PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Pinkster 2014

IN GOD SE OEFENSAAL

Sang

Skrif: Ps.147:1-9; 149 +150

Sang: Ps75:1+6; Ges.227:1

Teks:  “Loof die Here, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; ’n loflied is gepas!” (Ps.147:1)

Ons is al deur twee oefeninge in God se oefensaal - gebed en meditasie.  Die derde oefening is sang/lofprysing wat ons in ’n geestelike rykdom laat deel.  Ongelukkig ervaar baie mense niks hiervan nie en sing sonder emosie of glad nie!   Die sing van geestelike liedere het groot waarde en is ’n vereiste vir almal wat geestelik fiks wil word.

Geestelike sang is onontbeerlik vir geestelike fiksheid omdat dit drie waardes het; boon-toe, buiten-toe en innerlik.  Na bo: Ons sing eerstens om God te loof.   Die Engelse “hymn” kom van die Griekse humnos en beteken ’n lied ter ere van. Psalms roep gelowiges op om God met sang te loof: “Psalmsing tot eer van die Here, o sy gunsgenote en loof sy heilige gedenknaam” (Ps.30:5).   “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van onse Koning, psalmsing!” (Ps.47:7).   “Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!” (Ps.95:1).

Om God te loof, behoort vir gelowiges natuurlik te wees: “ Geloof sy die Here, want Hy het die stem van my smekinge gehoor.  Die Here is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang” (Ps.28:6,7).   Paulus en Silas het selfs onder die moeilike omstandighede gesing – in die tronk! “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Hand.16:25).

Geestelike sang het nie slegs waarde boontoe nie, maar ook buitentoe om mekaar te versterk:  “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.  Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here” (Kol.3:16).  Ons versterk mekaar met geestelike sang: “Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag; met Sy wapenrusting klee Hy ons met krag…” (Ges.298).

Baie van ons geestelike liedere is geskryf om mekaar te vermaan om reg te leef en so die seën van die Christelike lewe te geniet.  Gemeentesang is tot ’n mate ook gemeente-onderrig.   Medegelowiges het die geestelike bemoediging wat uit gemeentesang spruit baie nodig!

Benewens God te verheerlik en mekaar te bemoedig, is geestelike sang  nood-saaklik vir innerlike versterking.   Dis die drie waardes – na bo, na mekaar en na onsself.   Een man wat hierdie waarde besef het, was Dawid. “My lippe sal jubel as ek psalmsing tot u eer en my siel, wat U verlos het” (Ps.71:23).  “Loof die Here, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; ’n loflied is gepas!” (Ps.147:1).   Hartlike sang getuig ook van ’n vervulling met die Heilige Gees.  Paulus vermaan die Efesiërs: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Efes.5:18).  Vir ’n Geesvervulde lewe is sang onontbeerlik.   Sang is ’n wonderlike oefening wat God verheerlik, medegelowiges bemoedig en onsself geestelik fiks maak.

Hier is ’n paar wenke om meer nut uit hierdie oefening te put.   Gebruik jou kop en dink wat jy sing want sang is onderrig en vermaning.   Gevolglik moet jy kan verstaan wat jy sing:   “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid.  Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing” (1 Kor.14:15).

Moet egter nie net jou kop gebruik as jy sing nie, maar ook jou hart: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here” (Efes.5:19).  “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.  Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here” (Kol.3:16).

Om sonder emosie of dankbaarheid te sing, is skynheiligheid!  Christus sê van Israel: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met hulle lippe, maar hulle hart is ver van My af” (Mt.15:8).  “’n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig” (Spr.15:13).  “Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurig fees” (vers15).

Maak ’n punt daarvan om baie meer te sing.  Moenie dat jou geestelike sang net tot eredienste beperk is nie.  Sing waar jy ook al is of gaan – tuis of op pad.    Sang is soos gebed – dit moet spontaan wees en waar ook al die geleentheid hom voordoen, goed of sleg.  “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Hand.16:25).   Maak gebruik van spesiale geleenthede om te sing soos kerkkoor en spesiale sangdienste.  Sang  is ’n geestelike oefening wat privaat sowel as in die openbaar beoefen moet word.

Dawid het goed gedoen in God se oefensaal:

Maar ek – op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil.  Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goedgedoen het” (Ps.13:6).

My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing. Waak op, my eer!  Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak!  Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies” (Ps.57:8-10).

Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is” (Ps.104:33).

In Ps.149 leer Dawid ons om in die openbaar sowel as tuis te sing: “Halleluja! Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sy lof op die vergadering van die gunsgenote!” (:1).  “Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde” (:5).

Paulus skryf aan Timotheüs: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels en oefen jou in die godsaligheid” (1Tim.4:7).  Ons moet ons in die godsaligheid oefen.  Beskou geestelike sang as ’n onontbeerlike oefening daarin.