DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (15)

 

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

Nathan en Armoth vlieg hoog bokant die groot motor wat deur die pragtige somerlandskap voortspoed. Hulle taak is om die twee insittendes te bewaak, en alhoewel die twee hemelse wesens nie mooi weet wat aangaan nie, voel hulle tog dat Rafar dalk iets in die mou voer. Hierdie twee mense, die koerantman en sy verslaggewer, is ’n plofbare kombinasie en dis onwaarskynlik dat die bose magte hulle ongehinderd sal laat.

Eldon Strachan, eertydse rektor van Whitmore Kollege, woon nou op ’n plasie ongeveer ’n uur se ry vanaf Ashton. Toe Marshall en Bernice met die lang laning na die huis opry, besef hulle dat Strachan ’n netjiese persoon is. In die tuin is alles goedversorg en in orde — vrugtebome gesnoei, gras gesny en al die blombeddings skoon en onkruidvry.

“Wel, dit lyk asof ons darem vandag ’n normale persoon gaan besoek,” merk Marshall op.

 

“Dis waarskynlik waarom hy uit Ashton weg is,” gee Bernice toe. Toe die wolfhond begin blaf, tree Strachan op sy voorstoep uit en groet vriendelik. Hy is ’n gesonde, goed geboude man met grys hare. Hy dra werksklere en hou ’n paar tuinhandskoene in sy hand. Nadat hulle oor en weer bekend gestel is, stap hulle na binne met die blaffende Lady steeds by hulle.

“Doris!” roep Strachan sy vrou. “Meneer Hogan en juffrou Kreuger is hier.”

Binne ’n paar minute sluit Doris by hulle aan. Sy is ’n plomp, gemoedelike tipe en sommer gou-gou het sy koffie en allerhande versnaperinge gereed. Terwyl hulle eet en drink gesels hulle oor die weer, die omgewing en allerhande gemeenplase.

Eindelik is dit Strachan self wat die onderwerp inlui: “Ek neem aan dat dinge in Ashton nie te aangenaam is nie.”

“Ja,” sê Marshall en Bernice haal haar notaboekie uit. “Ek is amper jammer om daaroor te praat.”

Strachan glimlag en trek sy skouers op: “Wel, ’n mens kan vlug, maar jy kan nie wegkruip nie. Ek moet erken ek het soms al gewonder of dit die regte optrede was om sommer weg te gaan.”

“Wanneer is julle nou weer daar weg . . .?” begin Marshall en bekyk sy vorige notas.

“Juniemaand ’n jaar gelede.”

“En Ralph Kuklinski is as rektor aangestel?”

“Ja, en hy’s nog daar, nie waar nie?”

Marshall knik instemmend. “Is hy ook lid van die sogenaamde ‘Binnekring’?”

“Ek kan nie met sekerheid sê nie,” antwoord Strachan. “Maar dis baie moontlik.”

“Daar is dus so ’n groep wat alles beheer?”

“Beslis. Ek het dit destyds baie definitief agtergekom. Al die raadslede het ooreenkomste begin toon. Hulle idees was dieselfde, hulle argumente, hulle besware ...”

“Maar nie u nie . . .?

“Nee,” glimlag Strachan effens verleë. “Ek het al meer en meer begin uit voel. So asof ek nie inpas nie. Gaandeweg het ek ’n vyand geword en dis waarom hulle my afgedank het.”

“U verwys natuurlik na die geldsake?”

“Ja.” Strachan dink diep. “Ek het nie dadelik agtergekom dat daar fout is nie, maar toe het daar vertragings met uitbetalings ingesluip. Eers was dit net af en toe, maar gaandeweg het dit probleme opgelewer. Mense het begin kla. Toe het ek Baylor gevra wat gaande is. Hy het my nooit ’n direkte antwoord gegee nie en toe het ek ’n onafhanklike persoon ingeroep. Hoe hy daarin geslaag het om die inligting te bekom, weet ek nie, maar hy het! En wat hy ontdek het, was onrusbarend.”

“Wie is die man?” vra Bernice nuuskierig.

“Johnson. Ernie Johnson,” sê Strachan met ’n effense sug.

“Waar kan ons hom in die hande kry?”

“Ek is bevrees julle kan nie. Hy is dood.”

Marshall voel die teleurstelling wat in hom opwel. Hy verskuif van posisie. “Het hy dalk enige rekords nagelaat ... of so iets?”

“Nee,” sê Strachan en skud sy kop. “Ek glo nie, want anders sou ek al lankal iets probeer doen het. Ek ken Norm Mattily, die staatsprokureur, baie goed en as ek enige feite gehad het, sou ek beslis sy hulp ingeroep het. Maar ek het geen feite nie, niks swart op wit nie.”

“Dis jammer. Maar wat het Johnson uitgevind?”

“Hy was absoluut geskok. Na aanleiding van sy ondersoek het aan die lig gekom dat die kollegegelde herinvesteer word, maar daar is nooit enige dividende of rente op die beleggings nie. Dit was kompleet asof alle gelde in ’n bodemlose put ingestort is. Om die verliese toe te smeer, is boeke en state gemanipuleer; dit was een kolossale gemors.”

“Ter waarde van miljoene rande?”

“Definitief. Die kollegegelde het oor die afgelope aantal jare net doodeenvoudig verdwyn.”

“En toe het jy besluit om te vra dat die boeke geouditeer moet word?”

“Ja, en Baylor was woedend. Onmiddellik het die saak ’n persoonlike kleur aangeneem en voor ek mooi besef het wat gaande is, was ek die Raad se vyand. Hulle het eenparig besluit dat ek moes uittree.”

“Maar ek verstaan nie,” sê Bernice fronsend. “Waarom wil hulle die Kollege finansiëel ondermyn?”

“Ek weet nie,” erken Strachan. “Al waarvan ek seker is, is dat as daar nie binnekort iets gebeur nie, sal die Kollege bankrot gaan. En Kuklinski weet dit, maar hy stem saam met die raadsbesluite.”

“Sjoe, dis ’n deurmekaarspul,” sug Marshall. “Ek wonder waar pas ons professor Langstrat in die prentjie in.”

“Langstrat,” Strachan glimlag en skud sy kop. “Sy het iets met die saak te doen, beslis, maar sy is nie in beheer nie. O nee, sy mag die kollegeraad beheer, maar op haar beurt word sy weer deur iemand hoër op in toom gehou.”

“Het u enige idee wie hierdie hoër outoriteit kan wees?”

Strachan skud net sy kop.

“Kan u ons nog iets van Langstrat vertel?”

“Sy is ’n gegradueerde van die universiteit van Kalifornië,” begin hy. “Sy het by verskeie ander universiteite klas gegee voordat sy na Whitmore gekom het. Sy is nou ongeveer ses jaar hier. Sy het nog altyd besonder belanggestel in Oosterse godsdienste en ’n heidense sekte van Kalifornië het haar denke baie beïnvloed. Ek het eers sowat drie jaar gelede agtergekom dat sy haar idees onder die studente versprei. En nie slegs die studente nie, maar ook ander leerkragte in die fakulteit.”

“Soos wie?”

“Aanvanklik die Sielkunde departement. . . die eerste persoon was Margaret Islander . . . ken julle haar?”

“Ek dink Ruth Williams ken haar,” sê Bernice.

“Sy het altyd in spiritisme belanggestel en daarom het sy dadelik by Langstrat aanklank gevind, net soos Edgar Cayce.” Strachan haal ’n foliopapier tevoorskyn. “Ek het die afgelope maande baie oor die saak nagedink en aantekeninge gemaak. Hier is ’n lys van persone wat nuut is in die Sielkunde-departement. Trevor Corcoran het voorheen in Indië studeer. En dan Juanita Janck — sy het Kevin Ford vervang.” Hy skud sy kop nadenkend. “In verskeie departemente het ons ’n groot wisseling van personeel gehad.”

“Hmm,” sê Marshall belangstellend. “Watter ander departemente?”

“Filosofie, Geesteswetenskappe en so aan. En baie nuwe leerkragte.”

“Beslis eienaardig,” sê Bernice. “Kan u vir ons sê hoeveel van hierdie nuwe mense het hier begin gedurende Langstrat se ampstermyn?”

Fronsend bekyk Strachan sy lys.

“Hmm . . . ja. Jones . . . Conrad . . . Witherspoon . . . Epps . . .” Hy skud sy kop. “Dis eienaardig. Nou besef ek eers hoeveel mense se kontrakte is net beëeindig of nie weer hernu nie. En noudat ek daaraan dink, die nuwe mense het almal tot ’n baie groot mate dieselfde idees gehuldig. Ek . . . ek het gedink dis sommer toevallig, maar nou begin dit beslis snaaks lyk.” ’n Vreemde uitdrukking verskyn op sy gelaat. “Dis byna asof . . . asof die Kollege deur ’n bose mag oorgeneem is.”

Marshall dink skielik terug aan iets wat Sandy gese het. Vol- gens haar is Ashton deur bonatuurlike wesens ingeneem. En dan klink Kate se stem skielik in sy ore: "Ek is bekommerd oor Sandy . . . sy is net nie meer die ou Sandy nie ...”

Met ’n besliste kraginspanning skud Marshall die gedagtes van hom af. Hy moet nou sy aandag by Strachan bepaal. Hy haal die lys met onderwerpe wat Darr neergeskryf het, te voorskyn. Fronsend bestudeer hy dit.

“Wat van al hierdie klasse wat Langstrat dan kwansuis sou gegee het?” Hy hou dit na Strachan toe uit. “Inleiding tot God? Weë tot die Innerlike Lig; Formules en Rituele; Persoonlike Geestelike Riglyne . . .”

“Aanvanklik was dit ’n alternatiewe opvoedkundige program wat absoluut vrywillig moes wees. Ek het gedink dis maar net die studie van tradisies en volkerekunde.”

“Maar hulle het dit skynbaar baie ernstig opgeneem?”

“Ja, en nou is die hele kollege met hierdie dinge deurtrek. En wat meer is, vyf van die twaalf raadslede is ook die afgelope jaar vervang. Dis al rede waarom hulle my eenparig kon uitstem.”

“Gee ons ook hulle name asseblief.” Bernice begin die name neerskryf soos Strachan hulle opnoem. Jake Abernathy is reeds oorlede. Morris James het bankrot gegaan en iewers ’n ander betrekking gekry, Fred Ainsworth, George Olson en Rita Jacobson is al drie uit Ashton weg, en niemand weet waar hulle hul nou bevind nie.

Almal wat nou oor is, steun hierdie eienaardige denkrigting, ook Kuklinski die nuwe rektor,” mompel Strachan nadenkend.

“En Dwight Brandon, die eienaar van die grond waarop die kollege gebou is.”

“Wat van Ted Harmel?” vra Marshall.

“Ja, hy was op ’n stadium een van hulle, maar wou skynbaar terugtrek,” se Strachan. “Hy het seker te veel geweet. Toe hulle agterkom dat hy en ek vriende is — nou ja, toe het hulle daardie verspotte skandaal bewerkstellig en ou Ted weggewerk.”

“Hmm, dit klink interessant,” sê Bernice.

“Hy het gedink hy is agter ’n storie aan,” vervolg Strachan. “Altans, so het hy dikwels aan my gesê. Ek glo nie hy het regtig besef wat aangaan totdat hy te diep betrokke was nie. Hy het eendag gesê hulle het hom belowe sy koerant sal groot vooruitgang maak as hy met hulle saamwerk.”

Dadelik onthou Marshall dat Brummel hom feitlik dieselfde versekering gegee het. ’n Gevoel van onrus wel in sy binneste op.

“Natuurlik was Ted nie iemand om hom te laat intimideer nie,” gesels Strachan verder. “Toe hy besef dat hulle hom wil dwing om onwaarhede te druk, toe was die vet in die vuur. Hy is dus ook in die kruisvuur gevang en het alles verloor.”

“Maar kan hulle regtig so sterk wees?” vra Marshall omgekrap. “Om mense sommer so weg te werk.”

“Ek dink nie ek het ooit besef hoe gevaarlik en sterk hulle is nie, maar nou dring die waarheid tot my deur. Ek het nie ’n idee wat hulle beoog nie, maar hulle sal niks of niemand in hulle pad laat staan nie. Dis seker! En ek dink die hele besigheid is nie net tot die kollege beperk nie. Ek sal my nie verbaas as baie inwoners van Ashton ook net geëlimineer is nie.”

Dadelik dink Marshall aan Joe, die eienaar van die Supermark. Wat het van hom en sy gesin geword? En Edie? Sy sekretaresse. Sy is ook so skielik weg?

“Wat wil julle met hierdie inligting doen?” vra Strachan eindelik gespanne.

“Ek weet nog nie,” erken Marshall eerlik. “Daar is baie dinge wat kortkom; te min bewyse. Ek kan nog niks publiseer nie.”

“Moenie vergeet wat met Ted gebeur het nie,” waarsku Strachan.

“Ted wou nie met my gepraat het nie,” sê Marshall.

“Omdat hy bang is,” se Strachan. “Hy is bang vir die hele sisteem, daardie mense wat hom vernietig het. Ongelukkig weet hy te veel en ek moet erken dat sy vrees gegrond is. Hulle is gevaarlik.”

“Praat jy ooit met hom?”

“Ja, maar nie oor hierdie dinge nie. Ons is vriende en doen baie dinge saam. Soms gaan ons visvang of saam eet. Hy woon nie ver van hier af nie.”

“Sal jy nie dalk vir my ’n goeie woordjie doen nie, asseblief?”

“Wel, ek weet nie. Miskien wil hy nie en ek kan hom nie dwing nie.”

“Bel hom net een maal en hoor of hy nie weer met my sal praat nie.”

“Ek . . . ek sal dit oorweeg. Maar ek belowe niks nie.”

“Dankie.”

“Maar, Hogan . . . " Strachan gryp Marshall skielik aan die arm en sy gesig is ernstig, “asseblief, julle moet versigtig wees. Moenie dink dat julle veilig is nie. Wees elke oomblik op julle hoede.”

 

By die kantore van die Basuin is Tom besig om die laaste galei-proewe vir die Dinsdag-uitgawe gereed te kry. Skielik lui die voordeurklokkie en alhoewel hy nie eintlik tyd het om besoekers te woord te staan nie, moet hy tog gaan oopmaak, want hy is alleen op kantoor. Hy voel ineens baie jammer dat Edie weg is. Sy was altyd so ’n staatmaker.

“Hallo,” roep ’n aantreklike vrouestem.

Tom gryp ’n stuk lap en vee sy hande af.

“Ek kom. Net ’n oomblik.” Hy haas hom na die voorste deel van die kantoor en gaan dan skielik staan. ’n Baie aantreklike jong dame staan by die toonbank. Sy glimlag in sy rigting.

“Hallo,” groet hy en wens dat hy weer jonk kon wees.

“Ek sien julle adverteer vir ’n sekretaresse en kantoorwerker. Ek kom my dienste aanbied.”

“Mensig,” dink Tom. “Dit kan nie wees nie.”

“Ek is gereed om te begin, as julle my wil hê,” sê sy.

“Ek is Tom McBride,” stel Tom homself voor. “Die ou wat die los werkies hanteer en gewoonlik al die bekommernis dra.” lag hy.

“Aangename kennis. Ek is Carmen ...”

“Carmen . . . wie?” Hy kyk haar vraend aan.

“O . . . e . . . Carmen Fraser.” Sy lag. “Almal noem my altyd op my voornaam. Ek het al byna my van vergeet.”

Tom maak die hekkie na die agterste kantoor oop en hulle stap deur.

“Kom, ek sal jou gou ’n bietjie touwys maak,” onderneem hy.

Vervolg...