DIE HEMEL IS WERKLIK (14)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

BELYDENIS

Die eerste weke van Julie was besonder warm. Soos 'n massiewe kweekhuis het die hitte oor die mielielande gespeel. Die lug oor Imperial was amper elke dag kristalhelder, met muskiete wat bedags gegons het en krieke wat snags gesing het. Om en by middel-Julie het ek na Greeley, Colorado, gery vir die streeksraadsvergadering van die kerk. Omtrent 150 leraars, hulle vroue en afgevaardigdes van Nebraska en Colorado het bymekaargekom by die kerk wat deur Steve Wilson gelei is. Dit was dieselfde kerk wat ek in Maart besoek het toe Sonja by die Harrisse se huis agtergebly het om na Colton te kyk terwyl ons nog gedink het hy het 'n maagvirus.

Vir Rooms-Katolieke is belydenis 'n sakrament, om hulle sondes en tekortkomings aan die priester te openbaar. Protestante bieg ook, alhoewel nie so formeel nie, deur met God te praat sonder 'n tussenganger. Maar Colton se onlangse openbaring dat my woedende gebede reguit na die hemel opgestyg het - en 'n direkte antwoord gekry het - het my laat voel dat ek verder moes bely.

 

Ek het nie goed gevoel oor die feit dat ek so kwaad was vir God nie. En ten tyde van my woedeuitbarsting omdat Hy op die punt was om my kind te neem, raai wie het my kind vasgehou? Raai wie het my kind liefgehad sonder dat ons dit eens gesien het? As leraar het ek toerekeningsvatbaar gevoel teenoor ander leraars vir my gebrek aan geloof. Dus het ek gedurende die konferensie by die Greeley Wesleyan Church vir Phil Harris, ons superintendent, gevra vir 'n spreekbeurt.

Hy het ingestem en toe die tyd aangebreek het, het ek voor my kollegas opgestaan in die kerk wat op Sondagoggende bykans 1 000 mense in sy banke gehad het. Na ek vinnig verslag gelewer het van Colton se gesondheid, het ek die mans en vroue bedank vir hul geloof namens ons gesin. Toe begin ek my belydenis.

"Die meeste van julle weet dat ek my been gebreek het, 'n niersteenprobleem gehad het en 'n mastektomie gehad het voor alles met Colton gebeur het. Ek het so 'n slegte jaar beleef dat mense my pastoor Job begin noem het."

'n Sagte gelag het in die saal weerklink.

"Maar niks daarvan het naastenby so seergemaak as om te moes toekyk hoe Colton ly nie, en ek het baie kwaad geword vir God," het ek voortgegaan. "Ek is 'n man. Mans doen iets. En dit het vir my gevoel of die enigste ding wat ek kon doen, was om op God te skree."

Ek het vlugtig my houding in daardie hospitaalvertrekkie beskryf, waar ek teenoor God ontplof het en Hom vir Colton se toestand blameer het. Ek het vertel hoe ek gekla het omdat Hy besluit het om een van sy leraars so te behandel, asof ek om die een of ander rede vrygeskeld moes wees van probleme omdat ek "sy" werk doen.

"Kan jy glo, toe ek op daardie tydstip so ontsteld en kwaad was, het God gekies om my gebed te beantwoord?" het ek gesĂȘ. "Kan jy glo dat ek so 'n gebed kon bid en God steeds besluit het om 'ja' te antwoord?"

Wat het ek geleer? Ek is weer daaraan herinner dat ek eerlik met God kon wees, het ek my medeleraars vertel. Ek het geleer ek hoef nie 'n gebed wat heilig klink te bid om in die hemel gehoor te word nie. "Jy kan God netsowel vertel wat jy dink," het ek gesĂȘ. "Hy weet dit buitendien al klaar."

Belangrikste van alles: Ek het geleer ek word gehoor. Ons almal word gehoor. Ek is al van kindsbeen af 'n Christen en die helfte van my lewe lank al 'n leraar, so ek het dit geglo. Maar nou het ek dit geweet. Hoe? Toe die verpleegsters my seun se bed weggestoot het terwyl hy geskree het: "Pappa, Pappa, moenie laat hulle my wegvat nie!" ... toe ek kwaad was vir God omdat ek nie na my seun kon gaan en hom vashou en vertroos nie, het God se Seun my seun op sy skoot vasgehou.

Vervolg...