Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowige volksleiers het ‘n sterk sin vir reg en geregtigheid wat nie deur wette bepaal word nie, maar deur die Woord van God en die lewens-insig wat Hy aan gelowiges gee. Gevolglik kan ‘n gelowige volksleier hom nie met ‘n teenstrydige waardesisteem versoen nie. Hy laat hom nie deur onregsdienaars beïnvloed nie en lei eerder self onreg as om volksgenote te veronreg.
AS 'N ENGEL VERVEER (15) (SLOT)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
DAWID SE LAASTE DAE
"Ek is bekommerd oor ons heer se gesondheid. Hy gaan merkbaar agteruit" sê Ammisaddai, die dokter wat na Dawid omsien.
"Ek is net so bekommerd. Hy is nie meer wat hy was nie. 'n Mens kan sien dat die ouderdom hom inhaal" stem Helon met die ou geneesheer saam.
"Toe hy vyf jaar gelede Jerusalem ná die beëindiging van die opstand binnegery het, was hy nog regop en vier. Kyk hom nou!" sê Ammisaddai en sug hoorbaar.
"Sal ek dit ooit vergeet!" beaam Helon.
"Hy kla gedurig dat sy voete koud bly. My geneesmiddels help nie meer nie" sê Ammisaddai mismoedig.
"Ek bid dat die Here hom nie van ons wegneem nie. Israel het hom nog so nodig" sê Helon bewoë.
"Ja, ek kan Israel nie sonder hom indink nie. Dawid is Israel en Israel is Dawid" sê Ammisaddai gedemp.
"Miskien moet ek 'n verpleegster kry om hom te versorg en ons op hoogte van sake hou" stel Helon voor.
"Dis 'n goeie idee" stem Ammisaddai saam.
"Ek gaan dit met ons heer bespreek" willig Helon in.
o0o
"Mag ek my heer pla?" vra Helon toe hy by Dawidse kamer instap.
"Jy pla nie, my seun, kom sit gerus" wink Dawid hom nader.
"Ons is besorg oor u gesondheid, veral omdat u gedurig koudkry. Mag ek vir u 'n verpleegster in diens neem? Dan kan sy snags by u voete lê en dit warm hou" stel Helon voor.
"Solank sy jonk en mooi is!" spot Dawid met 'n ondeunde glinstering in die oog.
Helon lag.
“Weet jy dalk van iemand?” vra Dawid.
"Ek weet van 'n bekwame jong verpleegster. Sy is 'n Sunamiet en ook baie mooi" terg Helon goedig.
"Laat haar gerus kom" sê Dawid.
Wanneer Abisag twee dae later voor Dawid staan, beskou hy haar aandagtig. Helon was reg, sy is werklik baie mooi. Sy is slank met mooi gevormde heupe en pragtige groen oë.
"Wat is jou naam en waar kom jy vandaan?" vra Dawid belangstellend.
"My naam is Abisag. Ek kom van Betanië, my heer" antwoord die meisie skugter.
"Hoe oud is jy en waar het jy jou opleiding ontvang" vra Dawid.
"Ek is twintig jaar oud en het my opleiding by Ahiëser, die geneesheer van Betanië ontvang, my heer" antwoord Abisag skugter.
"Ek ken Ahiëser goed. Hy het my jare gelede teen ‘n kwaal behandel. Hy is werklik 'n puik geneesheer" sê Dawid.
"Is jy gewillig om in die paleis te bly vir solank as wat ek jou dienste mag benodig?" vra Dawid.
"Ek is, my heer" sê Abisag dankbaar-gedienstig.
"Jy is so pas aangestel" sê Dawid en glimlag.
Daardie aand gaan Abisag by Dawid se voete lê. Sy voel effens ongemaklik. Abisag was nog nooit by 'n man in die bed nie, al is dit net aan die onderpunt. Nogtans is sy dankbaar vir die werksgeleentheid om haar koning te mag dien.
"Ek is bevoorreg om 'n jong verpleegster in my diens te hê" heet Dawid haar weereens welkom.
"Dis vir my 'n eer om u te mag dien, my heer. Ek hoop ek stel u nooit terleur nie" antwoord Abisag.
"Ek is seker jy sal nie. Doen maar net wat van jou verwag word" stel Dawid haar gerus.
"Ek sal my bes probeer, my heer. Moenie huiwer om my tereg te wys as ek ‘n fout maak nie, ek leer nog" sê Abisag eerlik.
"Mag ek jou 'n persoonlike vraag vra?" vra Dawid.
"Vra maar, my heer" antwoord Abisag.
"Het jy al met ‘n man omgang gehad?" vra Dawid.
"Nee, my heer, ek is nog 'n maagd" antwoord Abisag.
"Ek is bly om dit te hoor. Hou dit so vir jou toekomstige man" sê Dawid en wens haar 'n goeie nagrus toe.
Dawid geniet die warmte van die jongvrou aan sy voete. Stoute gedagtes maal deur sy kop. As hy maar net ‘n paar jaar jonger was, sou sy nie aan die onderpunt van die bed gelê het nie! Ongelukkig laat sy gesondheid sekere dinge nie meer toe nie. Gelukkig kan hy darem nog droom!
“Sadok is hier om u te spreek" kondig Palti die ontvangsbode aan.
"Stuur die priester maar in" antwoord Dawid en stut hom op die een arm.
"Ek groet u in die Naam van die Here!" sê Sadok en buig eerbiedig.
"Kom sit hier naby my" nooi Dawid hom.
Sadok kyk Dawid simpatiek aan. Hy het gehoor dat Dawid feitlik heeldag aan ‘n bed gekluister is. Sadok kan nie glo dat dié sterk man van weleer so vinnig agteruit gegaan het nie.
"Ek het ‘n gewigtige saak om met u te bespreek, my heer” sê die priester ernstig.
“Praat gerus” nooi Dawid hom.
“Uit die aard van my werk kom ek elke dag met volksgenote in aanraking. Hulle is bang dat u kan sterf sonder om ‘n opvolger aan te wys" sê Sadok ernstig.
"Ja, my uurglas is besig om uit te loop” beaam Dawid.
"Ek wil nie vir u voorskryf wat om te doen nie, my heer. Die volk sal egter meer gerus wees indien u 'n troonopvolger aanwys. Dit sal hom in staat stel om gereed te maak vir die dag wanneer u nie meer met ons is nie" moedig Sadok hom aan.
"Jy is reg, my vriend. Daar is spanning onder my seuns oor wie my gaan opvolg. Miskien moet ek maar een aanwys en klaarkry" sê Dawid.
"Hoe kan ek u help?" bied Sadok hulp aan.
"Laat die volk môremiddag voor die paleis byeenkom dan sal ek my opvolger aanwys" sê Dawid en sak uitgeput terug in sy bed.
"U doen die regte ding, my heer!" sê Sadok baie in sy skik.
o0o
Die volgende middag drom ‘n reuse skare voor die paleis saam. Almal wonder wie Dawid gaan opvolg. Adonia is ‘n groot gunsteling. Hy is immers die oudste. Ander hou weer van die jong Salomo met sy sprankelende persoonlikheid.
Die skare raak stil wanneer Dawid op sy drastoel in die voorhof verskyn. Sy wit hare skyn soos sneeu in die winterson. Hy is in die winter van sy lewe.
"Vriende, volksgenote en vreemdelinge, ek groet julle vir oulaas as koning” begin Dawid die volk toe te spreek nadat Adonia en Salomo langs hom stelling ingeneem het.
"God het aan my groot guns betoon deur my veertig jaar lank oor Israel te laat regeer. Ek het die welwese van sy volk altyd voorop gestel en gevolglik besluite moes neem wat my soms ongewild gemaak het. Dit was egter altyd in Israel se belang. Ten spyte van al die suksesvolle veldslae en vreugdevolle ervarings van my lewe, het ek ook foute gemaak – groot foute! Al was ek ‘n begenadigde van God, het ek nog steeds 'n sondaarmens gebly, ja, soos ‘n engel wat verveer het. God het my altyd vergewe en 'n oorwinningslewe laat ly. Nou het die tyd aangebreek dat dit vir Israel beter sal wees as ek die koninskap neerlê en my opvolger aanwys. Ek het God gevra dat Hy vir my die regte een moes aanwys en Hy het” sê Dawid.
Die skare is doodstil. Wie gaan dit wees?
"Salomo sal my opvolg" sê Dawid en wink Salomo nader.
"Mag koning Salomo vir ewig lewe! Mag koning Salomo vir ewig lewe" juig die skare wanneer die jongman voor Dawid kniel.
"Mag jy dieselfde genade as ek ontvang om die volk van God in wysheid en geregtigheid te lei" sê Dawid en plaas sy hand op sy seun se geboë hoof.
"Ek sal, my vader!" beloof Salomo bewoë.
"Wees sterk my seun, en gedra jou altyd soos 'n kind van God ongeag watter lig of skaduwee op jou lewenspad mag val. Hou rekening met God en die Wet wat Hy vir Moses gegee het. Dis die pad van die lewe. Wyk nie links of regs daarvan af nie. As jy aan God gehoorsaam is, sal jou koningskap voorspoedig wees en die troon van Israel aan jou nasate behoort" sê Dawid en sak uitgeput terug in sy stoel.
En drie dae later het die engel sy laaste veer laat val.
Einde