colton gesê.

Ek het my pen neergesit. Sonja het nie. Sy het aanhou werk.

Colton het homself herhaal. "Mamma, ek het twee sussies."

Sonja het opgekyk van haar papierwerk en haar kop liggies geskud. "Nee, jy het jou sussie, Cassie, en ... bedoel jy jou niggie, Traci?"

"Nee." Colton het die woord met mening uitgespreek. "Ek het twee sussies. Mamma het 'n babatjie gehad wat in Mamma se maag dood is, nê?"

Op daardie oomblik het tyd in die Burpo-huishouding stil gaan staan en Sonja se oë het gerek. 'n Paar sekondes tevore het Colton sonder sukses sy ma sover probeer kry om na hom te luister. Nou kon ek selfs van die kombuistafel af sien hy het haar onverdeelde aandag gehad.

"Wie het jou gesê ek het 'n babatjie gehad wat in my maag dood is?" het Sonja ernstig gevra.

"Sy het, Mamma. Sy het gesê sy het in Mamma se maag doodgegaan."

Toe draai Colton om en begin wegloop. Hy het gesê wat hy wou sê en was reg om aan te gaan. Maar na die bom wat hy laat val het, wou Sonja baie meer weet. Voor ons seun nog om die bank geloop het, het Sonja se stem hard opgeklink: '‘Colton Todd Burpo, kom onmiddellikhier!"

Colton het omgeswaai en na my gekyk. Sy gesig het gevra: Wat het ek verkeerd gedoen?

Ek het geweet hoe my vrou moes voel. Om daardie baba te verloor, was die pynlikste ervaring van haar lewe. Ons het dit al aan Cassie verduidelik; sy was ouer. Maar ons het Colton nie vertel nie omdat ons gedink het dit was bo 'n vierjarige se vuurmaakplek. Ek het vanaf die kombuistafel stil die emosies op Sonja se gesig dopgehou.

Effens senuweeagtig het Colton teruggeloop om die bank en weer voor sy ma gaan staan, die keer versigtiger. "Dis oukei, Mamma. Sy is oukei. God het haar aangeneem."

Sonja het van die bank afgegly en voor Colton gekniel sodat sy hom in die oë kon kyk. "Bedoel jy nie Jesus het haar aangeneem nie?"

"Nee, Mamma! Sy Pappa het!"

Sonja het omgedraai en na my gekyk. Sy het my later vertel dat sy in daardie oomblik probeer kalm bly het, maar dat sy oorstelp was. Ons baba ... was - is - 'n dogtertjie, het sy gedink.

Sonja het op Colton gefokus en ek kon hoor dat sy sukkel om die bewing uit haar stem te hou. "Hoe het sy gelyk?"

"Sy het baie soos Cassie gelyk," het Colton gesê. "Sy is net 'n bietjie kleiner en haar hare is donker."

Sonja se donker hare.

'n Mengsel van pyn en blydskap het oor my vrou se gesig gespoel. Cassie en Colton het my blonde hare. Sy het al selfs skertsenderwys by my gekla: "Nadat ek al twee kinders elk nege maande binne my ronddra, lyk hulle steeds na jou!" Nou was daar 'n kind wat na haar gelyk het. 'n Dogter. Ek het gesien my vrou se oë raak nat.

Colton het verder vertel sonder aanmoediging. “'n Klein dogtertjie het in die hemel na my toe gehardloop en sy wou nie ophou om my vas te druk nie." Sy stemtoon het duidelik gewys dat hy glad nie die vasdrukkery deur 'n dogtertjie geniet het nie.

"Sy was dalk net gelukkig dat iemand van haar gesin daar was," het Sonja gesê. "Meisies gee drukkies. Wanneer ons gelukkig is, gee ons drukkies."

Colton het nie oortuig gelyk nie.

Sonja se oë het verhelder toe sy vra: "Wat was haar naam - die dogtertjie s'n?"

Dit het gelyk of Colton eers weer van die aaklige dogtertjie-drukkies vergeet het. "Sy het nie 'n naam nie. Julle het haar nie 'n naam gegee nie."

Hoe het hy dit geweet?

"Jy's reg, Colton," het Sonja gesê. "Ons het nie eens geweet sy was 'n sy nie."

Toe sê Colton iets wat steeds in my ore weerklink: "Ja, sy het gesê sy kan nie wag dat Mamma en Pappa hemel toe moet kom nie."

Ek kon sien Sonja sukkel om haar emosies te beheer. Sy het Colton gesoen en gesê hy kon maar gaan speel. Toe hy uit die vertrek is, het die trane oor haar wange gestroom.

"Ons baba is oukei," het sy gefluister. "Ons baba is oukei."

Van daardie oomblik af het die wond van een van die pynlikste episodes van ons lewens - om 'n kind te verloor wat ons bitter graag wou hê - begin genees. Dit was vir my 'n vreeslike slag toe ons ons kind verloor het. Maar Sonja het my vertel dat die miskraam haar nie net bedroef gelaat het nie, maar dat dit ook soos 'n persoonlike mislukking gevoel het.

"'n Mens doen al die regte goed, eet al die regte goed, en bid vir jou baba se gesondheid, maar steeds sterf die baba binne jou," het sy my eenmaal vertel. "Ek voel skuldig. Met my kop weet ek dit was nie my skuld nie, maar daar is steeds hierdie skuldlas."

Ons wou glo ons ongebore kind het hemel toe gegaan. Al is die Bybel baie vaag daaroor, het ons dit in geloof aanvaar. Nou het ons egter n ooggetuie gehad. 'n Dogter wat ons nooit ontmoet het nie, het gretig op ons gewag in die ewigheid. Van toe af het ek en Sonja begin grappe maak oor wie eerste hemel toe sou gaan. Daar was verskeie redes hoekom sy altyd langer as ek wou leef. Om maar een te noem: 'n Leraarsvrou word gereeld ter illustrasie in preke gebruik. Sy het gesê as ek eerste sou doodgaan, sou sy eindelik die geleentheid kry om die gemeente al haar stories oor my te vertel.

Maar nou het Sonja 'n rede gehad om eerste die he­mel te wou bereik. Toe sy swanger was met die kind wat ons verloor het, het ons al 'n seunsnaam uitgekies gehad - Colton - maar ons kon nooit saamstem oor 'n dogtertjienaam nie. Ek het van Kelsey gehou, en sy van Caitlin, en nie een van ons wou toegee nie.

Vervolg...