Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy sal leer hoe om God waarlik te aanbid wanneer jy geleer het hoe om lief te hê. Hoe leer jy om lief te hê? Kyk na alles wat aan jou gegee is om te geniet, en weet dit kom van God, en wanneer jy opreg dankbaar word sal jy weet wat liefde beteken.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (26)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
In die donker kamer onder die groot huis, is Kaseph en sy volgelinge steeds besig om te mediteer. Agter hulle staan die Sterkman met sy wagte en assistente langs hom. Sy afskuwelike gesig is vertrek in ’n wrede grynslag en sy slagtande glim in die kerslig.
“Een vir een word ons struikelblokke uit die weg geruim,” sê hy. “Ja julle offerande sal vir julle groot voorspoed bring. Bring haar.”
In die boonste kamer sit Susan magteloos tussen die twee wagte, haar hande agter haar rug vasgemaak. In haar desperaatheid bid sy tot die een ware God wat sy nog nie werklik ken nie, maar in Wie se bestaan sy wel glo. Hy alleen kan haar nou help.
* * *
Tal bereik die berge en styg op en op tot bo. Dan begin hy sweef, geruisloos en onsigbaar. Hy merk dadelik dat die demoniese wolk steeds digter word soos meer en meer demone by die ander aansluit. Hy kan maar net vertrou dat die gebedsdekking voldoende is, sodat hierdie bose magte hom nie sal raaksien nie.
Guilo hou die lugruim afwagtend dop. Met dankbaarheid bemerk hy die Kaptein wat soos ’n valk na hulle toe neerdaal.
Toe Tal langs Guilo tot stilstand kom, kyk Guilo die kryger langs hom dringend aan.
“Ons het die dekking,” fluister Tal.
“Gaan!” beveel Guilo en die kryger skiet weg in die rigting van die groot huis.
* * *
Die klein priester stap die trappe op, mompelend terwyl sy skrefiesoë heen en weer dartel. Onder in die kelder wag Kaseph en sy volgelinge in doodse stilte. Kaseph staan langs die glimmende messe.
Susan Jacobson probeer haar bes om die boeie om haar gewrigte los te kry, maar sonder sukses. Die wagte lag vir haar pogings.
“O Here,” bid sy desperaat, “as U werklik die Heerser van hierdie heelal is, wees my dan genadig. Ek het dit gewaag om teen hierdie verskriklike euwel op te tree . . .”
En dan, meteens, is dit asof die ontsettende angs wegsypel en ’n wonderlike vrede neem van haar besit. Die kamer is stil en terwyl sy om haar rondkyk, kan sy maar net wonder wat gebeur het. Is sy miskien reeds dood? Slaap sy of droom sy dalk?
Skielik dink sy terug aan daardie aand in New York toe sy deur die venster van die ruskamer geklim het om Weed te gaan bel. Toe het sy ook so gevoel — dieselfde eienaardige kalmte. Daar is iemand in die kamer — sy kan dit aanvoel. Sy weet dit. “Het u my kom help?” prewel sy en dan val die kettings van haar voete af. Die boeie om haar gewrigte gaan los. Sy kyk verward na die wagte. Hulle staan roerloos, glimlaggend, asof niks gebeur het nie. ’n Geluid trek haar aandag en sy sien hoedat die venster oopgaan. Die koel naglug waai die kamer binne.
Is dit werklikheid of illusie? Sy weet nie, maar sy weet sy moet reageer. Sy spring op uit die stoel en beweeg na die venster. Die wagte staan roerloos en glimlaggend. Hulle sien niks nie. Dan onthou sy skielik die tas met al die dokumente wat onder haar bed ingedruk is. Op die ingewing van die oomblik gryp sy die tas en hardloop na die venster. Vir ’n oomblik wonder sy waarom die tas so lig is, maar dan dink sy nie verder daaraan nie. Alles is buitendien so onmoontlik dat ’n mens dit nooit kan glo nie. Sy leun deur die venster en plaas die tas op die dak neer. Sy kyk om en sien dat die twee wagte steeds na die stoel staar. Hulle het nog niks bemerk nie!
Dit voel asof iemand haar optel. Sy klim deur die venster tot op die dak. Teen die muur is ’n digte rankplant en sy besef dat sy daarlangs kan ontsnap.
Onder staan ’n paar wagte en hulle gesels fluisterend oor die Diensmaagd se verraad. Skielik hoor hulle voetstappe wat voorthardloop.
“Haai, kyk wat gaan daar aan!” roep iemand.
Die wagte sien ’n meisie in swart gekleed wat met ’n tas in haar hand oor die oop terrein voorthardloop. Verstom staar hulle haar aan.
“Dis die Diensmaagd,” gil een. “Keer haar!”
Hulle hardloop agterna, maar die figuur het reeds die bewegende vervoerwa bereik en ingeklim. Met ’n gedreun trek die vervoerwa weg met Guilo en sy drie en twintig hemelse krygers agterna.
Die priester bereik die kamer en tree na binne. Verbysterd staar hy na die twee wagte wat ’n leë stoel bewaak. Hulle kan geen verklaring bied nie. Susan Jacobson is weg!
Die vervoerwa dreun teen die steiltes uit en alhoewel hulle ’n redelike spoed handhaaf, is hulle nie vinnig genoeg nie. Vier engele begin die vervoerwa aanhelp. Maar ’n hele horde bose geeste is kort op hulle hakke en hulle swaardlemme glinster met ’n rooi gloed.
’n Asemrowende jaagtog volg. Toe Kaseph agterkom dat Susan weg is, stuur hy drie voertuie met gewapende personeel agter die vervoerwa aan. Guilo en sy krygers staan die vervoerwa by, maar word geweldig deur bose magte getreiter. En die pad is vol skerp haarnaalddraaie. By meer as een geleentheid moet die engele letterlik die vervoerwa vashou sodat dit nie oor die steiltes stort nie.
Maar die stryd word al hewiger. Die demone se getalle neem toe en hulle terroriseer die drie en twintig engele wat Guilo bystaan. Die agtervolgers in die voertuie begin op die vervoerwa skiet. Die gedreun van motore, die geskreeu van bande, die klank van koeëls en natuurlik die geskreeu en gegil van demoniese magte, veroorsaak ’n onaardse lawaai.
Guilo besef dat hulle nie die demone onbepaald sal kan teëhou nie. Die vervoerwa nader ’n baie skerp draai. Oral om Guilo vind verwoede gevegte plaas. Demone en engele slinger mekaar oor die afgrond. Guilo sien dat die vyandige magte meer word en sy helpers minder. Die vervoerwa begin skreeuend rem om óm die skerp draai te gaan. Klippe spat en bande skreeu. Maar Guilo ondersteun die vervoerwa.
Dan onverwags ’n geweldige hou. Guilo voel hoe hy van die vervoerwa weggeslinger word. Hy trek deur die lug en sien ’n afskuwelike gesig met uitpeuloë wat hom triomfantelik aanstaar. ’n Bloedstollende kreet weerklink. Maar dan is Guilo gereed en in ’n verwoede geveg, vernietig Guilo die demoon.
In daardie paar oomblikke het die vervoerwa egter oor die kranse gestort. Papiere en stoele, boeke en kabinette, trek deur die lug. Eindelik kom die vervoerwa onder op die rotse tot stilstand, ’n volslae wrak. Die agtervolgers hou stil, klim uit en kyk af. Hulle glimlag tevrede.
Guilo hurk op ’n hoë rots en sit sy swaard neer. Hy staar hemelwaarts. Hy sien sy volgelinge wat in alle rigtings padgee elkeen gevolg deur strepe rooi lig, die demone wat hulle agternasit! Ja, dit was ’n hewige stryd en sy krygers het swaar gelewe. Maar dit was nie tevergeefs nie. Hy, Tal en die wat nog oor is, sal wel weer by Ashton byeenkom. Hy glimlag tevrede. Die plan het geslaag.
* * *
Op die heuwel buitekant Ashton sit Rafar nog steeds roerloos en staar uit oor die dorpie soos wat ’n skaakspeler sy skaakbord bestudeer. Hy geniet dit om die verskillende pionne heen en weer te skuiwe en te sien dat sy magte die botoon voer. Toe ’n boodskapper daar aangevlieg kom met die wonderlike nuus dat die Diensmaagd verongeluk het, ken sy vreugde geen perke nie! Hy lag en roem met duiwelse genot.
“So sal hulle almal vernietig word,” belowe hy. “Die Sterkman het die voorbereidings in Ashton aan my toevertrou en ek sal sorg dat alles vlot verloop. Wanneer hy hier aankom, sal alles gereed wees.” Hy roep ’n paar demone nader. “Nou is die tyd om toe te slaan! Die hemelse magte is aan die retireer. Ek wil hê ons moet nou die finale voorbereidings tref. Hogan en Busche moet geneutraliseer word. Gebruik Carmen om dit te bewerkstellig. Hulle moet totaal gedemoraliseer word.” Hy lag met innige genoegdoening. “En Kevin Weed . . . hy moet doodgemaak word. Sodra dit gedoen is, moet julle my laat weet.”
Nadat die demone weg is om hulle opdragte te gaan uitvoer, rek Rafar homself welbehaaglik uit. Dan sug hy met diepe genoegdoening.
“Ja, my liewe Kaptein van die Leërskare, miskien sal ek die stryd wen sonder om eers ’n vinger te lig. Sies tog, hoe sal jy nie verneder voel nie. Om vernietig te word sonder om eers my gesig te sien, dit sal te erg wees.” Hy lag uit sy maag. “Maar, my liewe Tal, jy kan seker wees dat ons wel sal ontmoet, van aangesig tot aangesig. Moenie dink jy kan agter die gebede van jou danige heiliges skuil nie. Hulle het gefaal, soos jy kan sien. Ons twee sal beslis ontmoet.”
* * *
Bernice besef maar te goed dat dit gevaarlik sal wees om sonder haar bril te bestuur, maar aangesien sy Marshall nie kan opspoor nie, het sy geen ander keuse nie. Sy moet Kevin Weed gaan ontmoet. Dis van die uiterste belang.
Die eerste ent van die pad op Hoofweg 27 is die daglig nog voldoende en sy kan darem die motor op koers hou na die brug anderkant Baker.
Kevin Weed sit in die Immergroen Padkafee met ’n bier op die tafel voor hom. Sy gedagtes is ook by die brug anderkant Baker. Hy is baie gespanne en onseker, maar die geluide van die mense om hom is gerusstellend. Mans lag en gesels en sommige speel video- speletjies en dit alles help om hom veiliger te laat voel. Die plek word steeds voller soos meer mense bykom.
Kevin hou daarvan. Hoe meer mense hoe beter. Dan is hy ten minste veilig. Verskeie houtkappers gesels luidrugtig oor al hulle eskapades. Ander plaas weddenskappe op speletjies wat aan die gang is en die atmosfeer is heel gesellig. Gaandeweg begin Kevin ontspan.
Twee vreemdelinge kom die vertrek binne. Gou-gou is hulle aan die gesels en verduidelik dat hulle onlangs in die houtbedryf begin werk het. Hulle lyk heel aangenaam en kom naderhand langs Kevin sit.
“Hallo,” groet die een glimlaggend. “Ek is Mark Hansen.”
“Kevin Weed,” antwoord Kevin en groet met die hand.
Die ander ou is Steve Drake en spoedig is die drie entoesiasties aan die gesels oor alles en nog wat. Kevin begin effens ontspan en ledig sy bier.
“Hoe lyk dit, nog een?” vra Mark.
“Ja dankie. Dit sal lekker wees.”
Die kroegman bring die bier en die geselskap vlot lekker. Toe bars daar skielik ’n luide toejuiging los. Iemand het ’n weddenskap gewen. Almal wens geluk en die mans by die kroeg kyk ook om. Kevin merk nie dat Mark vinnig iets in sy drankie ingooi nie.
Nog ’n rukkie duur die gesprekke en gelag voort. Kevin bemerk dat dit laat word. Tyd vir hom om te ry as hy sy afspraak met Bernice wil nakom. Hy groet sy nuwe vriende en nadat hy sy laaste bietjie bier gedrink het, stap hy uit. Mark en Steve wuif vriendelik toe hy by die deur uitstap. Toe kom hulle haastig op die been en volg hom. Hulle het ’n klein bakkie wat daar naby geparkeer staan. ’n Rukkie later ry hulle agter Kevin aan.
“Dit sal nie meer lank wees nie,” sê Steve nadat hy vlugtig na sy oorlosie geloer het.
“Waar raak ons van hom ontslae?” vra Mark.
“Die rivier is die ideale plek. Hy is in elk geval onderweg soontoe.”
Intussen voel Kevin nie lekker nie. Dit moes seker daardie laaste bier gewees het. Hy het dit waarskynlik te vinnig gedrink. Hy besef hy moet dadelik by ’n toilet uitkom. En buitendien begin hy so vaak voel.
’n Verwaarloosde eetplekkie doem langs die pad op. Hy slaan dadelik remme aan en slaag daarin om die vragmotor tot stilstand te bring. Hy merk nie die bakkie wat sowat honderd meter daarvandaan stilhou nie.
“Deksels!” roep Mark woedend uit. “Waarom hou hy hier stil? Ek dog daardie goed sal hom gouer aantas.”
“Miskien is hy net gou toilet toe. Ons moet maar wag en kyk.”
Hulle sien hoedat Kevin na die ruskamer strompel. Hy verdwyn na binne en die twee mans in die bakkie hou die oorlosie gespanne dop.
“Wanneer kom hy nou?” Steve raak ongeduldig.
“Miskien kom hy glad nie. Dit sal ’n gemors wees as ons hom daar moet gaan uithaal.”
Maar dan kom iemand na buite gestap. Dis seker Kevin! Hy lyk effens beter en hulle sien hoedat hy in die vragmotor inklim en wegtrek. Hulle ry agter hom aan en wag gespanne vir die verdowingsmiddel om sy werk te doen.
Hulle wag nie tevergeefs nie. Na ’n rukkie begin die vragmotor na links en regs te swaai. ’n Entjie voor hulle is die Judd brug wat oor die Juddrivier gebou is. Die vragmotor spoed voort, heen en weer oor die pad en peil dan op die reëlings van die brug af.
“Hy probeer wakker bly,” sê Steve.
Dan skielik vang die vragmotor ’n slaggat langs die pad. Die voertuig skuif skreeuend oor die teer en jaag dan van die pad af net duskant die brug. Met ’n vreeslike slag stort die vragmotor oor die afgrond en tot binne in die rivier.
Mark en Steve hou op die brug stil en klim uit. Hulle kyk oor die kant en is net betyds om te sien hoe die vragmotor in die water wegsink.
“Nog ’n Kaseph slagoffer,” merk Steve op.
’n Aankomende voertuig hou op die brug stil en ’n man spring uit sy motor. Hy draf haastig nader. Onmiddellik daarna verskyn nog ’n voertuig op die toneel. Binne ’n oogwenk is daar baie mense op die brug. Steve en Mark besef dis tyd om hulle uit die voete te maak.
“Ons sal die polisie ontbied,” skreeu Mark toe hulle wegtrek.
En so verdwyn hulle van die toneel af om nooit weer gesien te word nie . . .
Vervolg...