AS 'N ENGEL VERVEER (5)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by As 'n engel verveer

DAWID SE LEWE WORD BEDREIG

"Dawid! Dawid!" klink 'n stem agter hom op.

Wanneer Dawid omdraai, stap ‘n jongman hom tegemoet.

"Ek is Jonatan, die seun van koning Saul" stel hy homself voor.

Dawid groet hom vriendelik. Hy hou die man met sy swart hare en breë glimlag.

"My pa vra dat jy na sy tent moet kom" gebied Jonatan die jong held.

Dawid stap saam met hom na Saul.

"Ek het 'n behoefte aan 'n ware vriend” sê Jonatan. “Koningskinders is in werklikheid baie eensaam.  Mense maak nie sommer vriende met ons soort nie”.

"Ek kan dit verstaan" sê Dawid simpatiek.

"Na wat ek vandag gesien het, sal ek jou graag as 'n beste vriend wil hê; dis te sê as jy daarvoor te vinde is" sê Jonatan hoopvol.

"Beslis! Laat ons lewenslange vriende wees" sê Dawid en omhels sy nuwe vriend.

0o0

"Ek het my dogter se hand en 'n groot som geld aan die slagter van die Filistyne belowe" sê Saul en kyk Dawid geammuseerd aan.

Dawid knik instemmend.  Hy het ook so verneem.

"Jy is buitengewoon dapper en sal die beloning binnekort ontvang” beloof Saul.  “Daar is egter nog iets wat jy vir my moet doen.  Om die waarheid te sê, wil ek jou dapperheid nog verder beproef .  Sien jy daarvoor kans?

"U wens is my bevel, my heer" antwoord Dawid en buig eerbiedig.

"Ek gaan vandag terug Gibea toe” sê Saul. “Ek plaas jou in bevel van 'n afdeling soldate.  Sit die Filistyne vir my agterna en vernietig hulle!”

0o0

Drie dae later keer Dawid van die strafekspedisie teen die Filistyne af terug.  Hy het twee dae laas geslaap en is doodmoeg.  Desnieteenstaande gaan hy eers paleis toe.

"Dawid is terug en versoek om u te spreek, my heer" sê Kotamas.

"Laat hom gerus inkom.  Ek brand om te hoor wat gebeur het!" sê Saul opgewonde.

Wanneer Dawid die ontvangsvertrek inkom, buig hy eerbiedig.  Sy verslag is positief.  Die strafekspedisie was 'n reuse sukses en die Filistynse mag is vernietig.

"Knap gedaan, my seun!" sê Saul trots.

Dawid voel gevlei dat die koning hom so aanspreek.

Saul knik vir Jaben.

"Volg my asseblief na die binneplein, ons het 'n verrassing vir jou" versoek Jaben die jongman.

In die binneplein is daar ‘n honderd vroue met tamboeryne en ander musiekinstrumente.

"Saul het duisende verslaan, maar Dawid tienduisende!" roep hulle wanneer Dawid sy verskyning maak.

Oor en oor word die refrein herhaal terwyl hulle speel en dans.

Saul se bloed kook.  Vanwaar hy staan, is dit duidelik dat hulle ‘n nuwe held gevind het.  Hy is nie meer hulle grootste held nie.

Saul haat teenstanders!

"Dit lyk asof Dawid die nuwe volksheld van Israel is" merk Saul teenoor sy skinker op.

Heber swyg betyds.  Amper het hy sy mond verbygepraat en saamgestem!

"Waarom maak hulle die knaap nie sommer koning nie?" vra Saul sarkasties.

"Mag dit nooit gebeur nie, my heer!  Jonatan sal die volgende koning van Israel wees" maak Heber diplomaties beswaar.

"Ek hoop jy is reg" sê Saul.  Daar is twyfel in sy stem.

Daardie nag kan Saul nie slaap nie.  Die verering van Dawid spook by hom.  Toe hy teen die vroeë oggendure uiteindelik aan die slaap raak, droom hy dat Dawid die troonkamer binnekom.  Die vertrek is vol mense, maar die troon leeg.  Saul is een van die aanwesiges.  Wanneer Dawid op die troon gaan sit, beweeg ‘n lang ry vrouens voor die troon verby.  Almal sit blomme voor hom neer.  Daarna kom Jonatan met Saul se kroon na vore en plaas dit op Dawid se hoof.  Wanneer Saul na vore hardloop om die kroon te wil gryp,  keer ‘n lyfwag met ‘n koperhelm hom.

"Saul, die dae van jou koningskap is verby!" sê die lyfwag met 'n donderende stem en verwyder die helm.

Dis Samuel!

Teen dagbreek skrik Saul wakker.  Hy is nat gesweet.  Gelukkig was dit net 'n droom!  Nogtans ontstel dit hom.  Is Dawid dalk die een van wie Samuel destyds gepraat het?  Nee, dit kan nie wees nie.  Niemand anders as Jonatan sal hom opvolg nie!

Later daardie oggend kry Saul weer 'n toeval terwyl hy met Kotamas praat.

"Roep gou vir Dawid dat hy kan speel!" beveel Kotamas ‘n paleisdienaar.

Dawid is gou daar.  Wanneer hy begin speel, gluur Saul hom aan.  Daar is ‘n wrede trek op sy gesig as hy sy spies in sy hand neem.

"Vat so, jou klein indringer!" skreeu Saul en gooi met sy spies na Dawid.

Dawid ontwyk die spies betyds.

"Bring my verdomde spies!" gil Saul op Jaben.

Die verskrikte paleisdienaar gehoorsaam die bevel.  Saul gooi vir 'n tweede keer na Dawid.  Dis weer mis.

"Weg is jy, ellendeling!  Jy bring onheil oor my huis!" gil Saul en vloek onbedaarlik.

Wanneer Saul opspring en die klere van sy lyf begin afskeur, gryp vier wagte hom vas.  Saul is so sterk dat hulle hom beswaarlik kan bedwing.  Na 'n paar minute breek Saul se bomenslike krag en hy sak uitgeput inmekaar.  Twee van die wagte neem hom na sy kamer.

Saul kan nie glo dat hy die jong siterspeler met sy spies gemis het nie.  Dawid het skaars tien meter van hom af gesit.  Hy moes hom met sy eerste poging dodelik getref het.  Iemand beskerm hom!

Dawid is diep terleurgesteld in Saul se optrede.  Hy het werklik uitgesien na 'n goeie verhouding met sy koning, veral na sy oorwinning oor die Filistyne.  Sal hy ooit Saul se skoonseun word?

0o0

"Ek weet nie meer wat om vir ons heer te doen nie” sê Detanan moedeloos.

“Ja, ek het so gehoop dat siterspel die ding sou doen, en kyk nou!” beaam Kotamas.

"Gelukkig het Hakon se vrotsige medisyne dié keer 'n bietjie gehelp” sê Kotamas en grim onderlangs.

"Ons sal vinnig iets moet doen.  Die paleispersoneel is almal tot die dood toe bang.  Niemand is meer van sy lewe seker nie.  Vandag was dit amper neusie verby met die jong siterspeler. Wie is volgende?  Ek, miskien jy?” sê-vra Detanan en sug swaar.

Dawid word vroeg die volgende oggend na die troonkamer ontbied.  Gaan Saul  hom om verskoning vra wat gister gebeur het?  Miskien word hy afgedank!  Dawid loop tot voor Saul en buig eerbiedig.  Die atmosfeer is gespanne.

"Ek onthef jou van jou pos as siterspeler aan my hof.   Van vandag af is jy 'n owerste oor duisend in my leër.  Moenie my  terleurstel nie” sê Saul formeel.

Dawid is sprakeloos.  Behalwe vir die strafekspedisie teen die Filistyne, het hy nog nooit oorlog gevoer nie.

Hoe kan Saul hom in 'n pos aanstel waarvan hy basies niks weet nie?

“My heer, ek beskou dit as 'n groot eer, maar ek is eerlikwaar nie 'n soldaat nie.  Ek het nog nooit opleiding in die gevegskuns ontvang nie en voel myself nie daarvoor in die wieg gelê nie" protesteer Dawid.

"Onsin, jongman, jy is 'n gebore soldaat!   Dis waar jou land jou nou die nodigste het.  Jeres sal jou touwys maak.  Beskou die saak as afgehandel" sê Saul kortaf en beduie vir Dawid om te gaan.

Dawid is mismoedig.  Hy het sy werk as siterspeler baie geniet.  Waarom wil Saul hom eerder op die slagveld hê?  Voer jy dalk iets in die mou?

Sy woonplek in die soldatekamp steek skerp teen sy paleiskamer af.  Dis bouvallig, karig gemeubileer en nie baie skoon nie.  Dawid is mismoedig.  Hy verlang na die plaaslewe van sy kinderjare en sy kamer in die ou plaashuis.

Vervolg...