Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy iets wil doen, doen dit vandag. Sê jy is jammer, wys nou jy is lief vir iemand. As jy rusie gemaak het met iemand wat naby jou is, maak nou reg – moenie tyd mors nie.
RUT...
...wie die Verlosser gevolg het
Die verhaal van Rut is die ware verhaal van ‘n vrou wat gekies het om die Here God van Israel te volg en gevind het dat Hy vol medelye en getrou is, vol genade en liefde. Sy het gesien dat Hy betrokke is by die oënskynlike klein gebeurtenisse van ‘n mens se lewe sowel as by die epogmakende gebeure van volke. Sy het ontdek dat hierdie Here die magtige en soewereine Here oor alle nasies is sowel as die sorgsame Verlosser van haar lewe.
In Rut se geval was dit ook die pad van die grootste beloning want sy sou deel word van die geslagslyn van die Messias, die Verlosser van Israel. Hy sou kom vir almal wat hulle in geloof en vertroue aan Hom sou oorgee, selfs vir haar, komende uit ‘n heidense volk.
Die verhaal van Rut, die Moabitiese vrou, speel af in die dae toe die Rigters regeer het, toe Samuel, wat as die laaste rigter gedien het, Saul as Israel se koning gesalf en die tydperk van die monargie begin het.
Ons ken almal die gebeure hoe Naomi, skoonmoeder van Rut, se man en twee seuns in Moab gesterf het en hoe Rut en Orpa, die twee skoondogters, alleen met haar agtergebly het. Daar was oral hongersnood en die drie vroue het dit baie moeilik gehad.
Naomi hoor toe hoe God vir sy volk uitkoms gegee het deur vir hulle ‘n goeie oes te gee en besluit om terug te keer na Betlehem waar haar eie mense woon. Ons ken ook die gedeelte waar Naomi aangedring het dat haar skoondogters moes omdraai en in hul eie land hul lewe moes voortsit. Terwyl Naomi met haar skoondogters praat, sien sy die hand van die Here in alles wat gebeur het. Sy het haar geboorteland verlaat en gaan woon in ‘n vreemde land waar haar man en twee seuns gesterf het. Sy herken die hand van die Here ook in al die teëspoed wat sy gehad het.
Ons weet ook dat slegs Rut saam met haar skoonmoeder verder getrek het en dat Orpa wel omgedraai en terug na haar eie land gegaan het. Van Moab af lê Naomi en Rut die ongeveer 95 kilometer af tot by Betlehem waar die vroue van die dorp hulle tegemoet kom. Naomi en Rut kom aan die begin van die koringoes in Betlehem aan, betyds om deel te neem aan die insameling van die oes.
Een van die koringlande behoort aan Boas, ‘n familielid van Naomi se oorlede man, Elimelek. Rut bied vrywillig aan om agter die graansnyers te gaan are optel op die lande. Haar dienskneggesindheid blyk duidelik. Die praktyk om are op te tel kom uit die wet van Moses wat die Israeliete beveel het om armes, vreemdelinge, vaderloses en weduwees toe te laat om die graan van die wenakkers af te oes en egter die graansnyers aan are op te tel wat bly lê het.
Boas, ‘n vermoënde man, weet van die dood van Rut se man, van haar dienskneggesindheid teenoor Naomi en van haar verbintenis om by Naomi en die volk van God te bly, hoewel in ‘n nuwe land ver van haar eie pa en ma. Hy seën haar met die bede van die Here en versorg haar en Naomi met genoeg van die oes.
Ons ken die verhaal verder hoe Boas met Rut getrou het en sy ‘n seun gebaar en hom Obed genoem het, wat beteken dienskneg.
Wat interessant is, is die plek wat vroue soos Rut, Ragab, Tamar en Batseba ingeneem het – in al vier gevalle was daar iets wat hulle lewe geskend het, maar die Here het hulle gekies om in die geslagsregister van die Seun te wees.
Die hand van die Here in Rut se lewe getuig van God se genade, barmhartigheid en liefde terwyl Hy gewone mense gebruik om sy buitengewone plan uit te voer.
Ons elkeen beleef ook soms tye van voorspoed en teenspoed. Kan jy dink aan rampe wat jou of iemand naby aan jou getref het? Voel jy geteister, leeg, asof God eerder téén jou as vír jou is? Daar is antwoorde te vind in God se heilige Woord, en ons het ‘n Leidsman byderhand om ons te lei deur die probleme en vrae wat ons in die gesig staar. Dit vra geloof in sy liefdevolle hart eerder as om staat te maak op ons beperkte sig of gevoel te midde van donker omstandighede.
Dalk beleef jy dat God in jou behoeftes voorsien met ‘n bietjie surplus. Lewe jy soos Rut deur sy aanwysings te volg in die oesland waar Hy jou geplaas het? Erken jy die hand van die Here soos Naomi en Rut gemaak het ? Is jy dankbaar, tevrede? Hou jy aan doen wat Hy jou nou laat doen en vertrou jy dat Hy ook sal sorg wanneer die tyd vir verandering aanbreek?
Rut was ‘n heidense vrou wat afgode aanbid het, met geen aansprake op grootheid nie. Tog het sy koning Dawid se oumagrootjie geword. Uit haar nageslag sou Salomo en al die konings van Juda voortkom, en eendag sou die Koning van alle konings uit haar familie kom. Maar wat het sy gedoen om God se plan vir haar lewe te ontdek? Sy moes haar ou lewe en vriende in Moab agterlaat en ‘n nuwe plek vind saam met God se volk. Kan jy jou oú lewe ook nou agterlaat?