KINDERS IN DIE BYBEL (23)

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

TIMOTHEUS

HY was nie een van daardie sterk, gespierde, atleties-geboude seuns nie. Hy was maar ’n tingerige, swak en sieklike kind. Hy was een van daardie kinders wat kort-kort griep kry of een of ander kindersiekte. As gevolg van sy tingerigheid was hy baie makliker vatbaar vir siektes as ander kinders.

Heelwaarskynlik as gevolg hiervan was Timotheus ’n bedeesde en teruggetrokke kind wat homself nie na vore gedring het nie. Hy was nie een van daardie soort kinders wat in die grootmense se geselskap kom sit het en aandag gesoek het nie.

Hy was ook heelwaarskynlik bangerig van geaardheid omdat die bullebakke hom miskien afgeknou en gespot het. Waar ander kinders hulleself sou laat geld en sou baklei vir hulle regte, het hy maar liewer teruggestaan. Partykeer selfs wanneer dit noodsaaklik was dat hy na vore moes kom en homself moes laat geld.

Timotheus het in Listre in die Klein-Asiatiese landstreek Lycaonie gewoon. Die gesin moes in die dorp en in die omgewing seker goed bekend gewees het. Dalk was sy moeder of sy heidense vader leidende figure in die dorp.

Sy vader was ’n Griek van wie ons nie veel weet nie. Nêrens word iets van hom vertel nie en ons kan aanneem dat hy ’n heiden was wat die Christelike geloof nie aanvaar het nie. Heelwaarskynlik het hy vroeg gesterf sodat Timotheus vaderloos groot geword het.

Maar die Here het dit so beskik dat sy moeder Eunice en ook sy grootmoeder Lois gelowige Christenvroue was. Deur die werking van die Heilige Gees het hulle ook die verkondiging van die evangelie van Christus gehoor en dit aanvaar. Van hulle het Timotheus sy opvoeding ontvang. Reeds van kleins af het hulle gesorg dat Timotheus ’n goeie opvoeding kry.

So sien ons in die lewe van Timotheus die Hand van die Here, ’n Mens hoef nie liggaamlik sterk te wees en ’n gespierde atleet te wees om deur die Here gebruik te word in sy diens nie. In Timotheus se geval sien ons wat die Here bedoel as Hy aan Paulus sê dat sy krag in swakheid volbring word. Sieklike mense en liggaamlik swak persone kan ook krag uitstraal. Meestal straal daar meer krag van hulle uit as van sterk en gesonde mense. Sterk en gesonde mense wil graag die lewe geniet met die gevolg dat hulle nie baie tyd het vir die saak van die Here nie. Daarenteen kan swak en sieklike mense nie altyd die lewe geniet nie. Hulle kan nie na die plesierplekke gaan waar sterk en gesonde mense gaan nie.

Daarom hoef niemand agteruit te staan en te sê: "Ek is te swak nie.” Of: "Ek is te sieklik, my gesondheid laat dit nie toe nie.” God wil juis mense, groot en klein, met swak gesondheid en al, in sy diens gebruik.

Ons sien ook dat Timotheus ’n gelowige kind was wat gehoorsaam was. Hy was nie ’n ontembare wilde kind wat altyd net sy eie kop wou volg nie. Want ons lees in die Bybel dat Timotheus reeds van kleins af die Heilige Skrif ken (2 Tim. 3 :15).

Dit sê al baie aan ons omtrent Tlmotheus se geaardheld. Hy was ’n kind wat graag geleer het. Van die geleenthede wat hy gehad het, het hy gebruik gemaak. Party kinders is mos anders. Hulle moet gedwing word om te leer en as die geleentheid homself voordoen, draai hulle stokkies.

Maar Timotheus het die verstand wat die Here aan hom gegee het, benut. Ten spyte van sy swak gesondheid het hy die geleenthede wat hy gekry het, deeglik gebruik. Hy het alles geweet omtrent die Bybel. Alles wat ’n Joodse kind van sy tyd moes weet. Juis as gevolg hiervan kon die Here hom goed in sy diens gebruik en kon hy ’n groot hulp vir Paulus wees. Maar hy kon ook baie van die werk van Paulus se skouers afneem.

Timotheus se lewe sê aan ons dat elkeen van ons die geleenthede wat die Here aan ons gee moet benut en gebruik. Daar is so baie mense wat die pragtigste geleenthede kry en dit deur hulle vingers laat glip.

God wil elke mens in sy diens gebruik. Dit maak nie saak of jy so sterk en gespierd soos Simson is of so swak en tingerig soos Timotheus nie. Daarom moet jy ook die geleenthede wat die Here aan jou bied met albei hande aangryp en dit benut.

Want dan word jy ’n krag van God. Wanneer dit lyk asof die hele lewe om jou wil ineenstort en wanneer mense beangs vra: "Wat nou?” kan jy sterk staan en ’n getuie vir Christus wees. Dan kan jy leiding gee.

God wil jou in jou swakheid gebruik.