DIE HEMEL IS WERKLIK (7)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

WOEDEND VIR GOD

Vyf minute later het 'n man in 'n wit jas uit die radiografiese eenheid gekom. Ek onthou nie sy naam nie, maar ek onthou sy naamplaatjie het gesê: "Radioloog."

"U seun het 'n gebarste blindederm," het hy gesê. "Hy moet 'n noodoperasie ondergaan. Hulle wag vir u in teater. Volg my."

Uit die veld geslaan, het ek en Sonja agter hom aangestap. My slape het gebrand. 'n Gebarste blindederm? Het die dokter in Imperial nie uitdruklik dié moontlikheid uitgeskakel nie?

In die vertrek waar hulle Colton vir chirurgie voorberei het, het Sonja Colton op 'n bed geplaas, sy voorkop gesoen en weggetree toe 'n verpleegster nader staan met 'n aarvoedingsak en naald. Colton het onmiddellik be­gin gil en baklei. Ek het by my seun se kop gestaan, sy skouers stilgehou en hom met my stem probeer gerusstel. Sonja het weer langs Colton gaan staan en openlik gehuil terwyl sy probeer het om met haar lyf sy linkerarm en -been stil te hou.

Toe ek opkyk, was die voorbereidingsvertrek propvol mans en vroue in wit jasse en teaterklere. "Die chirurg is hier," het een van hulle sag gesê. "As u buite met hom sal gaan praat, sal ons hierbinne oorneem."

Teësinnig het ons agter die gordyn uitgestap. Colton het geskree: "Asseblie-e-e-f, Pappa! Moenie weggaan nie!"

In die gang het dr. Timothy O'Holleran op ons gewag. Dr. O'Holleran was die dokter wat vier maande vantevore my mastektomie behartig het. Sy gesig was nou somber.

Hy het dadelik tot die punt gekom. "Colton se blindederm het gebars. Dit gaan nie goed met hom nie. Ons gaan ingaan en hom probeer skoonmaak."

Aan die ander kant van die gordyn het Colton steeds geskree. "Pappa! Pa-a-p-p-a-a-a!"

Ek het op my tande gekners en probeer om die klank af te sluit en op die dokter te fokus.

"Ons het in Imperial gevra of dit 'n gebarste blindederm kon wees," het Sonja gesê. "Hulle het gesê beslis nie."

My brein het die verlede geïgnoreer en net na die toekoms gekyk in die hoop dat daar nog hoop was. "Hoe dink u sal hy vaar?" het ek gevra.

"Ons moet oopsny en hom skoonmaak. Ons sal eers weet wanneer ons hom oop het."

Dit wat hy nie gesê het nie, het soos 'n alarm in my ore geloei terwyl Colton se gille in die gange gehoor kon word. In antwoord op 'n direkte vraag, het die dokter ons spesifiek nie enige versekering gegee nie. Trouens, al wat hy omtrent Colton gesê het, was dat dit sleg gegaan het met hom. Ek het teruggedink aan die oomblik wat Sonja my in Greeley uit Imperial gebel het om vir my te sê Colton se koors het gebreek en hulle was op pad. Wat toe soos die einde van 'n maagvirus gelyk het, was heel waarskynlik die eerste tekens van 'n gebarste blindederm. Dit het beteken dat gif ons seuntjie se maag al vyf dae lank gevul het. Dit verduidelik die doodskadu wat ons op hom kon sien. Dit verduidelik ook waarom dr. O'Holleran ons geen hoop kon bied nie.

Die dokter het in die rigting van die geraas wat uit die voorbereidingslokaal gekom het, geknik en gesê: "Ek dink dit sal beter werk as ons hom teater toe neem en hom eers narkose gee voor ons die drup insit."

Hy het na die gordyn geloop en ek het gehoor hoe hy die bevel gee. 'n Paar oomblikke later het twee verpleegsters die bed deur die gordyn gestoot en ek het gesien hoe Colton ineenkrimp. Hy het sy klein lyfie gedraai tot hy my met sy ingesonke ogies kon raaksien. "Pappa! Moenie laat hulle my wegvat nie-e-e-e!"

Onthou jy toe ek gesê het leraars het nie die luukse om in die openbaar kop te verloor nie? Ek was op die punt om dit te verloor, en ek moes wegkom. Na ek met die dokter gepraat het en honderde vorms geteken het, het ek byna gehardloop tot ek 'n klein vertrekkie met 'n deur ontdek het. Ek het ingegaan en die deur agter my toegeslaan. My hart het wild geklop. Ek kon nie asem kry nie. Desperaatheid, woede en frustrasie het in golwe oor my gespoel en die lug uit my longe gepers.

Wanneer almal histeries raak, kyk almal na Pa - veral as Pa 'n leraar is. Nou was ek eindelik in 'n vertrek waar niemand na my gekyk het nie en ek het woedend met God begin praat.

"Waar is U? Is dit hoe U u leraars behandel?! Is dit enigsins die moeite werd om U te dien?"

Ek het heen en weer geloop deur die vertrek wat gevoel het of dit krimp, net soos Colton se opsies sekerlik aan die krimp was. Oor en oor het 'n enkele beeld my oorweldig: Colton wat met uitgestrekte arms weggestoot word op die bed en skree dat ek hom moet red.

Dis toe dat dit my tref: Ons het te lank gewag. Ek gaan dalk nooit weer my seun lewendig sien nie.

Trane van woede het my oë gevul en oor my wange geloop. "Ná die been, die nierstene, die mastektomie, is dit hoe U my die einde van my toetsingtydperk gaan laat vier?" het ek op God geskree. "Gaan U my seun neem?"

Vervolg...