Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here Jesus, u graf en kruis was nie die laaste woord oor U nie. Dankie dat die donkerte van ons ellende ook nooit die laaste woord oor ons is nie omdat U uit liefde vir ons gesterf en opgestaan het. U weet dat die lewe 'n manier het om ons te breek sodat ons nooit weer dieselfde kan wees nie Maar dankie, Here Jesus, dat U in staat is om ons situasie en onsself so te verander dat ons bokant die donker kan uitkom.
AS 'N ENGEL VERVEER (4)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
GOLIAT WORD VERSLAAN
Dit lyk gewis na oorlog, my heer" sê Jeres aan Saul nadat hy van die grenswagte verneem het dat die Filistyne by Efes-Dammim tussen Sogo en Aséka saamgetrek het.
"Sal ons dan nooit van die verdomde heidene ontslae wees nie?" vra Saul vies en kyk sy leërowerste mismoedig aan.
"Dit lyk nie so nie, my heer" sê Jeres en sug ewe swaar.
"Hulle gee ons al sedert Samgar se dae onophoudelik probleme" voeg Saul en spuug op die grond.
Nadat die Filistyne destyds by Mispa verpletter is, was daar vir lank vrede in Israel. Niemand het die volk van God gehinder nie. Toe Saul later van 'n opbou van vreemdelinge op Israel se suidwestelike grens verneem, het hy geweet dat dit net die Filistyne kon wees en sy leër betyds in gereedheid gebring. Iewers het 'n skerpioen onder die sand geskuil.
"Wat stel jy voor moet ons doen? Moet ons wag en sien wat gaan gebeur, of moet ons maar inklim en eerste slaan?" vra Saul sy leërowerste om raad.
"Ek dink ons moet die heidene maar die stryd aansê. Hulle is nie vir ‘n magsvertoon nie. Hulle soek ons bloed!" antwoord Jeres en vryf liefdevol oor sy swaard.
"Ek trek môreoggend baie vroeg saam met julle op” sê Saul.
Drie dae slaan Jeres en sy manskappe kamp op teen die westelike berg by die dal van die terpentynboom reg oorkant die Filistyne. Saul kyk na die dal met die pragtige terpentynbome voor hom. Dis jammer dat sulke mooi natuurskoon 'n gevegsterrein moet word, dink hy by homself.
"Ek wonder waarom val die ellendelinge nie aan nie?" vra Saul sy leërowerste vererg.
"Ek verstaan dit nie, my heer” antwoord Jeres bekommerd.
"Die Filistynse leër het seker nie kom vakansie hou nie" spot Saul.
"Miskien is hulle maar baie versigtig, my heer" probeer Jeres na ‘n antwoord soek.
"Hulle beter versigtig wees! Dié keer vernietig ons hulle eens en vir altyd. Israel is keelvol vir hulle oorlogsugtigheid!" sê Saul vies.
Dan trek iets Jeres se aandag. 'n Reuse Filistyn stap tot in die middel van die dal.
"Kyk net daardie reus van 'n mens!" roep Jeres verbaas uit.
"Genugtig! Ek het nog nooit so 'n groot mens gesien nie!" se Saul en skud sy kop in ongeloof
Die heidenkryger is ongeveer drie meter lank en dra 'n kolossale koperhelm en swaar skeenplate aan sy bene. Sy gepoleerde koper borswapen blink soos 'n spieël in die vroeë oggendson.
"Ek is Goliat, die onoorwinlike" bulder hy met 'n stem wat die kranse antwoord laat gee.
"Is julle bang om teen ons te veg? Waarom kruip julle soos muise tussen die lang gras weg? Is julle bang die Filistynse arend vreet julle op?" spot die reus en lag dat die rotse bewe.
"Ons wil met julle 'n ooreenkoms aangaan” bulder die reus. “Bring julle dapperste kryger om teen my te veg. As hy wen, is ons julle slawe. Wen ek, is julle ons slawe! “
"Hoe kan ons so ‘n uitdaging aanvaar, my heer?" vra Jeres bekommerd.
"Het ons iemand wat met hierdie heiden kragte kan meet?" vra Saul skepties.
"Ons het niemand naastenby so groot soos hy nie, my heer" sug Jeres.
"Dan aanvaar ons vir eers nie die uitdaging nie. Laat ons maar eers net swyg. 'n Verkeerde besluit kan ons duur te staan kom" sê Saul mismoedig.
"Kom julle lae misbaksels wat sê dat julle God die sterkste is. Julle lieg! Hy is nie! Kom veg teen my dat ons kan sien wie se god die sterkste is!" daag Goliat die Israeliete weer uit.
"Hoe lank gaan hy nou al so aan?" vra Samma aan sy broers.
"Dis nou al die veertigste dag" antwoord Eliab en sug.
"Miskien moet ek hom maar gaan aandurf. Ons kan nie langer soos muise tussen die gras bly skuil nie" sê Abinadab mismoedig.
"Moenie jou dapper hou nie! Die reus is te sterk. Hy sal enigeen van ons soos 'n vlooi tussen sy vingernaels dooddruk en nog daaroor lag!" sê Samma en gooi sy spies moedeloos langs hom neer.
Die drie broers is baie mismoedig.
"Is dit nie Dawid wat hier aankom nie?" vra Eliab toe hy die jong man in die veldpaadjie sien naderkom.
Samma en Abinadab kan hul oë nie glo nie. Dis jou wrintiewaar hul jongste broer!
"Pa stuur vir julle kos" sê Dawid bly om sy broers te sien.
"Moes jy nie by die paleis gewees het nie?" vra Samma half onrustig.
"Koning Saul het my 'n paar dae verlof gegee om huis toe te gaan terwyl hy op die gevegsfront is" antwoord Dawid en sit die mandjie voor Eliab neer.
"Dis gaaf van jou om al die pad hierheen te kom" sê Eliab en loer in die mandjie. Dit lyk lekker.
"Pa is bekommerd oor julle en het my gestuur om te sien hoe dit gaan" sê Dawid en gaan sit by sy broers.
Hulle is 'n hegte familie en bly om hom te sien.
"My naam is Goliat en ek daag enigeen van julle wat sê dat julle God lewe om teen my te veg. Kom julle klomp bangesels, bring vir my julle beste vegter! Ek is nie vir een van julle bang nie, nog minder vir julle God. Niemand kan my oorwin nie. Kyk na my, ek is julle god. Aanbid my en word ons slawe!" spot die reus en lag met ‘n donderende stem.
"Wie is daardie heiden wat God so belaster?" vra Dawid ontsteld.
"Dis die reus wat ons nou al veertig dae lank tart" sê Bartog, een van die soldate wat by Dawid en sy broers kom sit het.
"Ek wens ons het 'n man gehad wat hierdie Filistyn se bek vir ewig kon toemaak!" sis Eliab deur sy tande.
"Ek wens ek het die moed gehad. Koning Saul bied selfs rykdom en sy dogter in ruil vir 'n oorwinning aan" sê Bartog en sug swaar.
"Ek sal teen hom veg!" sê Dawid manhaftig.
"Jy is mal om die reus te wil aandurf! Hy sal jou binne 'n oogwink die ewigheid instuur!" probeer Samma sin in sy broer se kop in te praat.
"Ek is nie bang vir hom of enige ander mens wat met my God spot nie!" sê Dawid en staan vasbeslote op.
"Mag God met jou wees, my broer" sê Abinadab en druk Dawid teen hom vas.
Die ander twee volg sy voorbeeld.
Wanneer Saul verneem dat daar iemand is wat Goliat se uitdaging aanvaar, laat hy hom roep.
"Is dit tog nie jy nie, Dawid?" vra Saul verbaas toe sy jong siterspeler voor hom staan.
"Dis net ek, my heer" sê Dawid en glimlag breed.
"Jy is seker nie ernstig om teen die heidenreus te wil veg nie?" vra Saul verbaas.
"Ek is, my heer. Gee my net die kans. Met die krag van God sal ek die spotter vir ewig stilmaak soos wat ek al in die verlede met 'n leeu en 'n beer gedoen het" antwoord Dawid dapper.
"Jy is maar net 'n seun en hy 'n gesoute kryger" protesteer Saul.
"Laat my nogtans toe om teen hom te veg, my heer. God is met my" sê Dawid en kyk Saul vol in die oë.
Die onwrikbaarheid in die jongman se oë dwing agting af.
"Mag God met jou wees en jou behoed, my seun!" sê Saul en omhels die jongman.
"Mag ek maar my eie klere aanhou? Ek is nie aan krygsklere gewoond nie" vra Dawid toe Jeres hom van krysgsklere wil voorsien.
Jeres knik instemmend.
Vroeg die volgende oggend beweeg Dawid ongemerk teen die berg af. Hy het net sy staf en herderstas by hom. By die spruitjie onder in die dal tel hy 'n paar ronde spoelklippies op en haal sy slingervel uit die tas.
Goliat kan sy oë nie glo toe die jong seun naderkom nie. Dit kan tog nie Israel se dapperste kryger wees nie, dink hy by homself. En dit nogal 'n bogkind! Wie dink Israel is hy? Ongeveer 100 meter van hom af, steek die reus oorbluf vas. Sien hy reg of bedrieg sy oë hom? Die seun het dan nie eens gevegsdrag aan of 'n wapen by hom nie, slegs 'n herderstaf.
"Is ek miskien 'n hond dat jy met 'n stok na my toe kom jou klein wurm? Ek gaan jou nie net doodmaak nie, maar jou in fyn stukkies opkap vir die aasvoëls om op te vreet sodat jy voëlmis kan word!" skreeu die Filistyn verontwaardig.
Dawid kyk die briesende reus vreesloos aan.
"Jy kom tevergeefs met gevegswapens na my toe. God gee jou vandag in my hand. Ek gaan jou kop afkap en jou lyk saam met dié van jou volksgenote aan die wildediere en aasvoëls gee. Dan sal almal weet dat daar net een God is, naamlik dié van Israel" sê Dawid en gaan 'n paar treë van die reus af staan.
Buite homself van woede storm Goliat op Dawid af. Die jong Israeliet neem 'n klippie en plaas dit in sy slingervel en begin dit te slinger. Wanneer die reus feitlik op hom is, trek hy los. Die klip dring deur die heiden se skedel. Wanneer ‘n bloedstraal by sy voorkop uitspuit, slaan hy bewusteloos op die grond neer. Dawid hardloop vinnig nader, trek die reus se swaard uit sy skede en steek hom in die hart. Goliat sterf roggelend.
"Sy kop! Sy kop!" skreeu die Israeliete buite hulself van vreugde.
Dawid tel die swaar bebloede swaard tot hoog bokant sy kop. Dis so swaar dat sy bene onder hom wil swig. Wanneer die hou val, rol Goliat se kop soos 'n granaat wat uit 'n boom val van sy lyf af weg. Die Israeliete is rasend van blydskap!
Dawid staan roerloos en kyk na die kop met sy gapende mond. Die mond wat soveel gelaster het, is nou stil. God het dit vir ewig stilgemaak. Dan raak die skare stil. Alle oë is op Dawid. Hy is hulle nuwe held. Dawid tel die Filistyn se kop op en stap daarmee tot by Saul en gooi dit voor sy voete neer.
"Die Here het Israel vandag verlos, my heer!" sê hy en stap weg terwyl trane van dankbaarheid oor sy wange rol. Die Here is goed!
Vervolg...