ENGELE MET ‘N SENDING (1)

Lees reeks by Engele met 'n sending

Hierdie verhaal is die ware verhaal van ’n doodgewone man wat ’n reeks buitengewone gebeurtenisse beleef het.

Roland H. Buck

Gebore: Everett, Washington, U.S.A., Junie 13, 1918.

Gradueer te Northwest College, Seattle, Washington, 1939.

Leraar in gemeentes in Granger en Yakima, Washington, Gooding en Boise, Idaho, vanaf 1950.

Getroud met Charmian Jacobson, Junie 13, 1942. Sy het op die ouderdom van 10 jaar Jesus ontmoet as Verlosser en so ook vervul met die Heilige Gees in sy volheid toe sy 21 jaar oud was. Hy is gered en vervul met die Heilige Gees in 1929. ’n Begaafde evangelie- dienaar in Boise.

Ons is CHARLES EN FRANCES HUNTER, evangelie-dienaars in die VSA.

Toe ons die eerste keer van Roland Buck gehoor het, was ons net besig om te vertel dat God ’n spesiale beskermengel by ons plaas om ons teen die vurige pyle van die bose te beskerm totdat Jesus terugkom. ’n Paartjie het gevra: “Het julle al ooit van die man in Boise, Idaho, gehoor wat deur engele besoek word? Hulle praat met hom en bring boodskappe van God af.”

Selfs in hierdie dae met die bonatuurlike krag van God meer sigbaar as ooit tevore, het dit ons geskok; veral toe Doug en Ruth vertel dat dit Gabriel was wat die boodskappe gebring het! ’n Oomblik lank het dit na die mees vergesogte stelling geklink wat ons nog gehoor het, maar tog was daar so ’n ondertoon van waarheid in, dat in ons harte ’n honger ontstaan het om meer te hoor.

Ons besige program het ons daarvan weerhou om Roland Buck te kontak om meer besonderhede te hoor, maar in God se volmaakte plan het Hy aangehou en aangehou om in ons harte te werk om hom te kontak oor die moontlike skrywe van ’n boek. Maar ons was nog steeds toe onder so baie ander werk, dat ons dit nie gedoen het nie! Totdat God regtig met ons begin werk maak het omdat ons te veel werk gehad het om na Hom te luister! Hy het ’n paartjie na Houston gestuur vanaf Sitka in Alaska. Hulle het by Eugene in Oregon aangedoen om ’n paar “engelkasette” te kry waarna hulle wou luister. Hulle het oorgeborrel omdat hulle die hele pad van Oregon na Texas na die kasette geluister het. Al wat hulle kon sê was: “Julle moet hierna luister — julle moet hierna luister!”

En ons het geluister! Elke keer as ons in die kar geklim het, het ons ’n ander “engelkaset” op die kasetspeler gesit. Saans as ons bed toe gegaan het, het ons aan die slaap geraak met ’n “engelkaset” in ons ore, totdat Charles een Vrydagmiddag gesê het: “Ek gaan nou vir Eerwaarde Buck bel om te hoor of ons nie ’n onderhoud met hom kan reël met die oog op die skrywe van ’n boek nie. Hierdie boodskappe van die engele is so fantasties, die hele wêreld moet dit hoor!” Frances was net so beïndruk deur die gedagte dat engele met ’n gewone mens kon gesels, dat ons saam na die telefoon gestap het om te bel.

Eerwaarde Buck het ons onmiddellik uitgenooi om die aanddienste in sy gemeente te kom waarneem en hy sou met graagte gedurende die dag met ons gesels. Alhoewel hy ons verseker het dat die kern van die boodskappe wat die engele aan hom gegee het, op die kasette was waarna ons geluister het, het hy gesê dat daar miskien nog ’n paar ander dinge was wat ons graag sou wou hoor. Ons kon skaars wag om daar te kom!

Ons het op ’n Sondagaand gearriveer, ’n paar minute voor die aanddiens sou begin en ná die diens het ons gou ietsie gaan eet saam met Roland en Gharmian Buck. As daar nog enige skeptisisme in ons harte was voor die tyd, het dit verdwyn toe hy ons uit sy hart uit sommige van die wonderlike waarhede begin vertel wat die engele vir hom direk van God af gebring het.

Nog twee dae van onderhoude het op dié aand gevolg waarin ons ’n kykie kon kry in die hart van die man wat gesê het: “Ek wil hê dat die fokus op God moet val en dat Hy verheerlik sal word. Ek wil geen eer vir myself hê nie.” Ons het baie van die vrae aan hom gestel wat u ook sou stel: “Was dit ’n buitengewone dag toe u die eerste ondervinding gehad het?” Hy het geantwoord: “Nee, dit was net so ’n doodgewone dag soos al die ander dae toe ek daardie aand gaan slaap het. Engele was die laaste ding waaraan ek gedink het toe ek op my bed gaan lê het.”

Ons was albei beïndruk met sy kennis, nie net van die Bybel self nie, maar ook met die wyse waarop hy die Skrif aangehaal het. Dit het gelyk asof sy hele gesprek direk uit die Woord van God gekom het. Ons het hom gevra of hy altyd so ’n goeie geheue gehad het voordat hy die Troonkamer besoek het. Hy het geantwoord: “Ek sal moet ‘nee’ sê. Voor hierdie ervaring kon ek net die Skrifgedeeltes gebruik wat ek geken het, daarom het ek die Bybel oor en oor bestudeer en gelees. Ek is nou baie, baie jare lank in die bediening en ek moes altyd ’n konkordansie gebruik om die teksverse na te slaan, maar met die 2 000 teksverse wat die Here my gegee het, hoef ek dit nie meer te doen nie. Ek hoef hulle ook nie eers meer uit die Bybel voor te lees as ek preek nie, want EK KEN HULLE NET!”

Een van die dinge wat met ons gepraat het oor die opregtheid van hierdie ervarings, was die feit dat hulle almal teruggevoer kon word na die Bybel!

Een aand het Charles gesê: “Kan jy jou voorstel dat mense die seun van ’n Joodse timmerman sou glo wat op ’n dag skielik sy verskyning maak en sê: ‘Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie!’ ” (Johannes 14:6).

Ons vind dit makliker om verhale oor die besoeke van engele te glo hier in die twintigste eeu as wat dit vir daardie mense was om te glo dat hierdie alledaagse jongman Jesus was, die Seun van God!

Sommige mense het dit nie geglo nie, ander het! Dit sal vandag maar dieselfde wees. Sommige sal hierdie storie glo, ander Sal nie. Ons glo dit! En of u dit glo of nie, hierdie boek sal maak dat u God se liefde beter sal verstaan as ooit tevore en dit sal Jesus vir u lewend maak! Dit sal vir u die gevoel gee dat u in die onbeperkte dimensie van die ewigheid lewe!

CHARLES EN FRANCES HUNTER