Ds A E vd Berg
Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker
Boetedoening en goeie werk
In sy brief aan die Galasiërs is Paulus uiters besorg oor ʼn dwaalleer wat sy kop in die kerk uitsteek het. Ketters het ʼn vreemde verlossingsleer verkondig dat sondaars op grond van goeie werke gered kon word. Dit het die Evangelie geskaad:
“Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Die RK het eeue later dieselfde dwaalleer begin verkondig.
Die leer van verlossing deur goeie werke bied redding as’t ware te koop aan. Dis onbybels!
Jesaja 55:1 sê redding is sonder geld en sonder prys. In die RK draai alles om geld. Redding is selfs op ʼn afbetaalbasis beskikbaar. Die RK sorg dat lidmate agterstallig bly as daar by hulle afsterwe ʼn aansienlike sondeskuldlas oorgebly het waarvoor hulle in die vagevuur moet brand, tensy iemand hulle deur geld aan die kerk te gee, loskoop. Dis verregaande bedrog!
Die RK hou haar lidmate met die ketting van saligheid deur goeie werke gevange:
“ … Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie” (Gal. 3:10).
Die Bybel praat baie anders oor redding! Dis genade alleen (Ef.1:7-10). Daarom het die Hervorming ernstige klem op die NT verlossingsleer van redding deur geloof alleen gelê:
“ … Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand.16:30,31).
Die kernprobleem van die RK se verlossingsleer is die ontkenning van Jesus se genoegsame offer aan die kruis. Dit moet met bykomstighede soos die gereelde bywoning van die misoffer, boetedoening en allerlei goeie werke aangevul word.
Wie boetedoening as voorwaarde vir vergifnis vereis, rand die Godheid van Christus aan. Nêrens in die Skrif eis God boetedoening nie; slegs bekering – ʼn bewustelike daad van sondeversaking:
“Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees … want Hy vergeef menigvuldig” (Jes.55:7).
Boetedoening verskil skerp van bekering. Dis selfkastyding. Bekering daarenteen is ʼn berouvolle toevlug tot Jesus alleen. Hy sê nêrens dat sondaars eers vir hul sondes boetedoening moet doen alvorens hulle gered kan word nie.
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee ...“ (Mt.11:28).
Die RK glo egter vas dat boetedoening heilsaam vir die gees is en sondaars die geleentheid bied om ʼn lewensommekeer te maak. Afgodsdienste glo dit ook. Boeddhisme en Hindoeïsme leer ook dat vergifnis deur selfkastyding geskied. Gevolglik is die RK se leer van boetedoening niks anders as valse bekering nie. In plaas daarvan om Jesus toe te laat om hul stukkende harte te genees, kasty Roomse lidmate eerder hul eie liggame - alles uiterlike handelings sonder die nodige lewensverandering.
Met die leer van boetedoening sluit die RK haar lidmate se pad na die hemel. Persoonlike bekering is onnodig. Priesters skenk die nodige vergifnis, veral as sondaars op goeie voet met hul verkeer. Mense word slegs ʼn paar dinge ten laste gelê soos bv. om ʼn aantal voorgeskrewe gebede (Hail Mary’s) tot Maria te bid.
Alhoewel die RK aan priesters die gesag verleen om sonde te vergewe, leer sy dat daar altyd ʼn mate van straf oorbly wat slegs deur boetedoening ongedaan gemaak kan word. Christus vergewe, maar wis nie al die straf uit nie. Priesters bepaal die omvang van die nodige boetedoening.
Gevolglik verskil die RKvan die Bybelse leer oor die regverdiging deur genade alleen (Rom.1:17). Geestelike despotisme is allermins verbruikersvriendelik! Dit hou sondaars van Jesus as genadige Verlosser af weg. Tydens die Konsilie van Trent het die RK ʼn bedenklike besluit aanvaar:
“Geen mens kan absoluut seker weet dat hy die genade van God ontvang het nie”.
Dit skreeu teen die Bybelse waarheid van geloofsekerheid (Joh.6:37) en laat miljoene Roomse lidmate lewenslank in vertwyfeling en onsekerheid leef.
Elke jaar stroom duisende Roomsgesindes op Goeie Vrydag na plekke soos die Filippyne en elders om te sien hoe selfkastyders hul met Jesus se lyding probeer vereenselwig deur hulself met karwatse stukkend te slaan en selfs te laat kruisig.
Dis eie aan die eertydse Babiloniese Mologdienste. Molog was ʼn wrede afgod wat pyniging, bloed en lyding geniet het!