DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (11)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

Sandy en Shawn sit by ’n klein tafeltjie in die buitelug by een van die kampus kafeteria’s. Bokant hulle ritsel die rustige groen blare wat ’n blaredak vorm. Spatsels sonlig filtreer deur die blare en voeëls flits heen en weer op soek na broodkrummels en aartappelskyfies wat op die grond beland het. Alles is so stil en rustig. Dis Sandy se geliefkoosde plekkie, want daar is sy weg van al die struweling en onenigheid wat sy tuis ondervind.

Shawn geniet dit om broodkrummels op die rooi baksteen oppervlak neer te gooi sodat die mossies dit kan oppik.

“Dis darem wonderlik hoe die heelal inmekaar pas,” begin Shawn. “Die boom gee ons skaduwee, ons sit hier en eet en gooi kos vir die voëltjies en die voëltjies woon weer in die boom. Dis so ’n perfekte geheel.”

Dis vir Sandy ’n interessante gedagte. Sy verlang ineens so na vrede en rus.

“Wat gebeur as die heelal nie ineenskakel nie?” vra sy.

 

“Die heelal vorm altyd ’n perfekte eenheid,” glimlag Shawn. “Die probleem is net dat mense dit nie besef nie.”

“Maar kyk hoe sukkel ek met my ouers?”

“Die moeilikheid lê in julle gedagtes. Julle is nie reg ingestel nie. Dis net soos ’n radio. As die radio nie mooi op die stasie ingestel is nie, is die klank onduidelik. Sandy, die heelal is perfek. Dit is ’n eenheid en absoluut in harmonie. Die vrede en eenheid is daar en ons is almal deel van die heelal en daarom is daar geen rede waarom ons nie ook mooi in die geheel moet inpas nie. As ons nie goed inpas nie, het ons iewers ’n verkeerde afdraai gevolg. Ons is uit kontak met die realiteit.”

“Ai, dit klink so goed en mooi,” mompel Sandy. “Maar kyk net vir ons. Ons is veronderstel om Christene te wees; ons moet mekaar liefhê en naby aan God leef, maar al wat ons doen is stry en baklei. Ek weet darem nie.”

“Ja, ek ken daardie gevoel, Sandy” glimlag Shawn. “Ek was ook eenmaal daar.”

“Nou hoe het jy dan die probleem opgelos?”

“Ek kon dit net vir myself oplos. Ek kan nie ander mense se gedagtes en idees verander nie. Dit is moeilik om te verduidelik, maar die feit is, as jy persoonlik op die regte golflengte ingeskakel is, sal dit jou nie hinder as ander mense af en toe uit pas is nie. Al daardie dinge is maar net illusies wat in die gedagtewêreld bestaan. Hou op om na die leuens van jou gedagtewêreld te luister. God is groot genoeg vir almal en Hy is in almal. Niemand kan Hom in ’n houer toemaak en gebruik volgens wat hulle glo nie.”

“Ag, ek wens net ek kon Hom regtig vind?”

“Haai jong,” troos Shawn en plaas sy hand op hare, “dis nie moeilik om Hom te vind nie. Ons is almal deel van Hom.”

“Wat bedoel jy?”

“Kyk, dis soos ek gesê het, die hele heelal is ineengeskakel, dis gemaak van dieselfde essensie, dieselfde gees, dieselfde . . . energie. En wat ons indiwiduele konsep van God ook al mag wees, ons weet almal dat daar ’n mag agter alles is. Daardie mag hou die hele heelal bymekaar. As daardie mag dan deel van die heelal is, dan moet dit tog ook deel van ons wees.”

Sandy kan alles nie goed begryp nie. Sy sug: “Dis ’n bietjie vreemd vir my. Ek huldig die Christelike denkrigting.”

“Ek sien. Maar jy moet onthou, godsdiens, enige godsdiens, is maar ’n deel van die groot geheel.”

“Nou klink jy soos Langstrat.”

“Wel ek dink sy het reg. As ’n mens mooi nadink, word alles duidelik. Dis soos die storie van die blinde mans wat ’n olifant raakgeloop het.”

“Ja, ek het dit al gehoor.”

“Maar kom ek herhaal dit. Elkeen van die mans het ’n ander persepsie van die olifant gehad afhangende van die gedeelte van die lyf wat hulle aangeraak het. Hulle het naderhand begin stry, net soos wat die aanhangers van die verskillende godsdienste vandag nog argumenteer. Elkeen het net ’n deel van die waarheid beetgehad en hulle kon mekaar nie vind nie!”

“Beteken dit ons is almal nes blindes?”

“Beslis. Ons is soos ’n klomp kruipende insekte wat op die grond rondkruip en nooit opkyk nie. As ’n mier kon praat en ons sou hom vra wat ’n boom is, sou hy waarskynlik sê daar bestaan nie so iets nie. Dis die probleem vandag. Almal het net ’n deel van die waarheid en die groot geheel beet. Het jy al bietjie van Plato geleer?”

Sandy lag en skud haar kop. “Ons het dit verlede termyn behandel, maar ek het niks daarvan verstaan nie.”

“Wel, hy het ook geglo dat daar ’n hoër werklikheid iewers moet wees, ’n ideale en perfekte werklikheid waarvan ons slegs ’n afdruk sien. Dit wat ons met ons beperkte begripsvermoê waarneem, is so onvolmaak en onvolledig dat ons nooit die heelal kan sien soos wat dit werklik is nie — ’n vloeiende, perfekte eenheid wat vlot funksioneer. ’n Mens kan byna sê die realiteit wat ons ken is maar net ’n illusie van iets wat ons vir onsself deur ons eie ego en selfsugtige begeertes geskep het.”

“Dit klink vir my soos Grieks.”

“Nie regtig nie. As mens hierdie dinge eers bestudeer, begin alles duidelik word.”

“Ja, as ’n mens dit bestudeer, miskien.”

“Maar Sandy,” hy leun vooroor en praat vertroulik,” eintlik is dit reeds in jou. Dink net daaraan.”

“Ek voel niks in my nie . . .”

“En waarom nie?” vra hy glimlaggend.

Sy sug: “Seker omdat ek nie op die regte golflengte ingestel is nie.” Shawn lag ingenome: “Dis reg, Sandy. Kyk, die heelal verander nie. Die mens moet verander. As ons nie ingeskakel is nie, is dit ons wat moet inskakel. Dis ons wat in ’n illusie lewe. Dus, as jou lewe in ’n gemors is, is dit eintlik ’n kwessie van hoe jy na die lewe kyk.”

“Wil jy my sê dis alles net in my gedagtes?”

Shawn hou sy hand omhoog: “Wag ’n bietjie, moenie opgewonde raak nie. Jy sal nooit regtig weet as jy dit nie eers probeer het nie. Luister net.”

“Na wat?”

“Na die windjie wat deur die blare ritsel. En die getjirp van die voëls.”

’n Paar oomblikke luister hulle in stilte. Dan praat Shawn, in ’n fluisterstem: “Wees nou eerlik, Sandy. Het jy al ooit in jou lewe ’n innige verbintenis met die natuur gevoel. . . die borme, die blare, die voëls. Het jy al ooit met ’n potplant gesels?”

Sandy knik instemmend.

“Dit voel vir jou aanneemlik, want jy het al voorheen daardie band met die heelal gevoel. Jy besef alles is een groot eenheid. En dis wat ek jou graag wil wys. Die waarheid is reeds in jou. Jy is ’n deel van God. Jy het dit net nooit besef nie. Jy wou jouself nie toelaat om dit te glo nie.”

Sandy sit doodstil. Sy luister na die voëls en die geritsel van die blare. Dit voel meteens vir haar asof sy vantevore hier was en of die bome en die blare na haar toe uitreik. Hulle wil met haar praat . . . kommunikeer.

En toe, vreemd genoeg, voel sy ’n vrede diep in haar hart. Vir die eerste keer in maande het sy vrede. Sy weet nie of dit sal voortduur nie, maar vir die oomblik voel sy rustig.

“Ek dink ek begin leer hoe om in te skakel,” sê sy sag.

Shawn gee haar ’n bemoedigende drukkie. Wat Sandy egter nie sien nie, is hoe Bedrog agter haar staan en sag, kalmerend oor haar rooi hare vryf. En hy praat met haar, sagte woorde wat sy nie regtig hoor nie, maar wat tog in haar onderbewussyn indring.

 

Tal en sy medewerkers is weer in die klein kerkie bymekaar. Hulle is in ’n goeie bui, want die oorwinning van die vorige aand het hulle baie bemoedig. En boonop het hulle getalle baie aangegroei, van drie en twintig tot sewe en veertig. Die bykomende magte is deur die gebede van die Oorblyfsel nadergeroep.

“Die Oorblyfsel,” sê Tal. “Ons moet die Oorblyfsel in hierdie dorp mobiliseer. Daar is altyd ’n oorblyfsel.”

En een na die ander begin die Hemelse Leërskare die name van gelowiges opnoem. Scion, ’n magtige held van die Britse Eilande vertel van John en Patricia Coleman, nog een noem Andy en June Forsythe wat die Verenigde Christelike Kerk verlaat het en by die Ashton Gemeenskapskerk aangesluit het. Hulle het ’n seun, Ron, wat nog soekende is. Guilo bring nog ’n verdere lys met heelwat name. Almal is opgewonde.

“Ons moet ook familie en vriende in ander dorpe en stede tot gebed oproep,” sê Tal. “Stuur boodskappers na die mense se beskermengele sodat hulle die persone tot gebed vir Ashton motiveer.”

“Reg,” sê Scion en stuur dadelik boodskappers om die opdrag uit te voer.

“O Tal, ek voel daar is nou beweging,” se Guilo opgewonde. “Weet Rafar dat jy hier is?”

“Ja, hy weet en hy verwag dat ons gaan veg. Maar ek veg nie voordat die gebedsondersteuning genoeg is nie, want hy voer beslis groot dinge in die mou. Dit gaan nie net oor Ashton nie. Daar is veel meer op die spel. Daarom moet ons gereed wees. Hoe gaan dit met Hogan?”

“Wel, Moedeloosheid is glo in die afgrond afgeslinger,” lag Guilo. “Hy het skynbaar misluk.”

“Hogan moet wakker gemaak word. Nathan! Armoth!” Die twee hemelse wesens kom dadelik nader. “Neem soveel hulp as wat julle nodig het en bly by Marshall Hogan. Moenie veg nie. Julle getalle moet hulle afskrik!”

 

Direk nadat Marshall met Harmel gepraat het, skakel hy Bernice. Hy beveel haar om die aand sewe-uur op kantoor te wees.

“Ons het werk om te doen,” sê hy dringend.

tien oor sewe en die kantore van die Basuin is verlate behalwe vir Marshall en Bernice wat in die agterste deel besig is om ou uitgawes van die koerant te deursoek. Al die vorige uitgawes is in groot lêers ingebind.

“Wanneer is Harmel uit Ashton weg?” mymer Marshall terwyl hy deur die lêers blaai.

“Omtrent ’n jaar gelede,” se Bernice en bring nog leers nader. “Die koerant was vir ’n paar maande sonder ’n redakteur — voordat jy gekoop het. Edie, Tom en ek het die besigheid aan die gang gehou. Soms was dit maar ’n taamlike gemors.”

“Ek soek die uitgawes van die maande voordat Harmel weg is. Wag . . . laat my sien. Hy is Julie weg.”

“Reg. Hier is Junie, Mei en April se uitgawes,” sê Bernice. “Waarom is Harmel hier weg?” vra Marshall. “Brummel het gesê hy het ’n meisie aangerand of so iets.”

“Brummel sê baie dinge wat nie noodwendig waar is nie.”

“Maar het hy of het hy nie?”

“Die meisie beweer hy het. Sy was omtrent twaalf jaar oud. ’n Dogter van een van die raadslede van die kollege.” Bernice frons nadenkend. “Ja, nou onthou ek. Dis Adam Jarred se dogter. Ek dink hy woon nog hier.”

“Is hy op die lys wat jy van Darr gekry het?”

“Nee, ek glo nie, maar ek weet Harmel en Jarred het mekaar goed geken. Hulle het dikwels saam gaan visvang. En Harmel het die dogter ook geken.”

“Maar waarom is hy nie vervolg nie?”

“Hy het glo voor regter Baker verskyn, die een op die lys, en toe is die saak geskik. ’n Paar dae daarna is Ted uit Ashton weg.” Marshall slaan met sy vuis op die lessenaar. Hy is baie opgewonde. “Ek moes Harmel nie kans gegee het om my te ontglip nie! Wag ... die saak het in Julie op die lappe gekom, nie waar nie?”

“Ja.”

“Die koerant sê nie veel oor die saak nie.”

“Wei, Ted sou seker nie dinge teen homself gedruk het nie. Maar in elk geval, selfs die sirkulasie van die koerant het afgeneem.”

“Aha, wat het ek hier!” Marshall is baie opgewonde en wys na ’n brief wat in die Vrydaguitgawe van die eerste week in Julie verskyn het. Hy lees hardop:

“Die onlangse artikels wat deur die Basuin gepubliseer is oor sogenaamde wanbestuur deur die kollegeraad, is niks minder as leuens en wanvoorstellings nie en ons hoop en vertrou dat die redakteur in die vervolg sy feite sal regkry voordat hy sulke bewerings maak . .

“Ja,” roep Bernice dringend uit. “Nou onthou ek. Dis ’n brief wat deur Eugene Baylor ingestuur is.” Sy druk haar hande teen haar gesig vas. “Natuurlik! Daardie artikels!” Haastig blaai sy deur die Junie uitgawes. “Hier is een.”

Die artikel lui:

STRACHAN EIS OUDITERING VAN BOEKE - Ten spyte van die teenkanting van die kollegeraad van Whitmore Kollege, dring die rektor, professor Eldon Strachan, op ’n ouditering van alle rekenings en beleggings aan. Hy voel baie verontrus oor bewerings van wanbestuur wat onlangs gemaak is. Strachan hou vol dat daar genoegsame rede is om die ouditering aan te vra, al sou die kollegeraad aanvoer dat so ’n stap onnodig en ’n vermorsing van geld sou wees.

“Sjoe,” sê Bernice. “Ek het nooit regtig besef wat aan die gang was nie. Ek het my nie veel aan die artikels gesteur nie. Harmel het daarmee gewerk.”

“Hmm, dus het die rektor en die kollegeraad oor hierdie aangeleentheid vasgesit.”

“Ted was ’n goeie vriend van Eldon Strachan. En hy het Strachan se kant gekies — iets waarvan die Raad nie gehou het nie. Kyk, hier is nog ’n berig.”

Marshall neem die koerant en lees:

RAADSLID VAL STRACHAN AAN

Raadslid Eugene Baylor, tesourier van die kollegeraad, het ’n striemende aanval op rektor Strachan geloods. Volgens horn sou professor Strachan valse insinuasies aangaande wanbestuur van fondse gemaak het. Hy beskuldig professor Strachan van ’n poging om sy eie belange in die kollege te bevorder.

Marshall lag saggies: “Beslis nie ’n ligte verskil van opinie nie.”

“Ja, die saak het bitter en baie persoonlik geword,” voeg Bernice by. “En Ted het seker te veel uitgevind.”

“Maar ons het geen feite nie,” opper Marshall.

“Wel, ons het hierdie artikels en Ted se telefoonnommer en die lys,” hou Bernice vol. “En die name van raadslede, die polisiehoof en ’n regter verskyn op die lys.”

In stilte lees Marshall die berig. Hy is nie voorbereid op die verskriklike besonderhede nie.

“Die artikel is nie heeltemal korrek nie,” verduidelik Bernice aangedaan. “Hulle het Pat nie in haar eie kamer aangetref nie, maar wel in ’n onbewoonde vertrek. Sommige studente het die kamer as ’n studielokaal gebruik. Niemand het geweet dat sy daar was nie tot . . . totdat iemand bloed onder die deur gesien het .

Die negentienjarige Patricia Elizabeth Kreuger se naakte liggaam is in die leë kamer aangetref. Haar keel was afgesny en sy was reeds dood. Die hele kollege was geskok oor die gebeurtenis, maar daar was geen getuies nie. Nog ’n latere artikel beweer dat daar geen leidrade was nie. Niemand het iets gesien of gehoor nie.

“En toe het hulle uiteindelik besluit dat my suster haarself kaal uitgetrek het en toe haar eie keel afgesny het,” eindig Bernice bitter.

Marshall is stomgeslaan. Hy plaas sy hand simpatiek op haar skouer. Hy het Bernice nog nooit so verwese gesien nie.

“Ek is opreg jammer,” sê hy sag.

“Dis ... dis waarom ek hierheen gekom het,” sê sy eindelik en vee die trane uit haar oë weg. “Ek kon die saak net nie so laat nie. Ek ken Pat. Sy sou nooit so iets gedoen het nie. Sy was ’n goed aangepaste, lewensblye mens. Al haar briewe het dit bevestig.”

“Kom ons span nou maar uit vir die nag,” stel Marshall voor. Maar Bernice hoor hom nie eers nie.

“Ek het alles nagegaan, haar kamer, die kamer waar sy dood is. Ek het ’n lys name van al die inwoners van die koshuis gekry. Ek het met elkeen van hulle gepraat. Ek het die polisieverslae nagegaan en die nadoodse ondersoek. Ek het al Pat se persoonlike besittings deurgegaan, op soek na ’n leidraad, maar ek kon niks vind nie. Een jammerte is dat Pat se kamermaat weg is. Ek kan nie eers haar naam onthou nie. Toe het ek uiteindelik besluit om maar ’n betrekking te bekom en hier aan te bly. Ek . . . ek sou my kans afwag.”

“Bernice, ek belowe jou, ek sal help waar ek kan.” Hy sit sy arm beskermend om haar skouers. “Jy hoef nie meer die las alleen te dra nie.”

“Ek . . . ek wil jou nie lastig val nie,” fluister sy aangedaan, tog kan hy aanvoel dat sy hom nodig het.

“Jy pla my nie. Sodra jy beter voel, kan ons alles weer nagaan. Miskien kan ons tog iets opgrawe.”

“As . . . as ek net meer objektief daaroor kon wees,” snik sy.

“Toe maar, ek sal daardie aspek probeer hanteer,” troos Marshall. “En ek sal by jou staan.” Sover Marshall kan onthou, is dit die eerste keer dat hy Bernice aangeraak het.

Vervolg...