Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe kom Jesus aarde toe? As ‘n Regter; Openbaring is duidelik hieroor. Met sy eerste koms het Jesus as ‘n nederige dienskneg gekom. Met sy tweede kom Hy as Regter en dit gaan vreeslik wees: “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het....” (Openb.20:11).
PINKSTER 2015 (1)
Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mattheus 6: 9-13
1. “Onse Vader wat in die hemele is.” (:9)
'n Christen is iemand wat God as hemelse Vader ken en Hom so in gebed aanspreek. Ek is seker dat toe u gehoor het dat hierdie jaar se Pinkster oor die Onse Vader gaan, u ʼn reeks oor gebed verwag het. Die Onse Vader is immers die modelgebed wat Jesus aan sy dissipels gegee het in antwoord op hulle versoek: “Here, leer ons bid.” (Luk 11:1). Daar is egter ook 'n ander manier om na die Onse Vader te kyk waarop ek u aandag hierdie Pinkster wil vestig. In hierdie gebed is daar ses kenmerke van 'n Christen se lewe wat hom/haar as kind van God kenmerk amper soos 'n identiteitsdokument.
Die Onse Vader is ons geestelike ID-boekie. As dit oopgemaak word, sien jy onmiddellik ses kenmerke wat van 'n mens ʼn kind van God maak. Die eerste ding wat opval, is dat die mens God as sy hemelse Vader ken. Noem dit maar die eerste kenmerk van 'n Christen se identiteit. Dit is immers die manier waarop ons Here Jesus hierdie gebed laat begin het: “Onse Vader wat in die hemel is.” Die eerste aanduiding dat iemand tot bekering gekom het, is dat hy God as Vader aanspreek.
Die vraag is: Moes hierdie modelgebed nie eerder met Jesus begin het nie? Dis tog Hy wat ons deur sy bloed gered het? Wanneer iemand vir die eerste keer tot die saligmakende geloof kom, is alle fokus tog op Jesus. Jy plaas jou vertroue juis op sy versoenende verdienste aan die kruis.
Hoe moet ons dan die Onse Vader verstaan as jou nuutgevonde geloof in Jesus jou fokus na God die Vader verplaas en jou leer om primêr op die Vader te fokus wanneer jy bid. Let op hoe Jesus die dissipels leer bid : Hy leer hulle nié om die gebed met Onse Here Jesus te begin nie, maar om op God as die Vader te fokus.
Dit beteken nie dat dit verkeerd is om tot Jesus te bid nie. Dink maar aan Stefanus se woorde toe hy met klippe doodgegooi word: “Here Jesus, ontvang my gees.” (Hand 7:59). Met die Onse Vader leer Jesus gelowiges dat 'n kind van God heel eerste moet leer dat sy verhouding ten diepste ʼn verhouding met God die Vader is. Dis een van die duidelikste bewyse van bekering – hy noem God met groot eerbied Vader. Voor sy bekering het hy sommer van die Oubaas, Hoërhand” of Man daarbo gepraat, maar nie na die bekering nie. Dan leer jy Hom as Vader ken.
Dis egter nie enige mens se reg om Hom Vader te noem nie. Mense dink verkeerdelik dat Hy alle mense se Vader is. In Joh.8:44 sê Jesus by geleentheid vir die Fariseërs: “...julle het die duiwel as vader.” En Paulus sê in Efes.2:3 dat ons – voordat ons Christene geword het – van nature “kinders van die toorn” was. Nee, niemand durf God as Vader aanspreek net omdat Hy die Skepper is nie. Die geheim lê in Joh. 8:42 opgesluit: Alleenlik diegene wat tot bekering gekom het, het die reg om God hul Vader te noem. Jou hart moet eers reg wees voordat jou mond reg is!
Slegs diégene wat deur die bekering hulle volle vertroue op die Here Jesus Christus se kruisdood en opstanding uit die dood plaas, kan God as Vader ken en aanroep. Hierdie vertroue verander die hele koers en fokus van ʼn mens se lewe radikaal. Jy word inderdaad 'n nuwe mens. God is nie langer die oubaas of die man daarbo nie, maar die Vader wat in die hemel is.
Waarom bid Jesus die woorde: “...wat in die hemel is”? Waarom is dit belangrik? Omdat God die gans andere is en ons nie aards van Hom moet dink nie. Ek sidder as ek hoor hoe oneerbiedig mense van God praat – so familiêr! Nee, Hy is in 'n klas van sy eie en niemand se goeie pêl nie. God is verhewe in majesteit en eerlikheid. Daarom staan ons voor Hom in eerbied en vrees. Wat 'n reuse verskil maak dit nie in ons lewens nie om eerbiedig voor Hom te lewe!
Hy woon immers in die hemel en ons die aarde. Dis so anders as die soort erediens wat in baie kerke aan mense opgedis word, waar die eerbied vir God verlore geraak het. Leraars moet baie meer klem daarop lê dat God in die hemel is, dan sal die mens sy eie plek op aarde beter leer ken.
Tog is God ook baie soos ons aardse vaders - net so min as wat 'n goeie aardse pa goeie dinge van sy kind sal weerhou, nog minder sal God dit doen. Jesus sê in Mt.7:13 dat God sy kind nie 'n slang sal gee as hy om ʼn vis vra of 'n klip as hy brood vra nie. Die Onse Vader leer ons dat die hart van God ten diepste 'n Vaderhart is. Dit staan heel voor in ons geestelikde ID boekie - gelowiges is mense wat al hoe meer besef wat die Vaderhart van God persoonlik in sy daaglikse lewe beteken.
Jou hele lewe word ten diepste bepaal deur hoe jy oor God dink. Dis nie maklik om net te sê : Hy is ʼn Vader nie. Baie mense het ʼn negatiewe vaderbegrip. Met watter prentjie van ʼn vader het jy grootgeword? Jy dra so maklik daardie prentjie op God oor. Daarom is dit noodsaaklik dat ons ons prentjie van God as Vader uit die Woord moet kry. Die Bybel is God se selfopenbaring van Homself aan ons. As Hy nie Homself vir ons gewys het nie, sou ons absoluut niks van Hom geweet het nie. Die Bybel trek die gordyn vir ons oop sodat ons kan sien dat God ʼn Vader met ʼn vaderlike hartklop is.
Hoe lyk hierdie Vaderhart? ʼn Vader wat intens in die alledaagse lewe van sy kinders betrokke wil wees. Elke mens het van hul eerste baba-dag af drie basies behoeftes: jy wil voel dat jy waarde het, aanvaar word en liefde ontvang. En dis wat die Vader bied – jy is vir Hom waardevol, aanvaarbaar en liefdevol. Dit geld egter nie vir alle mense nie; slegs vir die skape van sy kudde, hulle wat in Christus nuwe mense geword het.
Hierdie waarheid word vir ons meesterlik in Lukas 15 in die Gelykenis van die Verlore Seun opgeteken. Jesus skuif die gordyn weg sodat ons binne-in die Vaderhart van God kan inkyk. Wat het die verlore seun laat besluit om na sy vader terug te gaan? Hy het geweet wat sy vader se gesindheid was en hoe sy vaderhart geklop het. Kyk hoe teken ons Here Jesus hierdie vader - die onvoorwaardelike liefde. Die seun hoef nie aan 'n lys voorwaardes te voldoen of 'n proeftydperk uitdien nie. Die gesindheid van die Vaderhart het hierdie seun laat terugkeer.
God se vaderhart is egter nie iets waarmee ons durf mors nie. Ons redding is immers hieraan te danke. Was dit nie vir sy vaderhart en liefde vir verlore seuns en dogters nie, sou Jesus nooit aan ʼn kruis vir al ons sonde gesterf het nie. Dis nie ʼn goedkoop saak nie!
Hy smag daarna om ons foute en tekortkominge in iets positief te omskep. Daarom poog Hy altyd om ons vanuit ons natuurlike verdorwenheid na sy heerlikheid terug te bring. Ps.91 verseker ons dat Hy ook beskermend optree. Hy is soos ʼn sekuriteitsmuur!
Let ten slotte op hoe God se vaderhart vanuit sy verskillende Hebreeuse name opklink:
Adonai (Gen.18:3,27): Heerser, Heer, Hoogste in bevel. Elohim (Gen.1:2,4): Skepper, Soewerein, Heerlikheid. El-Olam (Gen. 21:33): die Ewige, Een met geen begin of einde. El-Elyon (Gen. 14:19): Hoogste een. El-Shaddai (Gen. 15:8): die Algenoegsame. Yahweh: God van die verbond. Yahweh-Yireh (Gen. 22:14): die Here voorsien. Yahweh-Rofe (Ex. 15:26): Here genees. Yahweh-Nissi (Ex. 17:15): die Here is my banier. Yahweh-Shalom (Eseg.38:35): die Here is vrede. Yahweh-Rohi (Ps. 23:1): die Here is Herder. Yahweh-Shammah (Eseg. 48:35): die Here is hier.
Opgesom: God het ʼn vaderhart. Ons bid tereg as ons bid: “Onse Vader.....”