VROUE IN DIE BYBEL (3)

ESTER

Die meeste van ons sal nooit so ‘n verreikende invloed soos hierdie pragtige weesdogter hê nie en nog minder kan ons hoop om eendag ‘n koninklike te word. Maar as ons die soewereie hand van God ken, kan elkeen van ons vir seker weet dat waar Hy ons ookal geplaas het, ons bedoel is vir “ ‘n tyd soos hierdie” – Est 4:14. In plaas van om ‘n seën te wees, het haar skoonheid bygedra tot haar swaarkry. Ester se karakter is gevorm in die smeltkroes van teenspoed en tog het dit, nadat dit ten volle ontwikkel het, geskitter soos suiwer goud. Deur haar voorbeeld kan ons die hand van die Voorsienigheid vertrou deur praktiese lesse te leer oor hoe God ons kan gebruik waar Hy ons ookal plaas.

Ons ken die verhaal waar koning Ahasveros tydens sy eie dronkpartytjie sy beeldskone vrou, Vasti, wou laat haal om met haar skoonheid by sy vriende te spog. Vasti het geweier om haarself so ten toon te laat stel en net daar onttroon die koning haar.

Daarna word al die mooiste meisies uit die 127 provinsies na die koning gebring waaruit hy ‘n nuwe koningin sou kies.

Beide Ester se ouers is oorlede en sy word by haar oom Mordegai groot. Sy was nie net uiterlik mooi nie; mooi eienskappe soos minsaamheid, leerbaarheid en onderdanigheid het haar karakter baie aantreklik gemaak.

In ‘n Desembermaand word al die mooi vroue een vir een vir koning Ahasveros gebring. Hy het meer van Ester as van enige van die ander meisies gehou en gevolglik word sy in Vasti se plek die nuwe koningin.

In sy werk as ‘n wag by die paleispoort onthul Mordegai ‘n komplot deur twee van die koning se beamptes, waardeur koning Ahasveros se lewe bedreig word. Mordegai gebruik Ester om hierdie inligting by die koning uit te bring en so gebruik God reeds vir Ester as koningin van Persië, ‘n posisie waarin Hy haar geplaas het ter wille van sy doel met haar lewe.

Haman word nou aangestel in ‘n gesagsposisie bo al die prinse. Aangesien prinse normaalweg direk onder die koning regeer het, suggereer dit dat hy tweede in bevel kon wees, net onder die koning. As tweede in bevel moet die mense voor Haman buig en hom eer betoon. Mordegai wat ‘n amptenaar van die koning is en in die paleispoort werk, weier om te buig agv van sy godsdienstige oortuigings as Jood. Haman was woedend hieroor en besluit om al die Jode uit te roei. Daarom koop hy die koning om om ‘n proklamasie uit te vaardig om die Jode uit te roei. ‘n Duistere dag wag op Ester se volk, die Jode. Natuurlik sit Satan agter hierdie plan want sou hy slaag, kon hy God se plan vir sy eie ondergang dwarsboom. Maar net God alleen is almagtig, alwetend en alomteenwoordig. Nog vóór Haman die plan gekry het om die Jode uit te roei het God reeds vir Ester op die plek geplaas waar Hy haar wou gebruik om dit te voorkom.

Mordegai kom van Haman se plan te hore, en Ester hoor hoe Mordegai rou en sy klere skeur. Toe sy ‘n boodskapper na Mordegai stuur, kom dié terug met die boodskap dat Ester na die koning moet gaan, hom alles moet vertel en smeek om Haman te keer. Eers sien Ester nie daarvoor kans nie want die koning weet nie dat sy ook ‘n Jood is nie, maar sy stem wel later in. Sy weet sy mag dalk tot die dood veroordeel word as sy na die koning gaan maar nou maak die risiko’s nie meer saak nie. God belowe ons nooit dit gaan maklik wees om die regte ding te doen nie, maar ons kan nie sy sterk ondersteuning verwag as ons nie gewillig is om te doen wat reg is nie, ongeag wat dit gaan kos. Ester vra die Jode in die dorpie om haar drie dae lank te ondersteun met vas en gebed terwyl sy voorberei om so ‘n groot kans te waag.

Met die sondige raad van sy vrou en vriende besluit Haman om ‘n galg te bou waaraan hy Mordegai gaan ophang.

Intussen besluit die koning om Mordegai te vereer omdat Mordegai hom van die sluipmoord gered het. Hy ontbied Haman en die koning vra raad oor hoe om iemand te vereer vir ‘n goeie daad. Haman dink dit is hyself en val amper flou toe hy hoor hoe hyself vir Mordegai moet gaan vereer.

Intussen kry Ester toestemming om die koning te sien en vertel hom alles. Hy stem toe dat die Jode hulself verdedig, en die Jode raak ontslae van 75,000 vyande. Mordegai word in Haman se plek bevorder tot tweede in bevel.

Kronieke 16:9 verklaar: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

God is gedurig opsoek na mense wat Hom heelhartig vertrou sodat Hy hulle kan help. In Ester het Hy so iemand gevind; dis oorgawe en gehoorsaamheid wat haar bruikbaar gemaak het in sy plan.

God het jou geplaas daar waar jy is – jou werk, jou huis, jou gemeente, jou land. Hoe getrou is jy daar waar Hy jou geplaas het ?

Nog ‘n waardevolle les om by Mordegai te leer is dat God kan sorg dat jou goeie dade raakgesien word wanneer Hy ookal wil. En nog ‘n waardevolle les wat ons by Haman leer is om nooit ons eie belangrikheid te oorskat nie. Sy hoogmoed het hom tot ‘n val gebring.

 

Here, dankie dat niks in my lewe toevallig is nie.