AMERIKA EN RUSLAND IN ONRUSLAND

Die geskiedenis tussen die VSA en Rusland spreek van vyandskap en negatiewe aksie. Daarom is die nuwe verwikkelinge wat tot groot dinge kan lei en die hele wêreld kan verander, geen verrassing nie.

Beide Amerika en Rusland betree nou ‘n fase waar hulle nuwe strategiese kernwapens ontwikkel om die ouer stelsels te vervang. Hierdie wapens gaan triljoene dollars kos om te ontwikkel en te vervaardig en sal nog ‘n paar jaar neem om tot die punt te kom waar dit in gebruik geneem sal kan word. Na verwagting sal die voorgenome vyf jaar verlengtyd van New START beide die lande genoeg tyd gee om die behoefte aan ‘n meer gemoderniseerde kernstelsel te verantwoord.

New START (Strategic Arms Reduction Treaty) is ‘n ooreenkoms tussen die VSA en die Russiese Federasie met die formele naam Measures for the Further Reduction and Limitation of Strategic Offensive Arms wat op 8 April 2010 in Praag onderteken is. Die verwagting was dat die ooreenkoms tot minstens Februarie 2021 van krag sou wees. Of dit wel die geval sal wees sal die tyd ons moet leer.

Rusland en Amerika betree hiermee ‘n gevaarlike tydperk waar diskriminasie en wantroue, eerder as ‘n vertrouensverhouding tussen die twee regerings, sake kan bemoeilik. Weens ‘n tekort aan insig glo Rusland en die VSA altyd die ergste van mekaar en sal hierdie wapenontwikkeling hulle groter vyande van mekaar laat word in ‘n tyd (met Covid-19) waar hulle dit die minste kan bekostig.

Om sake verder te bemoeilik het Trump ‘n nuwe gesant, Marshall Billingslea, by Wapenbeheer aangestel terwyl vorige onderhandelings met Rusland deur ene Andrea Thompson, wat ook vir Internasionale Sekuriteit gewerk het, plaasgevind het. Billingslea se vorige werksondervinding was in die Pentagon onder George Bush waar hy betrokke was met die implementering van die sogenaamde “enhanced interrogation techniques”— in ander woorde, die marteling van mense twv inligting. Te midde van Billingslea se gebrek aan ondervinding in Wapenbeheer, het Trump hom ook aangestel as hoof van onderhandelings met beide Rusland en Sjina. Kortom, Billingslea is nie toegerus om die verlenging van die New START ooreenkoms te hanteer nie en sal dit verdere wantroue tussen Rusland en Amerika veroorsaak wat ten einde hierdie missie onmoontlik maak.

In kort gestel, ons kan in die afsienbare toekoms ‘n woelige internasionale prentjie verwag waarby hierdie twee lande direk betrokke is, ‘n toestand wat baie maklik tot die begin van die verwagte Derde Wêreldoorlog kan lei.