Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde word gemeet aan lojaliteit, geduld, verdraagsaamheid – liefde gaan nie oor jouself nie!
'N VROU SOOS... (1)
... EVA
Deur haar en ander vroue in die Bybel sal jy ontdek dat God die hedendaagse vrou oproep om 'n betekenisvolle rol in die gemeenskap, huis en kerk te vertolk. Ons kan ook deur die Bybelse vroue se foute leer en ontdek hoe God se seëninge oorvloedig werk wanneer ons op Hom vertrou.
In God se plan is vroue belangrik. Dit klink dalk na 'n oorbodige stelling en tog word hierdie belangrike boodskap dikwels uitgedoof deur ons kultuur. Daar is selfs mense in die liggaam van Christus wat so 'n ongebalanseerde siening van onderwerping propageer dat hulle min ruimte laat vir vroue om enigiets in God se diens te doen behalwe kinders grootmaak. Nietemin maak God dit duidelik dat vroue vir Hom belangrik is.
In Genesis 1:26-28 (1953-vertaling), as die Drie-eenheid met die skepping van die mens begin, lees ons:
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voels van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip .
God se plan vereis dat man sowel as vrou sy beeld weerspieël.
Dit was Mirjam, Moses se suster, wat langs hom gedien het en 'n profetes genoem is. God het Ragab gebruik om die twee verkenners wat Josua in Kanaan ingestuur het, se lewe te red. Tydens die droewige tyd van die rigters was dit Debora wat op kragtige wyse deur God gebruik is om sy volk te verlos. Die jong Ester is deur God gekies om al die Jode van uitwissing te red. God gebruik vroue, kort en klaar!
Jesus het in sy openbare bediening die waarde van vroue bevestig. Hy het uitgereik na die Samaritaanse vrou by die put, en haar daarna gebruik om die evangelie na 'n hele dorp uit te dra. Hy het die vrou wat op owerspel betrap is, gered van onregverdige veroordeling. Hy het, anders as die kultuur van sy tyd, in sy lewe en bediening aan vroue prominensie verleen. Trouens, sy openbare bediening is hoofsaaklik deur vroue gefinansier.
EVA
OM GOD TE VOLG NADAT ONS MISLUK HET
Eva was die laaste skeppingsdaad van die eerste week op aarde, die metgesel wat Adam, die eerste man, moes aanvul. Sy was genoeg soos Adam om sy metgesel te wees, en tog was sy baie anders sodat sy hom kon aanvul. Haar sterk punte het gepas by syne sodat hulle saam iets was wat nie een van hulle afsonderlik kon wees nie. Trouens, Genesis 1 wys vir ons dat sowel Adam as Eva nodig is om God se beeld akkuraat te weerspieël.
Maar alles het nie goed afgeloop in die Tuin van Eden nie. Deur Eva se tevredenheid aan te val was die Satan in staat om opstand by die mens te verwek en so het sonde in die wêreld gekom. Eva het haar man sover gekry om direk in opstand te kom teen God se geopenbaarde wil aan hulle, met die gevolg dat die mens uit die tuin verban is. Wanneer ons na Eva kyk, sal ons 'n baie menslike prentjie sien van hoe 'n mens in sonde val, en die proses om die stukke van geloof weer op te tel. Deur haar sal ons 'n nuwe blik kry op ons eie geloof.
Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy. - GENESIS 2:1 6-1 7.
God se vir Adam en Eva dat die skepping "onderwerp" moet word (1953-vertaling). Die Hebreeuse woord dra die betekenis van oorwin en ondergeskik gemaak word. Met ander woorde, die aarde moet die mensdom dien. In vers 29 en 30 sien ons dat al die plante kos moet wees vir mens en dier. Wafter geweldige komrnentaar is daar nie in Genesis 1:31 opgesluit nie, waar onthul word dat die plan "baie goed" was in God se oë!
In Genesis 2 sien ons verdere besonderhede wat gegee word van God se unieke doel vir die mensdom en ook vir Eva self.
Adam was op sy eie nie volledig nie. Wafter verstommende stelling kry ons hier dat selfs in die volmaaktheid van Eden voor die sondeval daar iets kon wees wat "nie goed" was nie. Wafter kontras vorm dit nie met die aanhoudende refrein van die skepping tot op hierdie punt nie! Ons lees sewe keer in hoofstuk 1 dat God gesien het dat dit "goed" was (1:4, 10, 12, 18, 21, 25, 31). Maar dit was nie goed vir die mens om alleen te wees nie. Hy is geskep met 'n behoefte. Hy is onvolledig geskep sodat God hom met Eva kon voltooi. Sy moes 'n pulp wees wat by hom pas (1953-vertaling).
'n Paar praktiese beginsels oor verhoudings wat ons hier kry, is:
a) dat God Eva na Adam toe gebring het (dit was nie sy taak om 'n maat te soek nie);
b) dat sy, anders as die diere, ooreengestem het met hom ("een soos ek");
c) dat hulle verhouding van hulle vereis om hul pa en ma "te verlaat";
d) die huwelik vereis dat die man sy vrou sal "aankleef" (1953-vertaling, die Hebreeuse woord impliseer najaging en verbintenis, "om saamgevoeg te wees deur verbintenis");
e) die huwelik moet uitloop op eenheid ("een vlees" verwys na die fisieke liggaam, maar in beginsel sal dit alles insluit wat iemand is in gedagtes, emosies, wil, ensovoorts); en
f) die huwelik loop uit op naaktheid sonder skaamte (weereens sal dit verder strek as net die liggaamlike aspek).
Satan het daarin geslaag om Eva sover te kry om die waarheid van God se woord en die suiwerheid van sy motiewe in twyfel te trek.
Ons kan ons maar net voorstel hoe die lewe in die tuin was voor die sonde gekom het. Adam en Eva het take gehad om uit te voer, maar hulle het nie gewerk in die sweet van hulle aangesig nie. Hulle het intimiteit met mekaar geniet wat onbevlek was deur sonde, maar nog belangriker, hulle het onverstoorde intimiteit met God geniet. Eva raak egter in 'n gesprek met die slang betrokke en omdat sy mislei word, gee sy toe aan versoeking en alles verander. Ons kyk hoe Eva versoek is en wat ons kan leer oor ons eie versoekings.
In Genesis 3:1 is Eva in gesprek met die slang. Waarom, op grond van wat die teksvers sê oor hoe hy is en wat hy doen, is dit 'n slegte idee?
Die vers lê twee negatiewe realiteite omtrent die Satan bloot: hoe hy is ("listiger as al die wilde diere") en wat hy doen (hy bevraagteken die geopenbaarde wil van God) Hy vra: "Het God werklik gesê ?" Hy oordryf ook die beperkings wat God se wil aan die mens opgelê het. Hy haal God verkeerd aan deur te sê: "Julle mag van geen boom die tuin eet nie."
Ons sien in 2 Korintiers 11:3 dat Eva "verlei is deur die listigheid van die slang". Paulus brei ook uit op hierdie gedagte in 1 Timoteus 2:14 waar hy sê dat sy haar "laat verlei het". Satan (saam met sy medewerkers) werk deur misleiding en vermomming. Trouens, ons lees in 2 Korintiers 11:14 dat hy hom voordoen as 'n engel van die lig.
As 'n mens te doen kry met 'n vyand wat nie werk met die waarheid nie, moet jy veral versigtig wees om nie alles vir soetkoek op te eet nie. Eva moes haar laat lei het deur God se woorde, maar die oomblik toe Satan haar sover kry om God se woord in twyfel te trek, was dit net 'n kwessie van tyd voor sy haar eie onafhanklike koers inslaan. Wanneer ons ons aanstel as regter oor die waarheid van dit wat God sê, is oortreding onvermydelik.
Wanneer 'n mens noukeurig kyk na Eva se antwoorde op Satan se vrae, lyk dit aanvanklik of sy God se wil noukeurig weergee, maar wanneer jy dit van naderby bekyk, sal jy 'n paar belangrike verskille ontdek. Vergelyk hoe Eva God in Genesis 3:2-3 aanhaal met wat God in werklikheid gesê het in Genesis 2:16-17.
Daar is 'n verskil tussen waar Eva God aanhaal en dit wat Hy werklik gesê het. God het in werklikheid gesê hulle mag eet van al die bome in die tuin soos hulle wil. Albei hierdie feite beklemtoon die vryheid van die tuin. Deur dit uit te laat lyk dit of Eva hierdie vryheid onderbeklemtoon of nie ernstig opneem nie.
God se enigste beperking in die tuin was spesifiek: julle mag nie eet "van die boom van die kennis van goed kwaad" (Gen. 2:17, 1953-vertaling) nie. Eva fokus nie op dit wat die boom is nie, maar op waar dit staan. Sy vermy die herinnering dat die boom geassosieer word met die kwaad God het net gesê: "Julle mag nie eet nie."
"Ons mag dit nie aanraak nie" en sodoende oordryf sy die bepalings en beperkings wat God in die tuin op hulle geplaas het.
Laastens haal Eva die gevolg "dan sterf ons" aan. Sy het die woord "sekerlik" (1953-vertaling) uit, en ook die frase "die dag as jy daarvan eet" sodat dit lyk of sy die sekerheid en onmiddellike gevolge nie ernstig opneem nie. As ons God se waarheid net effens verdraai, kan dit rampspoedi gevolge hê. As ons afdwaal van die waarheid van God se Woord, is daar altyd gevolge.
Voor Eva haar gesprek met die slang begin het, het sy geen idee gehad hoe verreikend die gevolge sou wees nie. Ons skat dikwels ook ons versoekings gering. Ons besef nie dat sonde gevolge het wat geslagte ver strek nie. Elke keer as ek sondig, word iemand anders daardeur geraak. Hulle kan of geraak word deur die een of ander direkte gevolg van die sonde, of hulle kan geraak word deur die verlies aan die bediening en lewe wat hul kon gelei het as hul aangehou het om met God te wandel. Ons leer op 'n pynlike manier by Eva dat om met die duiwel te praat, en om met God te wandel, nie hand aan hand gaan nie.
Satan bevraagteken twee belangrike dinge deur eerstens te sê: "Julle sal beslis nie sterf nie," Hierdeur laat hy twyfel ontstaan oor die waarheid van dit wat God gesê het; en deur tweedens te sê : "God weet dat julle oe sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos Hy wees deur alles te ken", moedig hy Eva aan. Hy suggereer dat God iets goeds van Eva weerhou..
Die probleem van die tuin begin by die verbode vrugte maar dit eindig nie daar nie. Trouens, dit wil dwardeur die verloop van die verhaal voorkom of die gevolge Genesis 3 net soveel te make het met hoe Adam en gereageer het op hulle mislukking as met die mislukte self.
Ons sien in vers 7 dat Adam en Eva begin deur weg te kruip. Hulle probeer hulle naaktheid met vyeblare bedek. Dan, in vers 8, probeer hulle vir God wegkruip tussen die bome van die tuin. Dis die reaksie van ons sondige natuur (ons "vlees") om te probeer wegkruip wanneer ons in hoogmoed nie wil hê ons sonde moet ontbloot word nie. Nederigheid, daarteenoor, is nie bang om verantwoordelikheid te neem vir mislukking nie. In Adam en Eva sien ons ons eie neiging om weg te kruip as ons sondig. Dis hierdie einste eienskap wat ons vervreem van ander gelowiges en van God, en verhoed dat ons die sonde agter ons kan sit.
Dalk is die diepsinnigste les hier dat God na die mens toe kom. Ons sien hier dat God na Adam roep: "Waar is jy?" Natuurlik weet God waar Adam is, maar Hy wil hê Adam moet erken waar hy is en waarom hy daar is. Dis 'n uitnodiging om berou te toon.
God kom "teen die tyd dat die aandwind opkom". Hy wag totdat die sonde gedoen is en daar tyd was om daaroor na te dirk. Hy kom persoonlik. Hy kom ook om verantwoording te eis. Hy gaan nie toelaat dat Adam en Eva daarin slaag om weg te kruip nie. Hy kom in oordeel, maar vermeng met genade, want Hy belowe om 'n Verlosser te stuur.
Uit die vertelling is dit duidelik dat God vir Adam meer verantwoordelik hou as vir Eva, hoewel sy eerste van die verbode vrugte geëet het. Dis 'n sonde om nie die regte leiding te gee nie.
Kyk waar plaas Adam en Eva die blaam vir hulle sonde.
Ons sien in Adam se antwoord dat hy met 'n enkele stelling die blaam vir sy sonde op Eva en God probeer plaas. Hy sê: "Die vrou (blameer vir Eva) wat U my gegee het (blameer vir God)." Eva volg dieselfde benadering, want sy probeer die blaam op die slang plaas ("Die slang het my mislei"). Ons menslike neiging is om iemand anders te blameer in plaas daarvan om verantwoordelikheid te neem vir ons sondes.
Die hele skepping het gely onder Adam en Eva se opstand teen die Here. Romeine 8:20, 22 se vir ons: "Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting." Gelukkig sal die Here hierdie vloek ophef wanneer Hy weer kom.
In 1 Korintiers 10:11 lees ons: "Hierdie dinge het oor hulle gekom as 'n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as 'n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef." Ons moet besef dat die biografiese skets van Eva wat ons in die Skrif het nie net 'n kwessie van geskiedenis is nie, maar dat dit geskryf is om ons te leer. Dit beteken haar lewe stel eise vir ons lewe. Ons moet met ander woorde gewillig wees om die moeilike vraag te vra: "Hoe is dit vandag op my van toepassing?"
Eva is geskep om Adam te help om God se doel vir die mens te vervul. Sy moes haar lewe lank 'n hulp vir hom wees. Saam sou hulle die beeld van God vir die hele skepping weerspieel, daardie beeld reproduseer deur die aarde te vul met hulle nageslag en God se plan vir die mensdom vervul deur te heers oor die skepping.
Uit Eva se lewe kan ons aflei dat Christenwees 'n spanpoging is. Daar is geen "Lone Rangers" in die liggaam van Christus nie!
Dink aan jou eie lewe en neem 'n paar minute om te bepaal hoe jy vaar in die vervulling van God se doel vir lewe en die mensdom.