KINDERS IN DIE BYBEL (14)

JOAS

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

JOAS het eintlik as ’n weeskind opgegroei. Sy vader Ahasia, koning van Juda, was ’n goddelose mens maar Joas was nog baie jonk toe hy gesterf het en daarom kon hy nie sy verderwende invloed ondervind nie. Toe sy vader sterf, het sy ouma, Atalia, besluit om die regeermag oor te neem. Om dit te kon doen, moes sy eers al haar kleinkinders doodmaak. Sy was ’n wrede ouma. Lees maar die geskiedenis in II Kronieke 22-24.

Maar die Here beskik dit so dat Joas gespaar bly omdat sy tante Josabat, hom geneem en weggesteek het. Dit klink nogal baie na die geskiedenis van Moses. Hierdie tante van hom was die vrou van die priester Jojada.

Hoewel Joas nie ’n moeder gehad het wat hom kon grootmaak nie, moes hy in die huis van sy oom en tante ’n goeie opvoeding kry. Hy het heelwaarskynlik die opvoeding gekry wat al die kinders van die Israeliete destyds gekry het of in elk geval moes gekry het. Daar was destyds ook maar die ouers wat laks was net soos vandag.

In die huis van sy oom en tante is Joas geleer wat die Here alles vir Israel gedoen het. Maar dit is ook by hom ingeprent dat hy die Here moet vrees en dien. Dan sal dit met hom goed gaan.

Joas was natuurlik ’n koningskind en een van die nageslagte van Dawid. Uit Joas se nageslag sou Christus eendag voortkom. Niemand het dit daardie tyd nog geweet nie maar in die diens van die Here sou Joas se koningskap reeds ’n afbeelding wees van die koning­skap van Christus.

Toe Joas sewe jaar oud was, word hy koning deur middel van ’n staatsgreep wat sy oom Jojada, die priester, uitvoer. Toe Jojada nog geleef het, was dit eintlik hy wat Joas gelei het en gehelp het om die land te regeer. Jojada het aan Joas gewys wat gedoen moet word en hoe dit gedoen moet word. Hy was dus feitlik in alle opsigte die leermeester van Joas. Toe het alles ook goed gegaan. Die volk het die Here gevrees en die diens van die Here by die tempel het weer sy normale gang gegaan.

Joas was egter nie ’n sterk persoonlikheid nie en eintlik ook geen werklike leier nie. Hy kon nie mense om hom vergader soos Dawid gedoen het nie. Hy was ’n besluitlose persoon. Hy was een van daardie tipe mense wat gereeld sou sê: "Ek weet nie,” as jy miskien aan hom sou vra wat nou gedoen moet word of wat nou besluit moet word. Julle ken mos ook sulke mense. Daardeur wil hulle hul verantwoordelikheid van hulle afskuif en dit op ander mense laai. Ander mense moet vir hulle besluit.

So was Joas ook. Hy het maar toegelaat dat ander persone die besluite neem en dan het hy gedoen soos hulle besluit het. Of dit deels te wyte was aan die feit dat Jojada aanvanklik al die besluite geneem het weet ons nie. En of dit miskien te wyte was aan die feit dat hy ’n weeskind was en tot ’n mate van sy lewensankers en sy ouerliefde weggeruk is, weet ons ook nie. Dit alles beteken egter nie dat ons Joas kan verontskuldig nie. Joas het ’n goeie opvoeding gekry. Hy moes geluister en gedoen en besluit en opgetree het.

Toe sy oom Jojada geleef en aan hom voorgesê het wat om te doen, het hy geluister. Hy het gedoen wat die Here van sy kinders verwag. Joas het die Here ook gedien. Maar toe Jojada oorlede is, het Joas sommer heeltemal omgeswaai. Sy hele lewenshouding het verander want die owerstes van Juda, die leiers van die volk, het nie veel tyd gehad vir die godsdiens van Jojada nie en daarom ook nie veel tyd vir die Here nie. Ná die dood van Jojada kom hulle en hulle praat Joas om om weer die afgode te dien.

Hier was nou die geleentheid vir Joas om te bewys van watter staal hy gemaak is. Hier moes hy nou toon wat sy beginsels is. Maar pleks daarvan dat Joas sy man staan en sê: "Nee, ons dien die Here”, luister hy na die mense. En dit was mense na wie hy in die eerste plek nie moes geluister het nie. Hy moes nie sy ore vir hulle uitgeleen het nie.

Hoe baie keer gebeur dit nie in die geskiedenis nie. Dit gebeur amper elke dag. Kinders kry ’n baie goeie opvoeding. Hulle gaan gereeld saam met pa en ma na die kerk. Hulle doen wat Christus van hulle verlang. Of hulle dit vir die skyn doen solank hulle onder pa en ma se vlerke is, weet ’n mens nie. Maar sodra hulle uit die ouerhuis gaan, verander hulle hele lewenshouding. Dan word alles vergeet. Dan luister hulle na verkeerde vriende pleks daarvan dat hulle hul man moet staan.

Joas se uiteinde was dan ook tragies. In ’n geveg teen die Arameërs word hy swaar gewond en terwyl hy siek lê, kom van sy mense, daardie selfde vriende wat hom omgepraat het om die afgode te dien: en hulle vermoor hom.

Hierdie geskiedenis toon aan ons wat gebeur as jy nie self standpunt in die lewe wil inneem nie. Daar is geen goue middeweg wat jy kan volg nie. Daar is maar een van twee wee. Vir Christus of teen Christus.

Joas het sy opvoeding vergeet. Hy wou nie stand­punt inneem nie. Joas het van God vergeet.

Maar die Here vergeet sy kind nooit nie. God vergeet ons nie. Al dwaal jy ook op die verkeerde pad. Daar kom ’n dag dat God ingryp soos wat Hy in die lewe van die verlore seun ingegryp het. God kan dit op baie maniere doen. Hy kan dit doen deur die verskriklikste armoede oor jou te bring. Of Hy kan dit doen deur jou aan ’n hospitaalbed vas te kluister waar jy miskien genoeg tyd kan kry om na te dink.

Dit is alles ’n bewys van die liefde van die Here. In plaas van voorspoed en geluk gee God teëspoed omdat Hy jou nie vergeet nie en jou by Hom wil hê.