Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis jammer dat die samelewing pyn en lyding as ‘n ergernis beskou. Dis ‘n wanopvatting waarvan ons ontslae sal moet raak. Die Woord van God sê dat ons deur lyding heen geestelik groei.
PETRUS: Hoofstuk 8
Die wêreld moet dit weet
Toe ons op daardie gedenkwaardige oggend nadat Jesus na sy Vader opgevaar het, weer na die stad terugstap, sê Maria - Markus se moeder - vir my: “Petrus, al kan ek nie almal wat vandag op die berg die wonder van Jesus se hemelvaart gesien het, snags by my huis van slaapplek voorsien nie, moet jy vir almal sê dat hulle bedags welkom is om saam met julle dissipels in my tuin bymekaar te kom. Almal is tog seker begerig om die Trooster te ontvang wat Jesus beloof het en Hy het gesê ons moet bymekaar bly.”
“Die Here seën jou, Maria. Ek sal vir hulle sê. Dankie dat jou huis vir ons ‘n veilige hawe en toevlugsoord geword het.”
Voordat ons daar aangeland het, het almal wat saam met ons was, dit geweet. Johannes en Jakobus het my gehelp om die goeie boodskap te versprei.
Ons word weer twaalf
Die volgende dag sit ons almal in Maria se groot tuin onder die koeltebome en gesels. Buiten ons elf dissipels en ‘n aantal ander mense wat ook in Jesus geglo het, was Maria Magdalena en die ander vroue ook daar, ook Jesus se moeder Maria en ook sy broers.
Ek sê toe dat ek gehoor het dat Judas Iskariot, toe hy homself opgehang het, oopgebars het en dat die owerstes met die geld wat hy in hulle gesigte teruggegooi het, ‘n stuk grond gaan koop het wat nou “Bloedgrond” genoem sal word. En nou is ons net elf. Ons moet weer ‘n twaalfde persoon bykies. Dit moet iemand wees wat van die begin af saam met ons was en nou gesien het hoe Jesus in die hemel opgeneem is.
Almal het met my saamgestem. Omdat daar toe twee manne voorgestel is, moes ons die lot werp. Nadat ons gebid het, het die loting vir Mattias aangewys.
Nou was ons weer twaalf, nie meer dissipels nie, maar apostels van Jesus Christus, wat gereed sit om die Heilige Gees te ontvang, sodat ons toegerus die wêreld kan ingaan om in opdrag van die Here Jesus, die blye boodskap van liefde, genade en redding in sy Naam, aan die wagtende wêreld te bring.
As ek toe maar geweet het
Onderwyl ons bedags daar in die rustige atmosfeer van Maria se tuin die tyd met mekaar sit en verwyl het, het ons gedagtes onwillekeurig gedraai om die kosbare driejaarlange tydperk van ons saamwees met die Here Jesus.
Een middag hoor ek Natanael sê vir die ander: “Ek het van die begin af, toe Filippus my na Jesus toe gebring het, geweet dat Hy die Seun van God is.” Jakobus van Alfeus vra toe vir hom hoe dit moontlik kan wees dat hy dit toe al geweet het. Natanael sê Jesus het hom in die oë gekyk en gesê hy is ‘n Israeliet waarin daar nie ‘n greintjie bedrog skuil nie. Toe hy vir Jesus vra hoe dit dan moontlik is dat Hy hom ken, het Jesus gesê dat Hy hom die vorige dag al onder ‘n vyeboom gesien het.
Tomas het na Natanael se gesprek gesit en luister. Ek het gesien hy kry ‘n weemoedige trek op sy gesig toe hy sê: “Ja Natanael, geseënd is jy omdat jy van die begin af geweet het wie Hy is. Maar wat dink jy van my? Ek het soos ‘n onkundige heiden nie eers geglo dat Hy uit die dood opgestaan het nie. Eers toe Hy vir my sê ek moet die wonde aan sy hande en voete en sy sy kom ondersoek, het ek eers geglo dat Hy opgestaan het. Toe het ek ook die eerste keer besef dat Hy nie ‘n mens is nie, maar dat dit God self is wat hier voor my staan.”
Matteus het toe begin praat: “Julle weet almal dat ek, voordat Jesus my geroep het, daar in Galilea by die tolhek gesit het. Almal het my gehaat. My naam was eers Levi, maar Jesus het dit verander. Ek het ons volk gruwelik uitgebuit en meer by die tolhek geëis as wat ek aan die Romeine verskuldig was om oor te betaal. Julle almal sê julle het eers na Jesus se opstanding besef dat Hy werklik die Messias van God is. Ek het egter oombliklik geweet toe Hy daar in die tolhek by my kom staan het waar ek besig was om geld te tel, dat dit nie ‘n gewone mens is wat my so dringend aankyk nie. Sy oë het in my ingebrand toe Hy vir my sê: ‘Laat staan hierdie dinge en volg My.’ Julle weet self dat ek dit onmiddellik gedoen het en vir Hom en vir julle en vir al my tollenaarsvriende ‘n groot feesmaal gegee het, waaroor die Fariseërs so kwaad was. Ek dink sterk daaraan om binnekort, nadat die Trooster wat Jesus vir ons belowe het, gekom het, om te gaan sit en alles neer te skryf wat ons van Jesus weet. Ek wil vir hierdie geleerde volksleiers wat Hom so haat en Hom gekruisig het, bewys dat Hy die ware, gestuurde Messias van God is wat ook deur hulle verwag word. Maar hulle is te blind om Hom te herken toe Hy gekom het.”
Ek het die hele tyd rustig tussen die bome op en af gestap. Toe ek Matteus se laaste woorde hoor, het ek ook aan die gesprek kom deelneem: “Ek dink die priester- en familiehoofde en Fariseërs weet baie goed Wie hulle gekruisig het, maar sal dit nooit erken nie. Ek het kort nadat Jesus opgestaan het, gehoor dat een van die wagte wat Jesus se graf moes oppas, vir ‘n soldaat by Antonia vertel het wat daar gebeur het. Hy het glo gesê hulle het hul lam geskrik vir die donderslag en aardbewing en vir die blinkende gedaante wat die swaar klip wegrol asof dit geen gewig het nie, maar toe die Man wat gekruisig is by die graf uitgestap kom, het hulle gevlug en dit hier in die stad kom rondvertel. Maar nadat die Fariseërs hulle omgekoop het, het hulle die storie versprei dat ons Jesus se liggaam in die nag gaan steel het en Hom op ‘n ander plek begrawe het.”
Ek het die behoefte gevoel om so ‘n bietjie voor my mede-apostels oor die dinge van die verlede te bieg en sê toe vir hulle: “Ek weet ek is altyd met alles so voor op die wa en begaan die een na die ander mistrap, maar ek weet Jesus het dit alles vergewe en daarom kan ek aangaan. Dink net wat sou gebeur het as Hy nie daardie aand op die meer, toe Hy op die water geloop het en ek begin sink het, my hand gegryp en my in die skuit gehelp het nie! Julle onthou seker ook van die ander gevalle waar ek so onbedagsaam was, soos toe Jesus ons voete gewas het en ek dit eers geweier het. Toe Jesus op die berg van verheerliking was en Moses en Elia daar by Hom verskyn het, wou ek mos sommer hê dat ons vir elkeen daar ‘n hut moes bou! Maar toe ek vir Jesus gesê het dat ek Hom nooit sal verloën nie en dit toe sommer driemaal agtermekaar gedoen het, het dit my groot wroeging besorg en as dit nie was dat Hy my daarvoor volkome vergewe het nie en vir my gesê het dat Hy my nog gaan gebruik om vir Hom voor baie mense te getuig nie, sou ek dalk dieselfde pad as Judas Iskariot geloop het.”
Johannes was nie by ons toe ons klompie so met mekaar sit en praat het nie. Toe hy uit die huis gestap kom, sê ek vir hom: “Johannes , jy was nooit so impulsief en voortvarend soos ek nie. Ek weet Jesus het vir jou en jou broer Jakobus die ‘seuns van die donder’ genoem, omdat julle altwee so vurig van aard is, nes ek. Maar ek weet dat jy Jesus baie lief het. Ons ander het soms jaloers gevoel om te sien dat Hy jou ook baie lief het. Jy het ook voortdurend probeer om altyd naby Hom te wees. Hy het vir jou, saam met my en Jakobus, altyd gevra om saam met Hom te gaan wanneer ernstige dinge gebeur het, soos toe Hy op die berg verheerlik is en toe Hy in Getsémané gaan bid het.”
“Ja Petrus, dis waar, maar ek het ook maar net soos jy die herinnering aan ‘n paar dinge wat liewers nie moes plaasgevind het nie. Ek en Jakobus het vir ons moeder, Salóme, gevra om saam met ons na Jesus te gaan en te vra dat Hy ons twee as sy vernaamste ministers moet aanstel wanneer Hy hier in Jerusalem koning word. Dit wys vir julle hoe min ons toe nog verstaan het wie Jesus werklik is. Ek moet ook voor julle bely dat ek daardie Vrydag toe Hy gekruisig is, bly glo het dat Hy deur ‘n wonderwerk Homself sou red en van die kruis sou afkom. Ek het eers besef dat Hy gaan sterf toe Hy my naderroep en vra dat ek in sy plek ‘n seun vir sy moeder moet wees en haar moet versorg. Ek is so dankbaar dat Hy hierdie verantwoordelikheid op my gelê het. Miskien het Hy dit gedoen omdat ons familie van mekaar is, want my moeder Salóme, en sy moeder Maria, is susters. Matteus het netnou gesê dat hy graag later alles oor Jesus vir die nageslag wil opskryf. Dit is baie goed. Ek wil dit ook graag doen, want miskien onthou ek van dinge waaraan hy nie dink nie en so kan ons mekaar dan aanvul.”
Vuurtonge
Die dae het verbygegly. Ons het nie ‘n vervelige oomblik beleef nie, want daar is soveel herinneringe aan ons saamwees met die Here Jesus, dat ons, onderwyl ons gewag het, nie uitgepraat kon kom nie. Toe breek Pinksterfees aan.
Die strate het gewemel van mense. Dit was veral besoekers wat die fees kom bywoon het. Baie van hulle het van Galilea af gekom, waar Jesus so lank saam met ons gewerk het.
Om nege uur het ons ‘n suising gehoor, soos die geluid van ‘n stormwind wat opsteek en al harder word. Daar het ‘n menigte vlammetjies, wat soos vuurtonge gelyk het, op ons neergedaal en op elkeen van ons gaan sit. Die geluid het stadigaan weer stil geraak en die vlammetjies het ook verdof en naderhand verdwyn.
Ons is nie dronk nie !
Toe het ek eensklaps verander. Ek het om my heen gekyk en gesien daar is ook dinge met my mededissipels aan die gebeur en ook met die ander gelowiges wat saam met ons daar in die tuin bymekaar was. Ons was nie meer dieselfde mense as wat ons was nie. Ons het begin praat, maar nie met mekaar nie. Ons het die Here begin loof in tale wat ons voorheen nie geken het nie. Dit was nie net meer ons eie Aramees nie, maar Hebreeus en Grieks en Latyn en ‘n hele paar ander tale wat in die lande rondom die groot Middellandse See gepraat word. Uit al daardie lande was daar van ons volksgenote wat hier na die Pinksterfees in Jerusalem gekom het.
Toe die mense wat in die straat langs die tuin verbyloop, elkeen in sy eie taal hoor hoe God geprys word, het hulle vasgesteek om te luister. Baie van hulle het nadergestap. Die getal het aangegroei en die gedrang het al groter geword.
Meteens skree ‘n paar van hulle daar van die straat af: “Ag, los hulle uit! Die hele ou spul is dronk! Kom ons loop!”
Dit was net een te veel vir my. Toe ek uit die tuin in die straat instap, was Johannes en Jakobus agter my, en die ander dissipels was besig om ook te kom.
“Luister hier, julle almal! Hierdie mense makeer niks. Niemand lê om nege uur in die môre al dronk in die strate rond nie. Dit is God wat hier aan die werk is.”
Toe het ek tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê dat as hulle die skrifte van die profete ken, hulle almal behoort te weet dat God beloof het om sy Messias na die aarde te stuur om ons te red. Dit is Jesus van Nasaret. “God het Hom kragtige dade en wonders en tekens onder julle laat doen. God het Hom aan julle uitgelewer en julle het Hom aan ‘n kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom uit die dood laat opstaan. Daarvan is ons almal getuies. Met sy hemelvaart het Hy beloof om aan ons sy Heilige Gees te stuur, sodat ons in die krag van sy Gees kan verkondig dat hierdie Jesus wat julle gekruisig het, deur God aan sy regterhand verhoog is en Hom Here en Christus gemaak het.”
Ek kon sien my woorde vind groot inslag, want hulle het opgewonde om my en Johannes hulle begin saamdrom en uitgeroep: “Maar is ons dan verlore? Wat moet ons doen?”
Toe roep ek uit, en die ander dissipels saam met my: “Bekeer julle en laat julle in die Naam van Jesus Christus doop, want deur sy Naam alleen kan ons gered word. Dan sal God julle sondes vergewe en julle die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Allawêreld, maar toe moes ons apostels bontstaan! Ons het voor ‘n groot optog mense uit die stad beweeg na die Kedronspruit waar water was en hulle begin doop, mans, vroue en kinders. Weet jy, dit het een stryk deur aangehou tot na sononder. Hoe wonderlik was dit nie! God het nie net aan ons die geeslike krag gegee om vol te hou nie, maar ons het nie eers moeg geword nie.
Toe ons met groot dankbaarheid die aand terugkeer, sê Maria Magdalena vir my: “Petrus, onderwyl jy en al die ander apostels so hard besig was om die mense te doop, het ek vir die ander vroue gesê hulle moet my help tel hoeveel gedoop word. Julle het meer as drie duisend mense vandag in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop.” Ons het net daar op ons knieë geval en begin om die Here te loof en te dank dat Hy ons so voorspoedig gebruik het om vir Hom sy eerste gemeente te stig.
Cefas die rots, is dit ek ?
Wanneer ek aan daardie eerste goue dae dink wat gevolg het op die uitstorting van die Heilige Gees, dan staan ek weer opnuut verslae in verwondering voor die almag van God en die kragtige werking van sy Gees deur ‘n feilbare mens soos ek. Die Here het wonders deur ons apostels gewerk in die totstandkoming en groei van sy eerste gemeente hier in Jerusalem.
Die getal gelowiges wat daardie eerste dag al oor die drie duisend getel het, het gaandeweg aangegroei tot meer as vyf duisend. Die mooiste vir my was dat almal so eensgesind was en hartlik met ons saamgewerk het in hulle gemeenskaplike belang. Ons het baie kere in groot groepe saamgeëet, voedsel en ander besittings met mekaar gedeel en baie mense het selfs hulle grond verkoop en die geld vir ons apostels gebring om dit vir die behoeftes van die arm mense aan te wend.
Ons apostels se hande was só vol om al hierdie dinge by te bring, dat ons naderhand nie meer genoeg tyd gehad het om aan die begerige gemeente die Woord van die Here te bring nie. Daarom het ons toe sewe diakens gekies wat vir ons moes help met die versorging van die armes en veral van die Griekse weduwees.
Daarna het ons meer tyd gehad vir die verkondiging van Jesus se reddende evangelie. Die Here het baie tekens en wonders deur ons laat plaasvind. Al die gelowiges het gereeld in die tempel bymekaar gekom waar ons in die Pilaargang van Salomo met hulle gepraat het oor Jesus se opstanding uit die dood en sy hemelvaart en die koms van die Heilige Gees.
Die getal gelowiges het bly groei. Daar het ook baie mense vanaf die dorpe naby Jerusalem, na die tempel gekom. Hulle het hulle siekes saamgebring en ook mense wat onder bose geeste gely het. Die Heilige Gees het ons gebruik om hulle almal gesond te maak Die mense het naderhand hulle siekes op straat uitgedra en daar op draagbare en beddens neergesit, sodat as ek daar verbykom en my skaduwee op hulle val, hulle gesond kan word. En dit het gebeur!
Ek het gejubel en die Here geloof en geprys en gedank, want Hy was besig om vir my, Simon, te gebruik as Cefas, Petrus die rots, waarop Hy reeds besig was om sy heel eerste gemeente te bou, want Hy het sy belofte nagekom om van my ‘n visser van mense te maak.