Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou BYBEL soos koek vir spesiale geleenthede gebruik, sal jy op 'n plek kom waar jy verhongerd staan omdat jy dit nie as Brood vir elke dag gebruik het nie.
AS 'N ENGEL VERVEER (14)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
BURGEROORLOG
Dawid was vir Batseba baie lief, so ook die vrug van haar skoot. Hierop was sy ander seuns baie jaloers en het geen geleentheid laat verbygaan om die klein Salomo af te knou nie. Dan het hy na sy pa gehardloop wat hom op sy skoot getel en liefderyk vertroos het.
Soos Salomo groter geword het, het die band tussen hom en sy vader al hegter geword. Hy het van jongs af in regspleging en landsake belanggestel en geniet om met buitelanders te gesels. Hulle kon oor die jong seun se sprankelende persoonlikheid en buitengewone intellek nie uitgepraat raak nie. Salomo het geen gelyke gehad nie.
Van die onderdane het later begin bespiegel dat Salomo sy vader as koning van Israel sou opvolg. Ander het dit weer as wensdenkery afgemaak en geglo dat dié eer Absalom, die oudste seun, sou toekom. Alhoewel dit algemene gebruik in Israel was dat die oudste seun sy vader as koning sou opvolg, was dit geen uitgemaakte saak nie. Die finale besluit het by die koning self gelê. Sy besluit is altyd eerbiedig.
Absalom was van meet af aan op Salomo jaloers omdat hy soveel aandag geniet het. Salomo was slim, diplomaties en baie gewild. Absalom daarenteen was ontaktvol, onaansienlik en geensins gewild nie. Hy het graag sy gewig rondgegooi en mense gehiet en gebiet. Absalom wou die koningskap te alle koste bekom, al moes dit ook met geweld wees! Hy het Dawid doelbewus begin ondermyn en met sy nuwe aanslag baie volksgenote se guns gewen.
"Waarom wil jy wag totdat jou vader sterf voordat jy die koningskap vir jouself opeis?" vra Agitofel.
"Hoe bedoel jy?" vra Absalom sy hoofraadgewer en vriend.
"Jou vader kan nog lank leef. Sal Israel jou miskien oor vyf of tien jaar nog steeds geesdriftig steun? As ek jou raad kan gee, moet jy nou optree terwyl jy hulle guns geniet. Môre kan dalk te laat en al jou harde werk tevergeefs wees" por Agitofel hom aan.
"Jy meen dat ek die koningskap met geweld moet gryp?" vra Absalom geskok.
"Waarom nie? Jou vader is al oud en die troon kom jou toe. Netnou gee hy dit in die beneweldheid van sy verstand aan een van jou broers" waarsku Agitofel.
"Wat jy sê, maak sin!" gee Absalom toe.
"Ek sal onder geen ander koning as koning Absalom dien nie!" smeer Agitofel hom heuning om die mond.
"Nogtans is dit 'n vreeslike ding om te doen!" sê Absalom en skud sy kop.
"Ek dink net logies, my vriend. 'n Oumens se verstand werk nie meer so mooi nie. Jou vader kan op sy oudag maklik 'n verkeerde besluit neem wat die volk duur te staan kan kom!" borduur Agitofel voort.
"Soos om die troon aan die klein twak van 'n Salomo te gee!" sis Absalom deur sy tande
"Presies, my vriend!" sê Agitofel en glimlag genoeglik.
"Jy is reg. Hoe langer ek wag, hoe swakker word my kans. Ter wille van Israel is geweld al uitweg" sê Absalom oortuig.
"Jy is baie wys, my vriend. Ek sien daarna uit om onder jou wyse leiding te dien" sê Agitofel en klop Absalom op die skouer.
"Ek sal sorg dat jy 'n hoë pos met 'n goeie salaris kry" beloof Absalom.
o0o
"U seun Absalom het hom so pas in Hebron gevestig en is besig om die volk teen u in opstand te bring. Daar is selfs gerugte van 'n staatsgreep, my heer" sê Amiël ontsteld.
"Is jy baie seker?" vra Dawid en kyk sy raadgewer geskok aan.
"Ja, my heer, ek is baie seker. Absalom wil u troon met geweld gryp" antwoord Amiël.
"Geen wonder dat ek hom die laaste tyd nie meer sien nie" sê Dawid en sug.
"Hy het Jerusalem verlede maand met 'n paar duisend manne verlaat en die inwoners van Hebron staan blykbaar ook bankvas agter hom" sê Amiël.
“Wat stel jy voor moet ons doen?" vra Dawid bekommerd.
"Ek wens ek weet, my heer! 'n Staatsgreep is 'n onverkwiklike ding wat groot ontwrigting bring” antwoord Amiël.
"Ek wonder hoe die volk daaroor voel?" vra Dawid.
"Hulle is erg verdeeld, my heer. Absalom het verbasend baie steun” praat Amiël reguit.
"Dan moet ek Jerusalem so gou as moontlik verlaat. Daar mag geen geweld in die stad wees nie. Dis 'n stad van vrede" sê Dawid manhaftig.
"Dit sal baie wys wees, my heer. Ons het 'n baie beter kans om die opstand buite die stad te onderdruk as daarbinne" stem Amiël saam.
"Laat Joab vir my alle weerbares bymekaar maak. Ons moet môre-oggend baie vroeg uitbeweeg" beveel Dawid.
o0o
Wanneer Absalom 'n paar dae later Jerusalem met duisende opstandelinge binneval, is hy uit die veld geslaan. So anders as wat hy verwag het, is daar geen teenstand nie! Sy vader is skoonveld en niemand kan hom sê waarheen nie. Absalom het hom op 'n magsoorname voorberei. Nou is daar niks.
Wanneer hy drie dae later van sy gebiedsverspieders verneem dat sy vader se manskappe naby Efraim opgemerk is, sit hy hulle agterna. Wanneer sy voorste linie hulle naby Efraim teen Dawid se agterhoede vasloop, begin die stryd in alle erns.
Alhoewel hulle baie minder in getal is, veg Dawid se manne dapper en verdryf die opstandelinge tydelik. Vir Absalom is dit 'n bitter pil om te sluk. Nadat die opstandelinge nog drie maal in die stof byt, trek hy sy manskappe terug om te hergroepeer.
"Ek gaan die ellendige Jerusalemmers môre by die Efraimbos 'n les leer wat hulle nooit ooit sal vergeet nie" sis Absalom woedend deur sy tande.
"Ek vertrou dat ons dié keer gaan wen, my heer. Ons manskappe is redelik moedeloos. Sake verloop nie soos wat hulle gehoop het nie” sê Ahira, sy leërowerste.
"Wat sê hulle alles?" vra Absalom bekommerd.
"Ek sal liewer nie sê wat hulle alles onder mekaar praat nie, my heer. U sal nie daarvan hou nie" antwoord Ahira eerlik.
"Meen hulle dat ek hulle mislei het?" vra Absalom.
"Ek is bang om u hierop te antwoord" erken Ahira ruiterlik.
"Jy het niks te vrees nie. Wees net eerlik - meen hulle dat ek hulle mislei het?" vra Absalom.
"Baie sê so. Sommige wil selfs na u vader toe oorloop" antwoord Ahira ongemaklik.
"Wat doen ek wat hulle hinder?” vra Absalom onthuts.
"Hulle voel dat u nie 'n goeie voorbeeld stel nie. U is te veel op die agtergrond. Kyk na u vader. Ten spyte van sy ouderdom lei hy elke aanval self. Dit maak ‘n groot indruk!” sê Ahira onbevrees.
"Dankie vir jou eerlikheid" sê Absalom en tuur in die verte.
o0o
Dinge loop vir Absalom van meet af aan skeef. Ten spyte van hulle getalle-oorwig bly hulle op die agtervoet. Absalom het gehoop om die Jerusalemmers met die eerste bymekaarkom kaf te loop. Nou gebeur net die teenoorgestelde!
"Ek sal môreoggend vroeg na die Efraimbos gaan om die gebied te verken. Daarna sal ek self die manskappe vir die geveg lei" sê Absalom moedig.
"Dit sal ‘n groot indruk op die manne maak” sê Ahira, dankbaar dat sy woorde inslag gevind het.
"Ons teenstanders gaan môre die verrassing van hulle lewe kry!" roep Absalom opgewonde uit.
"Mag u woorde waar word!" sê Ahira en verskoon homself.
o0o
"Kyk wie ry daar op 'n muil!" roep Amihud, een van Dawid se bevelvoerders verbaas uit.
"Is dit nie Absalom nie?" vra Amasiël ewe verbaas.
"Dis net hy! Waarom sou die ellendeling alleen wees?" vra Amihud.
"Miskien het sy manne gedros" spot Amasiël.
"Kom ons kyk wat doen hy as ons hom jaag" doen Ammihud aan die hand.
Wanneer die twee soldate op Absalom afjaag, bied hy geen weerstand nie en vlug. Die muil is nie teen die vlugvoetige Arabiese oorlogsperde opgewasse nie. Absalom se hart klop in sy keel.
"Pasop vir die terpentynboom voor jou. Sy takke hang baie laag" waarsku Amasiël sy vriend.
Absalom peil reguit op die oorhangtakke af.
"Dit lyk vir my die ellendeling sien die boom nie raak nie!" skreeu Amihud.
Wanneer Absalom in die takke vasjaag, gee die muil onder hom pad. Absalom hang tussen hemel en aarde aan sy lang hare. Hoe meer hy spartel en spook om homself te bevry, hoe meer verstrik raak hy.
"Is dit tog nie die kroonprins van Jerusalem wat ons hier inwag nie?" spot Amihud wanneer hy onder Absalom kom staan.
"Maak my dadelik los!" gil Absalom benoud.
"Waarom sal ons dit wil doen?" spot Amasiël.
"U hoogheid geniet seker die vars lug daar bo. Dis nogal verfrissend hierdie tyd van die oggend" spot Amihud saam.
"Maak my nou dadelik los, bliksems!" bulder Absalom.
"U vra darem regtig nie mooi nie, u hoogheid" tart Amasiël die verstrengeling.
"Miskien moet ons hom maar laat hier hang totdat hy goeie maniere geleer het" voeg Amihud by en lag.
"As julle my losmaak, maak ek elkeen van julle bevelvoerders in my leër" probeer Absalom hulle omkoop.
"Watter leër nogal?" vra Amihud vermakerig.
"Die een wat Jerusalem gaan verower" probeer Absalom hulle oortuig.
"Nee, dankie, na vandag het u nie meer 'n leër nie. Ek wil darem nie my nuwe werk op dieselfde dag as my aanstelling verloor nie!" spot Amihud.
"Moet ons hom nie maar van sy ellende verlos en doodmaak nie?" vra Amasiël en knipoog vir Amihud.
"Ja, miskien moet ons dit tog maar doen. Dis onmenslik om iemand so te sien ly en niks daaraan te doen nie!" spot Amihud.
Terwyl Absalom om genade pleit, sluit 'n jong soldateruiter by hulle aan.
"Gaan roep vir Joab en sê vir hom Absalom hang aan 'n terpentynboom" beveel Amasiël die jongman.
"Hoekom het julle die uitvaagsel nie al lankal doodgemaak nie?" vra Joab toe hy en 'n klompie soldate by die Efraimbos aankom.
"Ons het nie geweet wat om te doen nie" antwoord Amasiël eerlik.
"Hoe kan julle nie weet wat om te doen nie!" vra Joab vies.
"Ons was te bang. Miskien is dit verkeerd in die oë van God om die seun van sy gesalfde leed aan te doen" erken Amihud ruiterlik.
"Hierdie uitvaagsel is nie werd om te leef nie!" snou Joab hulle toe en neem 'n lang spies in die hand.
"Spaar asseblief my lewe!" pleit Absalom.
"Waarom moet ek jou lewe spaar, jou opstandeling? Jy het ons koning bedroef!" snou Joab hom toe.
"Spaar my, ek is die koning se seun" gryp Absalom na 'n laaste grashalm.
"Wat? Jy die koning se seun?" vra Joab sinies.
"Ja, ek is! Wees my genadig!" pleit Absalom
"Nee, dit kan nie wees nie. My koning is 'n edel mens en sou nie sulke skuim soos jy voortgebring het nie! Jy verdien om te sterf" sê Joab en steek Absalom in die hart.
Absalom sterf nie dadelik nie. Joab sny hom los en gee tien jong soldate opdrag om Absalom met hul gevegsknuppels dood te slaan. Absalom sterf wanneer die tweede hou sy skedel tref.
"Laat my toe om die nuus aan die koning oor te dra" pleit Ahimahas, ‘n jong soldaat.
"Jy kan dit gerus doen" sê Joab verlig dat die opstandeling dood is.
Dawid is hewig ontsteld oor die berig van Absalom se dood. Hy het so gehoop dat hy tot besinning sou kom. Hy was bereid om Absalom te vergewe en sy ondersteuners van vervolging te vrywaar.
"Moenie dadelik na Jerusalem terug te keer nie, my heer" pleit Joab dringend.
"Waarom nie? Die opstand is dan verby" vra Dawid verbaas.
"Die inwoners is nog verdeeld. Van Absalom se vertrouelinge dreig om u te vermoor” waarsku Joab.
"Dan sal ek vir eers in Mahanaim vertoef" sê Dawid terleurgesteld.
Wanneer Dawid twee dae later na Mahanaim terugkeer, vaardig hy ‘n paar manne na Sadok en Abjatar, twee van Jerusalem se leierpriesters af. Hy het hulle hulp nodig. Die priesters moet die volk oorreed om sy koningskap te erken.
Nadat Sadok en Abjatar lank en ernstig met die volk gepraat het, is Dawid versoek om na Jerusalem terug te keer en die koningskap weer op te neem. Sy terugkeer is feestelik gevier. Daar was weer vrede in die stad van vrede.
Vervolg...