Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle mense het liefde nodig om te funksioneer – dit is die soort liefde wat God ons geleer het: onvoorwaardelik. Kyk net hoe gedy die persoon vir wie jy onvoorwaardelik liefhet!
BRIEWE UIT DIE HEMEL (6)
Ds Andrè vd Berg
Aan Filadelfia
“Kyk, Ek het voor jou ʼn geopende deur gegee....” (Openb.3:8)
Christus stuur die sesde brief aan die gemeente in Filadelfia wat “broederliefde” beteken en betreklik onbeduidend in Klein-Asië. Desondanks is dit een van net twee gemeentes wat lof van Jesus ontvang. Die ander was Smirna. Die rede vir Smirna se lof, was dat sy in tye van verdrukking geestelik sterk gestaan het. Filadelfia ontvang lof omdat sy die deur wat Jesus vir haar in ʼn krisisuur van haar bestaan oopgemaak het, gebruik het.
Hierdie geopende deur dui op die geleentheid wat Jesus vir hulle geskep het om die Evangelie uit te dra. Paulus praat van soortgelyke deure wat oopgegaan het: “’n Groot en kragtige deur het vir my oopgegaan ...(1 Kor.16:9). “Bid tegelykertyd ook vir ons dat God vir ons die deur van die woord mag open...” (Kol.4:3). Mense maak nie sulke deure oop nie; alleenlik Jesus.
Die wêreld waarin Filadelfia die Evangelie moes uitdra, was heidens en gelowiges min. Hulle is so vervolg, dat hulle gevoel het asof hulle hul teen ʼn muur vasgeloop en geen vordering met die Evangeliebediening gemaak het nie. Daarom het Jesus vir hulle ʼn deur oopgemaak sodat die werk kon aangaan.
Elke deur het ʼn sleutel. Filadelfia s’n was in die hand van die Sleuteldraer wat aan die regterhand van God sit, vanwaar Hy die kerk regeer en bewaar.Die beeld van die deur met die sleutel is ʼn volledige beeld en getuig van Jesus wat nie halfpad werk nie en die pad met sy kinders enduit stap.
Die Christenkerk het in haar stryd teen Satan haar gereeld voor geopende deure bevind. Al hierdie deure is nie deur Jesus oopgemaak nie. Sommige is deur eiesinnige mense geopen wat deur die Satan mislei is om dit oop te maak. Die kerkgeskiedenis wemel van flaters omdat voortvarende mense nie seker gemaak het wie die betrokke deur oopgemaak het nie –Christus of mense?
Die gevolg was dat kerke by baie deure ingegaan het wat deur mense wat die Skrifte nie ken nie oopgemaak is. Teenstanders van die Evangelie het die kerk dikwels voor die versoeking laat swig om hul met sake bemoei waarvoor Jesus hul geen opdrag gegee het nie! Satan het die kerk uitgelok om buite haar opdragte beweeg. Die gevolg was dat die kerk nie in die wêreld nie, maar die wêreld in die kerk ingegaan en die kerk haar roeping versaak het.
Satan het vir die kerk die sleutels van wêreldlike mag aangebied. “Jy soek mos ʼn koninkryk, nie waar nie? Ek sal vir jou een gee! Die koninkryk van die hemel waarvoor jy ywer, is baie ver hiervandaan, ver anderkant die wolke. My koninkryk is egter baie naby, ja, so naby dat jy letterlik daaraan kan vat! Dink net aan al die wonderlike dinge wat jy kan doen indien die sleutels van politieke mag in jou hande is. Hoe sal jy die land hervorm en hoeveel deure sal nie oopgaan nie. Jy kan dit mos alles in diens van die Evangelie stel!”
En so is menige kerk mislei om met hierdie noodlottige sleutels by deure in te gaan wat nie na die hemel lei nie. Satan het mense met die mite van universele broederliefde begeester en op ʼn onvoltooide sylyn gerangeer om te ontspoor.
Dit het die Boerevolk tot in sy fondamente geskud. Die uiteinde was dat die kerk nie mag oor die politiek verkry het nie, maar dat politiek besit van die kerk geneem het!
Pasop vir dinge wat op die oog af goed lyk. Eva is ook daardeur geflous. Pasop vir die musiek van universele broederliefde. Dit begin altyd goed, maar eindig die ene wanklanke.
Die verval van kerke in ons land is die grootste tragedie wat Suid-Afrika ooit getref het. Hoofstroomkerke het toegelaat dat die Christengrondwet van weleer met ʼnwêreldse grondwet vervang is. Daarna is die Tien Gebooie opsy geskuif en het die Handves van Menseregte as’t ware die nuwe evangelie geword. Alle optredes word aan politieke korrektheid beoordeel. Dis die gevolg van kerke wat nie gewaak het en by deure in is wat Jesus nie oopgemaak het nie!
Die gemeente van Filadelfia het reg opgetree deur alleenlik die deur wat Jesus vir hulle oopgemaak het te gebruik. Christus roep hulle tot gebiedende waaksaamheid op: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (:11). Die Griekse woord vir vashou, dui op ʼn krampagtige vashou aan iets baie kosbaar. Satan wil gelowiges dit (kroon) ontneem. Gelowiges moet vasstaan en hou vir al wat hul werd is!
Jesus het vasgestaan selfs toe die grootste lastering teen Hom gespreek is. Dit het juis van die eertydse hoofstroomkerk gekom. Kerkleiers het geglo dat Jesus wonders deur ʼn bose mag verrig het! Dieselfde kerk het mense so teen Hom opgesweep, dat hulle hosannas in “Kruisig Hom!” verander het.
Jesus het vir ons in die AP Kerk ʼn geopende deur gegee toe hoofstroomkerke begin ontspoor het. Ons kerk het raakpunte met Filadelfia. Ons het ervaar hoe mense gekom en ook gegaan het; sommige selfs terug na ontspoorde kerke. En ons is hartseer daaroor. Dit het ook in die eerste Christenkerk gebeur: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh.2:19).
Laat ons oor ons konserwatiewe kerkkarakter waak. Jesus het ons ʼn geopende deur gegee waarby ons in ons uur van nood kon ingaan. Ons is in die oë van die wêreldkerke net so onbeduidend soos ʼn Filadelfia van ouds, maar nie vir God nie. En dis al wat tel. Al word ons minder, word ons suiwerder.