Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jou denke speel 'n veel groter rol in jou lewe as wat jy ooit sal besef. Ons hele lewe is wat ons gedagtes daarvan maak - 'n unieke mens om jou eie betekenis op aarde te verwesenlik. Vra daarom in groot erns: "Heilige Gees, dink déúr my totdat u ideale myne word.
KINDERS IN DIE BYBEL (10)
ESAU
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
ESAU se naam beteken harig of ruig. Toe hy gebore is, was hy met ’n dos rooi hare bedek.
Waar Jakob die stil, rustige, huislike tipe was, het Esau se geaardheid heeltemal verskil. Hy was die meer gespierde, atletiese tipe, die persoon vol energie en aksie, die persoon wat nie kon stilsit nie. Hy was iemand wat in die veld geboer het. Daar het hy met sy pyl en boog agter die wildsbokke aan beweeg.
Hy was ’n jagter. ’n Jagter is iemand wat ’n swerwersbestaan voer. Waar die wild is, daar moet hy wees. Waar die wild rondtrek, moet hy rondtrek. Vandag is hy hier en more is hy daar. ’n Jagter ken nie vastigheid nie. Daar is geen grense wat hom bind nie. Hy steur hom daar in die wye eensaamheid van die veld nie aan wette en bepalings nie. Daar is hy sy eie wetgewer en daar maak hy sy eie bepalings.
Esau is die energieke, fikse mens, ’n stewige fris knaap. Maar hy leef net vir die oomblik, vir die hier en die nou. Aan wat môre of oormôre of volgende jaar gaan gebeur, steur hy hom nie. Daarom gee hy ook nie om vir die toekoms nie. Solank as vandag se behoeftes bevredig kan word, is hy tevrede. Solank hy sy bokkie kan doodmaak en kan eet en drink en sy honger en dors kan stil, is hy tevrede.
Dit blyk ook uit die feit dat hy sy eersgeboortereg vir ’n potjie lensiesop verkoop. Die lus om die begeerte van die oomblik te bevredig, maak hom onverskillig vir die heilige. Die heilige het vir hom geen betekenis nie. As die nood van die oomblik aan breek, is hy selfs bereid om die heilige te verkoop om daardie nood te bevredig.
Hierdie eersgeboortereg was natuurlik iets besonders. Wanneer die vader sterf, kry die eersgeborene ’n dubbele erfporsie. By die heidene was dit tydelike, stoflike dinge. Esau se eersgeboortereg het egter baie verder gegaan. Die Here het aan Abraham die land Kanaän beloof. Verder was aan Abraham beloof dat in sy saad alle geslagte van die aarde geseën sou word.
Dit het beteken dat die eersgeborene die land Kanaän sou beêrf. Maar die betekenis van die land Kanaän het verder gestrek as net ’n plek op die landkaart. Dit het ook gewys op Christus wat die Verlosser van sy volk sou wees en wat aan hulle die ewige Kanaän sou skenk. Daarom was hierdie eersgeboortereg gekoppel aan die feit dat die eersgeborene die draer van die lig van God in Christus sou wees. Uit sy geslag sou die Verlosser van die hele mensheid gebore word.
Esau verag dus God se liefde en genade wanneer hy sy eersgeboortereg verkoop. Hy verag God en sy seën. Hy dink net aan die oomblik en die bevrediging wat hy daaruit kan put.
Daarom sê hy ook aan Jakob: "Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?”
Wat Esau met hierdie woorde bedoel is: Die uiteinde van die lewe is tog maar net die dood. Dit kan vandag wees, dit kan môre wees. Miskien sterf ek nog voor ek my eersgeboortereg kry. En as ek dood is, watter nut het ek dan van my eersgeboortereg? Neem jy dit maar en laat ek nou die lewe geniet.
Die vraag is nou of die houding van Esau nie ook maar die houding van die jeug van vandag is nie? Hulle probeer die werklikheid ontvlug en neem hulle toevlug na ’n skynwêreld van dwelmmiddels waar die genot van die oomblik belangriker is as die ewige waardes wat God in Christus aan ons beloof het.
Ook die mens van vandag sê: "Laat ons eet en drink en vrolik wees want more sterf ons.”
Dit is natuurlik so dat ons ook ’n eersgeboortereg het, die eersgeboortereg wat die Here in Christus aan ons gegee het. Wie pleit op die soenbloed van Jesus Christus, ontvang vergewing van sondes. Daarmee saam word die ewige lewe beloof, daardie lewe waar daar geen pyn en smart, mislukkings en teleurstellings is nie. Maar ons eersgeboortereg bring ook ’n verantwoordelikheid met hom mee. Ons moet Christus liefhê. In alles wat ons doen, moet ons liefde vir Christus blyk.
Die vraag is nou wat ons met ons eersgeboortereg maak? Wat dink ons van die Evangelie van Christus en van sy kerk? Leef ons net vir die oomblik en die vreugde en genot van die oomblik?
Christus tipeer die mens van vandag in sy profetiese rede met hierdie woorde: "Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.”
Dit is nie ’n mensewêreld van vrate en wynsuipers wat Christus hier teken nie. Dit is ook nie diewe en hoereerders nie. Dit is gewone, alledaagse heel ordentlike mense. Tog is daar iets ernstig met hulle lewe verkeerd. God is nie in hulle lewe nie. Dit is net die stoflike aardse dinge wat tel. Hulle lewe net vir die oomblik.
Daar is soveel pragtige beloftes verbind aan ons eersgeboortereg. Daar is soveel seëninge. Maar soos Esau is daar soveel kinders en jong mense wat nie daarvoor ’n oog het nie. Party verruil dit vir 'n dwelmpil. Ander vertrap dit onder die voete vir die genietinge van die oomblik.
Deur hierdie minagting van sy eersgeboortereg toon Esau dat hy ’n onheilige is omdat hy dit wat behoort het tot die heilige geslag verag het.
Dit is ook die rede waarom die Here later in die Nuwe Testament sê dat Hy Esau gehaat het.