PINKSTER 2015 (2)

Die Onse Vader

Ds Andrè van den Berg

Mt.6:9-13

2. “Laat u Naam geheilig word”

Ons het gesien dat die Onse Vader, alhoewel dit 'n gebed is, ook vanuit 'n ander hoek bekyk kan word - soos na 'n ID-boekie wat iets van die bidder sê.  En dis wat ons hierdie Pinkster doen: Ons blaai deur die Onse-Vader-ID-boekie se ses blaaie om op die ses eienskappe van ʼn gelowige te let.

 Gister het ons bladsy een onder oë geneem en gesien dat 'n gelowige iemand is wat God die Vader as hemelse Vader ken.  Vandag blaai ons om na bladsy twee en leer wat dit beteken om God se Naam te heilig.   Dit staan, om die waarheid te sê, op elke bladsy voorop want in hierdie gebed gaan dit primêr oor God en nie onsself  nie.   Die heiliging van God se Naam vorm deel van ʼn Christen se identiteit as Christen.

Die Naam van God is nie bloot ʼn naam soos wat ons aan naam dink nie.  In die Bybelse tyd het 'n naam ʼn persoon beskryf.   Sy naam was hyself. 

  'n Kind van God se begeerte is dat die Naam van God soos ʼn brandmerk in sy lewe sal wys.  Dis ʼn wonderlike Naam wat afgesonder/opsy gesit moet word.

Die heiliging van God se Naam is eerstens iets wat God self doen.  “Laat U Naam geheilig word” is ʼn smeekbede dat God self sy eie Naam sal laat heilig.   Dit sluit ons egter nie uit nie want waar heilig God sy Naam anders as in mense wat tot bekering kom, en hoe heilig mense dit?  Deur tot sy eer te leef.

Heilig beteken afgesonder of opsygesit vir ʼn doel.  Dis sigbaar en heel prakties.  Dis nie dooie teorie waarvan ons kennis neem en huistoe gaan nie.   Ons kan God se Naam alleenlik heilig as die Heilige Gees beheer van ons lewens het.  Want dan eers het ons God bo alles en almal lief en heilig Hy sy Naam in ons.

Dit bring ons by 'n kernvraag waaroor mense dikwels wonder: Wat is ’n Christen?   Is dit die nakom van sekere godsdienstige pligte, gereelde gebed, Bybellees, kerktoe gaan, bydraes gee en mooi leef?   Is Christenwees om ordentlik te leef, nie te lieg, te steel en ander te benadeel nie?  Nee, die kern van Christenwees het niks met die uiterlike nakom van pligte te doen nie, maar met ʼn innerlike greep wat God deur sy Gees op 'n mens verkry en behou.

Waar sien ons dit duideliker as in Petrus se lewe?  Waarom het Jesus hom drie maal gevra: Het jy My lief? en was Petrus drie maal hartseer?   Omdat hy Hom drie maal verloën het; een liefdesverklaring vir elke verloëning.   Let daarop dat dit Christus was wat hom nader getrek het.   As dit van Petrus afgehang het, sou hy op die agtergrond gebly het.  Jesus trek Petrus t.w.v. die heiliging van God se Naam nader.  Daar sou op Pinksterdag ʼn ingrypende ommekeer in sy lewe kom. Petrus preek na die uitstorting van die Heilige Gees vreesloos in die tempel en speel daarna ʼn baanbrekersrol in die eerste Christenkerk.

Moenie dink dat Petrus nie werklik ʼn gelowige was toe hy Jesus verloën het nie.  Hy was.  Dit wys weereens watter pad die Here soms met sy kinders loop en dat die pad van oorwinning soms deur dieptes gaan soos wat Petrus beleef het.  Ná die uitstorting van die Heilige Gees het Jesus al hoe meer die eerste plek in Petrus se lewe gekry en het Hy sy Naam in hierdie dissipel se lewe geheilig.

Gelowiges is hemelburgers.   Hulle is ʼn heilige kolonie van God op aarde met vreemdelingstatus omdat hulle ʼn ander kultuur en lewenswaardes as die gasheerland verteenwoordig.  Hul eiesoortige taal en leefstyl onderskei hulle van die ander burgers want hulle is heilig en hulle heilig die Naam van God.

Maar hoe heilig ons die Naam van die Here in die alledaagse lewe?

  1. Eerstens deur ons mond.  Ons gesprekvoerings moet van ʼn veranderde/omgekeerde lewe  getuig.  Christene praat dinge wat hul hoorders tot geestelike stigting dien.
  2. Tweedens heilig ons God se Naam deur ons gedagtes wanneer ons opkomende bose gedagtes stuit en ons humeure deur die Gees laat beheer.
  3. Derdens heilig ons die Naam van God deur ons lewenswyse.  ʼn Gelowige se geloof en lewe moet so eenders wees, dat as hy uitgedaag word om te getuig, hy nie sal huiwer nie.
  4. Vierdens heilig ons God se Naam in ons gesinsverband:  Dissiplineer ons die kinders wat God ons gegee het?  Leer ons hulle om eerbied vir Hom te hê? As jou huisgenote se lewensloop nie van God getuig nie, loop hulle in die verkeerde rigting!

Die heiliging van Jesus se Naam bring krag en blydskap in ons lewens.   Kyk weereens na die krag in Petrus se lewe na die vervulling met die Heilige Gees.   Eers was Petrus se lewe betreklik kragteloos omdat hy kompromieë met die wêreld aangegaan het.   Hy wou op twee stoele gelyktydig sit.  Dit loop altyd op ʼn ramp in ʼn gelowige se lewe uit.  Om Jesus Christus vir ander goed te kompromitteer, bring net hartseer.

“Laat U Naam geheilig word” beteken dat ek geen kompromieë met die wêreld aangaan nie.  Jesus Christus is eerste in my lewe.  En dit begin nie met die tong nie, maar met die hart.

In aansluiting by hierdie tweede bede moet ons ook op die derde gebod let wat teen die ydele gebruik van God se Naam waarsku.  In die Hebreeus staan daar letterlik:  jy mag God se Naam nie vir sinnelose dinge aanwend nie.  Dit mag slegs in baie ernstige sake en met groot omsigtigheid gebruik word.

Toe God Israel uit Egipte gelei het, het Hy vir Hom groot Naam onder hulle gemaak.  Hy het die Farao, wat as ʼn oppermagtige aanbid is, op sy knieë gedwing!   Op pad na die beloofde land was die volk deeglik bewus van God se leiding en daaglikse versorging in die woestyn.  Daarom moes Israel sy Naam as iets groots en heilig beskou en dit slegs met eerbied en ontsag gebruik.  Met hierdie gebod het God as’t ware ʼn wag oor sy verhewe Naam aangestel.  Die nakoming van hierdie gebod is so ʼn ernstige saak dat daar selfs ʼn toevoeging aan verbonde is – wie dit oneerbaar gebruik, sal God se straf ontvang!

Gelowiges moet as begenadigdes God se Naam met eerbied gebruik en ook bid dat die ganse mensdom daaraan sal meedoen.   Die misbruik van God se Naam moet soos ʼn swaard in elke Christen se hart steek.   Ongelowiges gebruik graag God se Naam as ʼn kragterm.  Wat doen ons daaraan?   Watter kind sal stilbly as sy ouers se naam deur die modder gesleep word?  Hoeveel te meer nie ons hemelse Vader s’n nie!    Ons het as sy kinders ʼn dure verpligting om sy Naam te eer en te verdedig.  Doen dit met oorgawe!