Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe meer kindervingerafdrukke daar op kerkbanke is, hoe minder vingerafdrukke sal daar op polisie-rekords wees!
KINDERS IN DIE BYBEL (15)
DANIËL
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
HY was nog baie jonk toe hy na Babel weggevoer is, seker nie baie ouer as so ongeveer tien tot twaalf jaar nie. Wat daar alles in sy hart omgegaan het toe hulle die lang tog van Jerusalem na Babel aangepak het, weet ons nie. Ons weet nie eers wie sy ouers was nie.
Maar toe Daniël in Babel aankom, het hy dadelik probleme met sy godsdiens ondervind.
Want die Minister van Jeugsake in Babilon het van sy koning opdrag ontvang om te sorg dat die jong Joodse seuns heeltemal verbabiloniseerd moet word. Hulle moes soos die Babiloniërs begin dink en doen. Daarom moes hulle die God wat hulle aanbid het, vergeet en die afgode van Babel begin aanbid. Hulle moes die Babiloniese manier van lewe begin aanvaar en vergeet dat hulle Jode was.
Daniël moes ook skoolgaan.
Wat hy alles geleer het, weet ons nie. Ons weet egter dat hy die skrif en die taal van die Babiloniers moes leer. Verder sou hy heelwaarskynlik matesis moes leer en dalk ook nog sterrekunde. Want die Babiloniërs was groot sterrekundiges.
Daniël en sy drie vriende was natuurlik belangrike persone. Hulle was afkomstig uit die Joodse koningshuis. As die koning van Babel dit dus kon regkry om van Daniël en sy vriende Babiloniërs te maak, sou hy baie meer invloed op die Joodse volk hê. Hulle was die toekomstige leiers van die Jode. Wanneer hulle die Babiloniese manier van lewe sou aanvaar, sou dit beteken dat hulle die ander Jode ook daartoe sou oorhaal.
’n Mens moet natuurlik agter die dinge baie meer sien as net die feit dat die Jode Babiloniërs moes word. Agter hierdie plan om van hulle Babiloniërs te maak, het die duiwel gesit. Hy het geweet dat Christus later uit die Joodse volk gebore sou word. As die Joodse volk Babiloniërs word, sou daar nie meer ’n Joodse volk en dus ook geen Christus wees nie.
Die duiwel stel baie belang in die jeug. Hy werk ook graag met die jeug. Want wie die jeug aan sy kant het, het reeds ver gevorder. Die jeug is meer buigsaam as grootmense. Hulle kan ook makliker opgesweep word. Hulle het nog nie lewenservaring nie. Daarom is hulle baie meer vatbaar vir iets nuuts. Die jeug hou van verandering. Tradisies is iets wat vir hulle outyds is.
As die jeug sover gebring kan word om die kerk as iets vaals en droogs te beskou, sal die kerkdeure tog een of ander tyd in die toekoms gesluit moet word. God sal nie meer aanbid word nie. Hy sal vergeet word. Dit is wat die duiwel baie graag wil hê.
Juis daarom moet Daniël in Babel ’n modelopvoeding geniet. Die fondament moet goed gelê word. Daarom moet daar heeltemal met die verlede gebreek word. Daniël moet vergeet dat hy ooit ’n Jood was. Hy moet vergeet van sy volk se geskiedenis en van hulle God wat hulle so getrou gelei het.
Gevolglik word sy spyskaart, dit wat hy sal eet en drink, ook verander. Dit het natuurlik nie beteken dat Daniël dit lekker sou hê en ’n weelderige rykmanslewe in die paleis sou gaan geniet nie. Hierdie was alles maar net planne wat sy edele die Minister van Jeugsake, Aspenas, gedoen het om van Daniël ’n goeie Babiloniër te maak. In die toekoms moes hy tot nut en voordeel van Babel ingespan word. Hy moes Babel se saak bevorder.
Aan die anderkant het dit beteken dat die ouderwetse spyswette van die Jode afgeskaf moes word. Daniël sou dus met die gewoontes van sy volk en met hulle godsdiens moes breek.
Daardie outydse gewoontes en tradisies moet hy laat staan. Die tyd het nou aangebreek dat hy ’n moderne jong mens moet word.
Daniël was egter ’n harder neut om te kraak as wat die Minister van Jeugsake gemeen het. Toe Daniël nog in Palestina as kind gewoon het, is sy fondament goed gelê.
Hoekom het Daniël dan die lekker kos van Babel laat staan?
In Babel het die godsdiens die mens se hele lewe beheers. Elke maaltyd het die karakter van ’n heilige maaltyd gehad. Elke maaltyd was dan ook aan die afgod gewy. Hier het die reël gegeld: Of jy eet en of jy drink, doen dit tot eer van die gode van Babel.
Ons sou sê: Dit is maar net ’n klein dingetjie. Wat is kos nou? Wat is dans? Wat is disco? Wat is ’n poppartytjie? Jy kan mos daaraan meedoen en nog jou identiteit as ’n Christen behou. Jy hoef mos nie jou beginsels en jou godsdiens prys te gee nie.
Vir Daniël is dit belangrik.
Want as hy nou ontrou is in dit wat die Here van hom eis, sou hy dit jare later ook mos nie saam met die leeus in die leeukuil uitgehou het nie.
Iemand wat in die klein dingetjies nie getrou is nie, kan in die groot dinge ook nie getrou wees nie. As jy daardie klein dingetjies wat die Here van jou eis, nie getrou doen nie, sal jy ook nie bereid wees om op die brandstapel of voor die vuurpeleton te sterf vir jou geloof nie.
Jou geloof is nie iets wat jy in ’n laai wegbêre en net Sondae te voorskyn bring nie. Jy aanbid nie net Sondag in die kerk nie. Jy doen dit ook daar in jou slaapkamer. Ook daar by die skool. As jy jou daar weerhou van vuilpraatjies en van verkeerde dinge, sal jy soos ’n rots staan wanneer die tyd van storms aanbreek.
Jy moet nie dink dat jy getrou sal wees en vasstaan wanneer jy na die leeukuil gesleep word, terwyl jy slap en lou is ten opsigte van jou lewe nie.
Dit help nie dat jy Bybelkunde op skool neem en dan ontrou is ten opsigte van jou kerkbesoek nie.
God vra getrouheid in alles.