Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Eerbaarheid is ‘n vuur wat aangesteek is en maklik aan die gang gehou word. As dit egter eers geblus is, kry ‘n mens dit moeilik weer aan die gang. Dis soos fyn porselein wat maklik breek en nooit weer na wense heg nie.
KINDERS IN DIE BYBEL (13)
ABSALOM
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
ABSALOM se vader het nie baie tyd tot sy beskikking gehad om aandag aan sy opvoeding te bestee nie.
Sy vader Dawid was ’n baie besige man. Net so besig soos party van die besigheidsmense vandag wat gedurig van die huis weg is met vergaderings en byeenkomste. Dawid het baie hooi op sy vurk gehad want hy moes baie oorloë voer. Partykeer was hyself die aanvoerder en soms sy kommandant-generaal Joab. Want hy moes sy ryk versterk en verstewig teen die aanvalle van buite. Veral die Filistyne, Israel se aartsvyande, moes op hulle plek gesit word.
In daardie tyd het elke man ook nie maar net een vrou gehad nie. Dawid self het ’n hele klomp gehad. Altesaam het hy by sy vrouens negentien seuns gehad en by sy byvroue het hy ook nog ’n hele klomp kinders gehad. Dit is te verstane dat Dawid as hoof van die staat baie verpligtinge gehad het en dat hy dus ook nie baie aandag aan sy kinders kon gee nie. Hy moes dus noodwendig as vader hulle opvoeding verwaarloos.
Absalom se opvoeding was dus grotendeels aan sy moeder oorgelaat. Maar sy moeder was nie ’n Israelitiese vrou nie. Sy was Maaga, die dogter van Talmai, die koning van Gesur. Dit was ’n klein koninkrykie wat aan die noordekant van die meer van Genesaret gelê het.
Absalom se moeder was dus ’n heidin toe Dawid met haar getrou het. Sy het nie veel van die God van Israel geweet nie. Wat sy geweet het, was seker maar wat sy gehoor en gesien het in Jerusalem by die diens aan die Here en wat sy heelwaarskynlik van Dawid gehoor het. Maar dit kon nie baie gewees het nie.
Soos dit maar in die meeste huisgesinne gaan, is pa bedags nie by die huis nie omdat hy moet werk sodat hulle kan leef. Dit is ma wat die kinders grootmaak en hulle hul lesse leer. En saans is pa meesal ook nog te moeg om baie aandag aan die kinders te bestee. Ma moet die kinders grootmaak as sy natuurlik self nie werk nie. In geval sy uitgewerk het, is die kinders oorgelaat aan die sorg van die bediendes of as hulle effens groter is aan die juffrouens by die kleuterskool.
Absalom moes dus seker sy opvoeding van sy moeder ontvang het. Maar van ’n opvoeding in die godsdiens van Israel en in die vrese van die Here het daar heelwaarskynlik nie baie tereggekom nie.
Uit sy lewensgeskiedenis kom sekere trekke van sy karakter na vore wat miskien reeds by hom as kind aanwesig was of sluimerend by hom was.
Hy was ’n mooi geboude seun met ’n pragtige bos hare wat later in sy lewe sy trots was. Uiterlik het hy ’n aangename persoonlikheid gehad wat mense seker na hom getrek het en wat hulle seker van hom laat hou het. Verder het hy die kuns verstaan om met die heuningkwas te werk en ander mense te vlei en te prys. En daar is seker niks waarvan ’n ander so baie hou as dat jy hom moet vlei en prys en mooi dinge van hom moet sê nie. Dit is natuurlik reg so. God se Woord sê ook aan ons dat ons goed van ons naaste moet praat. As ons niks goeds van hom of haar kan praat nie, moet ons liewer stilbly.
Maar Absalom het net van sy medemens goed gepraat solank hy dit tot sy eie voordeel kon aanwend en gebruik. As hy dit nie kon doen nie het hy ook nie veel vir sy medemens omgegee nie.
Absalom was natuurlik ook ’n intelligente seun. Maar sy groot probleem was dat hy so maklik kon haat. En haat is ’n swak karaktereienskap. Dit is iets wat nie by die gelowige tuishoort nie. Want deur haat en afguns word baie probleme in die wêreld teweeg gebring. Haat lei baie keer tot moord soos wat dit die geval met Kain was.
Verder was Absalom ook ’n baie eersugtige mens. Hy het daarvan gehou dat mense agter hom moes aanloop en mooi dinge van hom moes sê. Hulle moes hom prys, Daarom wou hy so graag koning word.
Absalom was egter nie iemand wat baie lief was vir die Here en sy gebooie nie. Vir God het hy nie veel omgegee nie. Hy het homself en sy eie belange liewer gehad as vir God. In sy hart was daar nie vrees vir die Here nie.
As hy God en sy gebooie lief gehad het sou hy nie later teen sy vader in opstand gekom het nie. Dan sou hy onthou het wat die Wet van die Here, die Tien Gebooie, sê: "Eer jou vader en jou moeder....” Absalom se opvoeding was swak.
’n Swak en verkeerde opvoeding waar ouers nie sorg dat die kind die Here ken en vrees nie, kan so ’n kind se toekoms breek. Want dit gaan nie net om hierdie lewe en die sukses wat jy in hierdie lewe behaal nie. Baie ouers maak hulle kinders so groot asof alles net van hierdie lewe afhang. Skoolwerk en prestasies op sport- en akademiese gebied is soms baie belangriker as onderwysing in die vrese van die Here. Die is soms net ’n bykomende saak. Daar word nie besef dat die ewige dinge baie belangriker is as die tydelike dinge nie. Wat baat dit jou as jy die hele wêreld win en jou siel verloor?
Daarom kan ’n swak en verkeerde opvoeding van ’n kind ’n mislukking maak. Hy mag miskien ’n groot sukses van sy lewe op aarde maak maar ten opsigte van God is hy ’n hele mislukking.
Absalom se lewe was ’n mislukking. Daarom sê God se Woord ook nie veel goeds van hom nie.
Ons moet tog maar daarop let dat dit beter is as die wêreld jou slegsê en as jou maats nie van jou hou nie omdat jy miskien nie so ’n ou "sport” is nie en aan al hulle dinge wil deelneem nie. Dit is baie beter om deur God as kind aangeneem te word as om ’n kind van die wêreld te wees.