DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (16)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

By die gebouekompleks in 'n eensame vallei is ’n groot uittog aan die gang. Die hele plek is ’n byenes van aktiwiteite. In die kantore, by lessenaars en skryftafels, voor tikmasjiene en kabinette, is ongeveer twee honderd mense van verskillende nasionaliteite dringend besig. Telefone word beantwoord in verskillende tale, mense hardloop by trappe op en af, lêers word in kartonne gepak en na buite gedra; daar word die kartonne op vragmotors gelaai en van daar af verder vervoer. Geboue wat reeds ontruim is, word noukeurig gesluit en selfs die vensters word met planke toegeslaan. Dit is duidelik dat ’n permanente verhuising beplan word.

’n Entjie weg op die stoep van die groot kliphuis, hou ’n vrou die bedrywighede noukeurig dop. Sy is lank en skraal met pikswart hare wat tot op haar skouers hang.

Haar klere is swart en noupassend en sy dra ’n swart handsak wat sy styf teen haar lyf vasklem. Haar gesig is besonder bleek. Gespanne kyk sy op en af en haal dan diep asem. Uit haar handsak neem sy ’n donkerbril en sit dit op. Nog een maal kyk sy onrustig rond en dan stap sy oor die oop area na die kantoor.

 

Sy stap met vaste tred, haar oë stip voor haar op die grond gevestig. ’n Paar personeellede stap by haar verby. Almal buig voor haar en druk hulle handpalms teen hulle voorkoppe vas. Sy knik net in erkenning van die groet en stap voort.

Die personeel in die kantoor groet en sy glimlag, maar sê nie ’n woord nie. Die kantoorbestuurder, ’n goedgeklede dame, kom nader en met ’n effense buiging vra sy: “Wat kan ek vir die Diensmaagd doen?”

Die Diensmaagd glimlag en sê: “Ek wil ’n paar notas fotostateer.”

“Ek sal dit dadelik doen.”

“Nee dankie. Ek wil dit self doen.”

“Net soos u wil. Ek sal die masjien gereed kry.”

Die vrou verdwyn in ’n sykamer met die Diensmaagd agterna. Verskeie rekenmeesters en klerke, sommige uit die Ooste en ander uit Europa, buig laag en gaan dan weer voort met hulle werk.

Toe die kopieerder gereed is, sê die Diensmaagd aan die dame: “U kan maar gaan, dankie. Ek sal self regkom.”

“Nes u verkies. Roep as u my nodig het.”

Toe die bestuurder uit is, maak die Diensmaagd die deur toe sodat sy van die res van die werkers afgesluit is. Haastig maak sy haar sak oop en haal ’n notaboekie te voorskyn. Sy blaai daardeur tot sy die gewenste bladsye vind. Dan plaas sy die boekie oop neer en druk die knoppies om die bladsye te fotostateer. Veertig bladsye later skakel sy die masjien af, vou die afskrifte netjies inmekaar en plaas alles in ’n sysakkie binne-in haar handsak. Daarna verlaat sy die kantoor en stap terug na die groot woonhuis.

Die huis is reusagtig met ’n groot kaggel en hoë plafonne en volvloer tapyte. Sy drafstap die trappe op na haar slaapkamer. Versigtig maak sy die deur agter haar toe. Uit ’n laai haal sy bruinpapier en lyn. ’n Adres is reeds op die papier aangebring: Alexander M. Kaseph. Die adres van die afsender is J. Langstrat. Haastig draai die Diensmaagd die boek weer toe en maak dit met die lyn vas. Dit lyk asof dit glad nie oopgemaak is nie.

In ’n ander vertrek sit ’n middeljarige, gesette man op ’n groot kussing en mediteer. Hy dra ’n los broek en ’n oorhangende hemp en sy oë is toe. Hy haal diep en rustig asem.

Die vertrek is baie deftig gemeubileer. Aandenkings uit alle lande van die wêreld pryk teen die mure: swaarde uit die Ooste, beelde en kunswerke uit Afrika, porseleinwerk en skilderye. ’n Reuse-lessenaar met ’n ingeboude rekenaar en telefoon asook ’n interkom, staan in die een hoek van die vertrek. Bokant die lessenaar hang ’n paar jagtrofeë, onder andere ’n opgestopte leeu.

“Kom in Susan,” sê die man gebiedend nog voordat daar geklop word.

Die swaar eikedeur gaan oop en die Diensmaagd kom binne. In haar hande dra sy die bruin pakkie.

“Sit dit op my lessenaar neer,” beveel die man sonder dat hy sy oë oopmaak.

Die vrou gehoorsaam. Dan is dit of die man uit sy meditering wakker word. Sy oë gaan stadig oop en hy rek hom uit.

“Dan het jy dit eindelik gekry?” vra hy en glimlag tergend.

“Dit was al die tyd daar. Met die pakkery het ek dit seker net iewers ingedruk en gevolglik kon ek dit nie kry nie.”

Die man staan op en rek hom uit. Hy stap ’n paar keer in die kamer op en af. Eindelik stap hy na die Diensmaagd toe, gaan agter haar staan, plaas sy hande op haar skouers en fluister in haar ore: “Ek is so bly jy het dit gekry. Soms . . . soms voel jy so ver weg, asof jy wegdryf. Waarom?”

“Miskien as gevolg van al die pakkery. Alles is so deurmekaar.”

Hy sit sy arms om haar heupe en druk haar teen hom vas.

“Jy hoef nie ongelukkig te voel nie. Ons trek na ’n ver beter plek. Ek het die huis klaar uitgesoek. Jy sal baie daarvan hou.”

“Ek het in daardie dorp opgegroei.”

"Dis nie 'n slegte plek nie, regtig nie. Dis nie meer dieselfde dorp nie. Dis nou baie beter.”

“Maar ek het in Ashton opgegroei,” herhaal sy.

“En tog wou jy so graag daar wegkom,” terg hy.

“Daarom is dit verstaanbaar dat ek verward en onseker voel.”

Hy swaai haar om sodat sy na hom kyk en lag dan spelenderwys en kyk diep in haar oë.

“Ja, dis waar. Maar tog het jy teruggesluip om die karnaval te gaan bywoon.”

“Ek . . . ek wou iets uit my verlede probeer terugvind,” verduidelik sy en bloos effens.

“Daar is geen verlede nie. Jy moet altyd by my bly. Ek het al die antwoorde vir jou.”

“Maar waarom het jy my kom soek en die ander klomp saamgesleep? Dit was tog nie nodig nie.”

Hy stap na die lessenaar en gaan sit. Uit die laai haal hy ’n lang, vlymskerp Oosterse mes te voorskyn. Nadenkend speel hy daarmee en sy vinger gly oor die glinsterende lem. Sy oë beweeg van die lem na haar gesig toe.

“Diensmaagd, liewe Diensmaagd, ek vertrou jou nie. Ja, ek het jou lief, maar ek vertrou jou nie.” Hy lig die mes sodat dit voor sy oë is. Sy oë is skielik skerp en koud. “Jy is ’n vrou met wisselende emosies.”

“Ek kan tog nie die Plan skade aandoen nie. Ek is maar net een tussen miljoene.”

Hy staan op en stap na ’n heidense afgodsbeeld. Verskeie skerp, gekromde messe is in die kop van die afgod ingesteek.

“Liewe Susan, jy deel my lewe en al my geheime, maar ook my belange. En ek moet my belange beskerm.” Met dié woorde laat hy die mes val. Met ’n dowwe geluid sink dit in die beeld se kop in.

Sy glimlag en beweeg nader na hom toe. Haar arm gly om sy lyf en sy lig haar kop. Hulle soen mekaar, lank en innig.

“Ek is joune, altyd joune,” sê sy fluisterend.

"Natuurlik. Ek weet.” antwoord hy, maar sy oë is koud en skerp.

 

Hoog bo in die berge tussen die kranse en klowe, is twee figure in gesprek. Die een is die man met die silwer hare wat al voor almal hier gewaak het. Hy is statig en magtig en sy oë is deurdringend. Die ander is Tal, Kaptein van die Leërskare.

“Eindelik het jy hom gekry,” sê die man met die silwer hare.

“Die Sterkman?” vra Tal.

“Ja. Maar hier is hordes bose geeste. Ons kon sover nog nie deurdring nie.”

“En is sy daar, reg tussen hulle almal?”

“Ja. Die Gees is besig om haar oë vir die waarheid te open. Sy is baie na aan Sterkman, amper te naby. Dit kan gevaarlik wees."

"Intussen het die gebede van die gelowiges die bose geeste om haar verblind sodat hulle nie weet wat aangaan nie. Maar dis nog te min tyd, dis net tydelik.”

Tal skud sy kop bekommerd: “O Generaal, ’n tydelike verblindeling sal nie genoeg wees nie. Ons is nog nie sterk genoeg nie. Inteendeel, ons sukkel om Ashton te behou teen die bose magte. Hoe moet ons dan vir Sterkman kan aandurf?”

“En hulle getalle neem by die dag toe.”

“Hulle is besig om vir een of ander groot aksie voor te berei, daarvan kan ons seker wees.”

“Maar intussen moet julle besef dat haar stryd toeneem. Binnekort sal sy nie meer haar ware gevoelens vir Sterkman kan verberg nie. Sy het nou die waarheid in verband met die selfmoord uitgevind.”

“Ek verstaan sy en Patricia was baie geheg aan mekaar,” sê Tal en kyk sy Generaal ernstig aan.

“Dit het haar diep geskok,” knik die Generaal instemmend. “En haar tyd is min. Daarom moet ons nou optree. Die Universele Bewussyn Vereniging hou binnekort ’n fondsinsamelingsete in New York. Die funksie sal deur al die lede in die Verenigde Volke bygewoon word. Kaseph kan dit nie bywoon nie, maar Susan sal wel gaan. Sy sal streng bewaak word, maar dis ons een kans, aangesien Kaseph nie daar is nie. Sy sal dus uit sy demoniese invloedsfeer weg wees. Die Gees weet sy beplan om daar uit te glip en kontak met ’n vriend buite die organisasie te maak. Sy gaan ’n kans waag, Tal en julle moet haar help. Sy moet slaag.”

“Is daar gebedsdekking in New York?”

“Dit sal daar wees.”

“Wie is die vriend wat sy wil kontak?”

“Kevin Weed, ’n vorige klasmaat en eertydse kêrel.”

Met ’n groet gaan hulle uitmekaar.  Tal maak eers seker dat niemand hom sien nie. Dan sprei hy sy glinsterende vlerke oop en in grasieuse stilte sweef hy bokant die bergtop uit. Toe hy buite die gesigsveld van die demone is, versnel sy pas en hy skiet soos ’n gloeiende vlam deur die lug en verdwyn agter die horison.

***

Marshall en Bernice ry in sy groot bruin motor deur die bebosde area en gesels gemoedelik oor hulle onderskeie agtergronde. Hulle is almal moeg om net oor die werk te praat en geniet dit om sommer te kuier en mekaar beter te leer ken.

“Ek het in die Presbeteriaanse Kerk groot geword,” beduie Marshall. “Nou weet ek egter nie meer waar ek tuishoort nie.”

“My ouers was Anglikane, maar ek dink nie ek was ooit iets nie. Hulle het my elke Sondag kerk toe gesleep en ek kon nooit gou genoeg wegkom nie.”

“Ek het nie juis omgegee nie. Gelukkig was my Sondagskoolonderwyser ’n baie aangename persoon en dit het gehelp.”

“Dis moontlik my probleem. Ek het nooit ’n Sondagskool bygewoon nie.”

“Ek dink dis belangrik dat ’n kind van kleins af van God geleer word.”

“As daar ooit ’n God is,” sê Bernice fronsend. “Wie sê daar is ’n God?”

“Dis omdat jy nooit Sondagskool bygewoon het dat jy nou aan die bestaan van God twyfel,” sê Marshall en draai regs by ’n naambordjie wat die pad na Ashton aandui. Hy stel nog ’n paar algemene vrae oor haar kinderjare.

“My ouers is oorlede, my pa in 1976 en my ma ... so twee jaar gelede. En toe is my enigste sussie ook dood . . . Patricia.”

“Siestog. Ek is so jammer.”

“Ja, die wêreld kan soms eensaam wees . . .”

“En daar is nie juis moontlikhede in Ashton nie,” merk Marshall op.

“Ek is nie daar om man te soek nie.”

Hulle bereik ’n klein dorpie wat op die kaart as Baker aangedui word. Dis nie veel meer as ’n rusplek vir groot vragmotors en ander voertuie nie. Daar is ’n eetplek waar swart koffie en koue eiers onder andere bedien word. Bokant die motor sweef Nathan en Armoth, hulle oë op die omgewing gevestig.

“Wel, hier is die plekkie waar alles gaan begin,” se Nathan en trek sy swaard uit. Dit flits deur die lug. “Ek is so bly dat Tal my gekies het om hierdie projek te lei.”

Nathan sak skielik laer af tot net ’n paar meter bokant die voertuig. Hy werp sy swaard met ’n magtige handbeweging in die enjin van die motor in. Die motor begin ruk en gaan dood. Dit beweeg egter nog tot in die dorpie.

“Deksels,” se Marshall. “lets het gebreek.”

“Gelukkig is ons naby ’n motorhawe. Trek daar in.”

“Dis presies wat ek beoog.” Die motor kom in die motorhawe tot stilstand. Marshall klim uit en maak die kap voor oop.

“Ek gaan gou ruskamers toe,” se Bernice en stap weg. Sy sien die redelik verwaarloosde kafee wat duidelik tekens van verval toon. Die verf aan die voordeur dop plek-plek af en die mure het groot krake. Die Immergroen Padkafee is beslis nie meer immergroen nie. Nogtans is daar ’n neonlig wat aan en af flits en van binne die gebou klink lewendige musiek.

Bernice stap binne en dadelik oorweldig die reuk van sigaretrook haar. Sy haal moeisaam asem. ’n Paar manne sit agter die toonbank. Die meeste is waarskynlik verbonde aan die houtindustrie. Hulle is luidrugtig en gesels en maak grappe dat dit ’n naarheid is. Bernice se oë soek egter na die ruskamers. Eindelik sien sy die naamborde — Mans en Dames

“En toe, Dingetjie, hoe gaan dit?” vra een man tergend. Bernice vererg haar en besluit om nie eers in sy rigting te kyk nie. Maar om een of ander onverklaarbare rede kyk sy tog. Haar oë rus op hom en sy merk die glaserige oë wat haar tergend aanstaar. Hy is beslis aangeklam en sy lang hare is met ’n stukkie rek agter sy kop vasgemaak. ’n Glibberige tipe. Maar tog . . . tog weet sy dat sy die man voor haar al iewers gesien het; meer nog, sy ken hom.

“Dame, moenie dat my vriend jou ontstel nie,” sê die man wat langs hom sit. “Hy wil maar net aandag trek, né Weed?”

Bernice se gesig verhelder: “Weed?” sê sy. “Kevin Weed?” Kevin Weed kyk haar aan en sê dan eindelik: “Mag ek vir jou ’n bier koop?”

Bernice stel egter nie belang in bier nie. Sy stap nader en kyk hom dringend aan: “Onthou jy my nie . . . ek is Bernice Kreuger. Patricia Kreuger was my suster.”

Die man skud sy kop asof hy probeer onthou. Dan sê hy stadig: “Pat Kreuger. Wie is jy?”

“Ek is Bernice, Pat se suster. Ons het ’n paar keer ontmoet. Jy het mos Pat se kamermaat uitgeneem.”

Weed se gesig verhelder. ’n Vloekwoord val oor sy lippe. Dadelik vra hy haar om verskoning. Dan skud hy weer sy kop. “Pat se suster . . . wil jy nou meer? Wat maak jy dan in hierdie plek?”

“Ons ry net hier deur,” glimlag sy. “Ek sal graag ’n Coke drink as jy vir my een wil bestel.”

Weed glimlag en loer sydelings na sy vriende. Dan beduie hy dat hulle ’n ander tafel moet soek. Hulle laat nie op hulle wag nie. Hy beduie dat Bernice moet plaasneem.

“Danny, bring dadelik ’n Coke vir die dame,” roep hy.

Toe die eienaar die Coke voor haar neersit, wonder hy onwillekeurig wat so ’n meisie in hierdie derderangse kafee doen. Maar Kevin het net oë vir Bernice. In antwoord op sy vraag, verduidelik sy wat sy nou doen en dat sy in Ashton aan die koerant verbonde is.

“Ek het jou nog nooit weer na Pat se dood gesien nie,” sê sy eindelik en hou haar notaboekie en pen gereed. “Kevin, is daar enigiets wat jy kan onthou . . . iets wat dalk van belang kan wees.”

Hy skud sy kop. “Nee, ek weet niks nie, behalwe wat ek in die koerante gelees het. Ek . . . ek is so jammer, Bernice.”

“Maar Pat se kamermaat! Wat het van haar geword? Wanneer het jy haar laas gesien?”

Weed se oe rek effens en iets in sy houding laat Bernice besef dat die man voor haar wel inligting het.

“Asseblief, waar het jy haar gesien?” pleit sy. “Dis baie belangrik.”

“Onlangs . . . heel onlangs. By die karnaval in Ashton.”

“Wat! By die karnaval?”

“]a. Sy . . . sy het my geroep, sommer so uit die bloute en ons het ’n paar minute gesels. Toe het die ander ou daar aangekom en sy het saam met hom weggestap.” Hy sug diep. “Sy het my destyds net so gelos vir daardie kêrel.”

“Dis interessant. Baie interessant. Wat is haar naam nou weer?”

“Susan Jacobson.”

“Het jy dalk enige idee waar ons met haar in aanraking kan kom? Ek moet met haar praat. Ek dink sy weet dalk iets van . . . van Pat.”

“Nee, ek weet nie.” Hy huiwer ’n oomblik. “Maar ek het haar my telefoonnommer gegee. Sy het dit gevra . . . sommer so vinnig. Ons was nog besig om te praat toe die ander man verskyn. Toe is sy saam met hom weg.”

’n Gedagte skiet Bernice skielik te binne en selfs voordat sy die vraag aan Kevin stel, weet sy reeds wat sy antwoord gaan wees. “Hoe het sy daardie aand by die karnaval gelyk?”

“O . . . pragtig. Sy het ’n lang, swart rok aangehad. Lang swart hare. Haar gesig was bleek, maar sy was baie mooi . . . baie, baie mooi. . .” Sy stem breek en dronkmansverdriet oorweldig hom. Hy maak hard keelskoon.

“Het jy haar vriend ook gesien?”

“Ja, ek sê mos. Hy het daar aangekom.”

“Hoe lyk hy?”

“Vet en olierig en baie geld. Dis waarom Susan vir hom geval het.”

Bernice se hand bewe merkbaar. Sy vra Kevin se telefoonnommer en adres en hy gee dit. Sy skryf die gegewens in haar notaboekie neer.

“Jy sê sy het jou nommer gevra?”

“Ja. Miskien gaan dit nie meer so goed met haar en die ou nie.”

“Luister Kevin, asseblief. Luister baie mooi. As sy jou bel, vra haar nommer.” Bernice skud die man voor haar aan die arm. “Verstaan jy wat ek sê? Kry haar nommer sodat ek haar kan kontak. Dis ontsettend belangrik. Hier is my kaartjie met my adres en telefoonnommer. As sy jou bel, kontak my.”

Hy neem die kaartjie en knik begrypend. Sy staan op om te loop.

“Kan . . . kan ons nie vanaand iets doen nie . . . ek bedoel. . .” stel hy voor.

“As jy iets van Susan hoor, bel my. Dan sal ons baie hê om oor te praat.”

’n Paar minute later toe Bernice buite kom, het Marshall die motor aangeskakel.

“Alles reg?” vra sy.

“Ja. Deksels eienaardig. Ons kon geen fout kry nie, maar toe ek weer probeer, toe vat die motor.”

Hoog bokant die motorhawe vlieg Nathan die blou lug in na waar Armoth op hom wag. Hy lyk ingenome en tevrede.

“So ja, nou is alles gereel. Nou hang alles af van hoe die Kaptein en Guilo in New York gaan vaar.”

Die bruin motor spoed voort met die twee engele, Armoth en Nathan, agterna.

Vervolg...