Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe gebeur dit dat ’n mens die Bybel as God se Woord aanvaar en nie maar as ’n wonderlike boek deur goeie mense geskryf nie? Dit is die Heilige Gees wat in jou werk en jou oortuig dat jy hier nie met ’n gewone boek te doene het nie. Dit sluit egter nie die verstand uit nie. Die aanvaarding van die Bybel as God se Woord, is ook ’n verstandelike aanname, ’n deurdagte besluit.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (30)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Toe Edith Duster die aand bed toe gaan, het sy ’n voorgevoel dat iets besonders gaan plaasvind. Daarom is sy nie baie verbaas toe sy die nag wakker word en twee glinsterende figure in haar kamer bemerk nie.
“Loof die Here!” roep sy met eerbied uit, haar gesig stralend. Die twee lang manne, die een blond en die ander donker, is simpatiek, dog ernstig. ’n Eienaardige liggloed omgewe hulle en die hele kamer is verlig. Elkeen dra ’n goue gordel met ’n swaard wat met juwele versier is.
“Edith Duster,” sê die blonde man in ’n diep, trillende stem. “Die stryd vir Ashton gaan nou begin. Ons het die gebede van kinders van God nodig. Bid asseblief en motiveer ander om te bid. Bid dat die vyand verslaan sal word en dat die regverdige sal seevier.”
“Die pastoor, Henry Busche, is in die tronk,” beduie die donker man. “Jou gebede sal help om hom te bevry. Bel sy vrou, Mary, en bemoedig haar.”
En toe, skielik, is hulle weg en die kamer weer donker, maar Edith weet dat ’n baie belangrike boodskap aan haar oorgedra is. Sy voel oortuig dat sy die manne al voorheen gesien het, iewers — miskien in haar drome, miskien in die gewone lewe.
Dadelik is sy uit die bed. Sy neem haar kussing en plaas dit op die vloer langs haar bed neer. Toe kniel sy en begin bid. Dit voel asof sy wil lag en huil, asof sy wil sing. Die las wat op haar druk, is so groot dat sy waarlik worstel in die gebed. Woorde borrel uit die diepste van haar wese na vore — diepe versugtinge vir die krag van God om gemanifesteer te word. Sy bid dat die Here die magte van die duisternis sal teëgaan en verslaan en dat daar oorwinning in die Naam van Jesus behaal sal word. Soos wat gesigte voor haar geestesoog verskyn, bid sy vir hulle. Haar hele hart word voor God uitgestort.
En terwyl sy bid, gebeur iets wonderliks in die lugruim bokant die slapende dorpie Ashton. ’n Misterieuse liggloed begin die duisternis verdrywe en alhoewel alles nog doodstil is, is daar tog ’n beweging in die hemele.
’n Sagte gesuis word hoorbaar en dan kom een hemelse kryger aangevlieg, hoog en majestueus soos ’n groot voël. Hy daal neer en verdwyn tussen die geboue. ’n Paar sekondes later verskyn nog een en dring ook die slapende dorp binne.
In haar slaapkamer is Edith Duster nog besig om te bid . . .
Nog twee engele verskyn, hulle pragtige vlerke agter hulle uitgestrek; dan vier, uit verskillende rigtings; en dan nog sewe . . .
* * *
Mary word wakker as gevolg van die skril gelui van die telefoon. Moeisaam kom sy orent. Sy het ’n onrustige nag gehad.
“Hallo,” begin sy en dan wel die trane in haar oë op. “O, ouma Edith, ek is so bly u het gebel. Ek het al probeer om u te kontak, maar dit lyk my sommige telefone is buite werking . . .” en toe begin sy huil en snikkend vertel sy die ou dame van al die gebeure van die vorige nag.
“Luister Mary, rus jy nou en bly kalm. Ek kom dadelik soontoe. Die Here het my gisternag beveel om te bid en ek het die hele nag op my knieë deurgebring. God is aan die werk, dit weet ek. Ons sal Hank spoedig uit die tronk hê.”
’n Paar minute later is ouma Edith onderweg na die pastorie. Sy voel besonder jonk en lewenslustig, asof nuwe lewenskrag haar hele liggaam deurstroom.
John Coleman het ook ’n besondere droom gehad en hy kan dit nie vergeet nie. En Patricia weet dadelik waarvan hy praat, want sy het dieselfde ondervinding gehad.
“Ek het engele en demone gesien, gewikkel in ’n verskriklike stryd — dit was aaklig.”
“Ek ook,” fluister Patricia. “Absoluut afskuwelik. Kom ons bel Hank en vertel hom.”
Toe hulle skakel antwoord Mary en nadat sy hulle alles vertel het, gaan hulle dadelik pastorie toe.
Andy en June Forsythe het dieselfde onrustige nag gehad en die volgende oggend is hulle albei omgekrap, veral Andy. Hy is skoon nukkerig.
“Wat gaan aan, Andy?” vra June besorgd. “Jy is tog nie gewoonlik so nie.”
“Ek . . . ek weet nie,” antwoord hy ontsteld. “Dis . . . dis of ek wil huil. Daar is iets dreigends aan die kom. Ek . . . ek dink ons moet bid. God wil he ons moet bid.”
“Ek . . . ek dink ek verstaan, Andy. Ek het die eienaardige gevoel dat ons vannag nie alleen was nie. Hier was iemand hier by ons.”
Die telefoon lui en dis Cecil Cooper. Hy vertel ook van ’n ontstellende droom wat hy gehad het. Hulle besef dadelik dat daar iets aan die gang is. Oral begin kinders van die Here bid.
En van oral af, uit die noorde, die suide, die ooste en die weste, kom hemelse krygers aangevlieg. Hulle daal in Ashton neer soos sneeuvlokke en verdwyn tussen die huise en geboue. Sommige stap die dorp binne, ander sluip weer nader — en almal versteek hulleself en . . . wag . . .
* * *
Omtrent sewe-uur die oggend word Hank wakker en besef dadelik dat dit nie ’n nagmerrie was nie. Hy is nog steeds in die sel en sy selmaat snork aanhoudend. Ongeveer ’n uur later bring die wag hulle ontbyt en toe word die groot man wakker. Hy lyk nie baie beïndruk met die taai roosterbrood en koue eiers nie. Hank besluit dat dit ’n goeie tyd is om nader kennis te maak.
“More,” groet hy vriendelik.
“More,” antwoord die ander man.
“Ek is Hank Busche.” Die groot man stoot sy bord onder die traliehek deur. Hy het nie aan sy kos geraak nie. Hy antwoord ook nie en staar net voor hom uit. Hank besef die man het ’n moeilike tyd deurgemaak. Daarom begin hy vir sy selmaat te bid.
* * *
Ver daarvandaan strompel Bernice nog steeds voort, tree vir tree, deur velde, bosse en oor landerye. Hoofweg 27 is aan haar linkerkant en volgens die geluid van die verkeer, bepaal sy haar rigting. Maar die jong meisie is aan die einde van haar kragte. Soms struikel sy en pyn skroei deur haar liggaam. Haar voete is gedaan.
Sy stap deur ’n koringland en bereik dan ’n nou laning bome. Op ’n kolletjie groen glas vly sy haarself neer. Sy kyk op haar horlosie. Dis vyf en twintig minute oor agt. Sy moet eers rus. Sy sal wel op een of ander manier in Baker aankom . . . sy bid net Marshall is veilig . . . as hy net nie dood is nie . . .!
* * *
Teen middagete is Hank en sy selmaat meer lus vir eet en die sop en toebroodjies smaak nie te sleg nie. Voordat die wag loop, vra Hank nog een maal: “Haai, kan ek nie dalk ’n Bybel in die hande kry nie?”
“Ek het jou gesê toestemming moet eers verkry word,” antwoord die man kortaf. “En tot dit verkry is, is die antwoord ‘nee’.” Skielik kom die groot man in die sel in beweging. Hy staan op en kyk die wag bevelend aan: “Jimmy, jy het ’n hele pak Gideon Bybels in jou boonste laai. Gee dadelik een aan hierdie man.” Die wag lag spottend: “Nee ou kêrel, jy is nou self in die tronk en nie in die posisie om bevele uit te reik nie. Hier is ek aan bewind, Hogan.”
Nadat die wag weg is sê die groot man met ’n sug: “Jammer jong, ek was die hele oggend nie juis die beste geselskap nie. En ou Jimmy Dunlop wil maar sy gewig rondgooi. Ja, ek het seker tyd nodig om te besef dat ek regtig in die tronk is.”
“Ek begryp hoe u voel. Ek moet erken ek voel ook heel vreemd hier.” Hank steek weer sy hand uit. “Ek is Hank Busche.”
“En ek is Marshall Hogan,” antwoord Marshall en neem Hank se uitgestrekte hand.
Meteens is dit asof albei van hulle besef wie die ander een is. Enkele sekondes staar hulle mekaar sprakeloos aan. Dan skud hulle weer hande . . .
* * *
Die engele wat alles dophou, dra die nuus aan Tal oor. En Tal glimlag selfvoldaan: “Mooi so. Ons sal daardie twee laat gesels. Dis wat nou nodig is.”
* * *
“Jy is die pastoor van die klein wit kerkie,” sê Marshall.
“En jy is die redakteur van die Basuin,” roep Hank verslae uit. “Maar waarom is jy dan hier?”
“Ek dink nie jy sal glo as ek jou vertel nie.”
“Kyk hier, boet, soos ek nou voel, sal ek alles glo.” Marshall laat sy stem sak en leun effens vooroor. “Ek het gehoor die klag teen jou is verkragting.”
“Ja, dis reg. Maar ek het dit nie gedoen nie.”
“Is Alf Brummel een van jou gemeentelede?”
“Ja, hy is.”
“Het jy hom al teëgegaan?”
“Wel . . . e . . . ja, ek het.”
“Ek het ook en dis waarom ek vandag hier is.” Marshall sug en vervolg dan: “Vertel my alles? Ek bedoel, ken jy die meisie wat jy dan sou verkrag het.”
“E . . . ja
“En daardie bytmerke aan jou arms?”
Hank begin gespanne raak en sê onseker: “Miskien moet ek liewer niks . . . verder sê nie ...”
“Was haar naam Carmen?” hou Marshall vol. Die uitdrukking op Hank se gesig is genoeg om Marshall te oortuig dat sy raaiskoot raak was. “Ek het so gedink. Sy is sowaar ’n bedrieglike entjie mens. Sy het voorheen vir my gewerk en gisteraand het sy my vertel sy is verkrag, maar ek het sommer dadelik geweet sy lieg!”
Hank is nou heeltemal omvergewerp. Hy skud sy kop in ongeloof.
“Luister, my vriend, ek het ’n storie om te vertel en as jy bereid is om te luister . . .” vervolg Marshall dringend.
“Ek het ook ’n verhaal om te vertel, maar eers sal ek luister,” besluit Hank en die twee mans begin gesels.
* * *
“Hallo!”
Bernice skrik wakker en kyk op die gesig van ’n jong meisie, met groot bruin oë en bruin krulhare. Sy dra werksklere en is beslis ’n plaasdogter.
“O . . . e . . .” reageer Bernice verslae.
“Is daar iets fout? Voel jy sleg?” vra die meisie besorgd.
“E . . . ja, ek het ’n bietjie geslaap. Ek het ’n ent gaan stap en toe word ek moeg . . .” Skielik onthou Bernice die kneusplekke aan haar gesig en sy bloos verleë. Wat sal die meisiekind van haar dink?
“Soek jy jou sonbril?” vra die meisie en buk om dit op te tel. Sy oorhandig dit aan Bernice.
“Dankie. Jy wonder seker wat met my gesig gebeur het?”
Die meisie glimlag net en skud haar kop. “Ek ry hier verby. Kan ek jou dalk oplaai?”
Bernice wil eers ‘nee’ sê, maar dan kyk sy vlugtig op haar horlosie. Dis reeds byna vieruur die middag.
“Ry jy dalk noordwaarts?” vra sy.
“Ek is onderweg Baker toe.”
“O, dis wonderlik. Ek sal graag saamry.”
“Maar kom ons eet eers.”
“Eet! Wat bedoel jy?”
Die meisie stap onder die bome uit na die koringland langsaan. Daar staan ’n motorfiets geparkeer. Sy haal ’n bruin papiersak tevoorskyn en stap terug na waar Bernice nog steeds sit. Dan oorhandig sy die papiersak en ’n karton aan die oorblufte verslaggewer.
“Wel. . . wel. . .” sê Bernice met ’n glimlag. “Eet jy gewoonlik jou middagete om vieruur?”
“Nee,” antwoord die meisie en sy glimlag ook. “Maar jy het ver geloop en jy het nog ver om te gaan en ek dink jy het iets te ete nodig.”
Trane vul Bernice se oë en sy kyk op in die laggende gesig van die jong meisie voor haar. Dan neem sy die papiersak en maak dit oop. Binne-in is ’n beesvleis-toebroodjie, smaaklik voorberei met heerlike vars slaaiblare. ’n Bakkie koue joghurt is die aangewese ding om die maaltyd af te rond.
Bernice kan haar trane nie bedwing nie. Die meisie se simpatie en begrip raak haar diep.
“Jy . . . jy is regtig dierbaar,” fluister sy.
“Ek is bly ek kan help.”
“Wat is jou naam?”
“Noem my sommer Betsy.”
“E . . . wel, jy kan my Marie noem.” Dis Bernice se tweede naam. “Reg so. Luister, ek het water ook, as jy dors is.”
“Baie dankie. Jy is ’n wonderlike mens.”
“Dis my voorreg om jou te help,” en die meisie hardloop na die motorfiets om water te gaan haal.
***
Hank sit verslae en luister na alles wat Marshall te vertelle het. Eindelik kan hy homself nie meer bedwing nie.
“Wat? Wil jy my vertel Alf Brummel is met heksery deurmekaar? ’n Lidmaat van my gemeente!”
“Noem dit wat jy wil, boet, maar ek sê jou, hulle is met allerhande onheilige dinge deurmekaar. Daardie Langstrat-vroumens is iemand uit die bose en almal wat met haar in aanraking kom, word ook aangetas.”
“En wie is nog almal lede van hierdie groep?”
“Vra liewer wie is nie lid nie! Oliver Young is in en ook regter Baker en natuurlik die meeste lede van die plaaslike polisiemag ...”
Namate Marshall voortgaan om name op te noem, skud Hank net sy kop in absolute verdwasing. Baie dinge wat voorheen vir hom onduidelik was, word nou glashelder. Hy sien die hand van die Here in die hele gebeure.
Eindelik begin Marshall oor Kate en Sandy praat. Hy vind dit moeilik en sy oë ontwyk die jong pastoor s’n.
“Dit maak seer, Hank, maar die waarheid is, ek het self ’n baie groot aandeel aan dit wat met my gesin gebeur het.” Hy sug diep en vee met sy hand oor sy oë. “Ek sou alles kon vat, as ... as ek hulle net kon behou het. Maar ek het hulle ook verloor . . .” Hy breek af en së verslae: “En hier is ek nou, in die tronk.”
Hank is in trane, maar tog glimlag hy terselfdertyd. Hy lig sy hande omhoog en Marshall staar hom oorbluf aan. Dit lyk asof die jong pastoor een of ander geestelike belewenis ervaar.
“Marshall,” sê hy eindelik opgewonde,” ons God is aan die beweeg. Alles wat gebeur het, is God se werking. Die feit dat ons twee saam in die tronk is, is nie toeval nie. Hy het ons hier laat beland sodat ons kan ontmoet en sodat al hierdie dinge op die lappe kan kom. Jy het nog nie my verhaal gehoor nie, maar dis baie dieselfde en al wat ek weet is die Here is aan die werk.”
“Vertel my jou storie. Ek wil alles hoor.”
En Hank begin vertel van hoe hy pastoor geword het van ’n gemeente wat hom nie eintlik wou gehad het nie . . .
* * *
Betsy se motorfiets spoed voort op Hoofweg 27 en Bernice geniet elke oomblik van die rit. Aangesien hulle albei valhelms dra, voel sy gerus dat niemand haar sal herken nie. Namate hulle Baker nader, begin sy wonder of Susan Jacobson wel daar sal opdaag. En sal dit veilig wees? Sy wens amper dat sy liewer by Betsy kon bly en van die hele besigheid vergeet. Maar sy mag nie.
Sy sien die groot bord wat Coca Cola adverteer en langsaan die erf met die hoop vuurmaakhout wat te koop aangebied word. Dis Baker. Betsy begin spoed verminder. Sy ry van die hoofweg af en bring die motorfiets voor die Sunset Motel tot stilstand.
“Is dit reg hierso?” vra sy en kyk Bernice glimlaggend aan.
“Ja dankie. Dis honderd persent.” Bernice loer in die pad op en sien die Immergroen Padkafee ’n entjie hoër op. Sy klim van die motorfiets af en wil net die gesigskerm verwyder toe Betsy aan haar stamp.
“Nee! Nie nou nie.”
“Waarom?” vra Bernice verbaas. Maar toe sien sy die polisiemotor wat stadig by hulle verbyry en voor die Immergroen Padkafee tot stilstand kom. Twee polisiemanne klim uit en stap die gebou binne. Bernice kyk Betsy vraend aan. Sou sy weet wat aan die gang is?
Betsy beduie na ’n klein eetplekkie langs die Immergroen.
“Dis Rose Allen se kafee. Sy bedien die heerlikste sop denkbaar. Ek sou voorstel dat jy ’n rukkie daar gaan vertoef.”
“Baie dankie, Betsy,” se Bernice en haal die valhelm af. “Ek kan jou nooit genoeg bedank nie.”
“Dis ’n groot plesier,” en seifs deur die gesigskerm is haar glimlag stralend.
Bernice draai om en kyk na Rose Allen se kafee. Dit lyk vir haar maar redelik eenvoudig. Tog sê Betsy sy bedien lekker sop. Sy draai terug om met Betsy te praat, maar dan word sy yskoud. Betsy is weg! Die straat is leeg. Daar is geen teken van die motorfiets nie!
Verslae staan Bernice en staar na die spore op die grond. Dit was nie ’n droom nie. Die motorfiets se spore is duidelik sigbaar. Maar van Betsy en die motorfiets is daar geen teken nie.
Verbouereerd tree sy terug, haar hart angstig kloppend in haar binneste. Sy kyk na alle kante toe, maar daar is niemand nie. En skielik besef Bernice dat sy baie teleurgesteld sou wees indien sy Betsy nou skielik opgemerk het. lets wonderliks het gebeur, iets bonatuurliks! En dit vul haar met ’n ongekende blydskap.
Nog ’n paar oomblikke staan sy so, maar dan besef sy dat sy haar uit die voete moet maak. Haastig glip sy Rose Allen se kafee binne.
* * *
Sesuur word aandete onder die tralies deurgestoot en Marshall het baie lus vir die gebakte hoender en geelwortels, maar Hank is so besig om te praat, dat hy aanvanklik nie wil eet nie. Marshall moedig hom egter aan om te eet.
“Ek kom nou by die interessantste deel,” kla Hank. “Hoe vind jy die vertelling so ver?”
“Heelwat van wat jy vertel, is dinge wat ek nie weet nie.” “Wat was jou kerkverband nou weer? Presbiteriaans?” “Moenie die kerk die skuld gee nie. Ek is maar net ek.” “Goed, maar jy wil tog weet hoe dit moontlik is dat Langstrat so ’n invloed op mense kan uitoefen. En jy stel belang in die Organisasie se metodes en waar hulle krag vandaan kom. Jy het tog al gewonder wat arme Ted Harmel so gekasty het, nie waar nie?”
“Ja . . . e . . . maar dit lyk my jy verwag ek moet in bose geeste glo.”
“Glo jy in God?”
“Ja, ek glo daar is ’n God.”
“Glo jy in die duiwel?”
Marshall antwoord nie dadelik nie. Dit voel vir hom asof baie van sy idees die afgelope ure verander het.
“E . . . ja, ek dink so.”
“As jy dit alles glo, dan is engele en demone net die volgende stap. Dis heel logies.”
Marshall trek sy skouers op en kou aan ’n hoenderboudjie. “Goed, gaan voort. Ek luister.”
Vervolg...