Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is wel redes waarom Suid-Afrikaners die afgelope paar jaar met lang gesigte loop, maar daar is rede om ook te glimlag – God is in beheer van alle omstandighede. Daarom kan ons saam met die digter in Psalm 42 sê: Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God! Dit is moontlik om God se vriendelike aangesig te ontmoet en sy glimlag oor ons te voel skyn, dan sal óns aangesigte ook verhelder!
AS 'N ENGEL VERVEER (13)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
DAWID SE PLAN MISLUK
“Uria is hier soos wat u gevra het, my heer" sê Beganan en buig eerbiedig.
"Dankie, stuur hom in" sê Dawid opgewonde. .
Sy plan moet net werk!
"Ek is bly dat jy gekom het" groet Dawid vriendelik.
"Ek is tot u diens, my heer" sê Uria en buig eerbiedig.
"Jy wonder seker waarom ek jou paleis toe laat kom het?" vra Dawid.
Die Hetiet is middeljarig, blas en onaansienlik. Wat sou Batseba in hom gesien het? wonder Dawid.
"Ja, ek wonder, my heer" antwoord die Hetiet.
"Ek wil eersterangse inligting hê oor hoe dit op die slagveld gaan. My raadgewers sê vir my dat jy 'n dapper man is en lanklaas by jou huis was. As jy my klaar ingelig het, kan jy vir 'n paar dae huistoe gaan" sê Dawid.
Dawid luister met 'n halwe oor na die Hetiet se verslag en wens dat hy moet klaarkry en by sy huis kom. Batseba sal, soos afgespreek, sorg dat haar man met haar omgang het. Net die gedagte daaraan vervul Dawid met weersin. Hy sou eerder die Hetiet se plek wou inneem! Desnieteenstaande besef hy dat dit al uitweg is om hul sonde te bedek.
"Ek het regtig gedink dat die Hetiet laasnag by sy huis sou slaap" sê Beganan die volgende oggend.
"Het hy dan nie?" vra Dawid ontsteld.
"Nee, hy het hom laasnag in die dienskwartier tuisgemaak" sê Beganan.
"Waarom sou die man dit doen? Het ek hom dan nie 'n guns bewys deur hom huis toe te laat kom nie!" vra Dawid terleurgesteld.
"Ek is net so verbaas. Ek weet nie wat in sy kop aangaan nie” antwoord Beganan.
"Sy optrede is voorwaar vreemd. Laat roep hom dadelik!" beveel Dawid.
o0o
"Het ek jou nie huis-toe laat kom om ‘n bietjie by jou vrou te wees nie? Waarom misbruik jy my goedheid?” raas Dawid met die blas Hetiet.
"Ek weet dat my heer dit goed bedoel. Ek is nie ondankbaar nie. Ek kan egter nie in my huis sit terwyl my makkers in doodsgevaar verkeer nie. Hoe kan ek rustig onder ‘n dak slaap terwyl hulle elke nag sonder beskutting onder die sterrehemel moet slaap? Laat die gevegsfront eerder my vrou en die sterrehemel my dak wees. Stuur my asseblief terug" pleit Uria by Dawid.
"Jy kan maar teruggaan" sê Dawid terleurgesteld dog vol bewondering vir die Hetiet se vaderlandsliefde.
"Dankie, my heer" sê Uria en buig eerbiedig.
"Ek stuur 'n brief saam met jou wat jy persoonlik aan Joab moet oorhandig" sê Dawid.
"Hierdie man het skande oor Israel gebring en is vir my 'n verleentheid” skryf Dawid. “Ek sal jou later meer hieroor inlig. Plaas hom op die voorpunt van die hewigste geveg en sorg dat hy sneuwel. Verbrand hierdie brief sodra jy dit klaar gelees het!"
Joab sit die brief op die tafel voor hom neer. Hy is uit die veld geslaan. Wat sou die Hetiet gedoen het dat hy met sy lewe moet boet? Uria is een van sy dapperste en mees betroubare soldate. Joab was van plan om hom tweede in bevel van die boogskutters te maak. Nou moet hy sy laksman speel!
Vroeg die volgende oggend plaas Joab vir Uria teësinnig dog gehoorsaam aan Dawid se bevel in 'n uiters kwesbare gevegsposisie. Wanneer die vyand aanval, vind 'n Aramese boogskutter sy teiken en verwond Uria dodelik. Hy sterf ‘n dag later.
Dawid is baie in sy skik met Joab. Sy plan werk wonder bo wonder!
"Laat Batseba hierheen kom" beveel Dawid 'n bode.
"Uria het gistermiddag in 'n geveg met die vyand gesneuwel" sê Dawid. Hy kan sy opgewondenheid skaars bedwing.
Onbewus van Dawid se bose plan, begin Batseba te huil.
"Moenie huis toe gaan nie. Bly vir 'n paar dae in die paleis totdat jy beter voel. Ek sal na jou omsien" nooi Dawid haar.
"Dankie, dis baie bedagsaam van u, my heer” snik Batseba.
"Ek sal vanaand by jou kom inloer" sê Dawid en soen haar op die voorkop.
Laataand sluip Dawid ongemerk na die kamer waar Batseba tuisgaan.
"Ek is bly dat u gekom het" sê Batseba.
"Ek het mos beloof om te kom inloer" sê Dawid en druk haar teen hom vas.
"Ek voel so bitter eensaam. Maak asseblief met my liefde” nooi Batseba hom.
Wanneer Dawid na 'n kort voorspel by haar ingaan, is hy bly dat Uria dood is. Hy sou dit nie kon verdra as die blas Hetiet by Batseba moes ingaan terwyl sy met sy kind swanger is nie.
"Ek wil hê dat jy binnekort my vrou moet word" sê Dawid nadat hy sy asem teruggekry het.
"Dit sal vir my ‘n eer wees, my heer” sê Batseba getroos.
Terug in sy eie bed, voel Dawid baie tevrede. Alles verloop volgens plan. Uria is nie meer 'n faktor nie en niemand sal 'n vinger na hom kan wys nie. Die volk sal hom eerder lof toeswaai vir sy versorging van die jong, swanger weduwee.
"Hier is iemand om u te spreek, my heer" sê Malag en buig eerbiedig.
"Wie is dit?" vra Dawid kortaf.
"Dis Natan, die profeet, my heer" sê Malag.
"Laat hom maar inkom" sê Dawid en sug swaar.
"Ek het u raad dringend nodig nodig, my heer" sê Natan.
"Praat, dat ek kan hoor" sê Dawid en nooi hom om te sit.
"Daar is 'n baie ryk man in u koninkryk. Nie ver van hom af bly daar egter 'n baie arm man. Die ryke het baie kinders en 'n groot trop skape terwyl die arm man kinderloos is. Hy en sy vrou maak 'n ooilammetjie hans groot. Dié is vir hulle soos 'n kind in die huis. Die rykman het onlangs 'n belangrike besoeker ontvang en ontsien om een van sy eie skape te slag. Toe neem hy die arm man se ooilammetjie en slag dit omdat dié man hom geld skuld. Nou treur die twee mense soos oor 'n kind wat dood is. Ek voel dat dit nie reg is nie. Kan u nie iets aan die saak doen nie?" vra die profeet raad.
"Ja, daar moet beslis iets aan gedoen word!” sê Dawid ontsteld.
"Wat stel u voor moet ons doen, my heer?" vra Natan en kyk Dawid stip aan.
"Die ryke moet sekerlik doodgemaak en die skade viervoudig van hom verhaal word" doen Dawid aan die hand.
"Wil u hom self straf?" vra Natan.
"Ja, bring die ellendeling hier dat ek self met hom afreken" sê Dawid ontstoke.
"U sal verbaas wees wie dit is!" waarsku Natan.
"En wie is dit nogal?” vra Dawid huiwerig.
"Hy is die koning van Israel en sy naam is Dawid" antwoord die profeet en kyk Dawid vol in die oë.
"Ek?!" vra Dawid ontsteld.
"Ja, jy, Dawid, seun van Isai!" sê Natan vreesloos.
"Wat het ek dan verkeerd gedoen?" vra Dawid ontnugterd.
"Hoor die woord van God!” kondig Natan die oordeel aan. “Het Ek jou nie as koning oor My volk aangestel en telkens uit die hand van Saul gered nie? Waarom het jy die Hetiet laat doodmaak? Sy bloed kleef aan jou hande! Omdat jy onreg gepleeg het, sal jou koninkryk soos 'n vyeboom in 'n rukwind geskud word. Die jong vye sal op die grond val en vertrap word. Dit wat jy in die geheim gedoen het, sal van die stadsmure af verkondig word, sê die Here"
Dawid sidder en laat sy kop sak. God is reg! Hy het nie net owerspel begaan nie, maar ook moord! Hy kon sy sondes vir mense wegsteek, maar nie vir God nie!
"Ek het teen God gesondig!" roep Dawid in trane uit en skeur sy klere in berou.
"Jy het inderdaad gesondig!" berispe die profeet hom.
"Sal God my vergewe?" vra Dawid bewend.
"Hy het jou reeds vergewe, maar die kind sal sterf" kondig Natan genade en oordeel aan.
o0o
Toe Dawid die sigbare swanger Batseba 'n paar weke later as vrou neem, het mense onder mekaar begin praat. Die gerug dat sy Dawid se kind dra, het soos ‘n woestynwind deurdie strate van Jerusalem gewaai. Dawid se mees getroue ondersteuners het dit egter as 'n bose gerug afgemaak.
Sewe dae na sy geboorte is die seuntjie skielik oorlede. Hy het fyn rooi hare soos Dawid gehad. Net voor sonsondergang het Dawid sy seuntjie geneem, deur die Kedronvallei geloop en hom aan die voet van die Olyfberg begrawe.
"Here, hoe duur betaal ek nie vir my sonde nie! My hart is gebreek en my gees stukkend voor U. Waarom moes my seuntjie sterf? Waarom het U my nie eerder laat omkom en hom laat lewe nie? Dis mos ek wat teen u gesondig het en nie hy nie!" roep Dawid bedroef uit.
o0o
'n Jaar later is Salomo gebore.
Vervolg...