Toe hoor God die stem van die seun en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou , Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. Genesis 21:17
In hierdie aangehaalde vers praat die Bybel die heel eerste keer van Die Engel van die Here. Ons lees op baie plekke van engele wat vir die mense gebruik word as boodskappers van God. Die Here gebruik hierdie hemelse wesens in verband met sy openbaring in sy verbond en sy genade.
Maar by die neerdalende en onthullende selfopenbaring van die Here, praat die Skrif van die Engel van die Here. So het Hy ook as een van die drie manne aan Abraham verskyn en met hom gepraat oor Isak se geboorte en vir Sara berispe omdat sy dit nie wou glo nie. Hy het aan Jakob verskyn by Beth-el en later met Jakob letterlik gestoei by die spruit Jabbok Ons lees in Exodus 3 hoe die Here aan Moses by die brandende bos verskyn het. Hier het Hy vir Moses gesê sy Naam is Jahwe: EK IS WAT EK IS.
Die profesie wys Hom dan ook aan as die Here wat in die Messias, die Christus , vlees sou word. Hy is God, deur God gestuur, die Middelaar van die verlossing en die openbaring van die Here. Hy is die Engel van die Here, maar terselfdertyd ook die Here self. Daarom kan ons met sekerheid aanneem dat dit Christus was wat as die Engel van die Here die heel eerste aan Hagar verskyn het,
Die Engel van die Here is maar een van die lieflike name van die Here Jesus Christus. In Jesaja 9:5 word van Hom as Messias gesê: Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.