Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Positiewe mens is altyd ‘n sieraad – oud of jonk. So ‘n mens besef dat hy nie die lengte van sy lewe kan bepaal nie; slegs die wydte en diepte daarvan.
KINDERS IN DIE BYBEL (7)
HOFNI EN PINEHAS
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
BAIE keer dink kinders dat hulle ouers wreed is as hulle sekere dinge nie vir hulle toelaat nie. Soos byvoorbeeld om nie saam met sekere maats uit te gaan of om saam met sekere maats te gaan fliek nie. Maar hulle besef nie dat hulle ouers net die beste vir hulle in die oog het nie en dat hulle ouers nie graag wil hê dat hulle van hul lewens ’n mislukking moet maak nie. Ouers doen dit omdat hulle hul kinders liefhet en weet dat slegte maats hulle kan verlei en dat hulle dan nie van hulle lewens ’n sukses sal maak nie.
Eli het egter nie veel vir sy twee seuns Hofni en Pinehas omgegee nie. Hulle het maar ’n swak opvoeding gehad en in die meeste gevalle gemaak soos hulle wou.
Pa het miskien gepraat en in sommige gevalle selfs gedreig maar verder as dit het dit ook nie gekom nie. Laat die ou kêrel maar praat. Wie luister tog in elk geval na hom. Al sy woorde beteken tog niks. Jy sluit maar net jou ore daarvoor en maak asof jy dit nie hoor nie.Nou sê die Bybel aan ons dat die boom nog gesnoei moet word as hy jonk is. ’n Boom wat nie gesnoei word nie word ’n lelike boom. En dit is ook ’n boom wat swak vrugte dra. Eli het egter nie die snoeimes ten opsigte van sy twee seuns gebruik nie.
Daarom het hierdie twee seuns in die eerste plek nie veel vir die Here en sy belange omgegee nie. Hulle harte het nie juis gebrand van liefde vir God en sy saak nie. ’n Mens kan dit natuurlik ook verstaan. As hulle dan nie veel vir hulle pa omgegee het nie en nie na hom wou luister nie, hoe sou hulle dan vir die Here omgee en na Hom en sy gebooie luister? ’n Kind wat nie veel vir sy ouers omgee nie gee ook nie veel vir die Here om nie.
Christus sê aan ons dat die hoofsom van die Tien Gebooie is dat jy die Here moet liefhê met jou hele hart en siel en al jou kragte en jou naaste soos jouself. Maar as jy God nie liefhet nie, sal jy jou naaste ook nie liefhê nie. Die enigste vir wie jy dan liefhet, is jouself.
Gevolglik was Hofni en Pinehas twee selfsugtige kinders wat ook nie veel vir hulle medemens omgegee het nie. Hierdie swak karaktertrek wat hulle pa maar oogluikend toegelaat het, kom dan ook later in hulle lewe tot uiting met rampspoedige gevolge vir hulle pa, hulself en hulle hele volk.
Die wet van Moses het noukeurig bepaal watter deel van die vleis die priester by elke offer moes kry (Lev. 7:31—35). Dit was ’n ruim gedeelte van die vleis wat hulle vir hulle kon geneem het. Die Here het gesorg dat sy priesters wat voltyds in sy diens gestaan het nie armoede en gebrek sou ly nie omdat hulle nie soos die ander stamme ’n erfdeel verkry het nie. Hulle kon dus goed en ordentlik lewe.
Maar Hofni en Pinehas was nie hiermee tevrede nie. As priesters het hulle vir hulself meer vleis geneem as wat hullle toegekom het. Hulle het God dus besteel en beroof. Maar hulle optrede en die lakse optrede van hulle pa het daartoe aanleiding gegee dat die volk naderhand ook nie meer vir die Here omgegee het nie. As die leiers van die volk dan nie eers vir die Here omgee nie hoe moet ’n mens verwag dat die volk sal omgee.
Teenoor hierdie goddelose streke van sy seuns het Eli maar taamlik flou gestaan. Hy het wel ’n bietjie gepraat en gesê, " Kinders, dit is nie mooi dat julle so maak nie.” Maar watter respek en agting sal ’n volwasse kind vir sy pa hê as hy nie eers na hom luister terwyl hy nog klein is nie. Kinders het respek vir ouers wat met gesag en ferm kan optree as dit nodig is, maar geen kind sou respek gehad het vir ’n pa soos Eli nie. Hy het hulle seker maar ook gewaarsku soos hy gedoen het toe hulle nog kinders was maar verder as dit het dit ook nie gekom nie. Pleks daarvan dat hy hulle met krag die offerdiens by die tabernakel verbied het.
Die werk wat Hofni en Pinehas by die tabernakel gedoen het, was heilige werk. Hulle was mense wat voltyds in die diens van die Here gestaan het en deur hulle optrede moes hulle ’n voorbeeld vir die volk gewees het. Maar juis deur hulle selfsugtige optrede haal hulle die straf van die Here oor hulleself en die volk wat hulle gelei het. Israel word verneder soos wat ’n volk maar verneder kan word. Hulle word verpletterend deur hulle aartsvyande die Filistyne verslaan.
Selfsugtigheid is ’n groot sonde. Want dan dink ’n mens net aan jouself. Jy gee niks vir die Here om nie en ’n mens wat niks vir die Here omgee nie, gee ook nie ’n flenter vir sy medemens om nie. Daarom noem die Bybel vir Hofni en Pinehas deugniete. ’n Deugniet is iemand wat vir niks deug nie. Hy is ’n absolute mislukking in God se oë.
Hierdie twee seuns wat in hulle hele optrede beelde van Christus moes wees, het in hierdie geval heeltemal gefaal. Waar hulle gehoorsaam moes wees, was hulle ongehoorsame kinders. Stel daarteenoor Christus as die Gehoorsame wat in alles gehoorsaam was aan die bevele van sy Vader.
Ons as kinders moet ook in ons lewens ’n voorbeeld stel deur ons gehoorsaamheid.
Dit is natuurlik nie elke dag lekker om jonk te wees nie. Binne in jou is daar soms dinge wat jy nie kan verstaan nie. Die een dag loop jy miskien oor van lewensenergie en entoesiasme en ideale en net die volgende dag sit jy met ’n hele klomp twyfelgedagtes. Soms is daar ’n gevoel van minderwaardigheid en die gevoel dat jy ’n mislukking is. Jy kan ander mense nie verstaan nie en veral jou ouers ook nie. Dan begin jy in opstand kom.
Daarom moet ons reeds van kleins af leer om te bid. Ons moet die Here krag vra dat Hy ons help dat ons gehoorsaam kan wees. Want hoe sê Samuel aan Saul? "Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as ’n slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” God sê aan jou: "My seun, my dogter, gee My jou hart.”