DIE HEMEL IS WERKLIK (12)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

LIGTE EN VLERKE

Sonja het die Saterdagaand teruggekeer uit Colorado Springs. Terwyl ons saam in die sitkamer gesit en koeldrank drink het, het ek haar verder ingelig oor wat Colton alles gesê het.

"Wat het ons heeltyd gemis?" het ek hardop gewonder.

"Ek weet nie," het sy gesê. "Dis asof hy net skielik met nuwe inligting vorendag kom."

"Ek wil meer weet, maar ek weet nie wat om hom te vra nie." Ons was albei onderwysers, Sonja in die formele sin van die woord en ek op pastorale vlak. Ons het ingestem dat die beste pad vorentoe sou wees om aan te hou oop vrae vra wanneer die geleentheid hom voordoen.

Ook het ons besluit om versigtig te wees om nie enige leemtes te vul, soos wat ek per ongeluk gedoen het toe ek die woord "kroon" voorgestel het vir wat Col­ton as die "goue ding" op Jesus se kop beskryf het nie. Ons het in die jare wat gevolg het so versigtig by die aksieplan gebly dat Colton eers teen tien jaar oud die woord "lyfband" geken het.

'n Paar dae na die gesprek oor die skribbels, het ek by die kombuistafel gesit en voorbereiding doen vir 'n preek. Colton het naby my gespeel. Ek het opgekyk van my boeke na my seun, wat met plastiese swaarde bewapen was, besig om die punte van 'n handdoek om sy nek te bind. Elke superheld moet 'n mantel hê.

Ek wou hom iets oor die hemel vra en het moontlike vrae in my gedagtes oorweeg. Ek het nog nooit vantevore so 'n gesprek met Colton gehad nie en was effens senuweeagtig oor hoe om te begin. Trouens, ek het nog nooit so 'n gesprek met enigiemand gehad nie.

Voor hy met sy oorlog kon begin, het ek Colton se aandag gekry en beduie hy moet kom sit. Hy het nader gedraf en op die stoel aan die punt van die kombuistafel geklim. "Ja?"

"Onthou jy toe jy my vertel het hoe Jesus lyk? En van die perd?"

Hy het geknik, oë groot en opreg.

"Was jy in die hemel?"

Weer het hy geknik.

Ek het besef ek was besig om te aanvaar dat Colton dalk werklik in die hemel was. Ek het gevoel ons gesin het 'n geskenk ontvang en noudat ons die boonste lagie papier afgetrek het, het ons min of meer geweet wat die vorm daarvan was. Nou wou ek weet wat nog in die boks was.

"Wel, wat het jy in die hemel gedoen?" het ek gewaag.

"Huiswerk."

Huiswerk? Dis nie wat ek verwag het nie. Miskien kooroefening, maar nie huiswerk nie. "Wat bedoel jy?"

Colton het geglimlag. "Jesus was my onderwyser."

"Soos by die skool?"

Colton het geknik. "Jesus het vir my werk gegee om te doen en dit was my gunsteling deel van die hemel. Daar was baie kinders, Pappa."

Hierdie stelling was die begin van 'n tydperk wat ek wens ons neergeskryf het. Gedurende hierdie gesprek en vir die volgende jaar of so, het Colton baie name genoem van kinders wat volgens hom saam met hom in die hemel was. Hy onthou egter nou nie meer hul name nie, en ek en Sonja ook nie.

Dit was ook die eerste keer wat Colton genoem het dat daar ander mense in die hemel was. Altans, ander mense as Bybelfigure soos Johannes die Doper, maar ek moet bieg dat ek aan hom gedink het as ... wel, 'n "karakter" eerder as 'n gewone mens soos ek en jy. Dit klink nogal dom, aangesien Christene altyd praat van hemel toe gaan as hulle eendag sou doodgaan. Hoekom sou ek nie verwag dat Colton gewone mense sou gesien het nie?

Al waaraan ek kon dink om te vra, was: "Hoe het die kinders gelyk? Hoe lyk mense in die hemel?"

"Almal het vlerke” het Colton geantwoord.

Vlerke?

"Het jy vlerke gehad?" het ek gevra.

"Ja, maar myne was nie baie groot nie." Hy het 'n bietjie bekaf gelyk toe hy dit sê.

"Oukei... het jy geloop of gevlieg?"

"Ons het gevlieg. Almal behalwe Jesus. Hy was die enigste een in die hemel wat nie vlerke gehad het nie. Jesus het net op en af gegaan soos 'n hysbak."

Die boek Handelinge het by my opgekom: die toneel van Jesus se opvaart na die hemel, toe Jesus aan sy dissipels gesê het hulle sal sy getuies wees wat mense oor die hele wêreld van Hom sal vertel. Die Skrif sê:

9 En nadat Hy dit gesê het, *is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien;

en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan,

*staan daar twee manne in *wit klere by hulle,

11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die

hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, *sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. (Hand. 1:9-11).

Jesus het opgevaar. En Hy gaan terugkom. Sonder vlerke. Dit kan seker vir 'n kind soos 'n hysbak lyk.

Colton het my gedagtegang onderbreek. "In die he­mel lyk almal amper soos engele, Pappa."

"Hoe bedoel jy?"

"Almal het 'n lig bo hulle koppe."

Ek het hard probeer dink wat ek van engele en ligte weet. In die Bybel, wanneer engele opdaag, is hulle soms stralend helder - amper verblindend. Die Evangelies sê toe Maria Magdalena en die ander vroue op die derde dag na Jesus begrawe is, by die graf opgedaag het, het 'n engel vir hulle gewag. Hy het op die grafsteen gesit wat op die een of ander manier voor die graf weggerol is. "Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu" (Matt. 28:3).

Ek het onthou dat Handelinge van die dissipel Stefanus vertel. Terwyl hy van laster aangekla is voor die Joodse Raad, het sy gesig "soos die van 'n engel" gelyk (Hand. 6:15). Kort daarna is hy gestenig.

Die apostel Johannes skryf in Openbaring dat hy 'n ander engel, 'n sterke, uit die hemel uit sien afkom het. Hy het 'n wolk om hom gehad en 'n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son (Op. 10:1).

Ek kon nie onthou dat engele spesifiek ligte - of halo's, soos sommige dit noem - oor hul koppe gehad het nie, maar ek het geweet Colton se blootstelling aan engele in storieboeke en die Bybel het nie ligte oor hul koppe ingesluit nie. Hy het ook nie eens die woord "halo" geken nie. Ek weet ook nie of hy al ooit een gesien het nie, aangesien ons bedtyd-Bybelstories en Sondagskoollesse suiwer op die Bybel gebaseer is.

Nogtans het sy woorde my om 'n gans ander rede gefassineer: 'n Vriendin van ons - die leraarsvrou van 'n kerk in Colorado - het my eenmaal iets vertel wat haar dogter, Hannah, gesê het toe sy drie jaar oud was. Na die Sondagoggenddiens het Hannah aan haar ma se rokspant getrek en gevra: "Mamma, hoekom het party mense in die kerk ligte bo hulle koppe en ander nie?"

Ek onthou ek het op daardie tydstip aan twee dinge gedink: Eerstens, as ek Hannah se ma was, sou ek langs Hannah gekniel en gevra het: "Het ek 'n lig bo my kop? Sê asseblief ja!"

Ek het ook gewonder wat dit was wat Hannah gesien het, en of sy dit gesien het omdat sy ook, nes my seun, kinderlike geloof gehad het.

Toe die dissipels Jesus gevra het wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel was, het Jesus 'n klein seuntjie uit die skare geroep en hom as voorbeeld tussen die dissipels laat staan.

3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle *nie verander en

*soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van

die hemele ingaan nie!

4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. (Matt. 18:3-4).

Wie homself gering ag soos hierdie kindjie ...

Wat is kinderlike nederigheid? Dis nie 'n gebrek aan intelligensie nie, maar 'n gebrek aan valsheid. Die gebrek aan 'n agenda. Dis daardie kort, kosbare tydjie voor ons genoeg trots en status bymekaargemaak het om om te gee wat ander dink. Daardie selfde onselfbewuste eerlikheid wat 'n driejarige in staat stel om vrolik in 'n reënplassie te baljaar, of laggend saam met 'n hondjie op die gras bollemakiesie te slaan, of kliphard uit te wys dat daar iets by jou neus uithang. Dis die teenoorgestelde van onkunde - dis intellektuele eerlikheid: om bereid te wees om die realiteit te aanvaar en 'n ding by sy naam te noem, al is dit ook hoe moeilik.

Dit het alles in 'n oomblik deur my brein geflits, maar ek het ontwykend gesê: "Mmm, 'n lig, nê?"

"Ja, en hulle het geel van hier tot hier." Hy het weer die lyfband-gebaar vanaf sy linkerskouer na sy regterheup gemaak. "En wit van hier tot hier." Hy het sy hande op sy skouers geplaas en toe vooroor geleun en aan die bokante van sy voete geraak.

Ek het aan die "man" gedink wat aan die profeet Daniël verskyn het:

4 En op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek

op die wal van die groot rivier was, dit is *die Hiddékel,

5 het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ’n man *met linne

bekleed, *en sy heupe was omgord met goud van Ufas.

6 En sy liggaam was *soos chrisoliet, en sy aangesig *soos die

geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en

sy voete soos blink geskuurde koper en die *geluid van sy woorde soos die gedruis van ’n menigte. (Dan. 10:4-6).

Colton het weer 'n lyfband-gebaar gemaak en gesê die mense in die hemel dra nie dieselfde kleure as die engele nie.

My Nuwe-Inligting-Meter was teen hierdie tyd amper vol, maar daar was nog een ding wat ek wou weet. As Colton regtig hemel toe was en regtig al hierdie dinge gesien het - Jesus, perde, engele, ander kinders - en as hy regtig lank genoeg daarbo (is dit bo?) was om huiswerk te doen, hoe lank was hy "uit" sy lyf uit, soos hy beweer het?

Ek het na hom gekyk waar hy op die kombuisstoel gekniel het met sy handdoekmantel steeds om sy nek. "Colton, jy het gesê jy was in die hemel en jy het al hierdie dinge gedoen ... baie dinge. Hoe lank was jy weg?"

My seuntjie het my in die oë gekyk en sonder om te huiwer geantwoord: "Drie minute." Toe het hy van die stoel afgehop en weggehuppel om te gaan speel.

Vervolg...