DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (29)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

Marshall lê plat op die vloer, sy arms agter sy rug geboei. Carmen, Brummel en Langstrat is in Brummel se kantoor besig om die bande na te gaan om vas te stel waarna Marshall en Bernice geluister het.

“Ja,” sê Carmen beslis. “Hulle het die band teruggerol. Hulle het na hierdie gesprekke geluister.”

Brummel lyk geïrriteerd. Hy stap na waar Marshall lê en vra dreigend: “En toe, wat het jy en Bernice alles gehoor?”

“Sover ek kan onthou, net jazz musiek,” antwoord hy spottend.

Venynig trap Brummel met sy hak op Marshall se nek. “Eina!”

“En wie het jou die sleutels van hierdie plek gegee?” gaan Brummel voort. “Was dit Sara?”

“Ek sê niks nie.”

“Ek sal haar ook moet laat aankeer,” sê Brummel fronsend. “Nee wat,” merk Langstrat vanuit die kantoor op. “Dis nie nodig nie. Sy is weg en sy is nie belangrik nie. Kreuger is die een wat ons aandag vereis.”

“Ja,” stem Brummel saam. Hy stuur die ander polisieman om sy makker te gaan help. “Ons moet Kreuger in die hande kry, Ed.” Maar voordat Ed nog by die deur uit is, kom John daar aan. Hy lyk moeg en gefrustreerd en daar is geen teken van Bernice nie. “En waar is sy?” vra Brummel.

“Sy’t verskriklik gehardloop en dis baie donker. Ek kon haar nie kry nie.”

“Ag, deksels,” kla Brummel, maar Marshall is baie in sy skik. “Alf, kom gou hierheen,” roep Langstrat skielik vanuit die kantoor. “Kom luister hierna.” Van waar hy lê, kan Marshall hoor hoedat hulle na die gesprek tussen Susan en Weed luister.

“Aha,” se Langstrat. “Dis waarna hulle geluister het. En as ek dit nie mis het nie, is Kreuger nou onderweg na die Immergroen Pad- kafee om Susan te gaan ontmoet . . .” Sy begin heerlik te lag. “Ek sal haar daar laat voorle,” sê Brummel.

“Laat haar woonstel ook bewaak. Miskien keer sy een of ander tyd soontoe terug.”

Die twee keer terug na waar Marshall lê en kyk triomfantelik op hom neer.

“Arme Marshall, jy is in vir ’n taamlike val,” spot Brummel. “Jy moes die besigheid gelos het terwyl jy nog die geleentheid gehad het, Nou’s dit te laat. Ek sal jou vir jare laat bêre.”

“Julle sal nie hiermee wegkom nie,” sê Marshall ernstig. “Julle kan nie die hele regstelsel beheer nie. Iewers sal daar ’n deurbraak kom en dan sal julle slinkse planne openbaargemaak word.”

“Jy hoop so, my vriend, maar ons het net ’n laerhofbeslissing nodig, en dit sal ons kan kry. En om eerlik te wees, jy is ’n inbreker, ’n kmdermolesteerder en miskien nog ’n moordenaar ook. Ons het getuies, Marshall, eerlike opregte burgers van die gemeenskap. Ons sal sorg dat jy ’n regverdige verhoor kry. Die regter mag jou dalk tegemoetkom, maar ek twyfel.”

“Bedoel jy Baker, daardie tweegesig?”

“O, ek het gehoor hy is baie simpatiek — as die omstandighede reg is natuurlik.”

“En wil jy Bernice vir prostitusie aankeer? Jy het haar mos eenmaal daarvoor in die tronk gehad.”

“Dit sal afhang van die bewyse wat beskikbaar is,” lag Brummel. “Ons kan haar natuurlik vir inbraak arresteer.”

“En wat van die feit dat julle onwettige afluisterapparate aan privatetelefone aangebring het? Dis ook ’n wetsoortreding sover ek weet.”

“Jy begaan ’n groot fout,” antwoord Langstrat vinnig. “Ons het geen afluisterapparate aangebring nie. Ons sal nooit so iets doen nie. Niemand sal ooit iets kan bewys nie.” Sy grinnik effens. “En indien jy dalk jou hoop op Susan Jacobson plaas, moet ek jou teleurstel. Ons het vandag die tragiese tyding ontvang dat sy in ’n motorongeluk dood is. Juffrou Kreuger sal net die polisie by die lmmergroen Padkafee aantref.”

* * *

Vir byna ’n uur lê Bernice roerloos daar in die bosse. Haar hele lyf pyn en sy is absoluut uitgeput. Elke keer as sy ’n blaartjie hoor ritsel, verbeel sy haar dis die polisie wat op haar spoor is. Aan die een lant wil sy net weghardloop en nooit weer terugkom nie, maar aan die ander kant weet sy dat sy ’n taak het om te verrig. Sy loer op haar oorlosie. Dis byna drie-uur in die oggend. Netnou is dit lig.

Moeisaam kom sy orent en staan ’n paar oomblikke roerloos sodat haar bloedsomloop kan herstel. Dan begin sy stadig aanstap, tree vir tree. Sy baan haar weg deur die bosse en takke tot sy eindelik weer die straat bereik. Alles is stil en donker. Daar is geen blaffende honde meer nie. Sy kies koers terug na haar woonstel, maar sy is baie versigtig en sorg dat sy nie gesien word nie. Nogtans is dit ’n bittere ondervinding, die uitputting aan die een kant en die emosionele spanning aan die ander kant. In ’n stadium begin sy sommer huil. Maar dan ruk sy haarself reg. Marshall het ’n waagstuk ter wille van haar aangegaan. Nou moet sy iets doen om te help.

Met ’n ompad nader sy haar woonstel, maar van ver af sien sy die motor wat skuins voor die gebou geparkeer staan. Sy besef dadelik dat die plek bewaak word. Met ’n ander agterstraat kies sy koers na die agterkant van die gebou. Gelukkig het sy haar motor in ’n nou gangetjie gelaat, en sy slaag daarin om die voertuig te bereik sonder dat sy gesien word. Met ’n spaarsleutel wat sy altyd onder buffer van die motor versteek, sluit sy oop en klouter in. Tog weet sy dat sy onmoontlik met die voertuig sal kan wegry sonder dat die polisie haar bemerk. Daarom neem sy slegs die geld uit die paneelkissie en ook haar donkerbril wat spesiaal vir haar oë gemaak is en dus tog haar sig sal verbeter. Toe sluit sy die motor en sluip te voet weg. Sy sal iewers ’n bietjie probeer rus en dan moet sy om agtuur die aand by die Immergroen Padkafee wees. Dis haar enigste hoop, want sy kan aan geen ander persoon dink wat moontlik sal help nie.

* * *

In die gevangenis onderkant die hofsaal lê Hank op sy nou bedjie. Uiteindelik het hy aan die slaap geraak, ’n slaap van totale uitputting na alles wat gebeur het.

Ná sy gevangeneming het hulle hom ontklee, deursoek, sy vingerafdrukke geneem en ook foto’s van hom geneem. Toe het hulle hom in die sel gesmyt sonder ’n enkele kombers om hom warm te hou. Toe hy gevra het dat ’n Bybel aan hom gegee word, is die versoek geweier. En die persone in die selle langs hom, was beslis ook nie goeie geselskap nie: ’n dronkaard,  ’n vervalser wat verskriklik vloek, en ’n Marxis. Nogtans besef hy dat Jesus ook vir mense soos hulle gesterf het en daarom het hy probeer om vriendelik met hulle te gesels. Maar toe hulle hoor dat hy ’n ‘verkragter’ is, wou hulle niks verder met hom te doen hê nie.

Gevolglik het hy op sy bedjie gaan le en gedink aan manne soos Paulus en Silas, Petrus en Jakobus — almal mense wat ter wille van Jesus gevangenisskap moes verduur. Hy het gewonder of sy bediening hierdie verskriklike aanklag sou kon deurstaan. Sou sy gemeentelede sy onskuld glo en aanvaar? Sou hy nog ’n boodskap vir hulle hê? Hy het maar te goed besef dat Brummel en sy vriende die saak behoorlik sou uitbuit. Tog het hy ook geweet dat God in beheer van sake is. God beheer alles en Hy weet die beste en daarom het Hank begin bid vir Mary en sy kudde en so het hy aan die slaap geraak . . .

* * *

In die vroeë oggendure word hy wakker toe voetstappe in die gang weerklink.  Hank hoor die geklingel van sleutels en met stygende onrus hoor hy hoe die voetstappe sy sel nader. O nee! Iemand gaan by hom in die sel ingestop word! Hy maak asof hy slaap, maar loer tog met die een oog. Dis ’n groot man met ’n verband om die kop. Hy lyk regtig ’n aggressiewe tipe en Hank se moed sak in sy skoene. Die nuwe aankomeling praat met homself en Hank hoor vaagweg dat hy sy misnoeë uitspreek omdat hy met ’n verkragter opgesluit moet word.

Hank begin dadelik bid vir die beskerming van die Here. Sy nuwe selmaat is groot en sterk en lyk beslis gevaarlik. Die man val op sy bed neer en sug baie diep. Hank hou aan bid.

* * *

Rafar loop heen en weer op die heuwel bokant Ashton. Sy vlerke is agter hom oopgevou en lyk byna soos ’n koninklike kleed wat hom omhul. Hy is hoogs tevrede met die verloop van sake. Al die boodskappers bring net goeie nuus. Ashton is gereed vir oorname.

Hierdie voorspoed is genoeg rede vir Rafar om te roem. En op wie anders sal hy dit uithaal, as op Lucius, die eertydse prins van Ashton.

“Sien jy wat ek vermag het, Lucius? In tien dae se tyd het ek gedoen wat jy nie in jare kon regkry nie.”

Daarvan hou Lucius niks nie. Versigtig reageer hy: “Miskien het u maar net die afrondingswerk gedoen. Ek het die grondslag gelê. U sien nie my dade raak nie, omdat u nie wil sien nie.”

Rafar vererg hom vir die vermetele Lucius. Hy gryp hom aan die keel en lig hom op.

“Ek sal besluit oor jou dade — ek en ek alleen.”

“Laat die Sterkman beslis,” hou Lucius dapper vol. “Terloops waar is hierdie Tal van wie u so baie praat? Waar is Tal wat u dan sou vernietig?”

“Moet jou nie teenoor my aanstel nie, Lucius,” kreet Rafar dit uit. “Kyk wat het ek gedoen! Busche is in die tronk en Hogan ook. Die Diensmaagd is dood en daardie vriend van haar geëlimineer. En ek het dit gedoen, verstaan jy? Maar net om jou te troos. Ek sal nou met Tal afreken. Ek, Rafar, sal daardie papbroek Tal, vernietig. Hy is te bang om sy gesig hier in Ashton te wys,” Hy lag spottend. “Wag maar, Lucius, jy sal sien. Tal en ek sal ontmoet en daarna . . . daarna sal ek met jou afreken.”

Rafar lig Lucius hoog in die lug op. Dan beveel hy ’n ander boodskapper om die Sterkman te gaan inlig dat alles gereed is: “Sê vir hom Ashton is soos ’n ryp vrug wat gereed is om van die boom af te val ...” Met dié woorde los hy Lucius en die demoon kom met ’n slag op moeder aarde neer. Onmiddellik spring hy op en vlieg weg onder groot gelag en gejou van al die ander demone.

Vervolg...