WAAROM IS KLONING VERKEERD?

Dr Elmer L Towns

Die liggaam bestaan uit mikroskopiese selle, elkeen met 'n kern. Elke kern het 'n stel chromosome wat onder meer die kleur van die vel en die oë bepaal. Tydens bevrugting ontvang 'n nuwe baba die helfte van die gene van die pa en die ander helfte van die ma. Daardie samesmeltingsproses verseker dat geen twee kinders van dieselfde ouers dieselfde kombinasie van gene het nie. Elke kind is absoluut uniek!

Die kloningsproses behels die verwydering van die kern van 'n bevrugte menslike eiersel en die vervanging daarvan met 'n kern van die mens wat gekloon moet word. Die eiers word toegelaat om te groei en word in 'n moeder se baarmoeder ingeplant.

Kloning is verkeerd omdat die 'ingenieur' of wetenskaplike homself tot die vlak van God verhef. Hy probeer doen wat God doen deur te probeer bepaal hoe 'n mens sal wees, en hy betree dus die gebied wat God vir Homself bestem het. As 'n ingenieur 'n mens kan kloon, kan hy of sy die feit probeer weerlê dat daar ooit 'n God of Skepper was en kan hy die 'nodigheid' van leiding, beskerming en selfs redding deur God wil teëspreek.

Tweedens word die ingenieur nou die besluitnemer oor wie sal leef, wanneer hulle leef en hoe hulle leef. As die ingenieur toegelaat word om te bepaal watter 'bevrugte eier-persoon' leef, sal hy of sy uiteindellik ook toegelaat word om te bepaal wie sal sterf.

'n Deel van die motivering agter kloning is 'selektiewe teling'. Waarom? Omdat mense nie tevrede is met die kinders wat gebore word (of gebore gaan word) nie – hul geslag, lewenskwaliteit, en so meer. Die ingenieur wil met selektiewe teling die menslike ras 'verbeter.'

Mense vra drie basiese vrae: "Waar kom ek vandaan?"; "Wie is ek?"; en "Waarheen gaan ek?"

As mense gekloon kan word, sal hulle hierdie vrae sonder God moet beantwoord.

"Waar kom ek vandaan?" kan beantwoord word deur evolusie.

"Wie is ek?" sal deur kloning beantwoord word.

"Waarheen gaan ek?" kan deur humanisme beantwoord word.

God se plan vir voortplanting is dat 'n mens 'n mens voortbring. In die begin het God vir Adam en Eva gesê: "Wees vrugbaar, vermeerder..." (Gen 1 : 28). Wanneer iemand kloning aanpak, probeer hy of sy vir God vervang, in beide begeerte en bestemming.

Nog iets oor kloning: Die wetenskaplikes, soos Ponce deLeón, soek na die fontein van ewige jeug. Omdat daar in die mens 'n verlange is om vir ewig te lewe en die 'ingenieur' God se plan van ewige lewe verwerp, wil mense hulself kloon sodat hulle kan leef nadat hulle gesterf het – in die lewe van die volgende mense wat uit hulle gene gekloon is.