ENGELE MET ‘N SENDING (5)

Lees reeks by Engele met 'n sending

My besoek aan die troonkamer

Een Saterdagaand in Januarie 1977, omtrent 22h30, het ek by my lessenaar gesit en mediteer en bid, besig om my hart voor te berei vir Sondag. Ek het met my kop op my arms op my lessenaar gelê toe ek skielik, sonder enige waarskuwing, uit my kamer uitgeneem is!

Ek het ’n stem hoor sê: “Kom saam met My na die Troonkamer waar die geheime van die heelal gehou word!” Ek het nie tyd gehad om te antwoord nie; afstand beteken vir God niks nie! Dit was soos die klap van vingers — boem — en ek was daar! Toe eers het ek die stem wat met my gepraat het herken as die stem van die Almagtige God!              

Ek was senuweeagtig en God het vir my gesê om te ontspan. Hy het gesê: “Jy hoef niks aan My te bewys nie, omdat Ek jou reeds ken.” Ek het begin ontspan, al was dit vir my so geweldig dat dit vir my moeilik was om te verstaan wat gebeur het.

      Hy was onmiddellik ter sake en het gesê: “Ek wil vir jou ’n oorsig in sekere waarhede gee.” In ’n breukdeeltjie van ’n oomblik van die ewigheid het ons van Genesis tot Openbaring gegaan en het eers na God se plan vir sy volk gekyk. Dwarsdeur die hele Bybel het God sy karakter bespreek en gesê: “Ek sal niks doen wat teenstrydig is met My natuur of My karakter nie. My plan vir jou is goed en dit sal volbring word.”

Hy het na Jeremia 29:11 verwys: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.” Deurdat Hy vir my hierdie gedagtes gegee het, wou God my laat sien hoe Hy regtig oor die mens voel; dat Hy die mens in gedagte gehad het voordat Hy die aarde gemaak het; en Hy het die aarde gemaak sodat die mens ’n plek kon hê waarop hy kon leef. As Hy na die mens kyk, kyk Hy nie na die ongeregtigheid wat plaasgevind het nie, maar Hy kyk na die hart van die mens.

Gedurende hierdie besoek het God werklik vir my ’n wonderlike kykie in die verborge geheime van die heelal gegee; van materie, energie, natuur en ruimte, almal met dieselfde wonderlike handelsmerk. Toe Hy vir my hierdie verbysterende waarhede gewys het, het dit ’n nuwe skoonheid en eenheid aan die hele Bybel gegee wat ek voorheen nie geken het nie. Sekere Bybelse waarhede wat ek net vaag begryp het, was nou volkome duidelik en ek kon sien hoe al die deeltjies ingepas het in wat God besig was om te doen!

Toe het God gesê dat ek maar vrae kon stel! My kop het gedraai! Hoe stel ’n mens aan God vrae? Dit was so ontsagwekkend om in sy teenwoordigheid te wees dat ek skaars kon dink. Eindelik het ’n gedagte my te binne geskiet om uit te vind of Hy regtig indiwiduele planne vir elke lewe gemaak het, omdat, om een of ander rede het ek gevoel dat hierdie ontsettende taak selfs vir God te groot sou wees!

In antwoord op my vraag het God my die geweldige grootte van sy hemelse argief laat sien. My kop het weer gedraai! Daar was geen wyse waarop my beperkte menslike verstand kon begryp hoe God kontrole oor al hierdie lêers kon hou nie. Daar moet biljoene van hulle wees! Hy het gesê: “Omdat jy so oorweldig is hierdeur en so oorbluf, laat ek een trek wat jy sal ken.” En Hy het onmiddellik myne getrek! Hy wou nie hê dat ek die inhoud daarvan sien nie, maar Hy het ’n paar van die dinge genoem wat in die toekoms sou gebeur wat ek as ’n bevestiging van hierdie besoek kon gebruik.

Toe het Hy nog ’n ander verbasende ding gedoen! Hy het 120 items neergeskryf wat Hy gesê het nog in my lewe sou gebeur. Dit was nie soos u en ek skryf nie; die inligting het net skielik verskyn! Dit was nie eers vir my nodig om dit te lees nie en selfs NOU kan ek vir u ALLES vertel wat op daardie papier was omdat dit oombliklik in my verstand gegraveer was soos ’n drukpers op papier druk. Die pers hoef nie te lees wat gedruk is nie. Dit is daar! Op dieselfde wyse was elke notatjie ingebrand in my verstand en dit is nog steeds daar!

Al het ek hierdie kennis gehad, het God my laat verstaan dat Hy nie wou hê dat ek enige van hierdie dinge sou openbaar maak, voordat Hy my die vryheid sou gee om dit te doen nie.

Hy het gesê: “Laat Ek vir jou iemand anders se rekord wys wat jy maklik sal kan verstaan.” Hy het die leer van Kores getrek en my herinner aan die laaste teksvers van Jesaja 44 en die eerste vyfteks- verse van 45 waar Hy se: “ . . . wat van Kores sê: Hy is my herder en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê:

Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.

“So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uitgaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme sodat jy kan weet dat Ek die Here is wat jou by jou naam roep, die God van Israel; ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ’n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie”. God het ver in die toekoms ingekyk en gesien presies wat sou plaasvind.

Hy het my toegelaat om die rekordboeke en ook die bloudrukke vir baie lewens te sien. Een boek was dié van die apostel Paulus. Dit het getoon dat hy (Paulus) gebruik sou word om die evangelie aan konings, heersers en mense van gesag te bring. Vir hierdie doel het God hom ’n groter breinkrag as die normale gegee, en omdat hy meer briljant was het Hy gesorg dat hy onder die grootste leermeesters van sy dag kon studeer en uiteindelik kon hy onderrig word deur Gamaliël, die mees uitstaande leermeester van daardie tyd. God het Paulus gekies om die Skrifdeel, die sendbriewe, sy plan vir die kerk en sy liggaam, te skryf, en so het Hy hom vir hierdie taak voorberei.

Een van die mees opwindende dinge vir my was die kykie wat God vir my in die rekords van Abraham en Saral gegee het. Terwyl ek daardeur gekyk het, het ek dinge gesien wat vir my totaal onbekend was. Ek het verslae gesien van Abraham en Sara se gasvryheid teenoor vreemdelinge. Hulle het ’n opregte meegevoel gehad vir diegene wat nie so gelukkig soos hulle was nie. Hulle het die kamele van hulle gaste-water gegee en vir hulle ’n plek gegee om te bly en hulle kos met hulle gedeel. God het dit geëer en dit is neergeskryf, maar ek het dit nog nooit voorheen raakgesien toe ek die boek Genesis gelees het nie!

Een ding kon ek nie vind nie en dit was die plekke waar Abraham gestruikel het. Toe Abraham vir die koning van Egipte gelieg het en gesê het dat sy vrou sy suster was, was nie hier opgeskryf nie! Die keer toe sy geloof swak was en hy gelag het uit ongeloof vir God se belofte dat ’n man van sy ouderdom nog ’n vader sou word, is nie hier opgeteken nie.

“Here, waar is die ander boek?”

“Ek het nie ’n ander boek vir gelowiges nie.”

“Waar het u geskryf van Abraham se mislukkings wat ek in U eie

Woorde in die Bybel geskryf gesien het?”

“Ek het nie ’n ander boek nie. EK HOU NIE REKORD VAN MISLUKKINGS IN DIE HEMEL NIE!” (Kyk Hebreers 10:17— 18).

Dit is ’n wonderlike hoop vir die hele mensdom!

Lêers in die ewigheid is nie soos lêers wat ’n mens sou hou nie; hulle is meer volledig en alles is nougeset opgeteken. Hierdie rekords is die rekords wat Hy in fokus sal bring as die boekie geopen word in die oordeel vir gelowiges. Dit is die hemelse liasseerstelsel, ’n totaal verskillende dimensie as die een van hierdie wêreld; ’n ewige argief.

Nog een van die wonderlike dinge wat God gedoen het, was om my in die gees te neem om die huise te besoek van verskeie gesinne in my gemeente. Sonder dat skynbaar enige tyd verbygegaan het, het God my van die een huis na die ander geneem, net asof ons van deur tot deur gegaan het. Terwyl ons na die gesprekke van die mense in die huise geluister het, het dit snaaks gevoel om in ’n vertrek te wees waar mense gepraat het wat duidelik nie geweet het dat ek daar was nie. Ek kon hulle sien, maar dit het gelyk asof hulle dwarsdeur my kyk. Toe het ek daaraan gedink dat Christus in huise is waar Hy luister en kyk wat daar aangaan en dikwels is ons heeltemal onbewus daarvan!

Daar was ontelbare engele orals. Vir ’n flietende oomblik het ek my eie kerkgebou gesien, gepak met engele. Daar was meer hemelse wesens as aardse wesens! Halleluja!

Daar is geen wyse waarop ek u kan vertel van al die dinge wat in my gedagtes ingeprent is in daardie oomblikke van die suiwerste heerlikheid nie! Dit is geheel en al onmoontlik! Ek wil egter probeer om sommige van die dinge wat die grootste indruk op my gemaak het, met u te deel.

Een van die ontdekkings wat so wonderlik mooi vir my was in die hemel, was die algehele afwesigheid van die vroomheid wat mense so dikwels in hulle lewens aanwend wanneer hulle aan God dink! Daar was niks daarvan nie! Alles was op ’n ligte, gelukkige, ontspanne basis, met opregte helderheid! Ek het nie gevoel dat ek op eiers moes loop nie, omdat ek geheel en al op my gemak was! Dit was nie vir my nodig om twee keer te dink oor wat ek wou sê uit vrees dat ek iemand ontevrede sou maak nie, want daar was ’n gees van alge­hele openheid. Dit was ’n wonderlike, maar ontsagwekkende gebeurtenis wat ek nooit sal vergeet nie.

God het beklemtoon dat ons moet ophou om ons oor sy verantwoordelikhede te bekommer. Hy het my mense laat sien wat probeer om Hom te dien deur te kyk hoeveel hulle hulle gedagtes by Hom kan inskakel, deur te probeer om presies reg te dink of deur te pro­beer om net die regte woord op die regte tyd te sê! God het weer beklemtoon: “Dit is My saak. Jy moet My aanbid, met My wandel, jou hand in myne sit, jou hart in stemming met myne en ek sal jou die voorreg gee om met My te wandel.

“Laat My toe om my eie sake te doen! Wat Ek belowe het is My saak en Ek sal daarvoor sorg. Ek het nog nooit gefaal nie. Nie een van My woorde het gefaal in al My mooi beloftes nie.”

Ek het dinge geleer wat werklik verstommend was! Een van die dinge wat God my te kenne gegee het, was dat geld nie baie groot waarde gaan hê nie, behalwe as dit vir sy werk gebruik sou word. Vir hulle wat hulle geld vir sy werk aanwend, sal Hy die kanaal wyd oopmaak en daar sal geen einde wees aan seëninge vir hulle nie. Hy het my selfs diegene binne my eie gemeente gewys wat Hy finansiëel gaan seën. Hulle was mense wat in die stadium nie baie geld gehad het nie, maar omdat hulle gevoel het dat die belangrikste ding in die wêreld was om hulle talente te gebruik om ’n kontantvloei te skep vir die dinge van God, het Hy gesê Hy gaan sy seëninge op hulle uitstort.

Sedert daardie tyd het ek ’n bietjie geloer na sommige van die gegewe rekords. Dit is iets wat ek nie gewoonlik doen nie, maar ek wou sien of die Here reeds hierdie mense geseen het. ALMAL VAN HULLE, NA WIE DIE HERE VERWYS HET, het beweeg van ’n toestand van maerte in wat hulle gegee het, tot ’n oorweldigende bedrag!

Een van die ander uiters interessante dinge waarvan die Here my vertel het toe ek by Hom was, was ’n waarheid wat wetenskaplikes eers later ontdek het. Ek het met my vrou hieroor gepraat en sy was net so verbaas soos ek oor hierdie wetenskaplike feit. God het gesê ons sal binnekort van hierdie nuwe wetenskaplike ontdekking hoor!

Daar was heelwat spekulasie oor die leë ruimtes in die hemelruim. Hy het verduidelik dat die rede waarom dit lyk dat daar donker, leë ruimtes is, is dat die swaartekrag binne die sterre so sterk is dat hulle hulle ligstrale weer na binne toe trek. Die gevolg is dat die sterre doodgaan en nie meer ligstrale uitstraal nie. Die swart kolle beteken nie dat daar nie meer sterre op daardie plekke is nie, maar eenvoudig dat hulle lig uitgedoof is en dat hulle nie meer gesien kan word nie. Dit is begraafplase van sterre. God sê wanneer ons ons gedagtes na binne toe keer, word ons net soos die sterre wat in duisternis wandel.

’n Ruimte-ingenieur het een aand by ons aangekom (Julie 1978) en ek het dit met hom bespreek. Toe ek vir hom vertel wat die Here vir my gesê het oor die sterre wat doodgaan, was hy oorbluf. “Ek kan dit nie glo nie!” het hy gesê. “Dit is maar slegs omtrent twee maande gelede dat ons inligting ontvang het dat daar regtig sterre is in hierdie donker ruimtes wat uitgedoof is.” Hy het gesê dat die publiek dit nog nie weet nie. My vrou, Charm, het geglimlag toe hy dit sê, omdat ek twee maande gelede al met haar daaroor gepraat het. Later het ek van hom die brief ontvang:

Ek was besonder verbaas toe u vir my van die buitenste ruimtes vertel het. Ek was werklik verbaas toe u vertel hoe die Here party mense wat voorheen Christene was en vir die Here geleef en getuig het, vergelyk met sommige sterre in die hemelruim wat eens op ’n tyd geskitter het. Nie slegs het hierdie sterre ophou skyn nie, hulle reflekteer nie eers meer die lig wat na hulle toe kom nie.

Vir my is dit die “swart kolle” van die buitenste ruimte. U dra kennis van wetenskaplike feite waarvan die meeste leraars niks weet nie. Dit kan net die Here wees wat vir u hierdie inligting gegee het.

God het my ook daaraan herinner dat die aarde ’n wonderlike plek is, want die aarde is vol van sy heerlikheid! Hy het my ’n vermeerderende aantal mense getoon wat hulle na Hom wend. Nie mense wat wegskram nie, nie ’n kerk wat tou opgooi nie, nie ’n kerk wat ondergronds lewe nie, maar ’n triomferende kerk!

Ek was heeltemal ontspanne en op my gemak by die Here. ’n Mens hoef nie ’n mens se “beste voetjie voor te sit” nie, want Hy weet selfs hoe jou slegste voet lyk! Dit het geen sin om te probeer voorgee of om te probeer om ’n indruk te maak nie — wees net jouself! Ek het gevind dat dit onmoontlik is om enigiets anders as net jouself in die hemel te wees!

Dit het gevoel asof ek ’n paar maande by die Here was, selfs langer. Al die dinge wat ek gesien het, sal ’n boek kan vul met ’n paar honderd bladsye, maar daar is iets oor die dimensie van die ewigheid wat ’n mens nie heeltemal met tyd kan definieer nie. Ek sou nie eers tyd gehad het om die papier wat die Here my gewys het, te lees nie, want dit was minder as vyf minute van die oomblik af dat ek my kantoor verlaat het, totdat ek teruggekeer het.

Die ewigheid word nie volgens horlosies gelewe nie, want tyd word nie gemeet nie. Tyd is net vir die aarde bedoel. Die ewigheid gaan nie ’n lang, uitgerekte vervelige tyd wees nie. Daar is glad geen tyd nie! Dit sal net ’n heerlike ondervinding wees!

Toe ek die bonatuurlike ondervindings met my gemeente begin deel, was ek ’n bietjie onseker omdat daar baie kon wees wat sou dink dat ek ’n “paar skroewe los” gehad het. In die begin was daar baie dae dat ek self gewonder het of ek nie dalk hallusinasies gehad het nie. Net wanneer ek so begin voel, het God iets laat gebeur presies soos Hy dit op die papier geskryf het!

Wanneer jou tyd aanbreek om hierdie aarde te verlaat, moenie bekommerd wees daaroor nie, die hemel is nie ’n vervelige plek nie! As dit hier nie lekker is nie, bekommer jou ook nie daaroor nie. God wil hê dat ons die meeste van ons lewens sal maak solank ons op hierdie pragtige aarde is, om vir Hom te lewe en om gelukkig te wees! God is nie die helfte so besorgd oor dinge waaroor ons mense besorgd is nie. Al wat Hy vra is dat ons met Hom moet wandel en Hom moet liefhê. Hy wil hê dat ons moet weet wat Hy besig is om te doen, omdat die genade van God en sy heerlikheid die hele aarde vul!

God het my ook toegelaat om van my geliefdes te sien wat gesterf het. Toe het Hy my gelowiges gewys wat besig was om hierdie lewe te verlaat. Ek het gesien dat engele gegaan het om hulle families in die hemel te gaan waarsku dat ’n geliefde huis toe sou kom, sodat hulle gereed kon maak om hom te verwelkom. Paulus het na hierdie mense verwys as mense wat hemelse liggame het. Dit het vir my ’n ander hemelse dimensie verklaar en vereenvoudig. Hulle was herkenbaar en het presies so gelyk soos hulle hier gelyk het sonder die laste, die dinge wat seergemaak het en ander probleme. Hulle het gedurigdeur ’n geweldige groot vreugde en geluk ondervind, want die hemel is ’n plek waar ’n mens gedurig die skoonheid van God ontdek!

God het my ook iets anders laat sien wat ek nooit verstaan het nie. Daar is ’n gebied tussen ons permanente woonplek in die hemel en hierdie aarde van waar ons teruggebring kan word. Mense wat ge­sterf het en wat teruggekeer het na die lewe op God se bevel, was in hierdie gebied. Hulle het nog nie hulle finale woonplek bereik nie. Hierdie is ’n paar baie, baie interessante gegewens, maar dit is so. Ek het dit gesien! Ek was daar!

Een ding wat die Here vir my vertel het was so teenstrydig met my eie teologie, dat dit vir my moeilik was om my begrip aan te pas by die ware feite. Ek het gepreek dat die oomblik as jy ophou asemhaal, as jy nie gered is nie en nie die Here ken nie, jy die hemel gemis het. God het gesê dat dit nie noodwendig so is nie. Hy het gesê dat daar ’n plek is waar die gees van die mens ’n rukkie kan vertoef voordat hy na sy permanente woonplek gaan. Baie mense wat klinies dood was weet dat hulle die ervaring gehad het. Sommige van hulle het die poorte van die hel genader en selfs ingekyk, of in die hemel ingekyk en het teruggekom. Hy het nie probeer om dit in die vorm van ’n handboek te gee sodat u dit kan bewys of as ’n onderwerp in skole kan aanbied nie, maar dit is ’n feit! Ek het teenoor die Here opgemerk dat dit geheel en al teen my teologie was en Hy het eenvoudig gesê dat Hy nie besig was om dit met my teologie te probeer vergelyk nie!

Ek het ’n portaal gesien soortgelyk aan ’n gang of ’n tonnel tussen die lewe en die dood, ’n wagkamer van waar indiwidue in hulle finale woonplek ingaan. God het my vertel dat ’n persoon wat gesterf het en teruggekom het, uit hierdie gang gekom het.

Ek was volkome op my gemak die hele tyd wat ek in die troon­kamer was, maar dit was alles net te vinnig verby. Skielik het ek in my kantoor teruggekom en ek het myself gesien met my kop op my arms op die lessenaar waar ek gebid het. Tot op daardie oomblik het ek gedink ek was in die Troonkamer in my liggaam, maar ek was nie!

Die Here het ’n wonderlike humorsin en daar is baie gelag en vreugde in die hemel. Ek kon die agterkant van my kop sien en het opgemerk: “Here, ek het beslis nie geweet dat die agterkant van my kop al so grys is nie!”

Ek was regtig geskok toe ek myself in my stoel terugvind, omdat ek NOG STEEDS DIE PAPIER GEHAD HET WAT GOD MY GEGEE HET! Ek het nie geweet wat om daarmee te maak nie, maar daar was dit, in my hand! Ek het geweet dat Hy nie wou hê dat ek dit op die tydstip al bekend moes maak nie en dit het my heelte­mal ontsenu. Ek het dit versigtig bo-op ’n paar ander papiere op my lessenaar neergesit sodat dit niks kon oorkom nie en huis toe gegaan. My vrou het vir my gevra waarom ek so bleek en stil was. Ek het haar presies vertel wat gebeur het en ons het ’n lang ruk oor my besoek aan die Troonkamer gepraat. Eindelik het ons bed toe gegaan en vroeg die Sondagoggend het ek opgestaan en na my kan­toor toe gegaan om weer na die papier te gaan kyk. DIT HET IN AS VERANDER!

Die as het omtrent soos pels gelyk. Dit was veertjielig en donserig en die geringste asemhaling het dit effens laat beweeg! Dit het my aan sneeuvlokkies herinner, behalwe dat die kleur anders was.

Ek het nie geweet wat om daarmee te maak nie. Ek kon myself nie sover kry om dit weg te gooi nie en ek was bang om dit weg te neem, daarom het ek dit net daar gelos tot laat in die dag. Eindelik het ek dit in ’n koevert gekrap en dit het saamgepers sodat dit nie meer dieselfde digtheid gehad het nie. Ek het nog altyd die koevert om my te herinner aan ’n reeks gebeure wat ek nie gereël het nie. Ek kon persoonlik beslis niks doen om toe te sien dat hierdie dinge gebeur het nie. God het my net toegelaat om te sien wat Hy besig is om te doen en dit maak my geloof baie groter! As God nie hierin was nie, weet ek nie hoe ek die papier en die as moet verklaar nie. Baie mense het later hiervan gehoor en van ver af gekom om na die ongewone as te kyk. Verskeie leraars het gesien hoe dit van hulle hande af verdwyn as hulle dit vasgehou het. In twee en ’n halwe week was daar nie een korreltjie daarvan oor nie!

Baie het gevra hoe die papier gelyk het wat God my gegee het. Dit was omtrent so dik soos leer, maar wit en effens dowwerig. Dit het gelyk of dit aan al vier kante geskeur was en nie gesny nie en het ’n bietjie na perkament gelyk.

Iemand het vir my gevra of dit leeg voel om na die tydelike dinge terug te keer, maar dit is nie leeg nie omdat dit alles deel is van God se sistematiese plan vir sy Koninkryk. Ek voel dat God hier net so naby is as daar!

Een van die wonderlikste dinge wat met my gebeur het terwyl ek daar was, was toe God genoem het dat die Bybel se hoogste doel was om sy karakter te openbaar. Hy het vir my Jeremia 9:23—24 gegee: “So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroep dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek ’n behae, spreek die Here.”

Daarna het Hy my na Exodus 34:6—7 verwys toe Hy vir Moses gesê het dat hy Hom nie kan sien nie, maar dat Hy hom wil vertel hoe Hy is: “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe . . .” en toe het Hy verder gesê: vir hulle wat Hom verwerp, is daar die ander kant.

God het my ’n spesiale insae gegee in meer as 2 000 teksverse in die Bybel. Onmiddellik het ek hierdie teksverse en hulle verwysings uitwendig geken. Ek kan nie verduidelik hoe dit gedoen is nie! Ek hoef nie te probeer om hulle te onthou nie, dit is asof ek hulle altyd voor my sien.           

Dit mag vir u snaaks klink, maar die gedagte het nooit by my opgekom om te kyk hoe God lyk nie. Ek was bewus van die helderheid van sy skitterende heerlikheid. Die wondere en die heerlikhede van daardie ervaring kan nie voldoende in ’n aardse taal beskryf word nie.