DIE HEMEL IS WERKLIK (13)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

OP HEMELSE TYD

Drie minute?

Terwyl Colton gereedgemaak het vir 'n epiese plastiekswaard-geveg met 'n onsigbare vyand, het ek my aan sy antwoord verwonder.

Hy het alreeds die egtheid van sy ervaring bewys deur my dinge te vertel wat hy nie kon geweet het nie. Nou moes ek sy antwoord - "drie minute" - by die res van die gegewens laat inpas. Ek het na my oop Bybel op die kombuistoonbank gestaar, en die moontlikhede stelselmatig oorweeg.

Drie minute. Dit was nie moontlik dat Colton alles wat hy so ver beskryf het in net drie minute kon sien en doen nie. Hy was natuurlik nog nie oud genoeg om tyd te kon lees nie; dus was sy waarneming van drie werklike minute nie noodwendig dieselfde as 'n volwassene s'n nie.

Ek was redelik seker daarvan dat ek en Sonja, soos die meeste ouers, nie die kwessie juis bevorder het nie. Ons het belowe om "binne 5 minute" die foon af te lui, klaar te gesels met die buurvrou, op te hou werskaf in die motorhuis, net om eers 20 minute later op te hou.

Dit was ook moontlik dat tyd in die hemel nie met tyd op die aarde ooreengestem het nie. Die Bybel sê "vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag" (2 Pet. 3:8). Sommige interpreteer dit as letterlik, met ander woorde 2 dae is gelyk aan 2 000 jaar. Ek het altyd verstaan dit beteken dat God buite ons begrip van tyd handel. Tyd op die aarde word opgewen deur 'n hemelse horlosie wat deur die sterrestelsel beheer word. Maar die Bybel sê daar is nie 'n son in die hemel nie, want daar is God die lig. Dalk bestaan tyd nie in die hemel nie. Minstens nie soos ons dit verstaan nie.

Aan die ander kant was Colton se "drie minute"-antwoord so saaklik en direk asof hy my vertel het hy het pap vir ontbyt geëet. Wat ons horlosie betref, kon hy nie reg gewees het nie. Vir hom om sy liggaam te verlaat en terug te keer daarna, kon nie lank geneem het nie. Veral omdat ons nooit 'n verslag gekry het wat enigiets daarvan gesê het dat Colton ooit klinies dood was nie.

Trouens, die verslag wat ons na die operasie ontvang het, het duidelik gesê dat die chirurgie goed afgeloop het, ten spyte daarvan dat ons seun se prognose swak was.

Operasieverslag

Datum van operasie: 2003/05/03 Voorlopige diagnose: Akute appenditis. Finale diagnose: Geperforeerde appendiks en abdominale abses

Teaterprosedure: Appendektomie en dreinering van abdominale abses

Chirurg: Timothy O'Holleran, MD

Verslag:

Pasiënt op rug geposisioneer op die teatertafel met arms lateraal. Die narkotiseur het algemene narkose toegedien waarna die pasiënt se abdomen op steriele wyse voorberei is, gedrapeer met steriele doeke soos per protokol.

Die operasie-leidende geneesheer het 'n transversnit gemaak in die onderste regterkwadrant van die abdomen. Die snit het gestrek deur die vellae, abdominale spierlaag (longitudinaal), tot in die peritoneale holte waar die geperforeerde appendiks asook abdominale abses geleë is.

Die appendiks is chirurgies verwyder gedurende die prosedure.

'n Gedagte het my soos weerlig getref: Colton het nie gesterf nie.

Hoe kon hy na die hemel gegaan het as hy nie gesterf het nie?

'n Paar dae lank het ek die idee oordink. Dit was nog net 'n week of wat vandat Colton ons die eerste keer vertel het van die engele; dus wou ek nie die kwessie van die hemel forseer nie. Maar uiteindelik kon ek dit nie meer hou nie en het ek deur die huis na Colton gesoek tot ek hom in die slaapkamer wat ons in 'n speel- kamer omskep het, gevind het. Hy het met sy blokkies gespeel. Ek het teen die deurkosyn aangeleun en sy aandag getrek.

"Weet jy, Colton, ek verstaan nie so mooi nie," het ek begin.

Hy het opgekyk en ek het vir die eerste keer opgemerk dat sy gesiggie weer rond was. Sy wange was rond en pienk na die siekte dit bleek en ingesonke gelaat het. "Wat?"

"Jy het gesê jy was in die hemel. Mense moet doodgaan om na die hemel te gaan."

Colton se blik het nie vir 'n oomblik geaarsel nie. "Oukei, dan het ek doodgegaan. Maar net vir 'n klein rukkie."

My hart het byna gaan staan. As jy nog nooit gehoor het hoe jou kleuter jou vertel hy was dood nie, is dit regtig nie iets wat ek aanbeveel nie. Maar Colton het nie gesterf nie. Ek het geweet wat die mediese verslag gesê het. Colton het nooit ophou asemhaal nie. Sy hart het nooit gaan staan nie.

Ek het nagedink oor die nuwe brokkie terwyl Colton weer sy aandag by sy speelgoed bepaal het. Toe onthou ek dat die Bybel op verskeie plekke melding maak van mense wat die hemel gesien het sonder om te sterf. Die apostel Paulus het aan die kerk in Korinte geskryf van 'n Christen wat hy persoonlik geken het wat na die hemel geneem is: "Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat 'n mens nie kan of mag uitspreek nie" (2 Kor. 12:3-4).

Daar was ook natuurlik die apostel Johannes wat die hemel in die fynste besonderhede beskryf het in Openbaring. Johannes was in ballingskap op die eiland Patmos, waar 'n engel hom besoek en beveel het dat hy 'n reeks profesieë aan verskeie kerke moes neerskryf. Johannes het geskryf:

1 NÁ hierdie dinge het ek gesien — kyk, ’n geopende deur in

die hemel, en die eerste stem wat ek *soos ’n basuin met my

hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en *Ek sal jou toon wat

ná hierdie dinge moet gebeur.

2 En dadelik *was ek in die Gees, en kyk, daar staan *’n troon in

die hemel en Een sit op die troon.

3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen

*jaspis en *sardius; en rondom die troon was ’n *reënboog wat in sy

voorkoms gelyk het soos ’n smarag.

4 En rondom die troon was daar (Op. 4:1-3).

Reënboë ... nou waar het ek onlangs dieselfde gehoor?

Terwyl ek daar gestaan en 'n Skrifgegronde basis deurdink het dat iemand die hemel kon ervaar sonder om te sterf, het ek besef dat Colton maar net probeer het om sy leraar-pa se stelling in ooreenstemming te bring met wat hy ken as die feite van sy eie ervaring deur te sê hy het "vir 'n klein rukkie" doodgegaan. Amper soos om buite te loop en te sien die straat is nat en dan die afleiding te maak dat dit gereën het.

Sien, ek het hierdie netjiese boksie gehad wat gesê het: "Mense moet doodgaan om hemel toe te gaan," en Colton, wat my vertrou, het dus die gevolgtrekking gemaak: "Wel, dan moes ek seker doodgegaan het, want ek was daar."

Skielik het hy weer begin praat. "Pappa, onthou Pappa toe ek in die hospitaal na Pappa geroep en geskree het toe ek wakker geword het?"

Hoe kon ek vergeet? Dit was die mooiste geluid wat ek al ooit gehoor het. "Natuurlik onthou ek."

"Wel, ek het geskree omdat Jesus my gaan haal het. Hy het gesê ek moes terugkom omdat Hy Pappa se gebed beantwoord het. Dis hoekom ek vir Pappa geskree het."

My knieë het skielik lam gevoel. Ek het teruggedink aan my gebede toe ek alleen was en woedend vir God, en aan my stil, desperate gebede in die wagkamer. Ek het onthou hoe bang ek was, dood van bekommernis oor of Colton die chirurgie sou oorleef of nie, of ek weer sy kosbare gesig sou sien of nie. Dit was die langste, donkerste 90 minute van my lewe.

En Jesus het my gebed beantwoord? Hy persoonlik? Na ek op God geskree het, Hom gekasty het en sy wysheid en getrouheid bevraagteken het?

Hoekom sou God enigsins so 'n gebed beantwoord? En hoe het ek sy genade verdien?

Vervolg...