Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie nie gely het nie, het nie gelewe nie; wie net gelag het, het net bestaan.
AS 'N ENGEL VERVEER (7)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
DIE VERMEENDE KOMPLOT
Toe Saul enkele dae later al sy hooggeplaasdes na die paleis ontbied, is Jonatan ook teenwoordig.
"Julle wonder seker waarom ek julle almal hierheen ontbied het?" sê Saul en vryf selfvoldaan oor sy baard.
Almal kyk hom vraend aan.
"Ek het 'n gewigtige saak op die hart. Etlikes van my onderdane sweer teen my saam. Hulle wil my koningskap gryp en my doodmaak” sê Saul somber.
Almal is stom van verbasing. Niemand het so ‘n aankondiging verwag nie.
"Het u enige vermoede wie agter dié bose plan sit, my vader?" vra Jonatan hoogs ontsteld.
"Ja, ek weet wie die leier van die groep is!" sê Saul en talm opsetlik.
"Wie is dit dat ons met hom kan afreken!" versoek Abirag.
"Dis Dawid!" sê Saul met beslistheid.
"Nee, dit kan nie wees nie! Nie Dawid nie!" protesteer Jonatan.
"Moenie vir my sê: `Dit kan nie wees nie’. Ek is seker van my feite!" snou Saul sy seun toe.
"Dan moet hy dadelik gevang en voor die gereg gebring word!" roep Abirag ontsteld uit.
"Dis ongelukkig nie so maklik nie. Dawid is gewild en ‘n oorhaastige besluit kan 'n volksopstand ontketen. Ons sal baie versigtig en planmatig te werk moet gaan om hom aan die pen te laat ry" doen Saul aan die hand.
"Wat stel u voor moet ons doen?" vra Elimas, die oudste landvoog.
"Ons moet 'n geleentheid skep om van Dawid ontslae te raak. Miskien moet ons met die Filistyne skoor soek en Dawid in die hitte van die geveg instuur en hoop hy sneuwel” sê Saul met haat in sy stem.
"En as hy nie sterf nie?" vra Abirag.
"Dan maak ons hom en ‘n paar van sy manskappe op so 'n wyse dood, dat dit lyk asof hulle in die stryd omgekom het. Dan sal niemand vrae vra nie" stel Saul voor.
"Dis 'n briljante idee, my heer! Ek sal u daarmee help" bied Abirag sy hulp aan.
"Julle kan maar solank die Filistyne gaan tart! " sê Saul.
Hy is baie in sy skik dat sy plan byval gevind het. Nou staan Dawid geen kans nie!
Nadat Saul almal tot geheimhouding laat sweer het, is hulle feestelik onthaal. Daardie nag kan Jonatan nie slaap nie. Sy pa se aandrang om van Dawid ontslae te raak, ontstel hom geweldig. Wat moet hy doen? Moet hy sy vriend teen die bose voornemens waarsku of moet hy, gedagtig aan die eed, swyg en hoop dat God sy vriend sal bewaar?
Wanneer hy uiteindelik aan die slaap raak, droom hy dat sy pa op 'n groot swart stoel in die voorhof van die paleis sit. Om hom is ‘n klompie onderdane onder wie hy homself bevind. Dawid word geboei na vore gebring waarna 'n soldaat hom met 'n gevegsknuppel voor Saul neerfel.
"Kom kêrel, waar is Israel se dapper held nou? Jy wil mos my koningskap hê, nie waar nie? Dis nou jou kans. Vat dit!" lag Saul hardop.
Dawid swyg. Bloed wat van 'n gapende kopwond afdrup, bevlek die grond rondom hom.
"Luister jou klein woestynakkedis, ek gaan nie toelaat dat jy my toekoms belemmer nie! Nog minder gaan jy Migal kry. Vandag trou jy met die doodsengel!" sê Saul en lag soos ‘n besetene.
"Maak hom dood! Maak hom dood!" gil die omstanders.
"Wees hom genadig, my heer, hy het niks gedoen wat die dood verdien nie" klink 'n vrouestem op.
"Hy het alles gedoen om die dood te verdien!" skreeu Saul en spuug op Dawid.
"Hy is nog so jonk, wees hom genadig!" pleit ‘n ander vrouestem.
"Kom ons hoor wat sê die volk. Wat moet ek met hierdie samesweerder doen?" vra Saul.
"Maak hom dood! Maak hom dood! Maak hom dood!" gil die skare histeries.
Dawid word gedwing om voor Saul te kniel. Lanog, die beuel, staan nader. Hy het 'n groot swaard in sy hande en wag op die teken.
"Aanbid my as jou God of sterf, ellendeling!” gil Saul.
Dawid kyk nie op nie.
"Jy het jou eie lot verseël, jou dwaas!" roep Saul en knik vir Lanog.
Jonatan wil sy vriend te hulp snel, maar versteen. Wanneer die beuel se hou val, rol Dawid se kop tot voor hom. Jonatan skrik papnat gesweet wakker. Hy weet wat om te doen. Hy gaan Dawid waarsku!
"Jy is darem vroeg op my spoor" sê Dawid toe Jonatan aan sy deur klop.
"Ek kom jou waarsku dat my pa van plan is om jou te laat doodmaak!" val Jonatan met die deur in die huis en vertel Dawid van die komplot om van hom ontslae te raak.
"Waarom wil jou pa dit doen? “ vra Dawid geskok.
"Hy is ontsettend jaloers op jou en gee voor dat jy net jou kans afwag om die volk teen hom in opstand te bring” antwoord Jonatan.
"Ek sal dit in der ewigheid nie doen nie!" roep Dawid ontsteld uit.
"Ek weet” sê Jonatan. “My pa glo egter nog steeds dat jy die troon wil gryp en sal alles in sy vermoë doen om van jou ontslae te raak!"
"Saul is die gesalfde van die Here. Ek sal hom geen leed aandoen nie. Daarvoor vrees ek God net te veel" verseker Dawid sy vriend.
"Daaraan twyfel ek nie in die minste nie, my vriend" sê Jonatan en plaas sy bemoedigende hand op Dawid se skouer.
"Ons sal baie vinnig iets moet doen!” sê Dawid bekommerd.
"Ek het oor alles nagedink. Ek het dalk 'n plan wat hom van sy voorneme kan laat afsien" sê Jonatan en gaan sit langs Dawid op die bed.
"My pa gaan 'n pyl en boog wat hy van 'n buitelandse handelaar ontvang het, môreoggend vroeg by die Jedaspruit toets. Ek gaan saam en sal die geleentheid gebruik om baie ernstig met hom te praat om sy plan te laat vaar. Die Here sal woorde in my mond lê. Versteek jou bo in die wilgerboom by die spruit dan kan jy luister wat daar gepraat word” sê Jonatan vol vertroue.
"Ek sal daar wees" sê Dawid met 'n gedempte stem.
0o0
"Dis nou vir jou 'n oulike wapen. Toets dit gerus self" sê Saul baie ingenome met die geskenk en gee dit aan Jonatan.
"Ek sal dit graag doen, my vader. Daar is egter 'n saak waaroor ek eers met u wil praat” sê Jonatan en skep diep asem.
"Praat gerus, my seun" sê Saul gemoedelik.
"Vader, ek is omgekrap oor u voorneme om Dawid te laat ombring. Dis eerstens moord en tweedens 'n groot oordeelsfout. Ek wil u vandag verseker dat Dawid geensins van plan is om u te onttroon nie. Hy is my beste vriend en vertrou sy diepste geheime aan my toe. Ek ken Dawid soos niemand anders hom ken nie. U moet my glo - hy is nie van plan om die volk teen u in opstand te bring nie. Het u al ooit gewonder waarom Dawid so buitengewoon suksesvol is? Laat ek u vertel. Dis omdat God met hom is! Wie anders as God het die reuse Filistyn en al Israel se vyande in sy hand gegee? Dink nou verder, my vader: Waarom is God met Dawid? Ter wille van Israel! Dit gaan vir God oor sy verbond met ons aartsvaders. Wie oor Israel regeer, is 'n bysaak. In hierdie lig gesien, is Dawid niks anders as 'n instrument in Sy hand waarmee Hy sy volk seën nie. As u Dawid dus laat ombring, ontneem u Israel van God se seën en sidder ek vir die oordeel van God! Moenie 'n verkeerde ding doen waaroor u later baie spyt gaan kry nie, my vader. Laat Dawid met rus. As ek verkeerd is, sal ek my eie lewe neem" sê Jonatan ferm.
Saul het nooit só oor die saak gedink nie. Jonatan het ‘n punt beet. Dit gaan vir God inderdaad nie oor 'n mens nie, maar oor Sy verbond met Israel en sy trou van geslag tot geslag!
"Ek sal, so waar as ek leef, Dawid geen leed aandoen nie!" sweer Saul by homself.
"Mag hy weer voor u verskyn, my vader?" vra Jonatan met trane in sy oë.
"Ja, hy kan weer die siter vir my speel" sê Saul gemoedelik.
Saul se gesindheid jeens Dawid het handomkeer verander. Die hooggeplaastes kon aanvanklik nie die kloutjie by die oor kry nie, maar nadat Saul met hulle gepraat het, het hulle die wysheid van sy besluit ingesien en Dawid eerbiedig. 'n Maand later het Saul 'n luisterryke huweliksfees vir Dawid en Migal gereël. Daar was 'n duisend uitgesoekte gaste.
Drie maande later het Saul weer 'n toeval gekry terwyl Dawid vir hom siter gespeel het. In sy waansin het hy Dawid met sy spies probeer deurboor, maar rakelings gemis.
"Vang die ellendeling wat my koningskap wil roof!" skreeu Saul waansinnig.
Sonder aarseling spring Dawid op en vlug na buite voordat iemand 'n vinger op hom kan lê.
Terug by sy huis op die stadsmuur het hy Migal oor die hele voorval ingelig.
"Ek kan nie verstaan wat my pa alweer pla nie!" sê sy diep terleurgesteld.
"Ek het so gehoop dat hierdie waansinnige idee van hom iets van die verlede is" sê Dawid bedruk.
Wanneer Migal iets buite in die straat hoor, loer sy versigtig deur die venster.
"Die hemel behoed ons! Die huis is omsingel!" gil sy toe sy die soldate gewaar.
"Jou pa sal met niks anders as my lyk tevrede wees nie!" sê Dawid ontsteld. .
"Solank as wat ek in die huis is, sal die soldate nie inkom nie. Hulle wag dat jy moet uitkom. Bly dus net hier totdat ons ‘n plan gemaak het" sê Migal en loer versigtig deur die venster.
Die soldate is gereed vir optrede.
"Dis vreeslik om ‘n gevangene in jou eie huis te wees!" merk Dawid op.
"Hou moed, my man. Ek gaan jou vannag met 'n tou deur die venster teen die stadsmuur laat afsak. Die soldate sal jou nie sien nie" sê Migal deur haar trane heen.
"Waarheen moet ek vlug?" vra Dawid mismoedig.
"Miskien moet jy na die ou profeet in Rama gaan en by hom skuiling soek totdat die gevaar verby is. Ek sal jou laat weet as alles veilig is, dan kan jy terugkom" doen Migal aan die hand.
Wanneer sy Dawid net na middernag teen die stadsmuur laat afsak, is sy baie hartseer. Hoe kan haar pa dit aan haar doen? Hoe kan hy so wreed wees? Dawid verdwyn in die donker nag. Migal haat haar pa!
0o0
Wanneer Dawid vroeg die volgende oggend by Samuel in Rama aankom en hom van sy noue ontkoming vertel, besluit Samuel om hom dadelik na die profeteskool in Najot te neem. Dit sou veiliger wees om daar te skuil.
Wanneer die nuus van Dawid se skuilplek Saul se ore etlike dae later bereik, stuur hy 'n afdeling soldate om Dawid te gaan vang en lewendig na Gibea te bring. Hy was meer as ooit daarvan oortuig dat Dawid teen hom saamspan. Waarom het hy anders uit Gibea gevlug?
Toe die soldate by die profeteskool opdaag, was Samuel juis besig om sy studente in profesie te onderrig. Toe hulle Dawid probeer gryp, het die Gees van God op hulle gekom sodat hulle in 'n verrukking van sinne al profeterende na Gibea teruggekeer het.
"Wat op aarde gaan hier aan? Het ek julle nie 'n opdrag gegee nie?" gil Saul op Meseg, die bevelvoerder.
"God het ons verhinder om u opdrag uit te voer, my heer" antwoord Meseg vreesloos.
"Ek het lus en laat elkeen van julle onthoof!" sê Saul baie ontsteld.
"Moet niks aan hulle doen nie, my heer” sê Ketan. “Hierdie saak is van God!"
Miskien is Ketan reg, dink Saul. Hy is immers ‘n priester van God. Dalk verhinder die Here hulle om Dawid gevange te neem. Saul het baie eerbied vir sy priester.
“Laat die soldate maar huis-toe gaan” beveel hy.
"Laat Berugai vir my roep" versoek Saul later 'n paleisbode.
"Ek het vir jou 'n belangrike taak" sê Saul wanneer die ou soldaat voor hom staan.
"U wens is my bevel, my heer" sê Berugai gedienstig.
"Jy is een van my dapperste soldate" smeer Saul hom heuning om die mond.
"Ek doen maar net my plig, my heer" sê Berugai verleë oor die onverwagte lofspraak.
"Maak 'n honderd man bymekaar en vertrek môre na die profeteskool in Najot en vang Dawid” beveel hy.
"Ek maak soos u sê, my heer" sê Berugai en buig eerbiedig.
Twee dae later keer ook Berugai en sy manskappe al profeterende na Gibea terug. Saul is woedend, maar besluit om hulle geen leed aan te doen nie. Dalk is die priester tog reg dat God hulle keer om Dawid gevange te neem. Miskien moet hy alles los. Dawid is in elk geval nie in Gibea om skade te doen nie.
Die volgende oggend besluit Saul om die saak nie daar te laat nie en stuur vir Jerubiël met ‘n honderd uitgesoekte manskappe na Najot. Jerubiël is nie godsdienstig nie en ontvang opdrag om geen godsdienstige manskappe saam te neem nie. Miskien werk dit dié keer, dink Saul. Wanneer Jerubiël en sy uitgesoektes ook profeterende na Gibea terugkeer, is Saul raadop. Hoe kan ongelowiges profeteer? Wat gaan aan!?
"Los asseblief die saak, my heer" dring Ketan by Saul aan.
"Nee, dié keer gaan ek self kyk wat aangaan" sê Saul vasbeslote.
"Moenie God kwaadmaak nie, my heer!" pleit Ketan baie ernstig.
"Dis nie my plan nie. Ek wil net gaan kyk wat daar aangaan" beloof Saul die priester.
Oppad na die profeteskool het die Gees van God ook op Saul gekom sodat hy by sy aankoms tussen die studente gaan sit en profeteer het. Dawid het die vrede egter nie vertou nie, hom vermom en dieselfde dag nog na die huis van Jonatan in Gibea vertrek.
0o0
"Ek kan nie glo dat my pa jou nog steeds jaag nie. Hy het beloof om jou met rus te laat. 'n Pa moet nooit sy woord verbreek nie. 'n Kind onthou dit altyd" sê Jonatan diep terleurgesteld.
"Ek is sat van vlug, my vriend” sê Dawid mismoedig.
“Ek glo jou. Dis darem nie ‘n lewe nie!” se Jonatan simpatiek.
"Ek wil maar net 'n rustige lewe lei. Waarom word dit my nie gegun nie? “ vra Dawid en sug swaar.
"Ek gun jou dit meer as vir myself" sê Jonatan en plaas sy hand bemoedigend op sy vriend se skouer.
"Miskien moet ek myself maar oorgee. Daar is uiteraard net een treë tussen my en die dood. As ek aan die hand van Saul moet sterf, dan is dit seker maar my lot" sê Dawid en sug weer swaar.
"Nee, jy doen dit onder geen omstandighede nie! Al haat my pa jou ook hoe, sal hy jou nie sommer doodmaak nie. Hy weet dat ons boesemvriende is" probeer Jonatan troos.
"Ek sien nie meer kans om so aan te gaan nie. Dit moet nou einde kry, kom wat wil!" sê Dawid en kyk mismoedig na sy vriend.
"Ek weet dat jy tans deur diep water gaan, maar solank as wat daar lewe is, is daar hoop. Dinge kan en sal op die ou einde ten goede verander" probeer Jonatan bemoedig.
"Party dae voel dit vir my asof ek nie meer lewe nie. Ek bestaan hoogstens" sê Dawid.
"Hou nog net ‘n klein rukkie uit. Na 'n sandstorm volg daar altyd skoon lug" sê Jonatan optimisties.
"Waar kan ek skuil? Waar is dit redelik veilig?" vra Dawid.
"Vermom jou en gaan na Nob. Bly daar by die priester Ahiméleg. Ek sal jou laat roep sodra dinge beter lyk" beloof Jonatan.
Vervolg...